Читать книгу Vir die voëls - François Bloemhof - Страница 8
3
ОглавлениеDit was so hittete, dink die seun. Mens is nie veronderstel om in die kerk om te kyk nie, so hy’t gedink dis veilig om haar dop te hou.
Nee, nie dop te hou nie. Om haar uit te kyk.
Snaakse enetjie. Hy weet nou al haar naam is Irma. Sy pa en ma het so gesê toe hulle gister van die huis langsaan kom. Irma! So ’n prim en propperse grootmensnaam, en dan is sy so …
Hoe? Definitief nie soos ’n grootmens nie, maar ook nie soos die meisies in sy klas nie. En glad nie soos sy suster nie.
Sy het eergister ook nogal anderster gelyk – maar toe staan en lag sy mos vir hom. Kan bly wees hy’t haar nie met die kluit in die gesig gepot nie!
Wat soek sy in mense se jaart sonder dat sy genooi is?
Maar hy’t geskrik toe sy skrik. Was bly hy het haar nie raakgegooi nie, al het hy geweet hy sou nie, niemand in die skool mik soos hy nie.
Ook nou lyk sy so half … deurmekaar. Dalk is dit maar net die rooi hare. Sure, sy’s in ’n kerkrok en haar hare is vasgemaak, maar dis of die ponytails terugbaklei, of dit die wit linte wil afgooi.
Lyk behoorlik soos twee ponies se sterte weerskante van haar kop. Rooi ponies. Maar sy het nie sproete, soos hy gedink het alle rooikoppe het nie. Haar vel is bruinerig, sy kom seker baie in die son, maar hy dink sy sou andersins bleek wees.
Want dis bleek dáár – die agterkant van haar nek wat nie baie son kan kry nie.
Hy kan nie ophou kyk daarna nie. Selfs nou nog, nadat sy hom byna betrap het.
Sy kon dit mos nie aangevoel het nie!
Hy weet niks wat die dominee praat nie. Iets soetsappigs van tortelduiwe, toe’t hy afgeskakel.