Читать книгу Rillers 6: Kamer 13 - François Bloemhof - Страница 10

Оглавление

6


Die aanval

By die skool loop hy soos ’n slaapwandelaar na sy klas toe. In die deur steek hy vas. Daar is dit.

Agter in die hoek wag dit.

Sy bank.

Bennie se oog vang die kraak in die muur. Hy frons. Hy’s nie seker nie, maar dit lyk of die kraak groter is as gister. Hy stap stadig na sy bank en gaan sit so ver vorentoe as wat hy kan, weg van die muur af.

Meneer Snyman maak klaar met die administratiewe takies en daar bly nog ’n paar minute van die registerperiode oor. Hy loop tussen die banke deur en kyk dat almal netjies is.

Bennie raak aan sy voorkop. Dit voel warm . . . soos die swelsel aan sy rug. Dit klop en klop.

Hy dink aan die kraak in die paneel agter hom – en die steekpyn gister in sy rug. Die gedagte laat hom omkyk en hy trek sy oë op skrefies.

Dis te donker agter die kraak om iets te kan sien.

Wát is daar agter?

In die eerste plek, hoekom is hier ’n sagte muur aan die agterkant van die klas, anders as in die ander klaskamers? En hierdie klas lyk ook vir hom kleiner as die ander. Dalk is dit ’n vals muur!

Nee, sy gedagtes is net weer besig om met hom op loop te gaan.

“Wat is dit nou weer, Taljaard?” vra meneer Snyman eensklaps regs langs hom, en Bennie wip van die skrik.

“Niks nie, meneer.”

“Dis nie ’n goeie ding dat jy hier agter in die hoek sit nie. Lyk my ek en jy gaan vanjaar weer moeilikheid optel.”

Die onderwyser kyk hom stip aan en wag vir ’n antwoord.

“Nee, meneer, ek . . .”

Verder as dit kom hy nie, want hy spring uit sy bank en kry meneer Snyman aan die keel beet.

Die man steier, ’n geskokte uitdrukking op sy gesig. Bennie hoor hoe sy klasmaats na hulle asems snak. Een van die meisies gil.

Die onderwyser val, en Bennie is soos ’n verwoede dier bo-op hom.

Meneer Snyman probeer met albei arms keer. Hulle val tussen die banke. Die onderwyser spartel om uit sy greep los te kom.

’n Potloodsakkie lê langs Bennie en hy sien ’n passer daarin blink. Hy gryp die passer en lig sy arm . . .

Hy knip sy oë. Wat het so pas gebeur?

Meneer Snyman staan nog voor hom en sy klasmaats sit rustig en werk – asof niks gebeur het nie.

Niks hét gebeur nie.

Maar dit het so werklik gevoel!

“Wat gaan aan?” fluister Robert toe meneer Snyman ’n ent weg is van sy bank. “Jy lyk nie lekker nie, ou.”

“Ek weet nie.” Bennie kyk agter hom, na die muur, na daardie kraak.

“Wat kyk jy heeltyd so agter jou?” fluister Robert.

Bennie frons. “Iets is nie reg hier nie.”

Robert kyk hom skepties aan. “Ek dink iets is nie reg met jóú nie. Jy’t my nie eens vanoggend gegroet nie, net soos ’n zombie voor jou loop en uitstaar.”

Bennie antwoord nie. Robert kyk hom nog vir ’n oomblik aan, maar toe hy geen reaksie kry nie, gaan hy aan met sy werk.

Bennie voel oor sy rug, versigtig, baie versigtig. Dit pyn rêrig. Die swelsel voel so warm soos ’n stoofplaat – en sy kop is besig om seerder te word.

Rillers 6: Kamer 13

Подняться наверх