Читать книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen - Страница 4

As die klippe van wetenskap begin uitroep . . .

Оглавление

GEORGE CLAASSEN

Tussen 218 en 222 (G.E.[1]) dwing Elagabalus (Bassianus Antoninus), die jeugdige, Siries gebore, transseksuele priester-keiser van die Romeinse Ryk, sy onderdane om ’n swart, koniese meteoriet te aanbid.[2]

In die herfs van 1901 is die komeet Viscara ’n maand lank duidelik sigbaar oor Suider-Afrika. Ook bekend as “Die Groot Komeet van 1901”, word Viscara deur heelwat Boerekrygers en Engelse soldate in die veld as ’n doemprofesie en voorteken uit die hand van God gesien wat die dood van duisende op die slagveld en in konsentrasiekampe aankondig.[3]

En sedert 2007 ruk duisende Afrikanermans jaarliks op na ’n plaas buite Greytown in die KwaZulu-Natalse platteland om hul onsekerheid oor hul aardse bestaan in vaste sekerheid oor wat ná die dood kom, te omskep. Hulle hang aan die lippe van die lekeprediker Angus Buchan, wat ’n nuwe moraliteit verkondig en ’n ewige lewe vir die voorbeeldiges belowe. Die Buchan-fenomeen is maar net een vorm van bygelowigheid waarin rasionele denke by Afrikaners opgehef word om ruimte te skep vir ’n onbewese en onsigbare skepper van die heelal en lewe op Aarde. Saam met die ander twee voorbeelde bied dit ’n mikrokosmiese beeld van die geskiedenis van Homo sapiens, die menslike spesie, se gehegtheid en verknogtheid aan een of ander hoër gesag wat aanbid moet word en by wie antwoorde oor die onverklaarbaarheid en dikwelse wreedheid en ongenaakbaarheid van die aardse bestaan gesoek word.

Hoe verklaar ’n mens vandag die verskynsel van religieuse onderdanigheid aan een of ander hoër orde van gesag of krag wat jou in staat sou stel om moreel te leef, selfs die strewe en verwagting in jou brein skep dat die aardse bestaan net die voorloper is tot iets beters hierna en dan nog vir ewig ook? Is daar redes om nog in God te glo of een of ander god te aanbid? Is geloof in ’n bonatuurlike wese, ’n Intelligente Ontwerper, die Groot Onsigbare, hoegenaamd versoenbaar met die ontdekkings van die wetenskap en die ontvouende wêreld van kennis en die steeds krimpende onkundesfeer?

Hoe kan religie, of dan die aanbidding van ’n skepper-god, tot voordeel van evolusionêre fiksheid wees en hoe pas religie in by ’n natuur waarin evolusie so ’n kardinale rol speel?

’n Evolusionêre bioloog en antropoloog van Oxford-universiteit, Robin Dunbar, beskryf religie en geloof in gode as ’n enigma en raaisel. “In our everyday lives, most of us make at least some effort to check the truth of claims for ourselves. Yet when it comes to religion, studies show that we are most persuaded by stories that contradict the known laws of physics. Tales of supernatural beings walking on water, raising the dead, passing through walls, foretelling the future, and the like, are universally popular. At the same time, however, we expect our gods to have normal human feelings and emotions. We like our miracles, and those who perform them, to have just the right mix of otherworldliness and everyday characteristics.”[4]

Dunbar noem vier moontlikhede waarom geloof in ’n skeppingsgod nog voordelig kan wees en tot die mens se evolusionêre fiksheid kan lei:

 Om voldoende verduidelikingstruktuur aan die heelal te gee en ons toe te laat om dit te beheer, moontlik deur die bemiddeling van ’n geesteswêreld. Dié moontlikheid is nie ’n geldige rede waarom religie tot evolusionêre fiksheid kan lei nie, glo Dunbar.

 Om ons beter te laat voel oor die lewe, of ten minste in aanvaarding van sy slegste nukke (Karl Marx se beskrywing van religie as ’n “opium van die massas”). Dit is ’n geldige verklaring, volgens die meeste navorsingstudies. Hierdeur vervul religie duidelik ’n plasebo-effek; dit dien as troosmiddel om die lewe meer draaglik te maak.

 Religie en godsdienste verskaf ’n sekere soort morele kode en dwing dit op; sodoende skep dit maatskaplike orde. Volgens Dunbar is dié moontlikheid ongeldig omdat sekulêre samelewings dikwels veel minder misdaad het as lande waar godsdiens sterk staan.

 Religieuse geloof kan moontlik ’n sin vir gemeenskaplikheid, van groeplidmaatskap skep. Dit is die geldigste van die vier moontlikhede, glo Dunbar.

In die komplekse verhouding wat tussen wetenskap en religie bestaan, word veral drie modelle uitgesonder:

1. Die teoloog en natuurwetenskaplike Ian Barbour se model. Barbour onderskei vier maniere waarop geloof en wetenskap in verhouding teenoor mekaar staan.[5]

Konflik: Die twee wêrelde van wetenskap en religie verkeer in botsing weens die uiteenlopendheid van hul vertrekpunte. Die konflik vind neerslag in Christus se woorde, “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie . . .” (Matteus 18:2) – geloof dus soos ’n klein kindjie. Dit staan reëlreg teenoor die essensie van die wetenskaplike metode dat jy niks kan glo sonder bewyse gebaseer op die natuurwette nie, soos die astrofisikus Carl Sagan sê, “Extraordinary claims require extraordinary evidence”.[6]

Onafhanklikheid: Die Nederlandse teoloog Gijsbert van den Brink noem dit ook die “boedelskeidingsmodel”; geloof en wetenskap se kategoriale verskille bring mee dat hulle nie met mekaar in botsing kan kom nie.[7]

Dialoog: Volgens Barbour bestaan bepaalde raakvlakke of analogieë tussen geloof en wetenskap waaroor dan dialoog gevoer kan word. In ’n groot mate pas die Templeton Foundation se gesprekke om dialoog tussen wetenskap en religie aan te moedig, asook die toekenning van die Templeton-prys, binne dié versoeningsmodel.

Integrasie: Volgens Barbour is wetenskap en godsdiens heeltemal versoenbaar omdat die wetenskap se bevindings deur ’n skeppende godheid moontlik gemaak is en steeds word. Hy beskou wetenskaplike teorieë dus as God se werktuie om sy skepping in stand te hou en te ontwikkel.

Barbour verwerp die konflik- en onafhanklikheidsmodelle en steun dialoog en die integrasie van geloof en wetenskap.

2. Die paleontoloog Stephen Jay Gould se NOMA-model.

Gould, verbonde aan Harvard tot sy dood in 2001, het die beginsel van “respectful noninterference” (respekterende nie-inmenging ) tussen wetenskap en religie geformuleer. Hy noem dit die Beginsel van NOMA – Nie-oorvleuelende Magisteria. Gould beklemtoon dat die verhouding gekenmerk moet word deur “intense dialogue between the two distinct subjects, each covering a central facet of human existence . . . I do not see how science and religion could be unified, or even synthesized, under any common scheme of explanation or analysis; but I also do not understand why the two enterprises should experience any conflict . . . Science tries to document the factual character of the natural world, and to develop theories that coordinate and explain these facts.”

Daarteenoor staan religie: “Religion, on the other hand, operates in the equally important, but utterly different, realm of human purposes, meanings and values – subjects that the factual domain of science might illuminate, but can never resolve. Similarly, while scientists must operate with ethical principles, some specific to their practice, the validity of these principles can never been inferred from the factual discoveries of science.”[8]

3. Richard Dawkins se model van onversoenbaarheid tussen wetenskap en geloof.

Volgens Dawkins is aansprake dat wetenskap en godsdiens versoenbaar is, “oneerlik”. Dit strand op die “undeniable fact that religions still make claims about the world which, on analysis, turn out to be scientific claims . . . they make wanton use of miracle stories, which are blatant intrusions into scientific territory. The Virgin Birth, the Resurrection, the Raising of Lazarus, the manifestations of Mary and the Saints around the Catholic world, even the Old Testament miracles, all are freely used for religious propaganda, and very effective they are with an audience of unsophisticates and children.”

Dawkins glo elkeen van bogenoemde “wonderwerke” maak inderdaad aanspraak op wetenskaplikheid, “a violation of the normal running of the natural world”. Om in wonderwerke te glo, is om die wette van die natuur omver te gooi terwyl dit die een wat glo onmiddellik in die veld van die wetenskap plaas. As teoloë eerlik wil wees, moet hulle ’n keuse uitoefen, skryf Dawkins. “You can claim your own magisterium, separate from science’s, but still deserving of respect. But in that case you have to renounce miracles.”[9]

Dawkins word veral in dié siening gesteun deur die wetenskapsfilosoof Daniel Dennett (Breaking the Spell – Religion as a Natural Phenomenon), die neurowetenskaplike Sam Harris (The End of Faith) en die joernalis en kommentator Christopher Hitchens (God Is Not Great – How Religion Poisons Everything).

Vandag laat die invloed van wetenskaplike bevindings en die al groter wordende eiland van kennis die oseaan van onkunde onder die invloed van religieuse aansprake toenemend krimp, om Thomas Henry Huxley, die negentiende-eeuse Britse bioloog, te parafraseer. In Suid-Afrika toon ’n vergelyking tussen die sensusstatistiek van 1996 en 2001 hoe die watervlak van hierdie oseaan besig is om te sak: in 1996 het 11,7% (4 638 897) Suid-Afrikaners aangedui hulle het geen godsdiens nie; in 2001 het dit gestyg tot 15,1% (6 767 165).[10]

Ondanks die feit dat die VSA gewoonlik as ’n hoogs religieuse land beskou word, glo ongeveer een uit elke ses Amerikaners (16,1%) nie meer in ’n godheid wat hul lewe beheer nie – 59% daarvan mans en 41% vroue. Die syfer vir ongelowiges is meer as twee keer hoër as wat dit in die vroeë 1990’s was: “By some key measures, Americans ages 18 to 29 are considerably less religious than older Americans. Fewer young adults belong to any particular faith than older people do today. They also are less likely to be affiliated than their parents’ and grandparents’ generations were when they were young. Fully one-in-four members of the Millennial generation – so called because they were born after 1980 and began to come of age around the year 2000 – are unaffiliated with any particular faith. Indeed, Millennials are significantly more unaffiliated than members of Generation X were at a comparable point in their life cycle (20% in the late 1990s) and twice as unaffiliated as Baby Boomers were as young adults (13% in the late 1970s). Young adults also attend religious services less often than older Americans today. And compared with their elders today, fewer young people say that religion is very important in their lives.”[11]

Die groeiende tendens, veral onder die jeug, om nie meer waarde aan religie te heg nie, word geïllustreer deur ’n berig van Reuters waarin vermeld word dat Switserland se kiesers die eerste keer in Oktober 2011 die keuse sou hê om vir ’n party te stem wat vrye denke onder een sambreel plaas. “We decided we had to stand up and tell our politicians that it’s time they recognised that there are a lot of non-religious people in their electorate,” het die 42-jarige Andreas Kyriacou, leier van die Vrydenkersparty, aan Reuters gesê. “We, and probably a lot of Swiss people who have never thought about humanism or atheism, are tired of the influence the churches and religion still exert in this country.”[12]

Die kindermolestering-skandaal wat die Katolieke Kerk toenemend die afgelope dekade teister, het dié tendens van afvalligheid en onthutsing met religieuse instellings versnel. Volgens navorsing deur die Pew Forum on Religion & Public Life in die VSA, “compared with their elders today, young people are much less likely to affiliate with any religious tradition or to identify themselves as part of a Christian denomination. Fully one-in-four adults under age 30 (25%) are unaffiliated, describing their religion as ‘atheist,’ ‘agnostic’ or ‘nothing in particular’. This compares with less than one-fifth of people in their 30s (19%), 15% of those in their 40s, 14% of those in their 50s and 10% or less among those 60 and older.”[13]

Dié syfers toon ’n toenemende dagbreekervaring by al hoe meer mense wat tot die besef kom dat daar geen enkele rede is om vandag nog te glo of te moet glo dat een of ander godheid ons lewe skep, beheer en finaal beëindig nie. Daarvoor het die wetenskap sedert Copernicus en Galileo in die vyftiende en sestiende eeu, Darwin in die negentiende eeu en moderne bevindings – veral dié van die moderne genetika, evolusionêre biologie, argeologie, palaeontologie, fisika en chemie – vandag te verdoemend die verhale wat in die Bybel, die Koran, die Bhagavad Gita en ander heilige boeke voorkom, blootgestel aan die soeklig van rasionele denke gegrond op waarneming en bewyse.

Op die vraag of geloof en rede inderdaad versoenbaar is, is daar verskillende standpunte. In die lig van die oorweldigende bewyse wat die wetenskap byvoorbeeld oor evolusie, die Aarde se ouderdom en ander Bybel-weersprekende feite gebring het en steeds bevind, aanvaar heelwat gelowiges vandag evolusie as ’n meganisme van God om lewe op Aarde te skep en te laat ontwikkel. Soveel gelowiges is egter tevrede om glad nie te vra na bewyse wanneer dit kom by God se bestaan nie.

In 2006 het die Suid-Afrikaans gebore en getoë Britse wetenskaplike Lewis Wolpert in sy briljante boek, Six Impossible Things Before Breakfast – The Evolutionary Origins of Belief, Lewis Carroll se Through the Looking-Glass nadergetrek om Alice se blootstelling aan die irrasionele denke van die Wit Koningin te illustreer. Alice vind dit moeilik om in onmoontlike dinge te glo (“one can’t believe impossible things”), al vermaan die Wit Koningin haar om net diep asem te haal en haar oë toe te maak.

Maar die Wit Koningin laat haar nie van stryk bring nie. “I daresay, you haven’t had much practice . . . When I was your age, I always did it for half-an-hour a day. Why, sometimes I’ve believed as many as six impossible things before breakfast,” vertel sy aan Alice.[14]

Een van die mees onverklaarbare verskynsels van die moderne mens se denke is die verbete en vasklouende karakteristiek om, ondanks oorweldigende bewyse tot die teendeel, steeds te bly glo in gode, God of een of ander Spirituele Hoër Orde. Om dit te verklaar, het een van die insiggewendste en interessantste studierigtings die afgelope twee dekades ontwikkel – die moderne neurowetenskap se soeke na ’n verklaring vir geloof in ’n godheid, ook binne antropologiese verband.

Waarom glo so ’n groot deel van die Aarde se bevolking – en so ’n substansiële deel van die Afrikaanssprekendes wat hier op die moederkontinent van die mens se ontstaan woon – steeds dat hul lewens deur God beheer word? In sommige wetenskaplike kringe is dit in ’n stadium aan ’n god-geen wat dan deel van sommige mense se genetiese samestelling sou uitmaak, toegeskryf. Toe die New Yorkse genetikus Dean Hamer eerste met hierdie gedagte van ’n god-geen na vore gekom het, het die media op groot skaal daaroor berig.

Hamer probeer kwantifiseerbare verklarings vir die oorsprong van godsdienstigheid in mense soek deur geloof en spiritualiteit psigometries te ontleed en te kyk na ’n studie van die brein deur middel van neuropsigologie. Hy glo spiritualiteit is geneties oorerflik en hy skryf dit toe aan die teenwoordigheid (of in die geval van ongelowiges, afwesigheid) van die VMAT2-geen. Hamer glo VMAT2 beïnvloed die monoamienvlakke in die brein wat mense ’n ingeburgerde gees van optimisme gee en dit word volgens hom weerspieël in jou fisieke en sielkundige uitkyk op die lewe.[15]

Hamer se navorsing is deur opvolgende studies reeds lankal gediskrediteer en verkeerd bewys en het sterk kommentaar, ook aan religieuse samelewings, ontlok. Die Anglikaanse priester John Polkinghorne het aan The Daily Telegraph gesê, “The idea of a God gene goes against all my personal theological convictions. You can’t cut faith down to the lowest common denominator of genetic survival. It shows the poverty of reductionist thinking.”[16]

Kom ons praat dan liewer van ’n god-meem of religie-meem. Richard Dawkins neem dié evolusionêre proses van variasie, seleksie en oorerflikheid ’n stap verder en in The Selfish Gene pas hy dit toe op menslike nabootsing en kulturele oordrag deur biologiese gene uit te brei na wat hy “meme” noem. ’n Meem is ’n eenheid van kulturele oordrag, of ’n eenheid van nabootsing. Gene word gerepliseer, gekopieer van ouers na nasate van generasie tot generasie. Ooreenstemmend hiermee is ’n meem enigiets wat gerepliseer word van brein na brein, via enige vorm van kopiëring, verduidelik hy.[17]

Volgens Dawkins kan meme goeie idees, goeie melodieë, goeie gedigte, of ook kaf, soos slagspreuke, wees. Enigiets wat deur nabootsing versprei, soortgelyk aan die verspreiding van gene deur liggaamlike reproduksie of virale infeksie, is ’n meem. Religie is vandag een van die sterkste meme wat in die sosiale gedrag van mense waarneembaar is.

Die Britse wetenskaplike Susan Blackmore gee ’n uiteensetting van die verskil tussen wetenskap en religie. Die wese van wetenskap is die wetenskaplike metode, wat berus op die toetsing van enige idee. Godsdiens werk nie só nie. Dit bou teorieë oor die wêreld en probeer dan verhinder dat dit getoets word. Godsdiens verskaf aangename, aantreklike en gerusstellende idees, en klee hierdie idees dan in ’n masker van “waarheid, skoonheid en goedheid”. Dié teorieë kan dan gedy, al is hulle onwaar, lelik of wreed, skryf sy in haar boek The Meme Machine.[18]

Hierbo is verwys na die mens se onverklaarbare voorliefde om in een of ander god te glo, en dít ondanks genoeg bewyse dat so ’n skeppende Intelligensie se bestaan hoogs onwaarskynlik is. Hoewel daar sedert antieke tye reeds skeptiese denkers was wat die bestaan van God of ander gode bevraagteken het, het die twyfel oor die godsgedagte eers werklik met Charles Darwin se evolusieteorie, geformuleer oor dekades voordat hy dit in 1859 finaal gepubliseer het, sterk momentum begin kry. Ek wil by hierdie teorie stilstaan omdat dit die afwaartse wentelbaan van geloof in God, engele, die duiwel en die gedagte van ’n skepping en uiteindelik ewige lewe deur ’n oorwig van wetenskaplike bewyse in werking gestel het. Darwin se teorie kry ook in die twintigste eeu nuwe stukrag met die herontdekking van Gregor Mendel se vergete genetiese studies van 1865, wat evolusie as geldige wetenskaplike feit in moderne genoomstudies laat neerslag vind.

“Genoeg bewyse bestaan ter ondersteuning van Charles Darwin se evolusieteorie.”

Die geldigheid van hierdie stelling en die evolusieteorie word vandag in gerekende wetenskaplike kringe nie eens meer gedebatteer nie; nogtans het die British Council in 2009 in hul Darwin Now-opname dié stelling in vraagvorm gestel aan meer as tienduisend volwassenes in tien lande. Die lande wat ingesluit is by die opname, as deel van die 200ste herdenking van Darwin se geboorte en die 150-jarige herdenking van die publikasie van The Origin of Species, was Argentinië, China, Egipte, Indië, Mexiko, Rusland, Suid-Afrika, Spanje, Groot-Brittanje en die VSA.

In selfs nie een van dié lande glo meer as 50% van die bevolking genoeg bewyse bestaan om Darwin se teorie te ondersteun nie. In die lande betrek by die opname was die mees ingeligte bevolkings oor die oorweldigende bewyse wat bestaan vir evolusie as wetenskaplike feit dié van Brittanje en Mexiko (net meer as 45%) en China (39%). Net 42% Suid-Afrikaners glo evolusie is ’n feit. Dit kom neer op twee uit vyf lede van die bevolking.

Op die vraag, “Is dit moontlik om in ’n God te glo en steeds die standpunt te huldig dat lewe op Aarde, insluitende menslike lewe, ontwikkel het oor tyd as gevolg van natuurlike seleksie?”, het 54% Suid-Afrikaners geglo dis moontlik. En op die vraag, “Ek het gehoor van Charles Darwin en weet ten minste iets van sy teorie”, kon net 27% Suid-Afrikaners wat ondervra is, bevestigend antwoord.[19]

Hoe is dit moontlik dat waarskynlik die belangrikste wetenskaplike ontdekking en teorie wat tot op hede gemaak en ontwikkel is, vandag steeds so verkeerd begryp en uit verband geruk word en dat daar daagliks soveel verkeerde inligting daaroor deur intelligente mense, veral in religieuse kringe, versprei word? Darwin is in 1809 gebore en toe sy teorie die eerste keer in 1859 bekend word, het dit ’n “universele suur” geword, so “corrosive that it will eat through everything”, soos die Amerikaanse wetenskapsfilosoof Daniel Dennett dit beskryf in sy boek Darwin’s Dangerous Idea: “Darwin’s idea – bearing an unmistakable likeness to universal acid: it eats through just about every traditional concept, and leaves in its wake a revolutionized world-view, with most of the old landmarks still recognizable, but transformed in fundamental ways.”[20]

Die evolusieteorie word op veral vier terreine deur onwetenskaplik ingestelde mense verdag gemaak. Dié wetenskaplike teorie word dan gereeld in verband gebring met ’n skeppingsidee en gevolglike skepper-filosofie. Die wankonsepte oor evolusie kan weerlê word deur te kyk na wat evolusie nié is nie.

Evolusie is nie ’n geloof nie

Een van die gereelde aanklagte wat teen mense gemaak word wat evolusie as geldige wetenskap aanvaar, is dat hulle godloos is en aanhangers of selfs “aanbidders” is van die evolusie-geloof, as sou evolusie ’n alternatiewe vorm van godsdiens wees. As dít waar is, dan is elke aanvaarde wetenskaplike teorie ’n geloof en ’n vorm van aanbidding. In sekere, maar in mindere mate, word die oerknalteorie ook soms oor dieselfde kam geskeer as sou dit die oerknalgeloof wees.

Maar waarom dan nie relatiwiteit, termodinamika, swaartekrag, of die kiemteorie van Pasteur, of Bernoulli se teorie oor lug- of vloeistofdruk as gelowe klassifiseer en beskryf nie? Geskied dit omdat evolusie en die oerknal as teorieë die skeppingsverhale en beloftes van ’n ewige lewe wesenlik onder verdenking plaas?

Wanneer ’n mens in ’n vliegtuig klim, plaas jy jou vertroue in ’n wetenskaplike teorie, die beginsel geformuleer deur die Switserse fisikus Daniel Bernoulli (1700-1782) wat bepaal dat, soos die snelheid van ’n vloeistof of gas toeneem, die druk daarvan daal, of dat wanneer die snelheid daal, die druk toeneem. Dit is die rede waarom vliegtuie kan opstyg met stadiger vloeiende lug onder die vlerke (hoër druk) en vinniger vloeiende lug bokant die vlerke (laer druk).

Dit beteken nie dat iemand wat die Bernoulli-beginsel aanvaar en met vertroue in ’n vliegtuig klim, die teorie as ’n geloof aanhang nie.

Om ’n teorie verdag te maak, beteken egter nie dit is onwaar en ongeldig nie. Al kriterium wat hier ’n rol moet en behoort te speel, is of daar genoegsame bewyse is, wie daardie bewyse versamel het en of daardie bewyse getoets kan word deur ander, onafhanklike waarnemers wat aanvaarde wetenskaplike en wiskundige teorieë en beginsels toepas.

Evolusie is nie maar net ’n “teorie” nie

’n Mens hoor so dikwels – en ek word dit herhaaldelik deur mense vertel wat beangs is oor die implikasies wat Darwin se bevindings op hul geloofsisteem mag uitoefen – dat evolusie bloot ’n teorie is. Toe The Origin of Species die eerste keer in 1859 die lig sien, verklaar die vrou van ’n bekende biskop in Engeland aan haar man, “Oh my dear, let us hope that what Mr Darwin says is not true. But if it is true, let us hope that it will not become generally known!”[21]

Die leier van die internasionale span wetenskaplikes wat die menslike genoom in 2001 gekarteer het, Francis Collins – ’n bekende gelowige, skryf hierdie verskynsel toe aan wat hy noem “a simple misunderstanding of the word ‘theory’”.[22]

In sy topverkoper boek, The Language of God – A Scientist Presents Evidence for Belief, skryf Collins: “Critics are fond of pointing out that evolution is ‘only a theory,’ a statement that puzzles working scientists who are used to a different meaning of that word.”[23]Collins wys op die woordeboekdefinisies van “teorie” as

1 “a speculative or conjectural view of something;

2 fundamental principles underlying a science, art, etc.: music theory, theory of equations” (volgens Funk & Wagnalls se Dictionary of English).[24]

Op dieselfde wyse toon HAT, die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal, ook dié duidelike verskil aan:

1 “Grondreëls van ’n wetenskap om waargenome feite of verskynsels te verklaar;

2 voorstelling in ’n mens se gedagte sonder om rekening te hou of voordat rekening gehou is met die werklikheid.”[25]

Collins skryf verder: “The examples reported here from the study of genomes, plus others that could fill hundreds of books of this length, provide the kind of support for the theory of evolution that has convinced virtually all working biologists that Darwin’s framework of variation and natural selection is unquestionably correct. In fact, for those like myself working in genetics, it is almost impossible to imagine correlating the vast amounts of data coming forth from the studies of genomes without the foundations of Darwin’s theory.”[26]

Jerry Coyne, ’n genetikus van die Universiteit van Chicago, benadruk twee belangrike punte oor dié wanopvatting dat evolusie net ’n teorie is:

1 “First, in science, a theory is much more than just a speculation about how things are: it is a well-thought-out group of propositions meant to explain facts about the real world . . . (T)he theory of evolution is more than just the statement that ‘evolution happened’: it is an extensively documented set of principles . . . that explain how and why evolution happens . . .

2 For a theory to be considered scientific, it must be testable and make verifiable predictions.”[27]

Dit beteken dat wetenskaplikes in staat moet wees om waarnemings oor die werklike wêreld te kan maak wat die teorie ondersteun of verwerp. Omdat ’n teorie net as “waar” aanvaar word as die teorie se aansprake en voorspellings oor en oor getoets is, en ook herhaaldelik as korrek bevestig word, is daar nie ’n spesifieke moment wanneer ’n wetenskaplike teorie skielik ’n wetenskaplike feit word nie. Só word ’n teorie ’n feit (of ’n “waarheid”) wanneer soveel bewyse ten gunste daarvan opgestapel is – en daar geen beslissende bewyse daarteen is nie – dat omtrent alle rasionele mense dit aanvaar, aldus Coyne.[28]

Wetenskaplikes toets hul teorieë teen alternatiewe teorieë. Kom ons neem die Jong Aarde-kreasioniste se vaste geloof dat die Aarde net tussen ses- en tienduisend jaar oud is en weeg dit in die lig van wat ons weet oor kontinentskuiwing. Die meeste van ons is deeglik gefassineer deur die satelliettegnologie van die Globale Posisioneringstelsel, in die volksmond bekend as GPS. Oorweldigende, onbetwisbare bewyse bestaan dat die kontinente eens aanmekaar was, hoewel Alfred Wegener lank reeds dood was voordat John Tuzo Wilson se bevindings oor tektoniese plaat-beweging in 1965 Wegener se teorie daaroor bevestig het.

Deur middel van GPS-waarneming weet ons die kontinente beweeg van mekaar af weg teen snelhede van ongeveer 5 tot 10 cm per jaar. Maar, soos Coyne tereg aantoon, as ons die Jong Aarde-kreasionisme van ’n Aarde niks ouer nie as tienduisend jaar aanvaar, sou dit beteken dat as jy op die heuwels bo Lissabon op die weskus van die Iberiese Skiereiland staan, jy die wolkekrabbers van New York sou kon sien omdat Europa en Amerika net bietjie meer as 1,6 km vanmekaar sou wegbeweeg het. Dink maar hoe Europeërs op 11 September 2001 dan eerstehandse getuies van die aanval op die Twin Towers sou kon gewees het.

Die leidende Russiese bioloog Theodosius Dobzhansky stel dit effe anders as Collins, maar nie minder sterk ter ondersteuning van evolusie as kragtige wetenskaplike feit nie: “Nothing in biology makes sense except in the light of evolution.”[29]

Vandag sit ons in die ernstige dilemma dat terwyl Charles Darwin se epogmakende werk ons konsep van die wêreld onomkeerbaar verander het, daar steeds miljarde mense is wat glo evolusie is net ’n teorie, nie ’n feit nie. Maak nie saak wát die wetenskap sélf oor evolusie te sê het nie en dat regerings en die gewone burgery daagliks besluite op grond van hierdie absurditeite neem. Ek haal net drie ander wetenskaplikes hieroor aan:

Jared Diamond, die Amerikaanse evolusionêre bioloog en Pulitzerpryswenner, skryf, “Evolution is the most profound and powerful idea to have been conceived in the last two centuries.”[30]Dan die mening van Ernst Mayr, die Duits gebore Amerikaanse evolusionêre bioloog, waarskynlik een van die grootstes sedert Darwin – en ’n duideliker uitspraak kan jy nie kry nie:

“Evolution is the most important concept in biology. There is not a single Why? question in biology that can be answered adequately without a consideration of evolution. But the importance of this concept goes far beyond biology. The thinking of modern humans, whether we realize it or not, is profoundly affected – one is almost tempted to say determined – by evolutionary thinking.”[31]

En dan die Britse bioloog Julian Huxley: “Evolution . . . is the most powerful and the most comprehensive idea that has ever arisen on Earth.”[32]

Stel hierteenoor die verstommende menings van twee kerkvaders wat ongelukkig steeds deur soveel mense vandag in vyandskap teenoor rasionele denke herhaal (en geglo) word. Die Duitse kerkhervormer Philipp Melanchthon (1497-1560) het gesê, “Hierdie mal mens Copernicus moet deur die een of ander Christelike prins onderdruk word”,[33]terwyl Johannes Calvyn nie veel wyser was nie: “Wie sal dit waag om die gesag van Copernicus bo dié van die Heilige Gees te stel?”[34]

Ek wil dit herformuleer in die idioom van daardie moderne Christen-gelowiges wat steeds weier om wetenskaplike bevindings te aanvaar wanneer dit nie inpas by hul eng interpretasie van die Bybel nie: “Wie sal dit waag om die gesag van Darwin, Wegener, Penzias en Wilson, Mayr, Venter en die wetenskap bo dié van die Heilige Gees te stel?”

Evolusie is nie immoreel nie

Een van die gereelde beskuldigings wat anti-evolusioniste maak, is dat evolusie en “bose” ateïsme hand aan hand gaan. Hitler en Stalin se moorddadige ideologieë, onder meer gebou op die superras- en supermensidee wat tot die dood van miljoene gelei het, word dan as voorbeelde aangehaal. Darwin word woorde in die mond gelê terwyl anti-evolusioniste bitter selde die moeite doen om The Origin of Species of sy latere werke, ook The Descent of Man, te lees.

Darwin behoort sélf deur gelowiges wat so gereeld uitsprake oor evolusie en die sogenaamde “godloosheid” van die teorie maak, gelees te word vóórdat ’n oordeel oor wat hy eintlik geskryf het, gemaak word. So ook Hitler, hoe onaangenaam ook al, in sy eie woorde, in ’n toespraak van 1922 (Mein Kampf is vol van soortgelyke geloofsuitinge oor sy Christenskap):

“My feelings as a Christian point me to my Lord and Saviour as a fighter . . . In boundless love as a Christian and as a man I read through the passage which tells us how the Lord at last rose in His might and seized the scourge to drive out of the Temple the brood of vipers and adders . . . Today, after two thousand years, with deepest emotion I recognize more profoundly than ever before the fact that it was for this that He had to shed His blood upon the Cross. As a Christian I have no duty to allow myself to be cheated, but I have the duty to be a fighter for truth and justice . . . For as a Christian I have also a duty to my own people.”[35]

’n Mens verwag dié regverdigheidsbeginsel sou vanselfsprekend wees, veral by Christene wat voorgee hulle voer die liefdesopdrag uit en dat jy nie leuens mag vertel nie. Te dikwels, wanneer Darwin en evolusie ter sprake kom, wend anti-evolusioniste hulle tot verdraaiings, waninterpretasies en doodgewoon leuens as teenvoeter teen die “gevaarlike idee”. Is dit ’n Machiavelliaanse benadering waar die doel die middele heilig dat jy leuens mag versprei in die naam van God?

Hoewel natuurlike seleksie die blinde meganisme is waardeur evolusie in die natuur plaasvind, bewys moderne studies oor evolusie dat morele oorwegings en ingesteldhede, asook omgewingsfaktore, by die mens voorkeur geniet bo natuurlike seleksie sodra hy ontwikkel van sy natuurstaat tot ’n staat van beskawing. Wat sê Darwin werklik hieroor?

“The aid which we feel impelled to give to the helpless is mainly an incidental result of the instinct of sympathy, which was originally acquired as part of the instincts, but subsequently rendered . . . more tender and more widely diffused. Nor could we check our sympathy, even at the urging of hard reason, without deterioration in the noblest part of our nature . . . (I)f we were intentionally to neglect the weak and the helpless, it could only be for a contingent benefit, with an overwhelming present evil.”36

Die mens het as spesie oor duisende jare ontwikkel, ook soos ander spesies, deur natuurlike seleksie as die belangrikste dryfveer van evolusie. Maar Homo sapiens het ook juis altruïsme as ’n soort sosiale instink ontwikkel en hiervan maak Richard Dawkins omvattend me[36]ding in The Selfish Gene:

“. . . it is a fallacy – incidentally a very common one – to suppose that genetically inherited traits are by definition fixed and unmodifiable. Our genes may instruct us to be selfish, but we are not necessarily compelled to obey them all our lives. It may just be more difficult to learn altruism than it would be if we were genetically programmed to be altruistic. Among animals, man is uniquely dominated by culture, by influences learned and handed down.”[37]Hy gaan voort: “We are built as gene machines and cultured as meme machines, but we have the power to turn against our creators. We, alone on earth, can rebel against the tyranny of the selfish replicators.”[38]

In ’n artikel in New Scientist[39] verwys Helen Phillips na navorsing deur Gregory Paul van Baltimore in Maryland. Paul het die negatiewe effek van godsdiens probeer kwantifiseer deur die vlakke van religiositeit met verskillende aanwysers van sosiale disfunksie in agtien ontwikkelde lande te vergelyk. Sy gevolgtrekking was dat lande met hoër vlakke van religie en aanbidding ook hoër vlakke van die voorkoms van moord, sterftes onder kinders en jong volwassenes, seksueel oordraagbare siektes, tienerswangerskappe en aborsie getoon het. Paul glo dat moraliteit nie spruit uit religie nie en dat religie ontspring uit ’n gebrek aan veiligheid in samelewings. “Mass belief in gods is primarily a fear and anxiety-based response to insufficiently secure financial circumstances, and does not have a deep neurobiological, genetic or other basis,” het hy aan Phillips gesê. Die lande wat Paul vergelyk het, was Australië, Kanada, Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Duitsland, Nederland, Ierland, Japan, Switserland, Noorweë, Portugal, Oostenryk, Spanje, Italië, die VSA, Swede en Nieu-Seeland.

Paul skryf: “Data correlations show that in almost all regards the highly secular democracies consistently enjoy low rates of societal dysfunction, while pro-religious and anti-evolution America performs poorly.”[40]

In ’n artikel in die wetenskapbylae van The New York Times skryf die wetenskapverslaggewer Nicholas Wade oor onlangse navorsing onder sjimpansees en ander primaatspesies die volgende oor die mens, en veral teoloë en filosowe, se verkeerde aanspraak dat moraliteit ’n uniek menslike kwaliteit is: “Some animals are surprisingly sensitive to the plight of others. Chimpanzees, who cannot swim, have drowned in zoo moats trying to save others. Given the chance to get food by pulling a chain that would also deliver an electric shock to a companion, rhesus monkeys will starve themselves for several days. Biologists argue that these and other social behaviors are the precursors of human morality. They further believe that if morality grew out of behavioral rules shaped by evolution, it is for biologists, not philosophers or theologians, to say what these rules are.”[41]

Terwyl ons in ’n wêreld leef waar oorlog nog ’n allesoorheersende menslike kenmerk is, aangevuur deur Homo sapiens as spesie, is daar genoeg navorsing wat bewys dat ons as sogenaamde hoogste orde van God se skepping maar gerus kan gaan leer by ander primate hoe om vrede te maak. Hier dink ’n mens aan die epogmakende werk, gebaseer op vyftien jaar se navorsing na primate, deur die Nederlandse en deesdae Amerikaanse bioloog en etoloog Frans de Waal. Hy skryf in sy bekroonde werk Peacemaking Among Primates soos volg:

“Forgiveness is not, as some people seem to believe, a mysterious and sublime idea that we owe to a few millennia of Judeo-Christianity. It did not originate in the minds of people and cannot therefore be appropriated by an ideology or religion. The fact that monkeys, apes, and humans all engage in reconciliation behaviour means that it is probably over thirty million years old, preceding the evolutionary divergence of these primates . . . (R)econciliation behaviour must be seen as a shared heritage of the primate order. Our species has many conciliatory gestures and contact patterns in common with the apes (stretching out a hand, smiling, kissing, embracing, and so on). Language and culture merely add a degree of subtlety and variation in human peacemaking strategies.”[42]

Evolusie (en wetenskap) soek nie die vingerafdrukke van God nie

Gelowiges gebruik dikwels die argument dat die wetenskap nie die bestaan of niebestaan van God kan bewys nie. Dit kom ook wyd voor in hierdie bundel. Dit is ’n veilige skans waaragter geen rasionele mens behoort te skuil nie. Dit is nie die wetenskap se plig en doel om God se bestaan te bewys nie. Soos ’n bioloog van Yale-universiteit, Robert Dorit, dit in ’n artikel in Scientific American stel, “die wetenskap soek nie die vingerafdrukke van God nie”.[43]Dit is egter wel die plig van gelowiges om vir ons in ’n rasionele wêreld hul bewyse voor te lê vir die bestaan van die gode waarin hulle glo en waarvoor hulle aanhoudend beskerming vra teen kritiese vrae.

Is dit nie tyd dat skeppingsreligie kers begin opsteek by die moderne wetenskap, en dan spesifiek by evolusie nie? Kan ’n sogenaamde morele samelewing gegrond op voorskrifte uit die Bybel, die Koran, die Bhagavad Gita en ander heilige geskrifte nog die gruwels duld wat in die naam van amptelike heilige en kerklike voorskrifte steeds gepleeg word, ondanks die bevindings van die wetenskap?

Ons staan vandag by ’n waterskeiding waar religie en gelowiges kennis sal moet neem van die bevindings van die wetenskap en evolusionêre biologie, nie net wanneer dit hulle pas nie – dink maar aan die wyse waarop medisyne aanvaar en gebruik word – of die gevaar staan om in irrelevansie te verval. Predikante, teoloë, imams en gelowiges kan nie langer mekaar en medelidmate mislei deur te maak asof evolusie die olifant in die katedraal, moskee, tempel of sinagoge is waaroor daar liefs nie gepraat moet word nie – of waaroor daar maar lustig leuens versprei kan word.

Die bygelowige beheptheid van die mens om dit wat ons nie kan verklaar nie aan God toe te skryf, is die irrasionele, maklike, onkritiese en nie-ondersoekende weg. Gideon Joubert het dit gedoen in sy topverkoperboek, Die Groot Gedagte, soos ook Leon Rousseau in Die groot avontuur. Daagliks sien ons dit in die Afrikaanse media in die woorde en uitsprake van vooraanstaande Afrikaanse rubriekskrywers en radiopersoonlikhede op RSG. Dit is veral religieuse dweeptydskrifte soos Juig!/Joy! en Lééf wat dié wetenskaplike onwaarhede versprei, maar die Afrikaanse koerante is selfs meer skuldig, waar ou dagblaaie soos Die Burger en Beeld steeds volhard met geestelike stukkies wat eerder tuishoort in dagstukkies vir ’n beter lewe as op hoofartikelblaaie.

Die bewyse vir evolusie het nou so oorweldigend geword dat heelwat gelowiges dit selfs aanvaar. Maar die nuwe manier om verby die werklikheid van evolusie te kom, is om die vae idee van ’n Intelligente Ontwerper voor te stel. Hierdie Intelligente Ontwerper sou dan evolusie ingespan het vir die skepping om te ontwikkel. Wie hy of sy is, word nie openlik gesê nie, hoewel die Discovery Institute in Seattle, die groot propageerders van Intelligente Ontwerp, reeds in ’n onbewaakte oomblik erken het dit kan net die God van die Christelike godsdiens wees.

Jerry Coyne verklaar hierdie nuwe verskynsel só: “Die wérklike oorlog is tussen rasionaliteit en bygeloof. Wetenskap is maar een vorm van rasionaliteit, terwyl godsdiens die algemeenste vorm van bygeloof is.” Hy gaan verder: “As die geskiedenis van die wetenskap ons iets wys, is dit dat ons nêrens kom deur ons onkunde ‘God’ te noem nie.”[44]

Dit sluit aan by wat die Britse fisikus William Bowen Bonner oor die wetenskaplike metode sê:

“Dit is die werk van wetenskaplikes om rasionele verduidelikings te gee vir al die gebeure in die werklike wêreld, en elke wetenskaplike wat dit aan God oorlaat om iets te verduidelik, is besig om sy taak te verloën. Dit is net so goed van toepassing op die begin van die uitbreiding (van die heelal) as op enige ander gebeure. As die verduideliking nie dadelik gegee word nie, moet die wetenskaplike uitspraak voorbehou, maar as hy sy sout werd is, sal hy altyd vasstaan dat ’n rasionele verduideliking uiteindelik gevind sal word.

Dít is die een stukkie dogmatisme wat die wetenskaplike homself kan gun – en daarsonder sal die wetenskap in gevaar verkeer om elke dag toe te gee aan bygeloof elke keer as ’n probleem vir ’n paar jaar nie opgelos kan word nie.”[45]

Oor die wetenskap – en evolusie as geldige en deeglik bewese wetenskapsveld – se nie-soeke na die vingerafdrukke van ’n skepper-god, verskaf die Nobelpryswenner Steve Weinberg ’n interessante perspektief:

“It’s a consequence of the experience of science. As you learn more and more about the universe, you find you can understand more and more without any reference to supernatural intervention, so you lose interest in that possibility. Most scientists I know don’t care enough about religion even to call themselves atheists. And that, I think, is one of the great things about science – that it has made it possible for people not to be religious.”[46]

Religieë kan nie langer die werklikhede van wetenskaplike ontdekkings lukraak en selektief aanvaar, maar evolusie se bevindings en fisika se noukeurige radiodatering verwerp omdat dit die skeppingsboodskap van heilige boeke weerspreek nie. Danksy evolusie weet ons vandag sonder twyfel dat tydens die eerste 80 persent van die geskiedenis van lewe op Aarde alle spesies uit sagte weefsel bestaan het, sonder skelette en harde doppe. Daarom is die fossielrekord so totaal onvolledig – net ongeveer 0,1 tot 1 persent van alle spesies wat al op Aarde gelewe het.

Danksy radiodatering deur fisici wat hoogs gesofistikeerde instrumente gebruik, weet ons dat die Aarde en ons sonnestelsel ongeveer 4,57 miljard jaar oud is, en die oudste rotse, gevind in Kanada, ongeveer 4,3 miljard jaar (ouer rotse is vernietig deur bewegings van die aardkors).

Kom ek draai Christus se woorde teenoor die Fariseërs, wat die skare se lofuitinge probeer stilmaak het, om: “As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.”

Die klippe van evolusie en fisika se bevindings roep lankal uit en dis tyd dat religieuse leiers van alle godsdienste nie langer gelowiges hieroor mislei nie. Die wetenskap is ’n menslike aktiwiteit wat nie behoort te bedreig nie, maar eerder te bevry. Dat soveel gelowiges so lank die wetenskap selektief aanwend tot hul voordeel, maar verwerp wanneer dit nie inpas binne die kraal van hul geloofsingesteldheid nie, is ’n groot sementblok aan die been van vooruitgang.

Carl Sagan som die rol van wetenskap in die samelewing treffend op:

“. . . at the heart of science is an essential balance between two seemingly contradictory attitudes – an openness to new ideas, no matter how bizarre or counterintuitive, and the most ruthlessly sceptical scrutiny of all ideas, old and new. This is how deep truths are winnowed from deep nonsense. The collective enterprise of creative thinking and sceptical thinking, working together, keeps the field on track.”[47]

Dít bly ons as enigste rasionele spesie op Aarde se uitdaging: om die diep waarhede van die diep onsin te kan onderskei – geen maklike taak nie.

Dié bundel onderhoude oor waarskynlik een van die wesenlikste en mees voortdurende vrae van die mens se makrokosmiese bestaan, Waarvandaan kom ons en waarheen is ons uiteindelik op pad?, ondersoek deurlopend ook die vraag, op meer mikrokosmiese vlak, Wie is ons? En wie is George Claassen dan?

Ek is ’n joernalis en dosent in wetenskapjoernalistiek wat die afgelope sewentien jaar reeds intens met die ontdekkings van die wetenskap in my joernalistiek gemoeid is. Ek het grootgeword op ’n Hoëveldse plattelandse dorp, Middelburg, destyds in die Oos-Transvaal en vandag in Mpumalanga. My ouerhuis is gekenmerk deur ’n pa en ma wat krities gedink het, groot lesers was en ’n algemene nuuskierigheid oor die lewe met al sy fasette by ons vier kinders aangemoedig en ingeburger het. Om my in die joernalistiek te begeef, was dus nie vreemd nie omdat ek nuuskierigheid en die soeke na meer kennis, meer bevraagtekening, die daagliks meer doelgerigte optel en aanwending van metaforiese mikro- en teleskope as onontbeerlik vir die beroep beskou.

As ek ’n brief aan my drie kinders sou kon skryf oor hoe om irrasionele aansprake in hul alledaagse lewe te hanteer, sou ek dit nie beter kon stel as die wetenskaplike Richard Dawkins nie. In sy uiteensetting van waarom ’n mens nie sommer enigiets hoef te glo nie, veral waar dit nie op bewyse gegrond is nie – die ononderhandelbare van die wetenskaplike wêreldingesteldheid – skryf hy: “The way scientists use evidence to learn about the world is much cleverer and more complicated than I can say in a short letter. But now I want to move on from evidence, which is a good reason for believing something, and warn you against three bad reasons for believing anything. They are called ‘tradition’, ‘authority’, and ‘revelation’.”[48]

Ek was eens gelowig, intens gelowig, en besit ’n Bybel met heelwat onderstreepte tekste. Deur jare se bestudering van wetenskaplike bevindings en die belangrikheid van bewyse voordat ek iets kan en hoef te glo, het ek geleidelik van my geloof afstand gedoen. Dit was geensins ’n Damaskuservaring nie, maar uiteindelik ’n onbeskryflike bevryding om nie meer my hele bestaan te grond op geloof in ’n mitiese, mensgeskepte goddelikheid nie. Tradisie kan nie meer bepaal waarom ek nou juis in ’n skepper-god, verlossing en ’n hiernamaals moet glo nie, want die wetenskap se bevindings het lankal daardie geloofstradisies ongeldig verklaar en ongedaan gemaak. Outoriteit of gesag nog minder, want waarom moet ek die “outoriteit” van ’n groep Midde-Oosterse mans aanvaar wat meer as 2 500 jaar gelede sonder die wetenskap se bevindings en verklarings hul bygeloof probeer vestig het as die enigste waarheid?

En openbaring? In die lig van moderne wetenskaplike bevindings van die neurowetenskap en psigologie is openbarings wat kwansuis aan profete en ander heiliges deur die eeue gemaak is, vandag heel verklaarbaar, veral as dit op die skaal geplaas word wat bewyse en wensdenkery teenoor mekaar opweeg.

Vir my lê die wonder van die lewe, ons planeet en die heelal juis daarin dat ons nooit sal ophou om die onverklaarbare te ondersoek en vrae daaroor te stel nie, om dit nie aan ’n godheid toe te skryf wanneer ek dit nie kan begryp nie, maar steeds, volgens die natuurwette, verklarings te soek wat op bewyse berus. Geen tradisie, geen outoriteit, geen openbaring mag hier die bepalende faktore wees om iets te glo nie, net bewyse.

Waarom word ateïsme steeds as ’n vloekwoord en profaniteit beskou in die beoordeling van mense wat ongelowig is, ook opvallend só in die geledere van Afrikaanssprekendes? Sam Harris wys op die weersprekende verskynsel in ontwikkelde en Eerste Wêreld-lande waar die oorgrote meerderheid ’n oorwegend sekulêre en irreligieuse aard vertoon, maar die VSA as voorste ontwikkelde land midde-in die ontwikkelende kader van lande gesetel is waar ortodokse en evangelistiese religie ’n sterk opbloei beleef. Meningsopnames toon 57% van Amerikaners sê dat jy in God moet glo om goeie waardes te hê en om moreel op te tree. Verder verkies 69% Amerikaners ’n president wat die regering bestuur met “sterk religieuse geloof”. Harris ondersoek die aard van die geweldig negatiewe belewenis wat niegelowiges, agnostici en ateïste daagliks in sterk religieuse lande ondergaan. Meer Amerikaanse volwassenes is funksioneel ongeletterd (21%, waarvan 14% op Amerikaanse bodem gebore is) as Amerikaners wat twyfel oor die bestaan van God (net 3% van die bevolking stem saam met die stelling “Ek glo nie in God nie”).

“Ten spyte van hul feitlike onsigbaarheid, is ateïste die mees gestigmatiseerde minderheid in die VSA – selfs meer as homoseksuele, Afro-Amerikaners, Jode, Moslems, Asiërs of enige ander groep. Selfs ná 11 September 2001 sal meer Amerikaners vir ’n Moslem as president stem as vir ’n ateïs,”[49] skryf Harris oor navorsing wat in 2006 in die vakjoernaal American Sociological Review gepubliseer is.

Diskriminasie teen ateïste is in die Afrikaanse leefwêreld ’n werklikheid wat weerspieël word in die sensurering van ateïste, agnostici en ander twyfelaars se woorde in Afrikaanse koerante en oor die radio. Dit het ek al herhaaldelik eerstehands beleef en so ook wetenskaplikes wat openlik die religieuse aansprake van godsdienstige leiers en gelowiges bevraagteken.

Ek heg waarde aan die woorde van die Britse wetenskaplike Thomas Henry Huxley wat die proses van die wetenskap om onkunde te bestry teen die oormag van wensdenkery, bygeloof en doelbewuste en metodiese onderdrukking van kennis soos volg beskryf: “Die bekende is begrens, die onbekende onbegrens, oneindig; intellektueel staan ons op ’n eilandjie in die middel van ’n onbegrensde oseaan van onverklaarbaarheid. Ons werk in elke generasie is om ’n bietjie meer grond te herwin.”[50]

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

Подняться наверх