Читать книгу Hospitaaltyd - François Bloemhof - Страница 4
Оглавление1
Nóg iemand
Rudi loop in die gang af. Hy is uitgeput en sy rugsak weeg ’n ton. Al die periodes het vandag lank gevoel, en toe was daar ook nog die skyfskietoefening na die tyd.
Hulle het nou net klaar geoefen en sy skoolklere is vaal van die stof. Van die ander seuns het op gras gelê terwyl hulle na die teikens mik, maar Rudi het net harde grond gehad.
Hy wou so graag vanmiddag se kompetisie wen, maar toe klop daai simpel Werner Kok hom weer! Dis g’n wonder Werner se bynaam is Ou Skerpoog nie – hy het die teikens die een na die ander omgeklits. Rudi was darem tweede, maar dis nie goed genoeg nie.
Dêm, dis nie regverdig nie! Hy vaar vrot in al sy vakke, so hoekom kan hy nie maar hiér die beste wees nie?
In die gang is ’n groot kennisgewingbord wat sê:
Wees versigtig! Loop op die sypaadjie!
Hy is amper by die hoof se kantoor. As iemand verlede jaar vir hom gesê het hy gaan ’n meisie hê wie se ma die skoolhoof is, dan het Rudi in sy gesig gelag. Maar toe kom Suné op die dorp aan, en is boonop in sy klas. Dit was of Cupido hom met ’n honderd pyle deur die hart geskiet het.
Op die kantoordeur is ’n metaalplaatjie:
MEV. I. STEYN – PRINSIPAAL
Haar naam is Igora, het Rudi by Suné gehoor. Hy noem haar Ou Igora die Angora. Rudi lag elke keer as hy daaraan dink. Mevrou Steyn het nie verniet sulke lang, krullerige hare nes ’n sybok nie.
Hy kom by die deur tot stilstand. Hy hoor die hoof oor die telefoon praat en besluit om te wag tot sy klaarmaak.
“Roer jou!” hoor Rudi haar sê: “Hy is op pad. Hy’s nou net hier by die hek uit.”
Daar is ’n klikgeluid, toe klop Rudi aan die oop deur. “Mevrou?”
“Aarg!” roep sy uit van waar sy by die venster staan. Haar hand rus nog op die telefoon. Sy is meteens doodsbleek. “Rudi, hoe laat skrik jy my! Ek . . . ek’t gedink ek is alleen in die gebou.”
“Ons het skyfskiet gehad, Mevrou.”
“O ja, dis reg. Wat kan ek vir jou doen?” vra sy fronsend.
“Ek wou net gevra het of dit orraait is . . . of dit goed is as ek gou by Suné ’n draai gaan maak.”
“Natuurlik.” Sy is skielik weer vriendelik. “Jy weet mos jy kan enige tyd. Dit beteken altyd vir Suné geweldig baie.”
Rudi voel hoe hy ’n grinnik op sy gesig kry. Die Steyns is ryk mense; mense van aansien, soos sy ma dit stel. Hy kan nie glo dis orraait met hulle dat hy en Suné uitgaan nie.
“Dankie, Mevrou. Tot siens, Mevrou.”
“Tot siens, Rudi.”
Toe hy by die hoofingang uitstap, sien hy nog ’n kennisgewing:
Wees versigtig! Loop op die sypaadjie!
Hy steur hom min daaraan en draf hek toe. Toe maar, eendag sal hy vir die heel laaste keer hier uitgaan, dan sien hierdie plek hom nooit weer nie. Hy kan nie wag om klaar te maak met skool nie.
Op pad na Suné se huis merk hy soos altyd op hoe groot die huise en tuine hier rond is. Hy en sy ma bly in ’n deel van die dorp wat nie so mooi is nie. Niemand noem dit die arm deel nie, maar hy weet mos. Jy sien dit nie net aan die kleiner huise wat ’n laag verf nodig het nie, maar ook aan die mense se karre en klere.
’n Ent voor hom gewaar hy vir Werner, Ou Skerpoog. Rudi wil hom eers roep, maar hy’s nie nou lus vir geselsies maak nie en veral nie met Werner nie.
Buitendien, by die T-aansluiting draai die seun regs en Rudi gaan links om by Suné-hulle se huis te kom.
Dêm, sy skoenveter is los. Hy sit sy rugsak op die teerpad neer, buk af en begin die veter vasmaak.
Dan hoor hy iemand gil.
En ’n harde stampgeluid.
Hy spring vervaard regop. Was daar ’n ongeluk?
Hy hardloop na die T-aansluiting en raak koud toe hy sien wat gebeur het.
Werner lê op die grond.
Rudi hoor die geluid van skreeuende bande en weet hy was nét te laat om die motor wat Werner omgery het om die hoek te sien verdwyn.
“Werner! Hel, man!” Hy buk oor die seun, maar onthou betyds om hom nie te verskuif nie. Dit kan sy beserings net vererger.
“Eina, au!” kreun Werner. Dan gaan sy oë toe.
“Hei!” Rudi raak nog kouer. Vir ’n oomblik dink hy Werner is dood, maar dan besef hy die ou het seker net sy bewussyn verloor.
“Wat gaan aan?” hoor hy ’n bekommerde stem. ’n Vrou het in haar tuin verskyn. “O, my genade!” roep sy uit toe sy hulle sien.
“Tannie, bel gou ’n ambulans!”
Die vrou gaan haastig binnetoe, en Rudi dink aan die waarskuwings oral in die skool. Hy kan nie glo nóg iemand is omgery nie . . .