Читать книгу Vir die voëls - François Bloemhof - Страница 14
8
ОглавлениеDit was tyd vir een jaar om te gaan en ’n ander om te kom. In sommige opsigte verskil die nuwe nie veel van sy voorganger nie, soos die lappies wat Irma party dae by Ouma Martie gaan hekel – hulle mag van voriges verskil wat kleur betref, maar dis ook maar wol en hulle dien dieselfde doel, moet deel raak van dieselfde kombers.
Op 10 Januarie raak Jacobus Johannes Fouché die land se derde staatspresident. Op dieselfde dag voltooi Irma Humpel die derde gehekelde lappie vir die vierde ry.
“Ditsem, Irma. Dit gaan lieflik lyk as dit klaar is.”
Die dogtertjie glimlag ingenome. Sulke oomblikke in haar ouma se huis is oases van vrede. Hier gaan niemand kwaai ingestrompel kom nie. Sy het nie gedink sy gaan van die hekelry hou nie, maar dis lekker om so ordelik aan te hou wikkel met haar vingers, en iets moois groei daaruit.
Amerika moet hulle bekke van ons afhou, hoor sy ’n oom sê, hulle sit met oorlog, kyk die ding met Viëtnam.
Februarie die 2de, en Richard Nixon verklaar sy presidensiële kandidaatskap.
Partykeer kom Marieda saam en sit sy met haar pop – die een wie se been sy weer aangewerk het – en hou hulle dop. Sy wil nie saam hekel nie: “Dis julle kombers.”
20 April, en ’n Suid-Afrikaanse Boeing 707 stort neer net nadat dit van Windhoek op pad na Londen opgestyg het. Van die 129 mense aan boord sterf 122.
En dit neem soms dae se stukkie-stukkie werk vir lappies om voltooi te word, neem weke vir die kombers om opmerklik te groei.
Daar is sprake dat die Liberale Party binnekort verban gaan word. Maar daarvan weet ’n Queenstownse dogtertjie wat onlangs nege geword het niks. Nes sy nie weet wat “liberaal” beteken, of nodig het om dit te weet nie.
En die jaar groei wollerig aan, die voorbeskikking het vingers wat oral strek en nooit moeg raak nie.
Onrus is daar elders, maar vrede heers hier in die Nasionale Party se Republiek – altans, die onrus wat daar mag wees, word stil gehou.
Klein oorloggies breek egter plek-plek uit wat die betrokkenes ernstig gewond van binne laat, asook soms van buite, op die mees onvanpaste maar tog ook mees logiese terrein.
Die tuisfront. Sitkamer, slaapkamer, kombuis.
Veels te dikwels is die vyand binne.