Читать книгу Rillers 6: Kamer 13 - François Bloemhof - Страница 6
Оглавление2
Dinge raak nog slegter
Meneer Snyman wag al by die deur toe hulle daar aankom. Die uitdrukking op sy gesig is nog net so onplesierig as wat Bennie dit onthou – dit lyk nie of hy veel rus gekry het die afgelope paar weke nie.
“Toe, toe, roer julle!” sê hy met ’n kwaai stem. Bennie groet hom stram en meneer Snyman knik net sy kop.
Toe Bennie die klaskamer binnegaan, storm hy vir die agterste banke, met Robert kort op sy hakke.
Dit word ’n gestoei vir die beste plekke, maar Bennie het die een wat hy wou gehad het, reg agter in die hoek. Daar is jy so ver van die onderwyser as wat jy kan kom. Hy kan ook by die venster uitkyk en die wêreld daar buite dophou.
Meneer Snyman steek sy kop by die deur in. “Moenie die klas afbreek nie! Kry julle sit en haal solank iets uit om te lees, ek kom nou.”
Maar die klas kom nie tot bedaring nie. Hulle bly stry oor die beste plekke.
Dan skree iemand: “Tjips, hier kom meneer!” Almal val in hulle banke neer en gryp hulle boeke.
Toe die onderwyser inkom, is hulle kliphard aan die lees.
“Môre, klas.”
“Môre, meneer.”
“Julle skoolboeke kom eers later.” Meneer Snyman laat dit klink asof dit hulle skuld is. “Dié van julle wat nie leesboeke gebring het nie, hou julleself besig. Verstaan ons mekaar?”
“Ja, meneer.”
“Ek wil julle nie hoor nie.”
Bennie het vergeet om ’n leesboek te bring. Hy grawe ’n ou skryfblok en pen uit sy tas. Hy sal maar vir Janus, wat hy die vakansie ontmoet het, skryf.
Daarvoor is hy nie lus nie. Hy sal eerder vir Janus ’n e-pos of ’n sms stuur. Sal hy iets teken, dalk ’n motorfiets of die een of ander prehistoriese dier? Ook nie lus nie.
Hy staar dan maar by die venster uit. Behalwe vir ’n paar duiwe wat in die lug draai, is daar nie veel te sien nie, net nog ’n stuk van die skoolgebou. Die vensters blink soos ’n lang ry spieëls.
Sy gedagtes dwaal na die weke wat verby is. Hoekom kan dit nie altyd vakansie wees nie?
Hy leun agteroor in sy bank, tot sy kop aan die muur raak.
Dis eienaardig . . . Hy draai om.
Nes hy gedink het – die agterste muur is nie van baksteen nie.
Bennie loer na meneer Snyman wat druk besig is om aan sy register te werk. Hy kyk nie op nie en lyk ook nie of hy binnekort gaan nie.
Versigtig raak Bennie aan die muur. Hy klop liggies daarteen. Dit klink of dit van pleisterbord is. Witgeverfde pleisterbord.
Hy loer weer na meneer Snyman, dan na sy klasmaats. Almal is besig met iets en hulle het nie ’n saak met wat hy doen nie.
Hy raak weer aan die muur en kyk mooi. Dit lyk of dit uit drie skuifpanele bestaan en die een reg agter hom het ’n kraak in, amper ’n sentimeter breed.
Hy vryf met sy vinger daaroor.
En dan!
Bennie pluk sy vinger vinnig weg. Hy wou skree, maar het homself net betyds gekeer.
Dit was asof hy ’n skok gekry het.
Hy skuif effens vorentoe in sy bank. Nou gril hy vir hierdie hoek. Dis waar hy wou sit, maar skielik wens hy hy het eerder een van die ander banke in die klas gekies.
Outomaties kyk hy boontoe. Dis ’n ou gebou en daar is balke onder die plafon. Aan een van daardie balke, sê hulle, het ’n onderwyser haarself jare gelede opgehang.
Skielik voel Bennie benoud. Hy kry warm. Wat gaan aan?
Hy trek sy baadjie uit en leun terug in sy bank. Noudat die skrik verby is, wil-wil hy weer verveeld begin raak. Hy laat die bank tot teen die skuifpaneel wieg.
En dan ruk hy vorentoe. Pyn skiet deur sy rug.
Hy wil skreeu. Dit voel of ’n naald in sy rug steek, dieper en dieper.
Hy swaai om, hoor hoe sy penneblikkie die houtvloer tref en in die lug opskiet.
“Wat vang jy daar agter aan, Taljaard?” Meneer Snyman frons so diep, dit lyk of iemand met ’n mes ’n sny tussen sy wenkbroue gemaak het.
“E . . . niks, meneer,” probeer Bennie normaal klink. Maar sy rug brand soos vuur.
“Sit stil, of anders gee ek vir jou iets om jou mee besig te hou,” sê die onderwyser en gaan aan met sy werk.
Versigtig steek Bennie sy arm agter sy lyf en raak aan sy rug. Deur sy hemp voel hy ’n ligte swelsel. Bye? Nee, hy sou ’n by gehoor het.
Hy bring sy hand vorentoe en sy oë rek. Dis g’n wonder dit was so seer nie!
Aan sy wysvinger is ’n kolletjie bloed . . .