Читать книгу Rillers 6: Kamer 13 - François Bloemhof - Страница 7
Оглавление3
Seer bly seer
“Hoe was jou eerste dag in graad nege?” vra sy ma die middag toe hy by die huis kom.
“Ag, orraait. Daar’t nie veel aangegaan nie. Maar gelukkig is ons nie meer die juniors in die skool is nie. So die seniors los ons nou uit.”
“Grootmeneer, nè,” sê Karien. Sy is in graad elf.
“Niemand het met jou gepraat nie.”
“Toe nou, julle twee,” sê hulle ma. “Gaan trek uit dat julle kan kom eet.”
“Dis jammer jy is nie so groot as wat jy dink jy is nie. Dan was jy die langste ou in die skool, in plaas van net vier bakstene hoog!” Karien kyk hom vermakerig aan.
Bennie maak of hy haar nie hoor nie en gaan na sy kamer toe. Sy is die meeste van die tyd so simpel, maar partykeer voel hy jaloers op Karien omdat sy so maklik met hulle ma kan praat oor alles wat haar hinder. Hy wonder of hy net so maklik met sy pa sou kon gepraat het as hy nog gelewe het.
Dit help nie om te wonder nie, sê hy vir homself. En daar is ook eintlik nie só baie dinge wat hom pla nie.
Die plek op sy rug voel styf en geswel. Hy onthou van die puisie wat hy verlede week op sy rug stukkend gedruk het. Dalk het dit ontsteek.
Hy trek sy hemp uit en gaan staan met sy rug na die spieël . . .
Jig! Hy trek sy asem saggies in. Die plek lyk leliker as wat hy verwag het. Dis pers teen sy vel en die swelsel is omtrent so groot soos ’n tweerandstuk.
Hy raak liggies daaraan, maar kners dan op sy tande van die pyn.
Meteens voel hy weer so benoud soos in die klas. Hy moet vir sy ma gaan sê, ’n mens moenie speel met so iets nie!
Maar sy sal hom dokter toe wil vat, sy sal dink ’n giftige ding het hom gebyt. Vir die dokter is hy nie lus nie, en vir ’n inspuiting nog minder. G’n onnodige inspuitings vir hom nie, baie dankie! Buitendien, hy is nou die man van die huis, nie meer ’n klein seuntjie wat vir alles dokter toe hoef te gaan nie.
Maar seer bly seer.