Читать книгу Sandveldstories - Ferdinand Deist - Страница 6
Die dood vannie founmannetjie
ОглавлениеMan, ou Lettie Ingelbrê het baie goed gedoen in haar buurte: bak virrie kjerkbesaar, blomme insteek by die troues, waak by die siekes, als. Haar hanne ’t vir niks ve’keerd gestaan nie. Net lyke wil sy nooit uitgelê ’t nie, want sy was vreeslik bang gewees virrie dood – al het sy nou altoos gesê dis oorlat sy te veel respekte gehad ’t virrie ontslapenes.
Mar kan ’ie ou mens nou vir jou geskinner ’t! Dis nou één swak wat die ou siel gehad ’t wat sy net nie ontslae van kan geraak ’t nie. Dit ennie vrees virrie dood. Kyk, as jy vir haar ’n storie geloop vertel ’t, wassit so goed gewees of jy’t vir de leste een innie kontrei persoonlik gevertel – einlik sil ’t beter gewees ’t as jy mar liewerster self gevertel ’t, want as ou Lettie oorgevertel ’t, was daar mar altyd ’n stukkie bygelas gewees, net so virrie smaak, sien. En ammal ’t geweet: as jy nou ’n veldbrand van ’n storie op tou wil gesit ’t, moet jy dit vir ou Lettie innie oor gefluister ’t m’t die alleruitdruklikste vermaninge vir ’n doodse swye.
Pertykeers het die mense dit nogals nuttig gevind virrie ankonniging vannie een of anner belangrike byeenkoms of gebeurlikheid. Want in plaas van nou self die moeite te loop doen om ammal persoonlik in te lig, het hul dan mar net vir ou Lettie ’n geheimpie gelat glip – so sam m’t die wete lat sy nou die enigste anner ene is wat dié kennis dra. Dit was oorgenoeg gewees. Môre kan jy mar gekom ’t waar jy gewil ’t, de leste mens ’t kennis gehad en was onner ’ie indruk gewees lat net hy en Lettie vannie besigheid weet.
En m’t dié lat sy so ’n besuin vir ’n mond gehad ’t het die mense pertykeers vir ou Lettie vreeslike strepe getrek, einlik m’t die bedoeling om haar te genees van hierie kwaal.
So bevoorbeeld kom Anneries Plesie eendag daar by Lettie an m’t die storie wat hy dan nou sil gehoor ’t oor Ans van ou Karel Semel. Nou, dié arme mens het op haar tyd en dae darem seker so ’n tweehonnert pônt annie hak getrek. Seker dié lat sy so ’n sku vir mense gehad ’t – al wassit sommer ook van puur luigeit gewees om vir ’n anner mens ’n kommetjie kôfie oor te gooi. As daar ’n mens gekom ’t, het sy pebliek innie kamer ingegan en oppie kooi geloop lê en daar ’t sy haar groot lyf nie geroer voorlat sy die laaste wiel oor ’ie werf gehoor rol ’t nie.
So kom Anneries toe nou daar by Lettie an m’t die fluisterstorie van Ans se vreeslike siekte wat haar dan nou in ’n dag of twee se tyd so uitgeteer ’t lat sy nou net velle en bene is en lat die dokter g’n her- of derwaarts weet nie. Mar sy moet nou mar nie praat nie, want dis mar ’n hoorstorie en vêder glo alte naar om te sien en ou Koos het ook mar ’n bietjie prevaatgeit nodig in dié moeilike tyd …
Ennie volgenne môre, ná die maddag wat Anneries nou m’t die tyding sam daar by ou Lettie opgedaag ’t, wassit nog skaars skemer gewees toet die eerste pêrekarre beginne ankom daar op Mittelvlei se werf. Ou Karel self was nie daar gewees nie, want hy is toe al die vorige aand Biedou toe om sy skaap te loop kyk – wat Anneries goed geweet ’t. En algar dring natierlik toe by ou Mieta innie kombuis daarop an om self vir ou Ans in persoon te sien virrie laaste groet.
Hoet ou Lettie nou ook al agterna virrie mense geverduitlik ’t lat dit Anneries se liegstories gewees ’t wat die hele moles geveroorsaak ’t, dit het alleste niks gehelp nie, want ou Anneries se verweer was waterdig gewees oorlat hy haar uitdruklik geverbied ’t om iets virrie anners te sê, oor hy self mar die storie tweedehans gehoor ’t. Dit het ’n geruime tyd gevat voorlat ou Lettie oor dié skanne gekom ’t.
Mar genees het hulle vir ou Lettie nie gekry nie. Tot op ’n dag. Kyk, die menier wat sy haar inligting gebekom ’t, was oppie foun. Daar laans die foun innie gang het haar leunstoel sy staan gehad en daar ’t ou Lettie dag en nag gesit waak. En assie foun “trieng” sê, het sy opgetel en geluister. En assie foun weer “tjiert” wil sê m’t die neersitslag, het sy die slingertjie gedrai lat hy sing: hierie kant toe en daai kant toe ’t sy gefoun, totlat al wat mens is oppie lyn geweet ’t wat angan. En assie mense gehoor ’t hoet ou Lettie – wat self mar ’n gewig gewees ’t – innie praatgat vannie foun sit steun, het hulle baiekeers sommer so ’n skyns opmerking gelos oor ’ie een of anner skannelike ding wat dan m’t ou Lettie sil gebeur ’t. En dan’t ou Lettie sommer ingetjip m’t: “Dit lieg jy!” en mar weer vêder gesit luister.
Dis nou dié ding wat einste Anneries Plesie later nie meer kan gevat ’t nie. En toet sy triek m’t ou Ans se siekte nou nie blywend gewerk ’t nie, en ou Lettie nog stryk deur uitgebesuin ’t wat sy afgeluister ’t, het hy ’n anner plan gemaak.
Op ’n môre was hy by sy ou buurman, Bêrent Boskloof, gewees. En daar ’t dié twee toe dié plan gesit bedink.
Die maddag se kant foun Anneries vir Bêrent en toet hy hoor ou Lettie steun innie foun, toe vertel hy vir Bêrent lat die Poskantoor gelat weet ’t hulle werk vemaddag aan ’ie drade daar rond en lat die mense asseblief nou nie die foun moet gebruik nie oor ’ie werksmense dan kan doodskok. En toe sit hy die foun neer. En hy tel hom weer baie suutjies op en hy wag vir ou Lettie ommie nuus te begint versprei.
Wat ou Lettie nou als daar in haar enigeit oppie stoel innie gang moet gesit dink ’t, weet ek nou nie. Mar sy’t glo nogals ’n geruime tyd gewag, amper ’n hele minuut of twee voorlat die begjerentheid om te vertel vannie Poskantoor se wens te sterk geword ’t vir haar vrese virrie dood wat kan gevolg ’t. En dis net wat sy die slingertjie klaar gedrai ’t en Mieta Soutfantein annerkant anwoort gjee, wat Anneries aan ’ie diékant so ’n aaklige doodsroggel gjee ennie foun oppie grond lat val … Ou Lettie ’t glo haar storie so m’t ’n halwe sin innie lug gelat hang, amper soos ’n man wat donkeraand oppie werf deur ’n vroumens gebetrap word waar hy gestaan ’t. Virrie res vannie dag was die foun tjoepstil gewees.
So skemeraand se kant toe vat Anneries sy perd en hy ry oor na Lettie se opstal toe. En daar sien hy vir haar by die hoenerhokke doenig. En m’t wat hy haar gewaar, toe gjee hy sy perd so ’n bietjie spore solat dit moet lyk of hy hastig die werf inkom. En hy spring ok toe sommer so half innie perd se draf af en hy stap hastig na Lettie toe en hy sê vir haar: “Lettie, het jy gehoor vannie founmannetjie wat glo vemaddag so tragies dood geverongeluk ’t oppie founpaal wat hy an gewerk ’t. Iemand moet teen ’ie Poskantoor se ytdruklike orders in die foun gebruik ’t toet hy aan ’ie drade gewerk ’t. Foeitog, hy was mar glo twee mane getroud gewees … Nou soek hulle glo die man wat die foun gebruik ’t …”
Lettie ’t skoon wit geword ommie kiewe en sôner ’n woord huis-in gestorm.
Van daai dag af het ons nou welistewaar skinnervrede innie buurt gehad, want ou Lettie was genees gewees van haar besuin; mar van toe af het niemand toe ook meer geweet hoelat dit m’t die anners innie buurt gan nie.