Читать книгу Liefde is ’n sprokie - Fynbosskrywers - Страница 8
VYF
ОглавлениеHaar eerste keer
“… ons sal nooit weer die deur vir ’n wolf
oopmaak nie, want nou weet ons wolwe lyk soms
glad nie soos wolwe nie …”
“Volgende asseblief.”
Vir die honderdste maal belowe sy haarself. Sy sou dit net dié een keer doen. Daar is nog drie mense voor haar. Sy staan al vyftien minute in die tou. Dit voel langer as vir ewig.
As dit net eers verby is. As sy net eers deur is!
Net een keer. En hy weet dit. Hy het gesê hy sal haar nooit weer vra nie. Net die een keer. Oor iemand hom gedrop het. En oor hy haar kan vertrou. Net vir haar. ’n Warmte het van haar maag af deur haar lyf gestoot. HY wou iets van haar hê. Hoe het hy haar nie gesmeek om hom te help nie, net hierdie een keer.
Hy het sy hand deur sy swart hare gewoel en soos ’n deurmekaar seuntjie gelyk. Hy het aan haar arm gevat en in haar oë gekyk en daar was niks kleinseuntjieagtigs aan die boodskap in sy donker oë nie. Hy het asseblief gesê, terwyl hy haar arm met sy duim vryf soos hy altyd maak.
Haar besware het opgedroog soos druppels water op warm plaveisel langs ’n swembad. Sy het ingestem soos hulle al twee geweet het sy sou.
Hoe kon sy vir hom nee sê? Vir hom sal sy enigiets doen. Enigiets. Nog nooit in haar lewe het so ’n mooi man haar uitgesonder nie. Natuurlik het sy al boyfriends gehad, ’n hele paar, maar hulle was almal seuns. Hy is ’n man. Hy met sy donker hare. Sy betowerende oë. En ’n glimlag wat enige meisie oor haar woorde sou laat strompel. Haar hande lam maak. ’n Onderlip laat byt. ’n Hart effens vinniger laat klop. Uitasem laat.
En hy wil net by háár wees, al verskeie kere so gesê, en homself dan verwyt dat sy so jonk is. Dat dit oneerbaar sou wees. Hy sou haar beskerm, al was dit dan teen homself. Sy het geprotesteer. “Ek is oud genoeg,” het sy uitdagend geantwoord. Hy het uit sy maag gelag en haar styf vasgehou. En alles wat koud en deurmekaar en eensaam was het soos mis voor die son verdwyn.
Sy kon nog steeds nie glo hy het haar gekies nie. Hy kyk net na haar en haar binnegoed verander in waterige jellie. En hy weet dit. En sy weet hy weet dit.
“Volgende asseblief.”
Daar is ’n paartjie voor haar. Hulle sal seker saam na ’n toonbank beweeg. Dan is dit haar beurt. Haar arm sweet van die wollerige teddiebeer wat sy teen haar linkersy vashou. Haar vingers soek voel-voel na die satynetiket aan die teddie se voet. Vryf dit tussen duim en middelvinger. Soos sy gemaak het toe sy ’n dogtertjie was. Al wat ’n etiket is gevryf. Gedog sy doen dit lankal nie meer nie, maar wanneer sy gespanne is, kom die ou gewoonte terug.
Sy maak vir ’n oomblik haar oë toe en wonder of sy sou kon bid. “Liewe Jesus, ek is ’n kindjie klein …” ’n Stukkie van ’n ou bekende gebedjie warrel deur haar gedagtes soos droë blare wat deur ’n wind uit donker hoekies opgejaag word.
Mag ’n mens bid al weet jy jy speel met vuur? Wanneer jy maande laas gebid het, maar jy eintlik nie meer omgee of Hy saam met jou is nie, solank die donkerkop man met sy magic oë en sy sterk vasvat-hande aan die ander kant vir jou wag?
Hy wag vir my in Londen, herhaal sy soos ’n mantra. Vir hom gaan ek deur enige dal of vallei of woestyn. Sy probeer glimlag, maar haar wange voel stram. Selfs deur doeane en sekuriteitshekke en X-straalmasjiene. Enigiets. Want hy wag vir my. Sy maak haar oë oop.
Enige oomblik nou. Amper. Nou.
“Volgende asseblief.”
Sy stap vorentoe. Toonbank nommer vier. Dis ’n goeie teken. Dis haar nommer. Sy is ’n vier en hy ’n agt. Volgens Linda Goodman se numerologieboek ’n ‘match made in heaven’.
“Identiteitsboekie, asseblief?”
Sy stoot die groen boekie oor die toonbank. En die kaartjie. Die vrou kyk skaars op, vat die dokumente en begin die kaartjie nagaan.
“Jou eerste keer Internasionaal?”
Sy knik haar kop.
Die vrou tik iets in die rekenaar, kyk na die skerm, maak ’n merk op die kaartjie, lees weer op die skerm.
“Sit asseblief jou tas op die skaal.”
Sy sit die tas op die rubberband. Dit beweeg deur die skandeerder. Die inhoud verskyn spokerig op die skerm: Twee stelle klere, onderklere, toiletware, skoene, ’n trui. Hy het belowe hulle gaan vir haar ’n hele nuwe klerekas koop – saam! Dan die babagoed. ’n Pak weggooidoeke, ’n stel borslappies, ’n sagte wit kombersie, babapoeier, ’n blik melk.
Die vrou kyk opsommend na haar. Sy wil die sweet op haar bo-lip afvee, maar sy weet sy moenie. Die vrou frons liggies. Paniek swel in haar maag op. Dan besef sy die vrou wil oor babas praat.
Sy wil huil van verligting. Hy het gesê vroumense kan nie die onderwerp van babas weerstaan nie. Soos altyd was hy reg.
“Ek gaan na my sussie in Londen toe,” sê sy voor die vrou kan vra. Stadig nou, onthou, nie te veel praat nie, ’n duidelike teken van ’n skuldige gewete.
“My sussie kry binnekort ’n baba. Ek gaan kuier. Om haar te help.” Sy bly stil. Skielik voel die stilte onnatuurlik. Die vrou kyk haar uitdrukkingloos aan. Dat ’n sekonde so lank kan voel! Dan glimlag sy.
“Sterkte met die vuil doeke. En die min slaap. Maar dit gaan gou verby. My ‘baba’ is al twintig en speel eerstespanrugby, en dit voel soos gister dat hy gebore is!” Sy knipoog vir die meisie en glimlag breed.
“Lekker kuier.”
Sy sê dankie en beweeg na die sekuriteitsdeurgang. Haar handsak gaan op die vervoerband. Net toe sy wil deurstap, blok ’n sekuriteitswag die ingang.
“Die teddiebeer.”
Sy kyk hom vir ’n oomblik uitdrukkingloos aan. Dit voel of die suurstof in haar longe stol. Haar hart hou op klop. Hy kyk vir haar. Beduie ongeduldig na die bewegende band.
“Die teddiebeer moet ook deur die masjien gaan. Alle handbagasie.”
Gedweë sit sy die speelding neer. Dit verdwyn in die masjien. Die sekuriteitswag beweeg weg en sy stap deur. Vir ’n oomblik weet sy nie of dit ’n alarm of ’n sirene is wat in haar ore skree nie, maar besef verlig dis die gesuis van die bloed in haar kop. Sy stap vorentoe en draai na die vrou wat haar handsak na haar uithou.
“Moenie jou teddie vergeet nie.” Sy neem die handsak en die teddiebeer, glimlag vir die vrou en beweeg vorentoe.
Kan dit wees? Is sy sowaar deur? Het sy daarmee weggekom? Verligting spoel oor haar soos ’n groot golf. Vir ’n oomblik voel sy los en lig asof water haar van haar voete lig – soos toe sy klein was en hulle somervakansies in Hermanus se branders gespeel het. Haar ma het altyd gesê sy gaan te diep in, maar sy was verslaaf aan die lekker van gewigloos wees.
Sy druk die teddie styf teen haar vas, struikel amper oor haar eie voete, onthou om te konsentreer om stadiger te stap, normaal asem te haal, regop te loop, handsak soos gewoonlik oor die een skouer, teddiebeer in die ander arm.
Vanaand is sy in Londen. By hom. Hy het gesê hulle sal duur sjampanje drink. En hy sal met bewondering na haar kyk. Aan haar hand raak. Haar kop laat draai.
“Hoekom is jy so goed vir my?” sal hy vra.
“Oor jy vir my lief is,” sal sy antwoord.
Dan eers haar bagasie uitpak. Die babapoeier en blik melk op die tafel neersit en die teddie se naat versigtig losknip waar hy dit met klein stekies toegewerk het. Hy sal die plastieksakkie binne-in uithaal en op die tafel sit. Hy sal die skaaltjie uithaal en die sakkie weeg. Net meer as een kilogram sneeuwit kokaïen. Straatwaarde agt honderd duisend rand.
Dán sal hy weet haar liefde is opreg. Dat hulle twee saam hoort. En hy sal nooit weer so iets van haar vra nie. Sy weet hy sal nie.
En, sommer vir die snaaksigheid, net oor hy altyd so aanhou en omdat dit ’n spesiale geleentheid is, sal sy die opgerolde noot by hom vat en oor die netjiese lyne op die spieëltjie buk. Een neusgat toedruk en met die ander snuif soos sy hom al dikwels sien doen het. Sodat hy kan sien sy is nie meer ’n kind nie.
Net hierdie een keer.
anhaling onder titel uit “Die wolf en die sewe bokkies” soos oorvertel deur Linda Rode in die bundel In Die Nimmer-Immer-Bos. Tafelberg Uitgewers, Kaapstad 2009.