Читать книгу Vir die voëls - François Bloemhof - Страница 12
7
ОглавлениеDat haar pa is soos hy is, is nie die ergste nie. Dis dat hy party dae anders is.
Dan is hy die pa wat sy lank gelede gedink het sy ken. Hy het toe nie so dikwels na brandewyn geruik nie, of sy het dit nie opgelet nie, of sy onthou nie meer so goed nie.
Nou sien sy daardie pa nie veel meer dikwels as Vader Krismis nie.
Hy kan haar nog verras en dan word sy amper kwaad vir hom, want dit beteken sy gaan weer slegter voel die volgende keer as hy dronk is.
Soos ’n paar weke nadat hulle hier op Queenstown aangekom het:
Laatmiddag en sy lê op die stoep Jasper die Speurder en lees wat sy by die biblioteek uitgeneem het, toe sy die hekkie hoor skwiek. Hier anderkant haar sit haar ma, besig om ’n paar skoene van haar pa blink-blink te polish.
Irma sit die boek neer, hoor die voetstappe op die kolletjie gruis, dan verskyn daar meer van haar pa se donker, slap hare soos hy die trappies klim. Daar is ’n eienaardige trek op sy gesig, en dit word ’n glimlag.
“Dis mos nou die gesig wat ek aan die einde van ’n lang dag wil sien.”
Sy besef sy glimlag ook.
Hy buk en soen Ma Alta. Wat skaam lyk. Hy kyk na Irma en hy staan ongemaklik asof hy iets agter sy rug wegsteek.
“Kom hier, juffroutjie.”
Het sy iets verkeerd gedoen? Maak hy net of hy vriendelik is? Is dit ’n slaanding wat hy vashou?
Sy gaan nader en hy druk iets in haar hand. Sy trek haar asem in toe sy sien wat dit is.
“Vir die voëls,” sê hy.
Irma gryp die verkyker voor hy dit dalk kan terugvat. Sy weet nie waar hy daaraan gekom het, of hy dit gekoop het of wat nie, dis net, dis net so …
Sy gooi haarself in sy arms. Hoor hom bo haar kop lag.
Dit moet net ’n paar sekondes wees, maar die vashou voel soos ure. Die beste ure in hóé lank.
Sy begin afsit na die hekkie toe.
“Moenie te ver gaan nie,” roep haar ma agter haar aan.
“Ag, Alta – laat haar verken.”
Het sy rêrig haar pa dit hoor sê? Moet wees, want toe sy terugkyk, neem hy haar ma se hand.
En dan is daar die keer dat sy iets sien wat sy nie bedoel was om te sien nie. Nie behoort te sien nie, want kinders moenie sulke goed van hulle pa’s en ma’s weet nie.
Sy staan op om te gaan pie. Weet nie hoe lank sy geslaap het nie. Dink aan die mossie wat sy die middag minute lank met die verkyker dopgehou het voor dit tjirpend weggevlieg het om die dag iewers anders te gaan beter maak.
Sy loop saggies toilet toe, want sy wil hulle nie wakker maak nie.
Maar haar pa en ma ís wakker, sy hoor stemme by die deur wat op ’n skrefie oop staan. Daar brand ’n dowwe lig.
Daar kom ’n sagte geluid en dis wat maak dat Irma vassteek. Huil hy? Kan nie wees nie! Sy het hom nog nooit sien huil nie.
Sy loer.
Op die kassie brand die lampie met die swart kappie. Op die bed sit haar pa. Hy het nie ’n hemp aan nie en lyk maerder as wat sy hom onthou, dalk is dit die swak lig. Hy lyk … Sy dink aan die regte woord.
Verslae.
Voor hom kniel haar ma, in haar nagrok. Die geluid van water. ’n Lap wat deur water gevee word. Daar is ’n skottel langs haar en sy lig sy voete daarin om dit te was.
Sy ken bewe, Irma kan dit van hier af sien.
“Jy’s te goed vir ’n vrot man soos ek.”
Haar ma sit haar vinger op sy mond, skud haar kop. Hy vat haar hand en soen dit.
Irma sluip weg, bang dat sy ’n geluid sal maak. Hierdie mense wat lyk soos sy hulle nog nooit gesien het nie, is haar ouers. Dis ’n angswekkende gedagte. Sy ken hulle eenvoudig nie.
Dan kom daar ’n keer dat sy dinge weer ánders sien. Soos wanneer sy en haar ma in die hoofstraat loop.
’n Ou en ’n meisie kom van voor af aan. Elkeen se hand verdwyn agter die ander se lyf.
“Sies,” hoor Irma haar ma onderlangs sê toe hulle by die twee verby is. “Moenie kyk nie.”
Natuurlik kyk sy. Die ou en die meisie het hulle hande in mekaar se jeans se gatsakke. Dit beteken hulle is besig om aan mekaar se stêre te vat!
Sy wonder hoe dit sal voel as …
“Liefde is vir die voëls, Irma,” kom die stem van bo, soos ’n groot boodskap.
Vir die voëls. Sy wonder vir ’n oomblik of haar ma met haar spot.
Nee. Daarvoor het sy te veel hartseer in haar stem.