Читать книгу Sandveldstories - Ferdinand Deist - Страница 5

Frans en Lakkie se Peddelford

Оглавление

Voorla’ jy nou dink ons speul daar van my kontrei af was, met permissie gesê, agterlik en niks gewoond nie, moet ek jou vertel van Frans en Lakkie se trip m’t die Peddelford. Dit het so gekom.

Ons wêreld het sterk beginte vooruitgan. Dit het vir drie jaar agtermekaar goed gereent ennie skaap het tweelinge en drielinge gegooi en dik wol gedra. Toet ons eers die farao se droom vannie vet are ennie vet beeste geverstaan. Want voor ’ie tyd het ons baie gewonner oor dié lat ’n aar vet kan wees en ’n bees kan blink.

En met dié lat daar nou so goed vir ons gesôre is, het die mense beginte karre en lorries en trekters koop. Perty het die goed nuut gekoop, anners tweedehands en nog anners derdehands, afhangende van waarvanna-af hulle nou op hulle se voete gekom het ná die vorige onnerdeurslag. En so het dit gekom lat Frans en Lakkie hulle eie ryding aangeskaf het. ’n Mott’l T-Ford, ’n Peddelford – so ’n swarte.

Nou weet ek nie of jy ’n Peddelford ken en of jy die ding kan dryf nie. Mar ek kan vir jou sê dis nie sommer ’n hierjyse mouter daai nie en dis ook nie sommer elke hierjy wat die ding kan dryf nie. Hy’t onner oppie vloer ’n speul peddels wat jy nou net mooi moet weet wat elkeen voor is, annerste ry jy waar jy kyk en nie waar jy wil gery het nie. Die ding het nie ’n klats soos ’n anner mouter nie. Nee, hy’t net ’n speul peddels. Swaai jy die slinger voor, loop hy. Trap jy nou die eerste peddel in, is jy in lou gjeer. Trap jy die tweede peddel, is jy in sékind, en daar bly jy. Dis nou as jy nie die anner peddel trap nie. Want dan’s jy in rewirs. Pluk jy die handbriek op, staan jy, mar dan’s hy vrek. En dan moet jy weer van voor af slinger draai ennie ding van agter af inhol. Dis hoekom hulle daai tyd gesê het: “Laf ies laaik ’n ould Fort kaar: eesie toe staart, bat haart toe stop.” Dis wat ou Frans en Lakkie ook heel gou uitgevinne het. Nou nie vannie liefde nie, mar vannie Peddelford.

Want sien, dié twee het mos nou, toet hulle die Peddelford gekoop het, gerekent hulle kan nou sommer ver loop vry, t’n minste dertig of veertig myl ver. Mar solat hulle hul darem nou nie hoog innie skanne steek voor ’ie vroumense nie, besluit hulle toe om net eers die Peddelford te gaan tes – net so ’n entjie. En daar het die ding al begint.

Hulle het die Ford gestaart gekry en Frans het hom ingehol gekry en opgespring. En toe gaan dit alte plesierig innie pad af. Glads so goed lat hulle ampers gebesluit het om om te draai oor hulle nou die slag vannie Peddelford mooi het, sien. Mar met dié wat hulle toe nou wil omsit, is hulle so te sê op ’n hek en hulle besluit toe om mar annerkant die hek te loop drai, oor daar minner klippe en goed laans die pad is wat nou die Fordjie se dif en goeters kan stukkend slaan. Mar wat hulle nou so na die hek toe kom, toe sê Lakkie vir Frans hy kry die ding nie gebriek nie, hy hol te vinnig virrie handbriek. Ennie hek kom nader. Toe skree Frans: “Kap ’n es, dan spring ek af.” En Lakkie kap ’n es lat jy net sien grond en klippe spat en met dié spring Frans af en gooi die hek oop en hy spring weer op. By dié tyd het Lakkie al weer die Peddelford innie pad en daar’s hulle toe deur ’ie hek en innie pad af.

Nie ver daarvanna-af nie, het die pad so tussen ’ie skurwe koppies deur gekrinkel en dan ’n skotige afdraens gevat na ’n waterpan toe. Tussen ’ie skurwe koppe het Lakkie nog die gevoele gekry hy sil die Ford innie pad kan hou. Mar toet hulle die afdraens vat, toe raak daai Ford skoon mal in sy kop in. En hy hol al hoe vinniger. Na’erhand rittel die hele Fordjie al en by elke draai loop lê hy al skynser. Lakkie het die linkerkantse peddel geskop ennie rewirs-peddel getraai ennie handbriek opgeruk, mar die Fordjie hol. Toe is al plan wat Lakkie nog aan kan gedink ’t om sy een oo’ toe te knyp ennie liewe Heer te vra lat Hy net die Peddelford op sy wiele moet hou, solat hy nou sy aandag kan bepaal by die ding innie pad hou, annerster verongeluk hul al twee vedag hierso dood. Hy’t aan ’ie een kant mar swak geloof gehad lat hy verhoor sil word, oor hy die heel tyd net sy een oo’ kan toegemaak het. Mar al was ’t nou ook mar ’n gelofie soos ’n mosterdsaadjie, dis nie beskaam nie, want dit het toe net so gebeure. Hulle ’t die pan misgery ennie Ford dour onner innie vlak gekeer gekry. En so is hulle toe weer t’rug.

Om nou seker te maak lat hulle die slag vannie Ford het voorlat hulle die lang pad vat na die meisiemense toe, besluit hulle toe om die aand oorkant by ou Kasper Gorreltjie te loop kuier. En so is hulle toe met ’n anner pad vannie plaas af. By die hekke het dit nou sommer maklik gegan. Lakkie kap ’n es en Frans vlie af, ruk ’ie hek oop, Lakkie ja’ deur en hy kap weer ’n es solank Frans die hek toepluk en opspring. Mar hulle ’t nie geweet vannie t’rugkomslag die aand nie.

Kasper Gorreltjie het sy naam gekry oorlat hy so lekker kan gegorrel het. “Kom af, Buurman,” het hy jou altyd genooi, “kom maak so ’n ou gorreltjie, sommer net so ’n ou kleintjie as jy dalk haastig is.” En oor Frans en Lakkie nou die Peddelford gekoop het, moet hulle darem die ding se dak natgemaak het en sy wiele ingewy het en sy pistins ingeseën het en so aan. En dan was daar mos nog altyd die jare lange vrindskap wat geverseël moet geword het ennie nag was mos nog jonk gewees ennie pad huis toe nou glad nie meer so ver vanlat hulle nou ’n ryding het nie. En so ’t die môrester hulle nog daar by ou Kasper Gorreltjie gekom kry. Toe besluit hulle nóú moet hulle huis kry.

En hulle vat die pad. Té plesierig gaan dit. Hulle sing en fluit en raas daar oppie ingewyde Peddelford. En hulle ry. Laters sê Frans: “Dis darem nou snaaks, Broer Lakkie, lat ons nou baie minner hekke kry as wat ons gekom het.”

Lakkie het die besigeit so gesit bedink en gereken miskien het ene mar net oornag die hekke gelaat oop staan of iets. Ennie Fordjie hardloop nou so glad, lat hulle sommer nou-nou, nou-nou oppie plaas sil wees. En hulle ry. En hulle sing nog ’n stuk.

Na’erhand sê Frans: “Broer Lakkie, rekent jy nie ons is dalk verdwaal nie?”

“Nou hoe sil ons nou hier in ons eie wêrelt sit verdwaal? Ons het dan hier grootgeword, man. Wat sil jou nou laat dink lat ons verdwaal is?”

En hulle vat weer voor m’t Boegoeberg se dam, want dis nou wat hulle se plan virrie volgenne aand is.

Mar toe sê Frans weer ’n keer: “Broer Lakkie, mar ek rekent nou wel ons is geverdwaal. Want darie doringboom wat daarso staan – dis nou al die vyfde keer lat ons by hom verbyry. Elke keer wat ek opkyk, sien ek daai doringboom.”

En toet Lakkie nou die ding mooi sil bekyk, sil hy nou agterkom die Peddelford staan botdoodstil op een en dieselle plek. Hy pluk die handbriek op en daar vrek die Fordjie en hulle klim uit. Toe sil hulle nou sien wat gebeur het. Die Fordjie het láánk-al oppie mittelmannetjie vasgehak en sy wielietjies sit zoei hier hoog bo die pad. En hier voor by die injin kom rook uit, sommer bollings rook. Hulle het die Peddelford skoon kook gery.

“Die Ford kook, Broer Lakkie,” sê Frans en hy pluk die flappe laans die kante oop en waai die stoom uit sy gesig uit met sy twee hanne, “nou sil ons ma’ hier moet sit wag totlat hy afgekoel is.”

En daar het hulle gesit totlat die Ford afgekoel het. En toet hulle die prop vannie watertênkie oopmaak, is daar omtrent g’n stuk water meer in nie en hulle kan nêrens ’n watertjie innie skemerte vannie sterlig sien blink nie. Nou kan ek jou nie vertel hoelat hulle nou weer water innie Fordjie se tênkie ingekry het nie, want dis half, met permissie gesê, onstigtelik. Mar ek kan vir jou sê ou Kasper se gorreltjies het baie gehelp.

Oplaas het hulle die Fordjie weer vannie mittelmannetjie afgetel gekry en aan ’ie gang geswaai. En toet Frans oppie rannieng bôrd spring en so t’rugkyk, toe sê hy vir Lakkie: “My wêreld, Broer Lakkie, kyk daar brand ou Gorreltjie se kombuislamp na’!” Toe sil hulle twee uitvinne hulle het die hele nagwaak omtrent so ’n tweehonnert tree van Kasper Gorreltjie se werf af gevorder.

Dis toe wat hulle die Peddelford op blokke geloop sit het vir Nagmaltye se dorp toe ry en sommer die pêre gebruik het virrie vrywerk.

Sandveldstories

Подняться наверх