Читать книгу Vir die voëls - François Bloemhof - Страница 10
5
ОглавлениеIrma luister na die gekwetter bokant haar kop, skuins na links, regs van haar ook, en wens sy kan tog net die voëls sien. Hier aan die rand van die dorp staan die bome dig.
Af en toe is daar die gewapper van vlerke, maar hulle bly buite sig.
Nou nie meer lank nie – sy sal moet aanstaltes maak huis toe, want sy moet in haar kamer wees as Pa en Ma terugkom.
Sy was nie lus vir kerk nie, toe gooi sy siek. “My kop is seer, Mamma.”
Ma Alta het haar hand op haar voorkop gesit. “Hm, dis nogal warm. Voel jy koorsig?”
“Nee, net kopseer. Dit sal weggaan as ek nog ’n rukkie slaap.”
Sy was bly om te hoor haar voorkop is warm, sodat dit kan lyk of sy rêrig iets makeer. Sy was net nie lus om in die kerk te moet sit met daardie skepsel in die bank agter haar nie. Volgende Sondag sien sy dalk daarvoor kans, eintlik sal sy moet, want sy sal nie elke keer kan lieg nie, maar vandag is sy vry.
Sy het die kar hoor wegtrek, toe maak sy haar kamervenster oop en uit is sy.
Die skelmgeit is deel van die lekkerte. Om iets te doen en daarmee weg te kom. Dis nie goed om te jok nie, weet sy, maar hoekom vóél dit partykeer so? As dit iets is wat niemand kwaad doen nie.
“Jy met jou mandolientjie,” neurie sy, “ek met my bandolientjie, sing ons die oukraalliedjie saam …”
’n Getwiet, en haar kop ruk daardie kant toe. ’n Geritsel in een van die bome, maar daar’s soveel blare …
Sy buk en pluk twee pienk daisies. Mooi. Hou een in elke hand vas, rol die stingels tussen haar vingers. Sy kan dit huis toe vat en …
Dan gaan hulle weet sy was buite. Sy gaan mos moet maak of sy heeltyd geslaap het. Sal wag tot hulle binne is en dan haar kamerdeur oopmaak en uitstap – onthou om te gaap – en vra hoe was kerk en sê sy voel nou beter.
Dit vat baie onthou om goed te lieg!
“Sing ons van waterstrome, slange en olienhoutbome, en ’n ribbok wat daar teen die rantjie staan … Ons sing, ons speel …”
Sy hoor iets klap en haar kop ruk daardie kant toe.
Kan niks sien nie, of eerder, sy sien net bome. Dit was seker ’n kar se exhaust. Maar dit het nie so geklink nie. Maar jy kry mos verskillende soorte karre.
Dit het naby geklink.
Maar sy gaan mos nou-nou waai. Net eers kyk of daar in daai boom ’n voëltjie is.
Sy weet nie wát dit is wat hulle vir haar so fantasties maak nie. Die natuur se juweeltjies, het haar ma hulle al genoem, en dis waar: dat hulle die bome en bosse versier, dat hulle vrolike geluidjies maak, dat hulle kleur en lig bring soos robyne en saffiere en diamante.
Irma gee net ’n tree, toe gewaar sy ’n figuur aan haar regterkant, seker so tien meter weg.
Haar hart ruk.
Hy!
En met ’n geweer. Hy is nie in die kerk nie, sy wou wegkom van hom af en nou’s hy hier. Kan nie wees nie! Sy sien nou dis ’n windbuks. Hy lê plat op sy maag, het haar nog nie opgemerk nie.
Sy wil omdraai, wil padgee, maar volg die lyn van die wapen se loop.
’n Poeletjie. ’n Duif wat sit en water drink.
Nee! Sy wil die woord skree, maar trek net haar asem in.
Nou weet sy wat die klapgeluid was.
En hier kom dit weer: Kwa!
Vere fladder.
Irma laat val die daisies, sien hoe dit langs haar skoene in die stof land.
“Hei!” skree Sampie, besig om orent te kom.
Sy wil naar word toe sy agterkom die duif is nie dood nie, dit beweeg nog.
Sampie is soontoe op pad, hy gaan dit seker doodmaak, en sy wil keer, maar sy weet sy moenie, dis beter so, die arme ding ly nou net.
Sy tol so vinnig om dat sy duiselig raak, en begin hardloop.
Is skielik vas oortuig hy gaan haar in die rug skiet. Iemand wat ’n duif kan skiet, kan enigiets doen. Sy wag vir die klap van die skoot, die pyn in haar rug, maar dit kom nie, daar is net die geraas van haar asem. Sy skop haar skoene uit, want sy kan nie so vinnig daarmee hardloop nie, gryp dit, dan kry sy weer spoed. En dan is sy tussen die bome uit en laat met elke tree die bos verder agter.
Sy kom na ’n ruk tot stilstand om haar wind terug te kry. Besef die koue op haar wange is van trane.
Die vuilgoed! Wat het die duif ooit aan hom gedoen? So tipies van ’n seun, wat net wil breek en doodmaak!
Hoeveel duiwe gaan hy vandag nog skiet? Sy wil nie daaraan dink nie.
Sy loop ’n ent. Kry haarself stadig kalm.
Pa en Ma sal lankal by die huis wees. Sy sal moet erken sy het buitetoe gegaan. Sy sal moet sê sy het beter gevoel na die slapie, toe is dit so ’n mooi dag dat sy wou uitgaan, en sy het nie agtergekom die tyd gaan so vinnig verby nie.
Pa wil mos nie vir haar ’n horlosie gee nie. Al die ander kinders in die klas het horlosies.
Sy het aan die verkeerde kant van die bos uitgekom, so dit vat haar lank om huis toe te loop. Sy sê vir haarself dis net ’n duif, dis nie die einde van die wêreld nie … maar vir die duif ís dit en sy wil weer begin huil.
Sy moet vrolik wees as sy by die huis kom, anders vra hulle wat’s fout.
So, teen die tyd dat sy die ligblou voordeur oopmaak, seker ’n goeie uur later, glimlag sy.
Dit ruik lekker. Sy dink dis hoender.
Sy is op pad kombuis toe en skrik toe sy haar pa in die sitkamer gewaar, op die bank waar hy altyd sit. Of lê, soos nou. Hy kyk na haar en sy glimlag. Dit lyk of sy oë en neus nie kan besluit watter die rooiste moet wees nie. Sy het hom nie vanoggend gesien nie – is hy só kerk toe?!
Sy weet hy sien sy het haar skoene in haar hand, en hy moet ook kan sien hoe vuil haar voete is, maar sy hou aan glimlag en loop verby.
“Môre, my skat,” kom Ouma se stem toe sy die kombuis binnegaan.
“Haai! Is Ouma hier?”
“Jy weet mos,” kry sy ’n soen op die wang, “ek is altyd waar daar kos is.”
Irma lag.
“Voel jy beter?” vra haar ma – darem nie op ’n manier wat klink of sy haar wil vasvra nie.
“Ja, dankie, Mamma.”
Dit lyk eerder of Ma Alta haarself moet keer om nie te lag nie. Sy lag meer as Ouma by is, kompleet asof Ouma haar ma is en nie Pa s’n nie.
“Lyk my jy het daardie kopseer weggespeel.”
“Ek het nie gespeel nie, net …”
“Geloop? Dan het jy seker ver geloop.”
Irma besluit om te swyg.
“Ons gaan nou-nou eet, loop was jou voete,” sê Ouma. “Alta, ek is klaar hier, waarmee kan ek volgende help?”
Irma gaan badkamer toe. Nadat sy haar voete mooi skoon gekry het, was sy ook haar gesig. Trek die borsel ’n bietjie deur haar hare, maar dit help nie veel nie. Die son wat deur die ruit val, laat dit baie rooi lyk. Sy’t lankal vrede gemaak daarmee. Hou eintlik daarvan. Maar party dae is dit omtrent rooi!
Soos bloed.
Nee, sy gaan nie daaraan dink nie. En dis anyway nie rêrig die kleur van bloed nie, sy’s nou sommer vol nonsens.
Die vier van hulle gaan eetkamer toe. Ma Alta vat die stoel waarop niemand gewoonlik sit nie, want die een poot is effens korter as die res.
Daar word eerste vir die man van die huis ingeskep.
Wat nie ’n woord sê toe hy die bord vat nie. Wat begin eet terwyl sy vrou nog vir die ander skep.
Voor hom staan ’n glas met daardie bruingeel vloeistof wat Irma so haat. Sy gaan dit miskyk.
Kan ook nie.
Hy moet dit opgemerk het, want hy sê: “Ek sien ons meisiekind loop vandag weer soos ’n seun rond.”
“Ons rabbedoe,” probeer Ouma ’n grappie daarvan maak.
Irma skop haar skoene uit. Haar tone wil nie so vasgevang wees nie. Sy skuif dit stilletjies opsy sodat sy dit nie nou-nou kan raakskop nie.
Die man van die huis vat ’n sluk uit sy glas. Sy mond maak ’n vetterige streep om die rand.
Irma onthou daai telefoonoproep wat sy afgeluister het: “Nee, Ma, daar sal nie moeilikheid kom nie. Hy het dit nou baie meer onder beheer. Regtig.”
Sy wonder hoe dit by die werk gaan. Hy’s seker nooit so dronk dat hy nie sy werk kan doen nie. Dit is net by die huis …
“Gaan jy nie eet nie?” vra hy.
Sy skrik. Het skoon vergeet van die bord voor haar.
Nog ’n sluk brandewyn. “Jou ma het al die moeite gedoen om vir jou kos te maak.”
Haar ma glimlag. “Ag, dit was nie –”
“Moenie haar sterk in haar kwaad nie.”
Watse kwaad? wil Irma vra, maar sy weet jy vra nie sulke vrae nie.
En nou sien sy dit. In die wit bord voor haar, langs die oranje van die pampoen en die groen van die ertjies.
Vlerk.
Hoendervlerk, maar steeds vlerk. En sy weet ’n hoender is nie ’n voël nie, dis pluimvee, maar dit maak nie ’n verskil nie.
Haar ore begin suis, maar nog steeds kan sy die dominee se stem hoor:
Maar as hy nie ’n lam kan bekostig nie, moet hy as boete vir wat hy gesondig het twee tortelduiwe aan die Here bring.
Sy gaan naar word, sy sweer sy gaan naar word!
Sy dwing ’n paar ertjies op haar vurk, dwing die vurk na haar mond toe, maal dit fyn met haar kiestande, sluk-dwing dit in haar keel af.
Dan ’n skeppie pampoen.
Ouma Martie maak waarderende geluide, praat oor hoe lekker alles is, vra vir Pa hoe dit met die eerste week by die werk gegaan het, kry nie veel van ’n antwoord nie, sê vir Ma hoe lus sy al is vir die nagereg, en Irma sal nooit raai wat dit is nie.
Sy besef Ouma wag vir ’n antwoord.
“Nee, ek weet nie.”
“Kan jy nie ruik nie?”
Sy skud haar kop. Al wat sy ruik, is die dooie duif in haar bord. Vlerk wat nooit weer gaan vlieg nie.
Hy weet. Hy’t agtergekom. Hy kyk na haar met daardie rooi oë.
“Eet jou kos.”
Die gesuis is nou nog harder. Sy weet nie waar die woorde vandaan kom nie, want sy was nie van plan om dit te sê nie.
“Is ons te arm vir lam?”
Haar ma gee ’n onseker laggie. “Waar kom jy daaraan?”
Sy lig haar skouers. Kan nie glo sy doen dit nie. Sy tart hom nou, sy weet sy doen dit en kan nie ophou nie, al is sy soms so bang vir hom, al is sy nóú.
“Nie te arm vir Jan Ellis-poeding nie,” glimlag Ouma Martie. Sy glimlag breër as gewoonlik en haar oë sê iets soos: Irmatjie, kom ons eet net in vrede, wees die minste, moet niks sê nie, hy is maar soos hy is en dinge is soos dit is.
Maar sy’s moeg daarvoor om nooit iets te kan sê nie, moeg daarvoor dat hy só is, dat dinge só is!
Die man van die huis, die heerser, die koning, sis: “Genoeg! As ons kos nie goed genoeg is nie, gaan na jou kamer toe!”
“Ivan,” wil Ouma Martie keer, “sy het nie …”
“Ek sê, trap!”
En dan sluk Irma en vra:
“Is drink sonde?”
Daar is dit. Die woorde is uit. Sy is yskoud, maar sy’s ook nie spyt nie. Hy moet dit hoor, hy wat só kerk toe gegaan het en nou verwag almal moet hier sit en maak of niks fout is nie.
Haar ma frons. “Ivan …”
Hy spring op, sy gesig vertrek van woede. Irma het hom nog nooit só gesien nie.
“Ivan, sy’s ’n kind!”
“Het ek gevra vir jou opinie?”
Maar iets in haar ma se stem laat hom tog vashaak. Hy troon bo Irma uit, dan besef sy verlig dat hy gaan wegdraai.
Hy trap egter iets raak – my skoene, onthou sy. Hy slaan byna neer.
“Donner! Hoeveel keer moet ek vir haar sê!”
Hy het haar aan die arm, pluk haar regop. Trek haar agter hom aan. Hy is so dronk én so kwaad dat hy vergeet om nie te hink nie.
“Ivan!” roep haar ma.
“Ivan!” roep Ouma.
Maar hulle kom nie saam sitkamer toe nie. Na die bank toe nie. Waar hy nog ’n keer byna struikel, dié slag toe hy die leë bottel raaktrap. Hy kry sy sit, trek haar oor sy knieë.
“Jy dink jy’s so groot, jy’s nog nie te groot om ’n ordentlike loesing te kry nie!”
Sy wil skree, maar sy sal nie. Sal ook nie huil nie.
Hy lig haar rok opsy sodat hy haar stêre net deur die broekie kan slaan.
“Wie.”
En die klapgeluid soos ’n skoot. Sy sal nie huil nie!
“Nie.”
Sy moet dit vat, want sy’s in sy huis.
“Wil.”
Sy byt op haar onderlip. Die geluide eggo deur die sitkamer en sy voel hier kom die trane tog. Dis só seer, maar dit sal netnou ophou, dit hou altyd op.
“Hoor.”
Dis hoe dit is, mans is baas by die huis.
“Nie.”
Sy’s net ’n meisiekind.
“Moet.”
En as jy eendag man vat, is dít wat jy kry.
“Voel.”