Читать книгу Sandveldstories - Ferdinand Deist - Страница 8
Die oorbesige prekkereer
ОглавлениеEk weet nou nie of jy die storie ken vannie moles wat daar die keer innie hemel gewees ’t toet Petrus die duiwel wil gedagvaar ’t nie. Mar kyk, die draad tussen die hemel ennie hel was mos nou elke keer wat Petrus geloop kyk ’t, platgetrap gewees – seker mar die manne wat aan ’ie annerkant te warm gekry ’t en geprobeer deurbreek ’t na die koeltebome vannie hemelse geweste toe. Ewentwil, Petrus ’t die duiwel toe nou al ’n paar keer angepraat lat hy die injeneers daar an sy kant moet ansê ommie draad weer regop te trek en ’n paar ekstra pale in te kap. Mar as Petrus na máne se gewag weer loop kyk, dan lê die heiningdraad nog net so. Oor hul toe nou na’erhand elke aand moet roulkôl gehou ’t ommie speul uitgesorteer te gekry ’t, toe loop Petrus een môre na die draad toe en hy skree oppie duiwel lat hy moet uitkom, want hy wil m’t hom sam praat. En toet die duiwel sy spits gesig by die hel se poort wys, toe sê Petrus vir hom hy’t hom nou lank genog kans gegjee ommie draad te laat regmaak wat sy mense so platgetrap ’t en lat hy hom nou gan prossedeer oor sy versuim. Dis toe wat die duiwel so uit sy maag uit lag en vir Petrus vra: “En waar gan jy miskien daar by jou kant ’n prekkereer kry om jou saak an te vat?”
Nou sil ek nie sê die duiwel was reg gewees nie. Vir al wat ek weet, is daar darem ’n paar prekkereers innie hemel ook. Die apostel Paulus was mos darem ook soort van ’n prekkereer gewees, want hy was mos ’n wetsgeleerde Fariseër gewees – al wassit ook nou voorlat hy tot inkeer gekom ’t. Mar sowaar, die span wat ons hier by ons oppie dorp gehad ’t, glo ek nie sil dit by Petrus verby gemaak ’t nie, behalwe as hy op darie oomblik wat hulle angemeld ’t sy maddagdutjie gevat ’t. Miskien issit nog hulle wat die drade so platgetrap ’t om innie hemel in te kom. Veral die klein donkerkop Viljee’tjie wat die keer hier gekom nesskop ’t. Want hy was nou sommer m’t een woord ’n oorlams mannetjie gewees.
Hy’t hierso angekom offie dorp an hom gebehoort ’t, alewig in ’n soet en so ’n bont borslap van ’n taai en sukke hoëhakskoene amper soos ’n vroumens s’n, net dikker. Dit was seker ok mar gewees solat hy die mense darem innie oë kan gekyk ’t, want hy was mar ’n kort mannetjie gewees. En sy haartjies was altoos gekam gewees of ’n Jirsiekoei die speul pas glykgelek ’t. Mar onner daai fensiegeite het sommer ’n renoster van ’n vel gesit. Kyk, hy’t nou nooit eers ’n gewone skimp kan gevang ’t nie.
Soos die keer wat hy daar innie hotel by die jaarafsluiting vannie kopperasie se direksie – ja daar ’t hy ok vir hom ingewurm – gesit vertel ’t hoelat hy einlik altyd, toet hy nog ’n kind gewees ’t, ’n seerower wil geword ’t. En toe sê ou Janus Stofkloof daar van dié kant af: “Nou, lat ’n man nou jou wense só kan verwesentlik, nè? Dit kry ons nie ammal reg nie.” En toet dit lyk of hy nie die punt gevat kry nie, sê ou Koos Vermele nog: “En toe loop word jy mar ’n gewone rower!” Mar wat, dié prekkereer ’t net gelag. Kop toe het hy sukke goed nooit gevat nie en al wat ’n skanne is wat hy hier oorgekom ’t, het hy m’t sy gelaggery geoorlewe.
En so was hy gewees van die heel eerste dag af wat hy hier angekom ’t. Hy’t daai tyd die Poskantoor se mense, vannie Posmeester af tot by ou Kytie Kraai wat innie sentrale gewerk ’t, se senewese heeltemal rou geskawe gehad soos hy vir hulle geverpes ’t oor ’n founlyn in sy eie kantoor – dis nou behalwe virrie lyn wat na sy ontvangsmeisietjie se kantoor toe geloop ’t en wat sy vir hom op ’n binnelyn mee kan deurgesit ’t. Toe ’t hulle mar ten einde raad solank virrie prekkereertjie ’n foun gegjee lat dié dan mar as ’n soort pand op sy tafel kan gestaan ’t totlat hulle nou vir hom ’n prevaatlyn ook kan gegjee ’t. En so ’t die dooie foun toe nou daar op sy tafel gestaan.
Op ’n mooi môre toe klop daar ’n man aan ’ie deur, en m’t wat hy die prekkereer se deur oopstoot, gryp die prekkereer die founbuis en hy praat kliphard oor ’ie ding solat die nuwe kliënt nou ook sil hoor wat vir ’n soort wetsman hy nou hier vir sy saak gekom nader ’t: “Nee,” sê hy virrie man aan ’ie annerkant, “ek is regtig jammer, meneer, al petaal jy my ook nou ’n duisent pônt, ek sil nie jou saak vir jou kan kom wen nie. Ek is oorvôl geboek tot omtrent Jannewarie se kant. Bel mar weer so ’n bietjie later, asseblief, want hier’s nou juis iemand wat my attensies nodig het…”
En hy druk die foun se praatgat m’t die een hand toe en hy sê virrie man by die deur, wat skoon verslae daar staan en kyk na die besige prekkereer: “Kom mar binne solank, meneer, ek lui nou net hierso af, maak jou mar solank tuis …” En m’t dié los hy weer sy hand oor ’ie praatgat en hy sê virrie man aan ’ie annerkant: “Nou mar dan hoor ek later van tyd weer van jou, nè. Tot siens.”
En toe kyk hy na die man wat so sôner woorde daar voor hom oppie stoel gekom sit ’t. En hy sien die man weet nou nie hoe om sy storie an te voor nie, oorlat hy so besig is en suffel gjeld vra vir ’n saak. En hy kyk na die man en hy sê vir hom: “Goeiemôre, meneer, en waarmee kan ek jou vandag help?”
Mar die man kyk hom nog steeds m’t ongeloof an.
“Dis mar hoelat dit in ’n besige praktyk gan, meneer. Sê mar gerus wat jou prebleem is. Hierie wêreld se mense kry natierlik voorkeur assit by sake kom, al moet ek vir julle êrens indruk,” prebeer Viljee’tjie die man anpor.
Dis eers toe wat die man aan ’ie annerkant vannie tafel sy woorde t’rugkry: “Nee, meneer, ek’t nie ’n prebleem nie. Ek’t einlik gekom om jóú prebleem op te los. Ek is vannie Poskantoor en ek’t meneer se foun gekom koenek …”