Читать книгу Hospitaaltyd - François Bloemhof - Страница 8

Оглавление

5


’n Wonderwerk

Rudi het skaars die voordeurklokkie gelui of die deur gaan oop.

“Middag, Dokter.” Rudi kon dit nog nooit regkry om hom “Oom” te noem nie, net so min as wat hy vir die skoolhoof “Tannie” sou kon sê.

“A, dis jy, seun,” sê dokter Steyn bo-oor sy bril. “Kom deur na Suné toe. Ek het vir jou ’n verrassing.”

Rudi volg hom in die breë gang af. Die dokter dra sy wit jas. Rudi het hom nog nooit daarsonder gesien nie.

“Ek het vanoggend haar oogverbande afgehaal . . .” Hy lei Rudi die kamer binne. “Ek is baie in my skik!”

Daar sit Suné. Sy glimlag. Sy het maande laas so gelukkig gelyk.

“Rudi! Dis ’n wonderwerk! Ek kan weer sien nes altyd! Selfs nog beter!”

Asof hy saamstem, kef die poedel langs haar ’n paar keer luidkeels.

“Sjuut, Wagter!” sê Suné. “Weet jy, Rudi, ek was so benoud toe my pa die verbande begin afhaal. Ek was bang ek sien nog swakker, of dalk glád nie. Maar my oë is perfek! Alles is so helder! Ek kan selfs my pa se naamplaatjie van hier af lees!”

Rudi kyk ook daarna. Op die goue plaatjie staan:

DOKTER F. N. STEYN

Die dokter glimlag vir Suné. “Ek het jou mos gesê jy is in veilige hande, my kind. Ek sal jou weer die mensie maak wat jy vroeër was. Wees net geduldig.”

“Wat sê jy, Rudi?” vra Suné. “Is dit nie fantasties nie?”

Hy gaap haar aan. Hy kan sommer sién haar oë is beter. Hulle blink behoorlik.

“Ek . . . is baie bly.”

“Kom nou, jy kan beter as dít doen!”

“Ek is vrek bly,” glimlag hy van oor tot oor.

“Ek kan sien!” skree sy. “Ek kan sien! Ek kan sien!”

Haar pa staan haastig nader en sit sy hand op haar skouer. “My kind, asseblief, bedaar.”

“Maar Pappa!”

“Jou hart. Onthou van jou hart.”

Haar gesig val en sy sug. “Ja . . .”

Ook Suné se hart het daardie dag toe sy omgery is ernstige skade opgedoen. Rudi weet dis die grootste probleem. Sy was sover gelukkig: haar ore en oë is baie beter. Maar ’n hart is ’n moeilike ding om reg te dokter, selfs vir ’n slim man soos haar pa.

“Belowe my jy sal nie té opgewonde raak nie. Wat help dit ons maak jou in sekere opsigte gesond, maar dan . . .”

Suné sak terug in haar kussing. “Goed, Pappa. Ek sal probeer.”

Die dokter haal sy bril af en vryf dit blink. Dan staan hy deur se kant toe. “Ek los julle twee nou alleen. Ek moet gaan werk. Ek kan seker nie ál my tyd by my gunsteling-pasiënt deurbring nie!”

Wagter kef.

Toe hulle alleen is, sê Suné: “Weet jy, Rudi, alles is so skerp en nuut. Dis asof dinge nou ánders lyk. Behalwe jy. Jy lyk nes ek jou onthou. Veral as jy lag!”

Hy onthou weer die deuntjie se woorde: Daar’s ’n lied en ’n glimlag vir jou . . .

Hospitaaltyd

Подняться наверх