Читать книгу Liefde is ’n sprokie - Fynbosskrywers - Страница 5

TWEE

Оглавление

Lemoenkougom

“As jy nie nou dadelik kom nie, ry ek sonder jou!” kom die dreigement in die gang af.

Clara haat dit as Bella-Marié, haar stiefma, so vroeg al wil ry. Dis erg genoeg dat sy wat Clara is op ’n Saterdag kinders moet oppas om haar eie sakgeld te verdien, maar om dan boonop ’n uur te vroeg by die Nels afgelaai te word! ’n Uur langer in die teenwoordigheid van die drie hiperaktiewe, ongedissiplineerde, ongemanierde, iewers-tussen-vier-en-sewe-jaar-oud tweelinge – urghh!

Maar dalk, net GROOT dalk, bring Renaldo Belanço sy boetie, Marcos, ook weer vandag soontoe. Dit sal die uur te vroeg absoluut die moeite werd maak …

Dis Renaldo se groen motorfiets wat daar voor die Nels se hek staan! Clara se hart skop ’n paar keer teen haar ribbes toe hy vir haar waai. Hy’s nou wat die matriekmeisies “eye-candy” noem.

“Is dit die oudste Belanço-seun daardie?” vra Bella-Marié met haar snobneus op ’n plooi getrek. Haar bloedrooi wysvingernael staan met ’n boog in Renaldo se rigting. “Clara, hoeveel keer moet ek jou nóg waarsku: daardie Portugese is regte winkel-op-die-hoek mense, en hoegenaamd nie ons klas nie. En sestien is hopeloos te jonk vir jou om al verhoudings met ouer seuns te hê. Jy bly my waarskuwings ignoreer! Ek sal verplig wees om jou pa te vertel van jou arrogante houding wanneer hy huis toe kom.”

Clara vervies haar en klim uit die motor sonder om te antwoord. Bella-Marié is nie al een wat wens haar pa kan vroeër terugkom van Kenia af nie. Sy haat dit dat hy daar werk en haar alleen los by haar mislike stiefma. Hy sou ten minste die moeite gedoen het om eers met Renaldo kennis te maak voordat hy oordeel – en nie, soos sy nuwe vrou, dink hy is beter as ander mense nie.

“Hallo, Clara!” groet Renaldo. Sy wit tande en donker oë pas perfek by sy swart krulle. Clara word skielik oorbewus van haar melkwit vel toe sy na Renaldo se bruingebrande arms kyk. Sy kan sien hoe staar hy na haar lang pikswart hare.

“Hi, Renaldo. Het die Nels al gery?” is al wat sy kan dink om te sê.

“Ja, hulle het gevra dat ek solank hier by die kinders bly totdat jy kom.”

Bella-Marié lê op die toeter. Sy probeer duidelik hulle gesprek saboteer, maar Clara ignoreer haar en kyk nie om toe die motor met ’n vaart wegtrek nie. Sy voel hoe die verleentheid op haar wange uitslaan toe Renaldo sy kop skud en die motor agterna kyk.

“Die Nels is hier weg met ’n kar vol rakette en coolboxes en goed, so dit gaan ’n laaaaaang oggend wees. Miskien moet ek hier bly en jou help,” bied hy aan.

Sy bloos nog meer en draai haar gesig weg. Wat gaan met haar aan? Hy laat haar knieë soos slap mieliepap voel. Solank hy dit net nie agterkom nie!

“Uhm, baie dankie, maar dis nie nodig nie.” Jig, sy’s ’n lafaard! Hoe kan sy so ’n wonderlike kans weggooi?

“O, oukei, laat ek dan net gaan check of Marcos orraait is.” Hy klink ’n bietjie teleurgesteld, maar begin langs haar in die paadjie opstap. Sy skouer skuur teen hare en dit stuur ’n salige rilling deur haar lyf. “Ek hoop my boetie gedra hom en gee jou nie soveel moeilikheid soos daai ses Nelletjies nie. Heng, saam met Marcos is dit sewe laaities! Dis nie speletjies nie. Hoe cope jy?”

Haar wange gloei teen dié tyd warm genoeg om ’n veldbrand te stig, en dit voel of haar gedagtes soos ’n tuimeldroër in die rondte draai. As sy net aan iets slims kan dink om te antwoord!

“Hy’s darem nie so stout soos die Nels nie,” jok sy, en bly liewer stil oor Marcos wat die vorige Saterdag die hond probeer inspuit het.

By die deur gaan staan Renaldo met sy arms teen die kosyn sodat sy nie by hom kan verby kom nie. Links van die deur loer die oudste Nel-tweeling, Fransie en Tobie, vir hulle agter die speelkamer se gordyne uit.

“Sal jy vanaand saam met my gaan fliek?” vang hy haar onkant. Sy donker oë is hier naby haar en sy ruik lemoenkougom op sy asem.

Fransie en Tobie maak soengeluide agter hom in die gang.

“Vanaand? Fliek? Uhm … uhm …” stotter sy.

“As jy nie wil nie, kan jy maar so sê. Ek weet jou ma hou nie …”

“NEE! Ek bedoel, nee, sy’s nie my ma nie, sy’s my stiefma. Ek bedoel ja, ek sal graag wil gaan! Wat gaan ons kyk?” Sy wonder of sy te oorgretig klink. En hoekom praat hy van Bella-Marié? Sy hoop nie haar stiefma het al vir hom een van haar berugte “talks” gegee nie.

“Die nuwe Hunger Games begin vanaand. Ek sal jou ma vra en jou kom oplaai. Die halfnege-show?”

“NEE! Ek bedoel, nee, moenie my stiefma vra nie. Sy sal NOOIT ja sê nie. Kry my liewer so net ná agt by die peperboom aan die einde van ons straat.” Want vanaand gaan sy uitslip. Bella-Marié gaan NIE híérdie geleentheid vir haar bederf nie!

“En nou? As jy die tyd van die dag hare was?” wil Bella-Marié weet toe Clara teen laatmiddag haar handdoek buite wil gaan ophang.

“Ek het vanoggend baie gesweet,” praat sy ’n halwe waarheid en glip vinnig by die agterdeur uit. Sy gaan maak ook seker die klein hekkie straat toe is nie gesluit nie.

Net vóór agtuur maak sy verskoning. Sy het haar japon bo-oor haar klere aan.

“Ek gaan in my kamer lees.”

“Ja, ja!” Bella-Marié kyk gesteurd op waar sy sit en TV kyk, en waai met haar hand soos iemand wat ’n lastige vlieg wegwaai. Vir een keer is Clara bly die TV is vir Bella-Marié belangriker as haar stiefdogter.

Sy sluit haar kamerdeur en skud haar hare los. Net ’n bietjie lip gloss en ’n paar vinnige klappies teen hierdie bleek wange, dink sy. Jig, as haar vel net nie so uitgebleik gelyk het nie. Maar hopelik gee die rooi lint in haar hare darem ’n bietjie kleur. Sy klim versigtig deur haar venster sodat haar donkerblou rok nie vuilsmeer nie.

Renaldo wag al op die hoek, en toe sy naderkom, klim hy van sy motorfiets af en gee vir haar ’n valhelm. Sy hand raak aan hare.

“Hi. Jy lyk awesome!” Sy donker oë skitter. “Het jy maklik uitgeslip?”

Sy knik liewer net, te bang hy hoor hoe kortasem sy is van opgewondenheid.

“Het jy al bike gery?”

Sy skud haar kop en hy help haar om die valhelm op te sit. Spesery-naskeermiddel en lemoenkougom word skielik haar gunsteling geure.

“Hou vas,” sê hy voor hy die motorfiets aanskakel, en trek haar hande stywer om sy ribbes. Verbeel sy haar, of kan sy sy hart voel klop?

Hulle sit amper heel agter in die fliek, en ná pouse hou hy haar hand vas. Whêla-kepêla, sê sy in haar gedagtes vir Bella-Marié.

“Dankie vir ’n lekker aand,” groet hy toe hy haar ná fliek weer by die peperboom aflaai. “Is jy seker ek kan nie saam met jou tot by die huis loop nie? Sê nou jou stiefma …”

“Nee, ek sal orraait wees, dankie,” keer sy vinnig. Sy’t nogal gehoop hy sal aandring, en dat dit vir hom meer as net ’n “lekker” aand was, maar daar’s nie juis tyd om nou daaroor te tob nie. Sy moet liewer hoop en bid Bella-Marié het nie na haar gesoek nie.

Die res van die naweek teer sy op die herinneringe van haar aand saam met Renaldo, en teen Maandagmiddag begin sy die moontlikheid oorweeg om haar pa te oorreed om haar ook na die dorpskool toe te stuur. Daar sal sy ten minste vir Renaldo kan sien. Die privaatskool se kinders is skielik almal so boring! Sodra haar pa volgende maand huis toe kom …

“Ek gaan met jou pa praat wanneer hy volgende week terug is,” spring Bella-Marié haar die middag ná skool voor. “Dis tyd dat jy koshuis toe gaan en leer om jou soos ’n sestienjarige kind te gedra. Ek wil nie met jou vroeg-ryp-vroeg-vrot gevolge opgeskeep sit nie!”

Clara dink haar brein tot pulp om uit te werk wat Bella-Marié so omgekrap het. Dit kan nie wees dat sy uitgevind het van Saterdagaand se fliek nie, want dan sou sy teen dié tyd seker al die welsyn laat kom het of vir haar wat Clara is, in ’n klooster laat opsluit het. Maar wat anders kon haar so die joos in gemaak het?

Om alles erger te maak, hoor sy ook niks van Renaldo nie. Hulle was stupid om nie mekaar se selfoonnommers te kry nie, dink sy. Vir die eerste keer begin sy uitsien na Saterdae se kinders oppas, met die hoop om hom weer te sien, maar dis nou eers Maandag!

Dinsdag probeer sy vir Bella-Marié oortuig om ná tennisoefening by Balanço’s Supermarket te stop sodat sy kan koeldrank koop. Miskien, net groot miskien, is Renaldo in die winkel.

“En jou verder in jou kwaad sterk?” verongeluk Bella-Marié vinnig haar plan. “Hier’s eerder vir jou ’n vrug,” grynslag sy sarkasties en hou ’n rooi appel wat sy uit ’n sportsak haal na haar toe uit. “Dis in elk geval gesonder en ons is amper by die huis, dan kan jy maar water drink.”

Dis so half-en-half ’n bevestiging vir Clara dat Renaldo wel iets te doen het met Bella-Marié se slegte bui. As sy net kan uitvind wat.

Teen Woensdag begin die twyfel aan haar vreet toe sy nog steeds niks van hom hoor nie. Dalk het hy besluit sy is nie die meisie vir hom nie; dalk was sy te kortaf toe hy haar ná die fliek huis toe gebring het; dalk is daar iemand anders wat nie so ’n snob-ma het soos sy nie; dalk is haar verskriklike wit vel en gitswart hare te popperig vir hom; dalk, dalk, dalk, dalk! Wat gaan “dalk” haar help?

Donderdag sleep eindeloos verby, en teen Vrydagaand is sy vas oortuig Renaldo het haar afgeskryf. Saterdagoggend is sy gereed om enige verskoning te gebruik om nie na die Nels toe te gaan nie. Toe sy sê sy het hoofpyn en wil liewer by die huis bly, skiet Bella-Marié se salongekleurde wenkbroue die lug in.

“Oor my dooie liggaam! Waar dink jy gaan jy hierdie week sakgeld kry vir al jou fieterjasies en rondflentery? Nee, my liewe Claratjie, gaan trek aan en kom dat ek jou kan gaan aflaai.” Bella-Marié se woord is wet wanneer haar pa nie by die huis is nie.

Renaldo se motorfiets staan gelukkig nie in die Nels se oprit nie, en in die huis is dit ’n harwar van ses kinders wat almal gelyk wil praat en hulle ouers wat nie gou genoeg kan wegkom nie. Toe die garagedeur uiteindelik toeklik, sug sy verlig – totdat sy Renaldo se motorfiets in die oprit hoor.

Daar’s nie wegkruipplek of uitkomkans nie.

“Hi, Renaldo,” groet sy toe hy haar in die speelkamer raakloop, maar niks sê nie. Haar stem klink vir haar erger as ’n padda met ’n asma-aanval.

“Het jy van jou rose gehou?” vra klein Marcos. Toe moet hy koes vir Renaldo se hand wat sy mond probeer toedruk.

“Watse rose?” wil Clara weet.

“Marcos, ek het jou gesê jy moet jou groot mond hou!” snou Renaldo na sy boetie se kant toe.

“Aikôna! Dis nie wat jy gesê het nie! Jy’t gesê Clara is ondankbaar, want sy sê nie eens dankie vir die rose nie,” praat Marcos agter Renaldo se hand uit.

“Watse rose?” vra Clara weer.

“Die rose wat Renaldo vir jou gestuur het. Ál die rooi rose wat daar in die winkel was. My ma het amper horries gehad oor hy alles gevat het. En Renaldo het gesê jy’s net so ’n snob soos jou ma,” laat Marcos hom nie van stryk bring nie.

Fransie en Tobie staan oopmond en luister na die gesprek en selfs die jonger tweelinge is vir ’n verandering doodstil.

Clara se humeur begin spoed kry. Sy’s lus en steek vir hulle almal tong uit, maar dis eintlik Renaldo se aantygings wat haar die kwaadste maak.

“Ons drywer het dit Maandag by julle huis gaan aflewer. Moenie maak asof jy nie weet nie. Hy’t my gewys iemand het daarvoor geteken,” vryf Renaldo verder sout in haar wonde. “As jy Saterdagaand al vir my gesê het jy stel nie in my belang nie, dan sou ek nie al die moeite gedoen het nie.”

Waar is Fransie en Tobie en Marcos? kla haar gewete haar aan toe sy hulle nie gewaar nie, maar dis of sy nie verby Renaldo se aantygings kan dink of reageer nie.

“Hoe durf jy sê ek is ondankbaar?” slaan haar woede skielik in woorde uit.

Hulle staan mekaar vir ’n ruk en aangluur.

“Clara! Renaldo! Kom gou!” skril Marcos se benoude stem deur die oop deur wat na die swembad toe lei.

Voor sy kan keer, is Renaldo buite en hardloop hy na Marcos wat by die swembadhuisie staan.

“Tobie!” gil Marcos en wys na binne.

Sy gee net ’n paar treë tot by hom en druk by die deur in, met Renaldo kort op haar hakke.

Dwar! klap die huisie se deur agter hulle toe. Die sleutel draai in die slot – aan die buitekant. Binne is daar geen teken van Tobie nie.

Haar oë blits na Renaldo. Renaldo kyk met skrefiesoë na haar.

“Wat dink jy doen jy?” vra sy deur stywe lippe.

“Wat bedoel jy met ‘wat doen JY’? Ek moet dit vir jou vra, ondankbare snob!” antwoord hy.

“Ek het NIE rose gekry NIE! Dis óf jy wat jok, óf dis by die verkeerde huis afgelewer! En is dit jou idee van ’n grap om vir Marcos om te koop om my saam met jou toe te sluit?” Sy wil huil van woede, maar kners op haar tande. As sy nou in trane uitbars, gaan hy dink sy’s ’n drama queen.

En as hy net iets wil sê! Maar hy staan net daar en vryf oor sy krulle. Dit lyk of hy iets probeer uitwerk in sy kop. Hy dink seker hoe hy vir haar kan sê dat alle snobs ondankbaar is!

“Ek het vir die drywer gesê hy moet dit Maandagmiddag gaan aflewer, en hy’t my verseker hy het dit gedoen,” mompel Renaldo, “maar dalk het hy al die oggend gegaan.”

“Praat harder! Ek kan nie hoor wat jy sê nie,” kook haar wrewel oor.

“As jy nie die rose gekry het nie … Dink jy jou stiefma … ?” Hy kyk haar vol in die oë. Sy vraag bly hang in die lug.

Totdat die antwoord hulle al twee soos ’n spreilig tref.

“Dis my stiefma!” kners Clara deur haar tande.

“Dis my stupidgeit,” kners Renaldo deur sy tande.

“Ek is verskriklik jammer, Renaldo, maar …”

Sy kry nie haar sin klaar nie.

“Sjuut,” sê hy en trek haar nader.

Lemoenkougom het nog nooit so lekker geruik nie.

Liefde is ’n sprokie

Подняться наверх