Читать книгу Liefde is ’n sprokie - Fynbosskrywers - Страница 6

DRIE

Оглавление

Bleeksiel en die skoolhunk

Lila staan doodstil agter die klaskamerdeur. Sy wou gou haar huiswerk tydens pouse klaarmaak, toe sy die raserige stemme van meisies hoor naderkom.

Sonder om twee keer te dink, het sy die simpel ding gedoen om agter die deur in te spring; weg te kruip omdat sy nie die moed het om geselsies te maak met hulle nie. Net om wraggies te hoor hoe hulle van haar skinder:

“Ou Lila het natuurlik al weer al haar huiswerk klaargemaak, sodat sy en daardie wacky vrou met die weird hare en lang rok ná skool in die veld kan gaan rondloop.” Dis Rooikop Rissiepit se stem.

Lila weet sommer hulle staan nou na haar huiswerkboek en kyk.

“Twee regte voëlverskrikkers, sy en daardie ou vrou. My ma sê sy dink die ou vrou is ’n heks – pluk plante in die veld en brou konkoksies wat sy aan die Greenies verkoop. Kamtig kruiemedisyne, maar ’n mens wonder of sy nie ook akkedisse en muise in haar brousels gooi nie.”

“Jiggie!” gril die meisies.

“Ou Lila lyk ook al nes die ou vrou,” lag ’n ander meisie. “Kyk haar snaakse klere en skoene.”

“’n Regte Pippie Langkous!”

Die meisies giggel.

Lila kners op haar tande. Die ryk mense se huise sit hoog teen die berg – verbeel hulle hulle moet ’n arendsoog oor die onderdorpers se wel en weë hou.

“Ek wonder darem,” vra een, “hoekom bly sy by die snaakse ou vrou?”

“Ek hoor haar ouers is dood toe sy nog klein was.”

“Dalk het die ou vrou haar iewers gesteel,” antwoord ’n ander.

Lila se asem ruk. Sy wens sy het die moed om agter die deur uit te spring en vir hulle te vertel wat sy van hulle gemene woorde dink. Maar dan hoor sy weer ’n stem.

“My ma sê Lila is ’n begaafde kind. Sy is slim en kunstig. Haar tante weef blykbaar ook die mooiste materiale …”

Lila trek haar asem diep in – sy sal nie huil nie. Ja, haar tante is baie eksentriek, maar sy is die beste weefster in die omtrek; sy is ook slim en kunstig en die vroue van die bo-dorp staan tou om haar materiale te koop. En haar en haar tante se lewens traak niemand nie, besluit Lila opstandig, hulle is gelukkig met hulle lewe soos dit is.

“Ag man,” dis weer Rooikop Rissiepit se stem, “ou Lila is ’n regte bleeksiel; al die onderwysers se witbroodjie omdat sy slim is en … en sy het nie eens ’n selfoon nie.”

Lila hoor hoe die meisies hulle asems intrek.

“Nie ’n selfoon nie! O nee, dis verskriklik!”

Hulle giggel weer en wys vir mekaar hulle selfies. Lila staan nog en wonder hoe sy agter die deur gaan uitkom sonder dat hulle haar sien, toe ’n meisie gil:

“Oe, daar loop die kaptein van die eerste rugbyspan!”

“Oe, dith die Adonith van my lewe!” lispel ’n meisie met draadjies in haar tande.

“Oe, die hunk!” Die meisies storm venster toe om te kan sien.

“Gerbrand, my held!” Nog ’n gil.

Terwyl hulle by die venster uithang, glip Lila stilletjies agter die deur uit en gaan sit by haar bank. Die skoolklok lui en die klas word vol.

Nerd! Die woord maal deur Lila se kop. Sy is anders as die ander kinders in haar klas. Sy ís ’n nerd! ’n Mens kan maar sê dis op haar voorkop getatoeëer.

Hulle kunsjuffrou kom die klaskamer binne. Lila se oë blink sommer weer. Kuns is haar lekkerste vak. En haar kunsjuffrou is so cool; Lila kan haar verkyk aan hoe sy aantrek; anders as die koekerige ryk vroue daar bo teen die berg, dink sy vermakerig en voel sommer stukke beter.

“Kinders,” sê Juffrou entoesiasties, “die graadtiens gaan later vanjaar ’n entrepeneursdag hou. Van elkeen word verwag om ’n projek aan te pak waarmee julle kan spog en woeker. Julle mag ook in groepies werk. Daar is ’n groot prys op die spel.”

Sommer gou ontstaan ’n hele paar groepe. Daar word opgewonde en ywerig planne beraam. Niemand nooi Lila om iets saam met hulle te doen nie.

Ná skool stap sy haastig huis toe. Sy vermy altyd die fietsloods, want tussen almal wat skarrel om hulle fietse te kry, is daar ’n ou met die mooiste swart hare en bruin oë. Die hunk, soos die meisies hom noem. Gerbrand, die matriek-ou, na wie sy ook nie kan help om te loer nie. Maar sy is doodbang hy sal haar raaksien; doodbang vir die spot in sy oë wanneer hy haar op en af bekyk soos die meeste kinders maak.

Lila sug. Almal mag dalk dink sy is eksentriek soos haar tante, maar diep binne-in droom sy ook van ’n prins. En van lankal af droom sy oor Gerbrand.

Daardie middag terwyl sy haar peettante help soek na ’n sekere soort bossie vir haar kruiemedisyne, vertel Lila haar van die skoolprojek.

“Ek weet nie wat om te doen nie, Tante. Almal is in groepies wat saam aan ’n projek werk. Wat kan ek tog maak om te verkoop?”

Tante Dalia kom regop. Sy kyk na Lila en vra: “Wat kan jy die beste doen, Lila?”

“Ek kan kitaarspeel soos ’n gypsie en ek kan sing soos ’n nagtegaal. Maar dit wat ek die heel beste kan doen, is skilder.”

“Nou toe, soos ek jou altyd geleer het, maak ’n plan.”

Min het Lila geweet dit was die laaste raad wat haar tante haar ooit sou gee – daardie nag is sy in haar slaap oorlede. Lila kan nie onthou hoe sy deur die laaste paar weke gekom het nie, maar is dankbaar sy kon darem haar tante se huisie erf en saam met ’n vriendin van haar tante daar bly.

Die buurt se mense het haar gehelp; hulle het vir haar kos aangedra en raad gegee oor hoe om kop bo water te hou. Uit dankbaarheid vir wat haar tante vir hulle gedoen het met haar wonderlike kruie, het hulle Lila oorlaai met liefde.

Maar vanoggend voel Lila haar tante sou wou hê sy moet met haar lewe aangaan. Sy onthou haar tante se woorde: “Lila, ek kan nie vir jou wêreldsgoed nalaat nie, maar onthou altyd, geluk lê binne-in jouself. Dis hoe jy na die lewe en omstandighede kyk wat jou gelukkig en suksesvol sal maak.”

En skielik besef Lila – dis haar tante se nalatenskap aan haar. Sy onthou nog iets wat haar tante gesê het: “Doen wat jy die beste kan doen.”

Sy dink aan ’n slim plan.

In die bo-dorp is daar ’n groot jol by een van die mooi huise. Musiek speel oorverdowend en die jongklomp geniet hulle gate uit.

“Jis, ou Gerbrand, jy kan vanaand die mooiste girl in die dorp kies om saam met jou matriekafskeid toe te gaan. Toe,” daag sy maats hom uit, “niemand sal vir jou nee sê op jou verjaarsdag nie.”

Gerbrand, die coolste ou in die skool, staan tussen die meisies en geniet hulle aandag. Hulle is almal baie mooi. Hy het saam met hulle grootgeword hier teen die berg waar hulle in duur huise woon. Sy maats por hom aan:

“Toe, vra een van hulle, kyk hoe check hulle jou uit!” Die ouens lag stuitig.

Gerbrand kyk rond. Ja, die meisies is beeldskoon, dink hy, maar hulle lyk almal vir hom op ’n manier eenders. Hulle het alles van die beste, die mooiste klere en genoeg sakgeld, maar miskien is geld en besittings vir hulle té belangrik. Dis al waaroor hulle praat; dis wat hulle gelukkig maak. Hy lag maar saam en gaan vra sommer die naaste meisie om met hom te dans.

Lila sit by haar tafel en beplan haar projek vir entrepeneursdag, toe daar ’n klop aan die deur is. Sy sien eers die kind voor haar, en dan, agter hom, kyk die twee mooiste bruin oë vas in hare. Gerbrand staan met die kind se hand in syne.

“Die outjie het in die straat geval en sy voet lelik seergemaak. Toe ek hom wou help, het hy gesê ek moet hom na jou toe bring.”

Dis sowaar sý oë en sý stem, dink Lila verbaas en kan vir ’n paar sekondes nie roer nie. Maar dan hou die seuntjie sy voet na haar uit. Sy toon bloei erg.

“Hy het gesê jy sal sy toon gesond kan dokter.”

Lila gaan haal haar tante se salf. Haar hande bewe, want Gerbrand bly langs haar staan totdat sy die kind se toon klaar verbind het.

Toe hulle groet kyk sy hulle agterna; sy kyk hóm agterna en sug.

Lila besluit om miniatuur-skilderye te maak. Sy gaan dit baie spesiaal maak. In elke skilderytjie gaan die gesig van ’n kind in hulle skool wees.

Die volgende dag vra sy vir die kantoorjuffrou ’n naamlys van al die kinders in die skool, met hulle foto’s daarby. Sy begin dadelik. Sy druk haar verfkwas in helderkleurige verf. Tot laat in die aande skilder sy die een na die ander gesig op ’n houtbordjie. Sy teken ’n raam om elke gesig en skryf ’n naam daarby.

Toe Gerbrand weer een middag met sy bergfiets in die natuurreservaat gaan oefen, ry hy verby die huisie van die meisie waarheen hy die kind met die seer toon geneem het. Sy bly in sy gedagtes. Dit moet darem swaar wees om in so ’n klein plekkie te woon, dink hy, maar sy lyk gelukkig.

Hy wonder nog oor haar, toe hy die strelende klanke van ’n kitaar hoor. Hy stop en sien haar op die stoeptrappies. Sy sit vooroor gebuig, haar hare hang soos ’n goue gordyn oor haar gesig. Die musiek is sag, gevoelvol. Hy gaan staan agter ’n struik sodat sy hom nie moet sien nie. Die meisie is slim, het hy gehoor, en baie talentvol. Sy is anders as die meisies wat hy ken.

Eers nadat sy weer by die huis in is, ry hy stadig verder.

Entrepeneursdag breek aan. Almal wat deelneem stal hulle ware uit. Daar is tuisgemaakte lekkers, kleinkoekies en vrugtesap te koop. Van die seuns het draadkarre en interessante wetenskaplike uitvindsels gemaak. Tafels kreun onder die mooiste krale, juweliersware en interessante naaldwerkitems. Daar is selfs een met tweedehandse boeke.

Die skoolgrond wemel van mense uit die omgewing.

Eenkant staan Lila by haar tafel. Die mense stap loer-loer verby, maar dan roep ’n vrou skielik hard uit: “Kom kyk! Hier’s ’n skildery van my dogter!”

Mense staan nuuskierig nader.

“Hier’s een van my ook,” roep ’n meisie opgewonde.

Die mense stroom na Lila se tafel. Hulle koop skilderytjies en bestel nog. Lila kyk tevrede na die geld in haar boksie.

“Kan ek ook my skilderytjie kry?” Sy kyk op, vas in die donker oë.

“Ek is jammer, maar joune is reeds verkoop,” stamel sy en bloos bloedrooi terwyl Gerbrand teleurgesteld na haar kyk. “Maar ek sal nog een maak as jy wil,” bied sy aan en skryf die bestelling in haar boekie. Hy weet net nie hoeveel meisies het reeds ’n skilderytjie van hom bestel nie.

Gerbrand gaan staan eenkant en kyk hoe Lila se tafel leeg raak. Sy dra ’n los blommetjiesrok, soos ’n regte outydse hippie. Sy het tekkies aan met ’n groen kous aan een voet, en ’n pienk kous aan die ander. Haar lang hare hang in vlegsels langs haar gesig af. Sy lyk outyds en snaaks. Sy is nogal mooi, dink hy.

Toe alles verkoop is, stap Lila kantoor toe om verslag van haar verkope te doen. In haar boekie is honderde bestellings wat haar nog lank gaan besig hou.

Terwyl sy aanstap huis toe, dink sy aan Gerbrand. Haar hartklop versnel. Hy het gevra of hy sy bestelling sommer by haar huis kan kom haal.

Vrydag breek aan. Die kinders sit in die skoolsaal en wag vir die uitslag van entrepeneursdag. Die spanning bou op, die meisies byt hulle naels en hou hulle selfone gereed om die wenner af te neem.

Lila wip soos sy skrik toe haar naam uitgeroep word.

“Lila is die wenner van vanjaar se kompetisie.” Die hoof kyk trots na haar. “Sy wen ’n kontantprys en … ’n splinternuwe selfoon!”

Lila stap skaam tussen die kinders deur om haar prys te ontvang. Almal klap hande. Haar kunsjuffrou lyk so trots op haar.

Lila hoor die sein van ’n boodskap op haar selfoon deurkom: Sal jy asseblief saam met my matriekdans toe gaan? Gerbrand.

Haar wange brand. Sy kan dit nie glo nie. Waar sou hy haar nommer gekry het en hoekom sal hy háár nooi?

Die middag ná skool wag hy vir haar by die skoolhek. Haar hart klop doef-doef.

“Jy het my nog nie geantwoord nie?”

Lila weet nie waar om te kyk nie. Sy sluk.

“Ja,” fluister sy en hy stap tevrede weg.

Lila sit moedeloos op die stoeptrappie. Sy het ’n knop op haar maag. Haar tante het altyd gesê ’n mens moet ’n plan maak wanneer jy ’n probleem het, maar hierdie probleem is te groot. Sy weet nie hoe om soos ander mense aan te trek nie; sy was nog nooit by ’n deftige partytjie nie; was nog nooit by enige partytjie nie!

Ag, wat het haar tog besiel om ja te sê vir Gerbrand. Sy weet sommer – sy gaan hom in die skande steek. Sy kan nie eens dans nie.

Wat as … sê nou net … Die gedagtes aan alles wat verkeerd kan gaan, maak haar kortasem. Sy druk haar kop in haar hande. Sy het nie ’n rok vir die matriekdans nie.

Die tuinhekkie kraak en Lila kyk verskrik op. Dis haar kunsjuffrou. Sy is bly om haar te sien.

“Lila,” sê sy, “ek is dringend op soek na ’n mooi stuk lap vir ’n spesiale rok. Die mense in die dorp sê jou tante kon so mooi weef. Het jy nie dalk nog van daardie mooi materiale nie?”

Lila spring opgewonde op. Sy voel lus om haar arms om haar kunsjuffrou te gooi. Natuurlik! Hoe kon sy vergeet?

Die linnekis – daar waar haar tante altyd die mooiste van haar geweefde materiale gebêre het!

Sy pak die kis uit; haar kunsjuffrou loer nuuskierig oor haar skouer. Lila se asem slaan weg. Haar kunsjuffrou klap haar hande in ekstase. Sy kan kies en keur tussen die mooiste materiale. Lila hou elke stukkie lap voor haar; geniet die fyn teksture tussen haar vingers. Sy weet hoe om met haar tante se naaimasjien te werk. En sy kan ’n plan maak, soos haar tante haar geleer het.

“Juffrou,” sê sy beslis, “hier is baie mooi materiale. Juffrou kan hiervan kry, maar in ruil daarvoor soek ek hulp.”

Die aand van die matriekafskeid breek aan en toe daar ’n klop aan haar deur is, maak Lila oop. In ’n spierwit pak staan Gerbrand voor haar.

Geure van soet lenteblomme hang in die lug – geure van die groot bos blomme wat hy vir haar gee.

“Jy lyk pragtig, Lila. Soos ’n prinses!” Hy kyk met bewondering na haar; na haar goue hare wat soos ’n stralekrans oor haar skouers hang; na die fyngeweefde goudkleurige rok wat wyd uitklok om haar bene.

Hy hou sy arm vir haar uit en saam stap hulle met die tuinpaadjie af na waar ’n chauffeur vir hulle die deur van ’n spierwit motor oophou.

Toe hulle instap, daal ’n doodse stilte neer in die skoolsaal – wat vanaand soos ’n paleis lyk. Dan fluister baie stemme gelyk: “Is dit Lila, die bleeksiel, die weirdo van die onderdorp?”

Later sweef Lila grasieus in die arms van haar droomprins oor die dansvloer. Haar oë dwaal oor die mense wat bewonderend na hulle kyk. Sy sien haar kunsjuffrou se oogknip. Sy sal môre vir haar gaan dankie sê vir die danslesse.

Lila voel Gerbrand se mond naby haar oor.

“Jy is vanaand die mooiste en rykste arm meisie in die hele wye wêreld,” sê hy en trek haar styf teen hom vas.

Sy kyk op in sy bruin oë en glimlag. Dís soos ’n sprokie moet eindig, dink sy dromerig – in die arms van jou prins.

Liefde is ’n sprokie

Подняться наверх