Читать книгу Rillers 6: Kamer 13 - François Bloemhof - Страница 5
Оглавление1
Slegte begin
“Weet jy al?” vra Robert.
“Wat?” Bennie staan voor in die ry. Hy wil eerste in hulle nuwe registerklas wees, om een van die agterste banke te kry.
“Ons registerklas . . .” Robert bly stil.
“Wát, man? Wat van ons registerklas?”
“Dis nommer 13.”
“Hoe nou?” Dit voel vir Bennie of ’n vuishou hom in die maag tref.
“Jy’t gehoor, man.”
“Nee, jy speel sommer.”
“Ek is doodernstig,” sê Robert met groot oë. “Dis nommer 13, dié nommer 13!”
“Hoe weet jy?”
“Ek het die lys by juffrou Brink gesien.”
Bennie sug. “Is dít nou hoe die jaar moet begin?”
Oral om hulle lag en gesels die ander kinders nog, want die tweede klok het nog nie gelui nie. Almal klink of hulle reg is vir die nuwe jaar, maar nou is al Bennie se lus daarmee heen.
“Daar is nog iets,” kondig Robert aan.
“Net nie nog slegte nuus nie, asseblief!”
“Ek is bevrees dit is.”
“Sê dan maar. Ek is klaar teen die grond.”
“Raai wie is ons nuwe klasonnie?”
“Wie?”
“Meneer Snyman, jou gunsteling.” Robert lag.
Bennie kreun. “Nee, nie hý nie.”
Meneer Snyman het nog nooit van hom gehou nie. Verlede jaar het hy vir hulle Geskiedenis gegee en aanmekaar op hom gepik.
Die noodlot kan nie so wreed wees nie: ou Snyman én kamer 13.
“Jy lieg,” probeer Bennie weer. “Of jy lieg ten minste oor een van die twee.”
“Ek was nog nooit so ernstig nie,” sê sy vriend, en Bennie kan op sy gesig sien hy praat die waarheid.
Kamer 13! Verlede jaar se graadneges se grappies dat iets snaaks daar aangaan, was nooit vir hóm snaaks nie. Elke keer dat hy daar verbygestap het, wou hy begin hardloop.
Iets is net nie reg daar nie, hy kon dit nog altyd aanvoel. Hy het al probeer om met Robert daaroor te praat, maar Robert lag dit net af. Nes hy nou staan en grinnik vir Bennie se benoudheid. Hy sluk teen die knop in sy keel.
Die tweede klok lui.
Die onderwyser op diens beduie hulle kan maar loop. Nou gebeur dinge glad te vinnig!
Bennie tel sy tas op, al wil hy net hier buite in die sonskyn bly, nie binnetoe gaan waar dit so koud is nie . . .
Die gange is ’n gemaal en ’n gedruis van leerders wat uitbundig praat oor wat alles in die vakansie gebeur het.
Bennie kan nie glo die vakansie is verby nie. Dit was een van sy heel lekkerstes. Nou dít!