Читать книгу Hospitaaltyd - François Bloemhof - Страница 5
Оглавление2
Die huis langs die hospitaal
“En toe?” vra Suné. “Wat gebeur tóé?”
Rudi haal sy skouers op. “Ek het maar daar by Werner gesit tot die ambulans gekom het. Daar was niks wat ek verder kon doen nie.”
“Dis goed jy’t by hom gewag. Dit was die regte ding om te doen.”
“Hy was anyway uit. Bewusteloos of iets.” Rudi bloos. Hy is so gewoond daaraan om dinge verkeerd te doen, dat hy nooit weet hoe om komplimente te hanteer nie.
Hulle is in Suné se slaapkamer. Dis vir Rudi erg om haar só te sien, waar sy heeldag en aldag in die bed moet lê.
Daar is ’n verband om haar oë, hulle moet rus.
Waf!
Dis Suné se poedel, Wagter. Vir die snaaksigheid het sy hom so ’n groothondnaam gegee. Wagter is oral waar sy is – en dit beteken hy is pal hier in haar slaapkamer. Nes die hond, voel Rudi ook soms hy sal enigiets vir Suné doen.
“Ek het die ambulans gehoor.” Sy beduie na die venster. Haar pa is ’n dokter en hulle huis is reg langs die hospitaal.
Dit het nogal ’n opskudding veroorsaak toe die Steyns hierheen getrek het: die man die nuwe dokter, ’n spesialis, en sy vrou die skoolhoof. Die dorpsmense het nie geweet hóé hulle moet regstaan nie.
En toe is hulle dogter die eerste skoolkind wat omgery word. Die eerste van drie sover. Dit kan nie almal ongelukke wees nie!
As die polisie net die skuldige kan vang. Watter soort mens jaag net weg?
Een dag was Suné nog kaptein van haar netbalspan, en die volgende dag moes Rudi haar só sien. Al is haar pa ’n goeie dokter, kan hy nie toor nie.
“Wat dink jy so diep?” vra sy.
“Jy weet mos ek dink nooit diep nie!”
Hy het vroeg reeds vrede daarmee gemaak dat hy nie slim is nie. Wel, álmal kan nie skerp wees nie. Sy onderwysers het eers gesê hy steek lyf weg, toe het sy ma hom ’n klomp toetse laat aflê. Die uitslae was almal tussen flou en vrot.
Nie dat dit hom onderkry nie! Hy is heel tevrede die meeste van die tyd. Al hét dinge tussen sy pa en ma nie uitgewerk nie. En al lê Suné nou hier, is daar altyd ’n kans dat sy weer sal regkom.
“Hoe het dit met die wiskundetoets gegaan?” vra sy.
Hy sug. “Gepluk, soos altyd.”
“Ek sal niks aan jou verander nie, weet jy dit?” Sy draai haar kop in sy rigting.
“Waar val jy nou uit?” Dit maak hom soms ongemaklik as sy so reguit praat . . . maar dit laat hom eintlik ook goed voel.
“Van die ander ouens is té slim. Dis eintlik die meeste van die tyd skelmgeit. As jý iets sê, bedoel jy dit.”
Sy het sulke mooi oë en nou kan hy hulle nie eens sien nie.
Rudi kyk af grond toe. Die tapyt moet baie duur gewees het, nes al die ander goed in die huis. Dokters verdien mos groot geld. Skoolhoofde moet ook ’n goeie salaris kry. Oral in die gang hang duur, oorspronklike skilderye.
Al wat fout is, is dat die huis soos ’n hospitaal ruik. Eers was dit net op sekere plekke, maar nou is die reuk hiér.
Langs die bed is ’n nuwe houertjie met kapsules. Rudi vra nie waarvoor dit is nie. Hy weet Suné het baie pyn.
’n Deuntjie wat sy ma kleintyd ’n paar keer vir hom gesing het wanneer hy siek was, kom by hom op. Dit was glo eers die kenwysie van ’n radioprogram vir siek mense.
Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou
in Hospitaaltyd, onthou . . .
Verkleur die wolke van grys tot blou
in Hospitaaltyd, onthou . . .
Rudi hoor ’n ambulans. Eers dink hy dis die een wat Werner opgelaai het, maar hy besef dit moet ’n ander een wees.
“Ek moet waai.”
“So gou al? Jy’s al geselskap wat ek kry. Ek is al so moeg van na die radio luister!”
Hoekom sy? dink hy by homself. Hoekom het daai padvark háár gekies om raak te ry?
Dis nie net haar bene wat daardie dag seergekry het nie. Haar oë ook. Dis glo die een of ander senuwee. Haar pa het verduidelik, maar Rudi het nie mooi verstaan nie.
Na die ongeluk was haar gehoor ook aangetas, maar gelukkig hoor sy nou weer so goed soos altyd.
Rudi staan op en loop om die bed. Die poedel grom dadelik. “Ag, koel af, Wagter, ek sal niks aan jou ounooi doen nie!”
Hy vat Suné se hand en soen haar op die voorkop. Hy wil haar ’n drukkie gee, maar haar arm is nog in ’n hangverband.
“Ek kom gou weer kuier.”