Читать книгу Hospitaaltyd - François Bloemhof - Страница 7
Оглавление4
Nooit weer dieselfde nie
Vroegoggend is die skoolterrein al besig. Rudi en sy klasmaats het hulle tasse in rye neergesit en staan en gesels.
“Werner se ma het my oulady gisteraand gebel,” sê een van die seuns. “Hy kom vandag skool toe.”
“Gnf!” laat hoor iemand anders. “Hy gaan die ongeluk vir die res van die jaar as verskoning gebruik om niks te doen nie!”
Almal lag.
Dis al twee weke sedert Werner omgery is. Wanneer die skool se leerders deesdae op straat kom, is hulle ekstra versigtig – soos wat al die waarskuwings sê.
Toe roep iemand uit: “Daar’s hy!”
Hulle kyk almal na die hek, waar Werner met krukke ingehobbel kom. Hy merk hulle egter eers op toe hy omtrent reg by hulle is.
“Nou ja, ek’s terug.” Sy bene is albei in gips, maar hy vertel dit sal nie lank wees voor dit afkom nie. “Die dokter sê ek sal volgende kwartaal al kan rugby speel!”
Rudi en Werner bly agter toe die ander loop om ’n sokkerbal te gaan skop. Al was hulle nooit juis pelle nie, voel dit vir Rudi dat wat daardie middag gebeur het, hulle op ’n manier laat vriende word het. Werner lag toe Rudi ’n pen uit sy sak haal en ’n stokmannetjie op sy gips teken.
“Jy sê jy’t nie gesien hoe lyk die ou wat jou omgery het nie?”
Werner sug. “Nee. Dit was te vinnig.”
“En die kar?”
“Ook nie.”
Die klok lui. “Kom ons gaan rye toe,” sê Rudi.
“Jip. Ons moet seker maar.”
Rudi keer toe Werner sportveld se kant toe wil loop: “Nee, dié kant toe.”
“Ek maak net ’n grappie.”
Verbeel Rudi hom, of klink Werner half onseker? En hoekom loop hy so teenaan hom, asof hy hom rye toe volg eerder as dat hy sáám met hom loop?
Hulle is net betyds vir die instapklok.
Die ander in hulle klas trek al doer, toe kom Werner eers met sy krukke by die trappe aangesukkel. Rudi volg hom geduldig – enigiets om skooltyd te mors.
Pardoef, loop Werner in ’n deur vas.
“Eina!”
“Hei!” Rudi keer, want dit was so amper of hy ploeg neer. Hy kry Werner aan sy arm beet en hou hom regop.
“Jis! Dankie.”
“Is jy orraait?”
Werner skud sy kop, maar sê: “Ja.”
“Hoe het jy dan gemaak?”
Werner vererg hom. “Dink jy ek het dit aspris gedoen?”
“Jy’s mos nie verniet Ou Skerpoog nie. Hoe’s dit dan dat jy nou in deure vasloop?”
“Vandat ek uit die hospitaal gekom het, is my bene beter, maar . . . ek kan nie so lekker sien nie. Dis of ek deur digte mis loop. Maar die dokter sê ek moet my nie daaroor bekommer nie. Dit sal een van die dae oorgaan. Kom, ons mors tyd.”
Op pad klas toe kom daar ’n ry kinders van voor af. Tom Stander is een van hulle. Hy is die ander kind wat omgery is, ongeveer twee weke voor Werner. Hy het tot ’n rukkie gelede ook met krukke geloop.
“Hei, Tom!” sê Rudi onderlangs toe hy langs hom is. “Hoe’s dinge?”
Maar Tom bly voor hom kyk en reageer nie. Dan onthou Rudi dat hy nie meer so goed kan hoor vandat hy in die ongeluk was nie.
Rudi kyk Tom agterna. Hy het skielik aan iets gedink.
Dit lyk vir hom as jy in ’n ongeluk was, is jy nooit weer dieselfde nie. Kyk nou maar vir Suné. En dowe Tom daar oorkant. Vroeër het sy ore niks makeer nie.
“Rudi?”
Hy spring amper in die lug toe die stem agter hom kom. Hy tol om.
“O, hallo, ek meen, môre, mevrou Steyn.”
Sy glimlag nie. “Moet jy nie by jou klas uitkom nie?”
“Ja, Mevrou.” Hy kyk in die gang af. Werner het sowaar al tot by hulle klaskamer gevorder.
“Nou ja toe?” Sy beduie hy moet loop.
Rudi kyk haar verbaas aan.
“Onthou, hier is ek nie Suné se ma nie.” Daar is ’n vreemde kyk in mevrou Steyn se oë. “Hier is ek die skoolhoof, en hier maak jy soos ek sê.”
“Ja, Mevrou.” Rudi loop vinnig klaskamer toe. Hy voel haar oë op sy rug. Na die dag toe hy haar in haar kantoor laat skrik het, is sy nie meer so vriendelik soos altyd met hom nie.
Toe hy by die klaskamer se deur omkyk, staan sy hom nog altyd en dophou.