Читать книгу Rillers 6: Kamer 13 - François Bloemhof - Страница 9

Оглавление

5


“Niks sulke nonsies nie.”

Toe Bennie die volgende oggend wakker word, wil hy nie eens sy oë oopmaak nie. Die plek op sy rug voel nie lekker nie. Hy het op sy regtersy geslaap, want hy was te bang om op sy rug te draai.

Nou is die plek seerder as gister. Dit voel asof sewe donkiekarre oor hom geloop het.

Sy ma kom in met ’n beker stomende koffie en beskuit, maar hy wil net bly lê waar hy is. Hy het nog nooit só daarteen opgesien om skool toe te gaan nie.

“Ek voel nie lekker nie,” probeer hy.

“Niks sulke nonsies nie.” Sy ma frons. “Jy kan nie nóú al by die huis wil bly nie. Die skool het dan skaars weer begin!”

“Ma . . .”

“Bennie, ek’s nie nou lus vir stories nie.”

Daar is geen genade nie, hy sal maar moet opstaan. Hy eet stadig aan die beskuit en sluk die koffie nog stadiger af. Maar hy sal moet wikkel, anders gaan hy laat wees vir skool. Hy trek homself met ’n kreun uit die bed uit.

Sy lyf is seker maar net styf en seer van heelnag op sy sy lê, troos hy homself. As hy eers aan die beweeg kom, gaan hy beter voel. Dit sal wel deur die loop van die dag regkom.

Voor hy sy hemp aantrek, draai hy sy rug na die spieël om te probeer sien hoe die plek nou lyk.

Verbeel hy hom of is dit groter en donkerder as gister?

Rillers 6: Kamer 13

Подняться наверх