Читать книгу Sandveldstories - Ferdinand Deist - Страница 9

Die plaag van Bawel

Оглавление

Assit nie gewees ’t virrie hoogmoed vannie mensdom nie, dan’t ons ve’dag mekaar geverstaan in plaas van mekaar uitgeroei, soos wat nou die geval is. Want die Here ’t virrie mensdom ’n taal gegjee om m’t mekaar te kan praat oor hoelat die wêreld ten beste gebewerk kan geword ’t.

Mar toe issie mensdom mos harrekoejawel. Plaas lat hulle hulle se werk geloop doen ’t, wil hulle mos toe by die hemel gan inkyk. En toe loop maak hulle die plan vannie toring. En van daai tyd af sit ons m’t die gesukkel van mekaar te verstaan. ’n Mens kan verstaan lat die Here liewerster mar hulle se taal deurmekaar gemaak ’t, solat hulle mekar nie geverstaan kan gekry ’t nie. Anners het dit vir Hom gekos om als weer te lat wegspoel.

Mar ek’t ok al baiekeers gewonner offie Here nie darem net so ’n bietjie ondeund gewees ’t toet hy die mense se tale deurmekaargekrap ’t nie. Want Hy moet heelwat plesier gehad ’t uit die gemors wat daar moet gekom ’t toet die speul elkene ’n anner taal gebeginne praat ’t. Dink nou net wat sil ’n ambagsman m’t ’n eppie sam gemaak ’t as dié elke keer wat hy vir hom ’n saag gevra ’t, vir hom ’n hammer angegjee ’t, of assie messelaar virrie handlanger gesê ’t om nog sement an te maak ennie handlanger sy muur, wat hy nou net opgetrek ’t, beginne afbreek ’t.

Dit moet sommer ’n heel anskoulike besigheid gewees ’t om al ’ie verskillende soorte misverstanne van bo af te kan gesit bekyk ’t. Dit moet ampers gewees ’t soos wat die keer m’t Eg Vannermerwe sam gebeur ’t. Net miskien ’n bietjie erger.

Eg wassie van hier rond gewees ’ie. Hy’t van elders af gekom. Ek meen amper lat hy op Kenavon gebore is en toe innie myne geloop werk ’t. Hy was ’n elektriésen gewees in een vannie span mense wat hier by ons innie hotel gekom bly ’t virrie wyl wat hulle die kragdrade hier rond gespan ’t ennie sabstasies gebou ’t. En hy’t uit beginsel uit net geweet van Afferkaans.

Oppie selle span was daar heelparty anner nasies se mense ok gewees: enjineers en hyskraandrywers en wat nog – ampers soos ’ie speul wat aan ’ie toring van Bawel gebou ’t. Dis net lat hulle klaar kinners vannie plaag van Bawel gewees ’t en mekaar vannie begint af nie geverstaan kan gekry ’t nie. Dit ’t hulle ampers ’n jaar gevat ommie paar myl elektriek draad hier by ons verby gespan te gekry ’t voorlat hulle vêderan kan geversit ’t.

Nou, allie ongetroude mense oppie span ’t innie hotel oppie dorp gebly en smôrs en saans daarso geëet. Ennie hotelman ’t vir elke kamer ’n stoel aan ’ie etenstafel gemerk. As jou kamer se nommer nou vyf gewees ’t, dan’t jy oppie stoel wat “vyf” gemerk gewees ’t geloop sit. Op dié menier was hy dan seker gewees lat elkeen wat daar gebly ’t elke dag kos gekry ’t en lat vannie anner mense oppie span nie ok sommer gekom ansit ’t nie. As jy op jou stoel geloop sit ’t, het jy jou kamersleutel virrie wyter moet gewys ’t, solat hy seker kan gemaak ’t lat jy ’n petaler is.

En op dié menier ’t Eg oorkant ’n anner nasie se mens aan ’ie tafel gebeland. Nét hul twee ’t aan dié tafel gesit. En oor hulle dieselle tyd die bus na hulle se werkplek toe gevang ’t, was hulle ok elke môre dieselle tyd aan ’ie brekfistafel gewees.

Ennie eerste môre wat hulle an ’ie tafel loop sit, toe gooi die anner nasie se mens sy servet op sy skoot oop, en Eg druk syne se punt voor by sy hemp in. En toet hulle sil beginne eet, toe knik die man vir Eg en hy sê vir hom iets soos “Bom Appeltiet”. En Eg dink nog lat dit darem ’n snaakse soort naam is om te hê, mar hy sê niks. En hy leun so oor ’ie tafel en hy steek sy hand uit en hy sê: “Eg Vannermerwe.” Ennie kêrel aan ’ie annerkant vannie tafel gjee so ’n laggie en toe val hulle weg m’t eet.

Die volgenne môre issit dieselle storie. Hulle ’t skaars gesit, toe steek die kêrel sy hand oor ’ie tafel en hy sê vir Eg: “Bom Appeltiet.” En Eg dink lat die kêrel darem erg kort van gedagte is vir ’n enjineer, mar hy vat die kêrel se hand en hy stel homself weer voor: “Eg Vannermerwe,” en hy begint sy pap te eet.

Toet dit die derde oggend weer gebeur, begint Eg te dink dié man kannie reg in sy kop wees ’ie, en hy’s nogals die ene wat die sabstasies moet opkoenek. Wat vir ’n gemors sil dié kêrel nie anvang as hy nie eers ’n mens se naam vannie een dag oppie anner kan geonthou kry nie? Mar hy groet hom toe mar weer, en hy stel homself weer voor.

Net wat hy klaar geëet ’t, toe gan hy na die voorman vannie werkery toe en hy loop vertel vir hom ’ie storie vannie enjineer wat so kort van gedagte is en hy vra lat hulle ’n ogie oor hom moet hou vóór ’ie hele speuletjie die dag wat hulle die krag anskakel, die lug in vlie.

En in plaas van bekommerd te wees, beginne die voorman te lag lat hy einlik sy sykant moet vashou ennie trane uit sy oë moet uitvee. En net wat Eg hom wil verêre en omdrai om te loop, toe vat die voorman hom an sy skouer en hy sê vir Eg lat daai kêrel ’n Fransman is, en lat hy hom nooit g’n stuk an Eg voorgestel ’t nie. Wat hy elke keer vir hom gesê ’t, was “lekker eet,” en niks meer ’ie.

Dit ’t Eg ampers die heel dag gevat om oor ’ie skanne vannie misverstand te gekom ’t. Mar hy neem hom toe voor lat hy die volgenne môre die saak m’t die Fransman sil regstel, solat die man nou nie altemits van hom moet dink wat hy vannie Fransman gedink ’t nie.

Ennie volgenne môre, toet hulle annie tafel loop sit, toe gooi Eg sy servet oor sy skoot oop en hy buie so effentjies vooroor na die Fransman se kant toe en hy gjee so ’n effense laggie en hy sê vir hom: “Bom appeltiet.” Ennie Fransman druk sy servet se punt by sy hemp in en hy leun so half oor ’ie tafel en hy steek sy hand uit om te groet. En toet Eg sy hand vat, toe vat die plaag van Bawel hulle net weer vannie annerkant af, want toe sê die Fransman: “Eg Vannermerwe.”

Sandveldstories

Подняться наверх