Читать книгу Hospitaaltyd - François Bloemhof - Страница 6

Оглавление

3


Opwastyd

“Bring die borde deur,” sê Rudi se ma toe sy die tafel klaar afgedek het.

Hulle gaan kombuis toe, waar Rudi skottelgoed was en sy afdroog. Sy hou nie daarvan om haar hande te laat nat word nie. Haar rooi geverfde naels is baie lank en sy is bang hulle breek of die naellak dop af.

“Hoe het dit by die skool gegaan?” Sy vra elke aand dieselfde vraag.

“Orraait.”

“Enige toetse geskryf?”

“Nee,” jok hy. Hulle het verlede week ’n uitval gehad oor sy skoolwerk.

“Het jy klaar huiswerk gedoen?”

“Ja, Ma . . .”

“En geleer?”

“Jaaaaa.”

Sy ma het hom nooit so oor skoolwerk opgeskroef toe sy pa nog by hulle was nie, maar twee jaar gelede het sy pa haar vir iemand anders gelos. Nou sê sy ma aanmekaar dinge soos dat hy ’n sukses van sy lewe moet maak sodat hy nie ook eendag soos sy iemand se slaaf hoef te wees nie. Sy is ’n ontvangsdame by ’n prokureursfirma.

“So ja,” sê sy toe sy die laaste bord afgedroog het. Sy steek ’n sigaret aan. Dis haar sewende of agste vandat sy tuisgekom het.

“Ma rook te veel.”

Sy blaas ’n wolk rook uit. “Wat kan jy my nog vertel? Hoe gaan dit met jou meisietjie?”

“Orraait.” Rudi hou nie daarvan as sy ma Suné sy meisietjie noem nie, al bedoel sy dit nie sleg nie. “Sy kan al beter hoor. Sy luister nou baie radio.”

“O.”

Sy ma is eintlik mooi. Hy was ’n paar weke gelede verbaas toe hy dit agterkom. Dit was die eerste keer dat hy só na haar gekyk het.

Haar hare is baie blond. Eintlik meer geel as blond. Haar oë is diepblou, en sy beklemtoon hulle met dik wimpers en groen oogskaduwee. En Rudi het haar nog nooit sonder helder rooi lipstiffie gesien nie, nie eens as sy soggens opstaan nie.

Hy kan nie verstaan hoe sy pa haar kon verneuk nie. En dit nogal met ’n simpel meisiekind met vaal hare en bruin oë.

“Ma?”

“Hmm?” Sy is besig om haarself in die spieël te bekyk. Hy weet sy is bang vir plooie kry.

“Ons klas moet Saterdag uithelp by die basaar. Dis vroeg die oggend. Kan Ma my met die kar vat?”

“Nee.”

Hy wonder hoekom haar stem skielik so skerp is. “Vir wat nie?”

“Omdat ek nee sê!” skree sy.

Rudi kyk haar verstom aan. Sy het nog nooit van bestuur gehou nie, en ’n ruk gelede het sy opgehou om dit te doen. Sy bestuur selfs nie meer werk toe nie. Maar hy het tog nie ’n onredelike vraag gevra nie.

Hy is nog meer verstom toe hy sien daar is trane in haar oë. Sy druk haar sigaret lomp dood in die bietjie water wat in die wasbak oor is.

“Jou pa het al weer nie onderhoud betaal nie! Hy weet goed ons kan nie op my ou salarissie uitkom nie. Maar hy weet ook ek sal hom nie hof toe vat daaroor nie. Ek sal nie die stres kan vat nie! Ek werk my klaar dood en ek . . .”

Hy weet sy skel nou sommer oor alles wat in haar lewe verkeerd is.

“Toe maar, Ma . . .”

“Moet my net nie staan en jammer kry nie!”

“Ma, oor Saterdag . . .”

“Ek ry jou nie rond nie. Jy’s nie ’n klein prinsie nie en ek is g’n jou chauffeur nie!”

Sy storm by die kombuis uit.

“Oukei, ek sal loop!” skree hy agter haar aan.

’n Oomblik later voel hy sleg daaroor. Dis seker nie maklik om hom alleen te moet grootmaak nie. En al wat hy vir haar teruggee, is swak punte.

Hospitaaltyd

Подняться наверх