Читать книгу Vir die voëls - François Bloemhof - Страница 7
2
ОглавлениеDie orrel kreun aan die lewe en gemeentelede kom die kerk drupsgewys binne.
Irma wonder op wie se plekke sy en haar pa en ma dalk kom sit het, hier in die tweede ry van voor af. Jy is gewoonlik veilig as jy op ’n nuwe dorp hiér inval, want haar ma het al gesê nie baie mense sien kans om op ’n Sondagoggend so vlak onder die dominee se neus te sit nie!
Sy hoop die mense sien haar ma raak. Seker omdat dit die eerste keer is dat hulle hier kom, het Ma Alta haar mooiste rok aan, half pienk, half perske, en dis so sag soos satyn moet wees. Haar ma het vanoggend vroeg haar hare gedoen, krullers ingesit sodat die onderkante so liggies van haar ken af wegwaai. En bo-op haar kop het sy die hare vasgesteek om ’n mooi bol te vorm. Daarby die oorbelle wat amper soos regte pêrels lyk.
Haar pa dra sy pak klere. Sy snor is gekam, maar sy hare lyk vir haar soos ’n donker, vormlose mussie oor sy kop.
Daar kom ’n jong tannie in met ’n rok wat bo haar knie sit, sies.
Hier kom Ouma ook nou. Sy woon nog al die jare hier op Queenstown. Dis deur haar wat Pa Ivan die werk gekry het, maar hy het baie kwaad geraak toe Ma Alta dit sê.
“Jammer, ek het dit nie so bedoel nie.”
Haar ma is altyd aan die jammer sê, maar as haar pa iets omstamp, vra hy nooit verskoning nie, hy wil weet hoekom staan die goed so oral, al is daar net ’n paar goed in die vertrek.
“Mag ek maar hier langs jou kom sit?”
Irma lag. Ouma weet mos sy hoef nie te vra nie! Sy skuif ’n entjie opsy om nog plek te maak, want Ouma het nogal groot geraak vandat sy haar laas gesien het. Sy was gister by hulle aan, maar sy lyk vetter met die rok met die blommetjies wat so styf oor haar boude en tieties pas. Irma maak of sy dit nie raaksien nie.
Irma probeer stil sit. Haar boude is darem nie meer seer nie, die slanery was mos eergister al.
Gister het hulle die huis reggeruk. Pa was in ’n goeie bui. Hy hou daarvan as hy dinge gedoen kry.
Maar gister was natuurlik Saterdag. Hy sal dalk party aande oorslaan, maar nooit ’n Saterdag nie. Met al die lopery deur die dorp is sy Vrydag by twee drankwinkels verby; sy wonder by watter een hy gaan koop het en hoe lank dit hom gevat het om dit te ontdek. Of hy het dit seker onthou van toe hy destyds hier gebly het.
Maar, herinner sy haarself en glimlag, dit was een van die Saterdagaande wat hy nie geraas het nie. Sy was in haar kamer, maar weet dat hy in die sitkamer op die bank aan die slaap geraak het.
“Wat glimlag jy so?” Ouma leun oor. Sy ruik lekker, na blomme en vrugte. Toe sy gister kom help het, het sy dieselfde parfuum gedra.
“Glimlag sommer, Ouma.”
“Altyd ’n goeie ding.”
Ouma is Pa se ma, nie Ma s’n nie, al praat sy en Ma baie meer. Dit was Ma wat gebel het om mooi te vra of Ouma Martie nie dalk kan hoor of hier ’n opening is vir Pa nie – Irma weet, want sy het die gesprek staan en afluister; die telefoon het net om die draai teen die muur gesit. Oupa het ook op die spoorweë gewerk, so Ouma woon nog na sy dood in ’n ander rooibaksteenhuis net drie blokke van hulle af.
“Kry julle stêre plat.”
Irma gee ’n ruk; sy’t gedink dis haar pa en dat hy nie hou van hoe sy en Ouma sit nie. Maar die stem het van agter af gekom.
Sy loer oor haar skouer en sien die oom en tannie van langsaan. Hulle het gistermiddag ingeloer, die tannie het toebroodjies en ’n paar appels gebring. Gevra of hulle kan help met iets.
“Ons kom reg, dankie.” Haar ma was vriendelik, al weet Irma nou al sy hou nie van vriende maak nie. Dan kry sy later te skaam as hulle agterkom. Partykeer kan sy makliker agterkom hoe haar ma dink as ander kinders.
Môre moet sy skool toe – dan sal dié gedrog daar iewers wees.
Hier sit hy langs sy pa. Irma maak ’n punt daarvan om vir die oom te knik, en vir die tannie, en vir die meisie wat langs die tannie sit. Hulle het gister gesê sy – Marita of so iets – kuier by ’n maatjie en sal bly wees om te hoor van ’n speelmaat langsaan.
Irma maak of sy glad nie die skepsel raaksien wat langs sy pa sit nie. Hy kan ’n rugbybal skop, maar hy’s walglik.
Die oom wikkel sy wenkbroue en sy moet keer of sy lag hardop.
Almal glimlag vir haar terug, behalwe die outjie. Sy pa het gepraat van “Sampie”. Wat vir ’n naam is dit anyway?
As sy nou na hom sou kyk, is sy seker hy gaan bedonnerd lyk. Is seker bedonnerd gebore.
“Irma,” kom haar ma se stem, en sy kyk maar weer voor haar.
Die Marita-girl lyk heel nice. Sal maar sien. Sy kom nie altyd goed met meisies oor die weg nie, hulle is so … meisierig. En haar rokkie is darem baie wit en netjies, die vlegseltjies – dieselfde soort bruin as haar vark van ’n broer s’n – so gelyk oor haar skouers dat dit lyk of sy nog nooit gepoep het nie.
Die dominee kom tydsaam in met sy swart kleed wat op die tapyt sleep, verdwyn omtrent by die donkerhout-preekstoel, maak keel skoon en begin te praat, nogal sag, asof hy alleen is. As hy gesien het hier is nuwe mense, wys hy dit nie. Sy hoop tog nie hy kom maak ’n draai by die huis nie. By die vorige huis, toe die dominee daar aangekom het …
Ouma Martie pass iets aan en Irma gee haar hand ’n drukkie toe sy dit vat. Sy het gister ook een gekry. Ouma noem dit ouderling-lekkertjies, sy weet nie hoekom nie, maar sy hou daarvan want dis pienk. G’n pienk rokkie vir haar nie, dankie, maar pienk lekkertjies is ’n ander saak!
Sy maak of sy oor haar mond vee sodat sy die ouderlinglekkertjie daarin kan plant.
Hmmmmm.
“Maar as hy nie ’n lam kan bekostig nie, moet hy as boete vir wat hy gesondig het twee tortelduiwe aan die Here bring.”
Irma se aandag is terug by die preek. Tortelduiwe. Hulle is so mooi. Net voor hulle by die kerk ingekom het, het sy iewers een gehoor.
“Hy moet die eerste se kop vlak voor sy nek afknyp.”
Sy sluk amper die lekkertjie in. Sies!
“Dan moet hy van die bloed van die sondoffer teen die kant van die altaar sprinkel; en die res aan die onderkant van die altaar uitdruk; dit is ’n sondoffer.”
Wie maak nou ’n onskuldige voëltjie dood? Sy sal seker maak dat sy nooit ’n sondoffer bring nie, wat dit ook al is!
Die dominee praat verder, maar sy kan nie verby die beeld van ’n bloederige tortelduif kom nie. Hoe wreed. Die dominee noem dit ook ’n “soenoffer”, maar ’n soen is dan iets sags.
Sy wil naar word. Moenie daaraan dink nie.
Sy sluk swaar. Nou proe die lekkertjie suur, maar sy maak haar mond vol spoeg en dit begin beter raak.
Die dominee praat nog, maar sy luister nie. Die bank is hard! Maar dis goed, nou kan sy eerder daaraan dink.
Haar nek begin jeuk. Sy verstaan eers nie hoekom sy dit nie wil krap nie, dan besef sy dis omdat die ellendeling hier agter haar dit as ’n teken van swakheid sal sien.
Maar dit maak tog nie saak wat hy dink nie.
Sy steek egter haar hande onder haar boude in om te keer dat sy krap.
Na ’n rukkie het haar nek ophou jeuk; dis nou of dit al hoe warmer raak. Asof Sampie se oë klein vlammetjies uitstuur …
Sy móét kyk.
Maar almal sal sien. Daar is g’n rede hoekom sy moet omdraai nie.
Maar sy sal nie rus vir haar siel kry voor sy weet of hy rêrig so stip na haar kyk, en of sy haar net verbeel nie.
Sy draai net so ’n paar grade. Maak of sy pas agtergekom het daar is iets op haar skouer. Vee dit met die rugkant van haar hand af.
Sy besef sy is spyt. As hy wel vir haar gekyk het, kon sy haar oë op skrefies getrek het.
Maar hy kyk reguit voor hom, óp.