Читать книгу Liefde is ’n sprokie - Fynbosskrywers - Страница 4

EEN

Оглавление

’n Wolf, drie varkies en ’n brilpaddaprins mash-up


“Ons is hier!” hoor Cara Leandre bo die gedruis van stemme in die bus roep. Leandre beduie opgewonde deur die venster. Die bus ry stadiger en draai by ’n nou, klipperige grondpad af. ’n Geroeste bord hang skeef aan ’n houtpaal. Cara haal haar sonbril af en trek haar oë op skrefies om te probeer uitmaak wat daarop staan.

“Amp aaldraad?” lees Lene-Mari. “Watse plek is dit?” Sy kreukel haar sproetneus op.

“Seker Kamp Staaldraad, Lene!” sê Cara. “Whoopie, klink na ’n supervakansie!” Sy sug. Die plek lyk maar vervalle. Hoe gaan sy drie volle dae hier oorleef? Twee-en-sewentig ure – ’n leeftyd!

“Smile vir ’n selfie!” Leandre lig haar iPhone en Cara fake ’n glimlag. “Hmm, foto een, dag een, pas aangekom.” Leandre frons terwyl sy met haar foon vroetel. “Ag nee, geen opvangs, can you belieeeeve it! Nou kan ek dit nie dadelik op Facebook post nie!”

Dit ook nog. Cara haal haar foon uit haar sak en loer na die skerm. Jip, Leandre is reg. Ugh!

Die bus stop onder ’n paar bome en almal begin uitbondel. Cara staan op, strek en vat haar sak wat sy by haar op die bus gehou het.

“Sjoe, my boude is nou lekker lam gesit. En ek moet nou dadelik by ’n toilet uitkom,” fluister Leandre.

Iets tref Cara teen die rug. Sy struikel en verloor haar balans. O nee! Sy gryp na lug, maar val steeds sywaarts. Bo-op iemand se skoot!

“Jammer,” prewel sy bewerig. Sy kyk op, vas in twee groot groen oë agter dik brilglase. Ek is aap van die jaar, dink sy en voel hoe haar wange warm raak. Dis die nuwe outjie. Pieter, of Peet of iets. En hy lag vir haar. Die vermetelheid!

“Jy oukei, vriendin?” Leandre trek haar op en sleep haar by die bus uit.

“Gelukkig het ek nie op Jaco geval nie, dit sou so lame gewees het.” Cara, nes die res van die graad agt-meisies, het ’n ogie op verlede jaar se hoofseun en kaptein van die gimnastiekspan. “Nou was dit gelukkig net Pieter.” Sy loer oor haar skouer en sien hy kyk haar steeds grinnikend agterna.

“Pierre, Pierre Prins. Dis sy naam.”

“O, oukei, whatever,” probeer Cara dit afmaak. Sy oë is nogal mooi, as jy nou verby daai dik brilglase kan sien. En vir ’n oomblik het hulle diep in mekaar se oë gekyk. Maar toe begin hy lag, hoe durf hy!

“Toe, toe, toe, graadagts, kry julle bagasie. Daar is nie baie tyd nie, julle moet nog tent opslaan voor donker!” kom die kwaai stem van meneer Wolfaard. Die busbestuurder is besig om die sakke uit die bagasieruim te laai en die wêreld lê besaai. “Dit geld vir jou ook, Mulder!” Meneer Wolfaard kyk ysig na Cara. “Jou pappie is nie vandag hier om jou te help nie,” sê hy sarkasties. Cara byt op haar onderlip. Sedert laas week se insident is hy ekstra goor met haar.

“Waaaat? Tent opslaan? Ek dog ons bly in ’n kamphut of iets!” sê Lene-Mari benoud.

“Lene, moenie vir my sê jy’t nie ’n tent saamgebring nie!” Leandre se oë is groot.

“Ja, het jy nie die email gelees met die instruksies nie?” vra Cara.

Lene-Mari skud stadig haar kop. “Huh? Wat bedoel julle?”

Cara vang Leandre se oog. Lene-Mari is nie die mees georganiseerde mens wat hulle ken nie.

“Toemaar, myne is groot genoeg, jy’s welkom. Ou Wolfie moet net nie agterkom nie, dis blykbaar teen die reëls om te deel,” sê Leandre.

“Dis in elk geval ’n stupid reël. Vir wat nie?” vra Lene-Mari.

“Blykbaar het die vorige jaar se groep twak aangejaag – niemand weet presies wat nie – en toe het Wolfie die reël ingestel.”

Lene-Mari maak ’n vuis en kap teen haar voorkop.

“Spanwerk, girls! Ons help mekaar.” Leandre klap haar hande. “Kom, ons moet lekker plekke gaan uitsoek. Naby mekaar. Ek wil net gou ’n draai gaan loop.”

Cara en Lene-Mari gryp hulle bagasie en stap na waar die res reeds voor ’n lendelam houtgeboutjie onder ’n strooiafdak wag. Blykbaar die “kombuis” en “eetsaal”.

“Die toilette is gross,” fluister Leandre toe sy weer by hulle aansluit. Sy trek ’n gesig en waai voor haar neus.

Ag nee! Kamp is een ding, stink, vuil toilette is ’n ander saak!

Wolfie blaas sy fluitjie. Almal raak stil en hy begin praat. “Welkom by Kamp Staaldraad. Die jaarlikse buitelugoriënteringskamp vir die graadagts van Hoërskool Kruindal.”

Hy grynslag. “Op hierdie kamp word die kaf van die koring geskei! Die manne van die muise!” Hy vryf sy hande. “Die Simsons van die drama queens!” ’n Paar kinders giggel onderlangs, maar sy ysige blik laat hulle gou-gou ophou.

Hy tel ’n knipmes van die tafel op en begin sy naels daarmee skoonmaak. “Jy kom nie na my met klagtes oor gebreekte naels nie,” hy gluur die meisies aan. “Of dat jy na jou mammie verlang nie …”

O my word, dink Cara benoud. Sy sien hoe almal hom met groot oë aanstaar terwyl hy verder bulder.

“… dogters hierdie kant en seuns daar anderkant! Julle moet gou speel, julle het presies dertig minute!” bulder hy. Hy blaas weer sy fluitjie en almal skarrel weg.

“Ek háát kamp! Ek is meer van ’n vyfster-hotel tipe meisie. Ek gaan dit nooit oorleef nie,” sê Leandre onderlangs.

“Gewoonlik hou ek van kamp. Binne ’n netjiese kampeerterrein. Met skoon toilette, groen grasperke en ordentlike slaapplek! Beslis nie in hierdie dump nie,” sê Cara.

“Ou Wolfie is weer in een van sy buie. Ons sal moet ligloop,” voeg Lene by. “En dit lyk of hy sy mes in het vir jou, Cara. Dis seker oor laas week se ongeluk.”

“Dis so onregverdig. Hy kan dit mos nie op jou uithaal nie? Veral nie omdat dit sý skuld was nie.”

Cara sug. “Jip, maar hy ontken dit natuurlik. En my pa het geen bewyse nie. Nou sit ons met duisende rande se skade aan ons motor, en hy’t net ’n paar skrapies op sy buffer.” Dis baie sleg, veral omdat hy haar nou so behandel. Boonop het sy wiskunde, normaalweg haar gunstelingvak, by hom.

“Wow, dis ’n cool tent!” sê Lene-Mari ’n rukkie later bewonderend terwyl hulle spook om nes te skrop.

Leandre lag. “Dis eintlik my neef s’n. Hy’t my die dood voor die oë gesweer as dit iets oorkom. Maar dis lekker maklik om op en af te slaan en min of meer gerieflik. Troosprys vir die feit dat ek nie ’n kampgirl is nie, anders het ek sowaar siek gespeel. Mind you, ek is deksels spyt ek het nie een of ander eksotiese virale siekte uitgedink nie.”

Vinnig is die grys en blou tent onder die bome opgeslaan. ’n Paar ander tente is ook reeds op. Cara rits die blou sak waarin haar tent is oop. Die een waarmee sy nog laas Desembervakansie op Jongensfontein gekamp het.

“Noooo!” Sy laat val ’n pienk gewaad op die grond.

“Seriously? Cara, is jy nie al ’n bietjie te groot vir Barbie nie?” terg Leandre.

“Dit kan nie wees nie!” Cara sluk. “Iemand moes die verkeerde tent in die sak gesit het. En ek weet wie daai iemand is. Ek gaan Karli se nek omdraai!” Sy stamp haar voet. Haar jonger sussie sal boet hiervoor!

“Ons sal dit móét opslaan, anders gaan Wolfie lont ruik. Oppas net vir die modderpoel.” Sy beduie na die bruin pappery op die grond daar naby. “Een tent minder is klaar ’n risiko.”

“Toemaar, jy kan ook by my kom ‘loseer’. Hier’s hope plek in my tent.”

Cara het haar bedenkinge. Leandre se ‘hope plek’ is eintlik net ’n kleinerige tweemanstent. En sy weet hoe rof Lene-Mari slaap.

“Hallo! Dink jy regtig Wolfie gaan nie agterkom daar’s net twee tente tussen ons drie nie?” vra Cara.

“Cara,” sê Lene-Mari dramaties. “Jy moet mooi verstaan: daar is dríé soorte wiskunde-onnies – dié wat kan tel, en dié wat nie kan tel nie.”

“En die derde soort?” vra Leandre fronsend. Dan verhelder haar gesig en sy begin lag.

“Duh, Leandre, die derde soort is dié wat nie grappe kan vang nie, ha-ha!” Lene lag en Leandre steek vir haar tong uit.

Laggend slaan hulle die tentjie op en Barbie pryk in al haar glorie.

“Jy sal in elk geval nie inpas nie, jou voete gaan uitsteek,” giggel Leandre. “En ek dink ook nie die tent gaan bly staan nie.” Dit lyk of Barbie se hare wapper soos die tentflappe ruk in die wind.

“Dankie vir daai info. Die ergste is, álmal gaan vir my lag.” Cara se blonde hare waai in haar gesig en vervaard probeer sy dit wegvryf.

“Nice tent, ek wou al lankal vir my ook so een aangeskaf het,” kom ’n stem droogweg van agter.

Dis Pierre. Hy dra ’n bondel hout in sy arms en hy stap in die rigting van die braaiplekke. Cara dink eers hy verwys na Leandre se tent, maar dan sien sy hoe hy grinnikend na Barbie staar. Gmf!

“Jip, dit pas nogal by jou,” spot Leandre terug. “Jy’s welkom, jy kan met Cara ruil, ek is seker sy sal dankbaar wees!”

Dankie, Leandre, om vir hom te sê Barbie behoort aan haar wat Cara is! Cara voel hoe haar wange weer eens warm word. Dit raak nou al ’n gewoonte.

“Hmm, dalk ’n ander keer. Ek dink my bene gaan natreën.” Hy kyk op en Cara volg sy blik. Waar het die grys miswolke so skielik vandaan gekom?

Voordat hy egter kan antwoord, blaas die fluitjie. Die geluid kom in sarsies, aangejaag deur die wind.

“O, vrekkerasie, dis Wolfie. Hy gaan nou seker kom inspeksie doen,” sê Leandre grootoog.

Pierre haal sy skouers op en grinnik. “Sorry, girls, moet gaan … Die wolf gaan nou-nou die drie varkies se huise kom omblaas,” lag hy en begin wegdraf. Cara kyk hom agterna. Sy skouers is nogal gespierd. Veral vir iemand wat ’n nerdbril dra.

“Flippit, ek het dit nie vroeër besef nie, maar hy is nogal sexy. Jammer net hy dra so ’n aaklige bril,” sê Leandre.

Cara wil dit nie erken nie, maar vir ’n nerd is hy nie te sleg nie. As dit net nie vir daai dik brilglase was wat hom soos ’n brulpadda laat lyk nie. Dis nie dat sy iets teen brille het nie, sy weet in die regte raam kan hulle baie sexy lyk. Maar Pierre s’n is rêrig outyds en lelik. Sy sal nooit vir ’n ou kan val wat so lyk nie.

“Wie s’n is dit?” beduie Wolfie later minagtend na Barbie. Al die leerders staan in ’n bondel by die tente. ’n Paar kyk laggend na Cara. Meneer Wolfaardt sien dit en gluur haar aan.

“Ja, ek moes dit geweet het. Mulder, kom hier!”

Verbouereerd gaan staan Cara langs hom. “Regtig, Mulder, is dit die beste wat jy kon doen? Of dink jy miskien dis ’n grap!” skree hy. “Hierdie is nie ’n kindertuinkamp nie. Indien jy dit nog nie agtergekom het nie, JY IS OP HOËRSKOOL!”

Die wind pluk-pluk aan sy vaalbruin hare. Iets lyk nie reg nie – hoekom is sy hare skielik skeef?

En toe gebeur dit. Die warrelwind vang almal onkant. Die volgende paar oomblikke is vir Cara ’n warboel. Iets pienks verstrengel haar, versmoor haar. Sy stoei om los te kom, maar in die proses draai sy net al hoe vaster. En iewers tussenin spook en stoei sy met Wolfie.

Barbie. Wolfie. Barbie. Sy kry nie asem nie. Raak paniekerig. Trap agteruit, maar nie op vaste grond nie. Asof in stadige beweging voel dit of sy val, val, val … Sy maak haar oë toe. Dis die einde, dink sy, my lewe, my waardigheid, my naam, als is in sy glory in …

Iemand vang haar. In sterk arms. Sy voel veilig. Sy wikkel haar los van Barbie en kyk vas in ’n paar groen oë. Sonder sy bril. Wat? Pierre is toe rêrig aantreklik. Nee, hy is … supersexy! En sý, Cara Mulder, is in sy arms!

Wolfie, steeds gekoek in die Barbie-pienk gewaad, lê op die grond. Wriemelend kom hy orent en pluk die tent vies van hom af.

Waar is sy hare? Oeps! Met die beste wil ter wêreld probeer Cara om nie te lag nie. Sy byt op haar tande, maar die lag borrel proes-proes oor haar lippe.

Wolfie vryf die modder uit sy oë. Hy tel ’n stuk besmeerde iets van die grond af op en plak dit vinnig op sy bles. Hy kyk woedend na Cara, wat nog steeds in Pierre se arms is. Rooi vlekke slaan onder die modderstrepe op sy gesig uit. Dit lyk eers asof hy iets wil sê, maar dan swaai hy om en marsjeer weg.

Nou eers sien Cara die chaos. Die warrelwind het sy werk gedoen en almal skarrel gillend agter tente en goed aan wat die wind geskep is. Dankie tog, niemand het my vernedering gesien nie, dink sy. Jammer net hulle het Wolfie se kaalkop gemis.

Ten spyte van die deurmekaarspul rondom hulle, voel dit vir Cara of tyd stilstaan. Net sy en Pierre, in ’n vakuum. Hy sit haar versigtig neer.

“Dankie, jy’t my van ’n modderbad saam met Wolfie gered,” sê sy skamerig.

Sy sien sy gesig naderkom. Hy gaan my soen, hy gaan my soen, dink sy benoud-opgewonde. Dit voel of haar hart uit haar keel wil spring. Hoe kón sy netnou gedink het hy lyk soos ’n brulpadda?

Maar dan vryf hy net met sy duim teen haar voorkop.

“Net ’n paar modderspatsels,” verduidelik hy. Griet, sy moet seker horribaal lyk!

“Waar’s jou bril?” vra sy en trap agteruit. Kraak. “Nee!” Sy buk en tel sy skeefgetrapte bril op. “Ek is so jammer!” Sy slaan haar hand voor haar mond.

“Moenie wees nie, dis anyway my oupa se ou raam. Lang storie. Sal jy asseblief Maandag saam met my gaan om ’n nuwe raam uit te soek?”

“Natuurlik! En intussen? Hoe gaan jy die kamp oorleef sonder om behoorlik te sien?”

“Jy sal maar heeltyd my hand moet vashou en my lei,” sê hy grinnikend. “En ek het gelukkig my kontaklense ingepak,” voeg hy as nagedagte by.

Cara kyk hom ongelowig aan. “Nou vir wat dra jy hierdie aaklige bril? Jy lyk soos ’n brulpadda daarmee, jy weet!” Sy lag. “Korreksie, ’n brilpadda!”

“Ek het mos nie geweet hier gaan so ’n oulike meisie wees wat ek moet beïndruk nie,” glimlag hy skaapagtig.


Liefde is ’n sprokie

Подняться наверх