Читать книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen - Страница 5
Jurie van den Heever
Оглавлениеin gesprek met George Claassen
“Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus, word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe ‘beloon’ word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word.”
Wie is Jurie van den Heever? En hoe loop die pad van jou lewe van geloof na ongeloof?
Ek is ’n Afrikaner en het in ’n feitlik uitsluitlik Afrikaanse omgewing in ’n klein Noord-Bolandse dorpie (Ceres) grootgeword. My pa was ’n staats-veeinspekteur en my ma het ’n besigheid bedryf.
Ek was van kleins af bewus dat ek aan moederskant ’n afstammeling van die trekkerleier Gerrit Maritz was en dat die misdade wat die Kakies tydens die Boereoorlog en veral teen die vroue en die kinders gepleeg het, ongestraf gegaan het en gevolglik nie vergeet mag word nie.
Saam hiermee was ek en my tydgenote, as jong kinders gedurende die vyftiger- en sestigerjare van die vorige eeu, grootliks onbewus van die spesifieke geskiedkundige aanloop wat die morele en etiese onderbou vir die politieke en kulturele grense van die samelewing na buite sowel as na binne bepaal het.[51]
Ons was egter op grond van herkoms in so ’n mate ingebed in ’n teokrasie tussen die NG Kerk en die Nasionale Party dat daar, heelwat later, spottenderwys na eersgenoemde verwys is as die Nasionale Party in gebed.
Daar is bloot van ons verwag om na die wens van ons ouers, onderwysers en die predikant op te tree en nie die status quo te bevraagteken nie. Ek het in standerd agt (graad tien) tydens godsdiensonderrig die onderwyser gevra waar God vandaan kom en die antwoord was dat ’n mens nie sulke vrae vra nie. Tipies van die tyd was die saak daarmee afgehandel. Dit het op ’n manier bygedra tot die illusie van ’n permanente samelewing en ’n seker toekoms. Gevolglik onthou ek my kinderdae as ’n oorwegend sorgvrye en gelukkige tydperk waartydens die voorgeskrewe godsdienstige rituele sonder enige nadenke of werklike toewyding beoefen is.
Ons eiesoortigheid en missie as Afrikanervolk is op verskillende maniere, veral op skool, versterk en uitgebrei met behulp van die voorgeskrewe leerplan vir Christelik-nasionale onderwys (wat onder meer evolusie uit die leerplan geweer het), die Voortrekkerbeweging en Sondagskool. Tuis het ons wel van die Boereoorlog, Jopie Fourie, Manie Maritz en Racheltjie de Beer gehoor, maar die werklike kondisionering het op skool plaasgevind. Gevolglik kan ek vandag nog “Die Lied van Jong Suid Afrika” en die “Vlaglied” met oorgawe, alhoewel nie baie nootvas nie, sing.
Die gedrukte Afrikaanse media het ook saamgewerk aan hierdie ideaal. Die Afrikaanse rolprentbedryf het egter ’n gulde geleentheid laat verbygaan deur nie die veelbewoë geskiedenis van die Afrikaner te populariseer soos Hollywood met die Wilde Weste gedoen het nie. Op skool is daar wel van tyd tot tyd swart-en-wit dokumentêre films oor die Groot Trek en die ontstaan van Afrikaans vertoon. Dit was egter ’n soort kulturele verheerliking en ’n mens het die indruk gekry dat die Taal en die Trekkers onaantasbaar en veels te edel was om as onderwerp vir ’n populêre rolprent te dien.
Ons populêre helde en heldinne is deur Hollywood verskaf en ek en my maats het as goeie Afrikaners Cowboys en Crooks en nie Voortrekkers en Zoeloes gespeel nie. Diesulkes soos John Wayne (Stagecoach), Allan Ladd (Shane), Gary Cooper (High Noon), Glenn Ford (The Fastest Gun Alive) en Yul Brynner en Kie (The Magnificent Seven) het Saterdagmiddae in die vlooifliek ons moreel toegerus in ’n godsdiensvrye omgewing.
Dié relatief eenvoudige verhale het ons onbewustelik op ’n aanskoulike manier geleer dat die goeie altyd die kwade oorwin, dat ’n mens – dikwels teen ’n oormag – moet veg vir jou regte, dat ’n enkeling tog ’n verskil kan maak en dat liefde, edele optrede teenoor die vroulike geslag en ’n morele plig teenoor die gemeenskap navolgenswaardig is.
Dit het egter nooit tot ons deurgedring nie dat die sogenaamde Rooihuide, as oorspronklike inwoners van Noord-Amerika, dikwels links en regs van hul regte, lewe en grond ontneem is en dat dit op ’n manier geresoneer het met die posisie, in ons eie samelewing, van die sogenaamde “Kleurlinge” wat dieselfde rolprente van die balkon bokant ons gesit en kyk het, afsonderlike ingang en al. Die politieke en kulturele Zeitgeist het doodgewoon nie dié opsie ingesluit nie.
Aan die Universiteit van Stellenbosch het die politieke status quo grootliks voortgeduur, maar my verstaan van die rol van godsdiens het stelselmatig verander. Via vakrigtings soos embriologie, vergelykende anatomie, paleontologie en geologie het dit mettertyd duidelik geword dat evolusie ’n feit is, dat rasionele en toetsbare verklarings vir natuurverskynsels lank reeds bestaan het en dat die meeste van die biologiese, geologiese en sterrekundige beriggewing in die Bybel gevolglik onwaar was.
Ek het nie skielik van geloof na ongeloof versit na aanleiding van ’n Damaskuservaring nie. Deur die waarheidsaansprake van die kerk ten opsigte van God ook ’n bietjie van nader te beskou, het die onmag van die Opperwese stelselmatig in so ’n mate na vore gekom dat die tradisionele godsdienstige oortuigings uiteindelik nie meer deel van my lewens- en wêreldbeskouing gevorm het nie.
Godsdiens is nie ’n vereiste vir ’n morele leefstyl nie en om sonder godsdienstige oortuigings te leef, beteken nie om sonder geloof te wees nie. Ek glo steeds dat liefde en respek die hoekstene van ’n regverdige samelewing en gesonde menseverhoudings is. Saam daarmee is morele optrede teenoor en die etiese behandeling van alle lewe van kardinale belang. Net dat ek dink dat die god waarmee ek grootgeword het nie bestaan nie, maak nie van my ’n ongelowige nie. Bo en behalwe dít besit Christene in elk geval ook nie die patentreg op spiritualiteit nie.[52]
Om iemand as ’n ateïs te beskryf, is om ’n generiese term met min betekenis te gebruik. Gelowiges etiketteer gewoonlik iemand wat nie húl spesifieke god onderskryf nie as ’n ateïs. Ons is egter almal ateïste, want as jy enigeen van die duisende verskillende gode bo die ander verkies, is jy ten opsigte van al die ander ’n ateïs. Die vroeë Christene was byvoorbeeld ateïste, want hulle het nie die soewereiniteit van die amptelike gode van die Romeinse Staat erken nie.
’n Wesenlike probleem met godsdiens en veral die Protestantisme is, myns insiens, die beheptheid met die dood en die verbeelde voortbestaan daarna. Daar bestaan tans genoeg getuienis dat die menslike siel, as kandidaat vir die hiernamaals, nie bestaan nie. Volgens wyle Ferdinand Deist, teoloog en Bybelnavorser, is die siel in Bybelse terme bloot ’n beskrywing van iemand se persoonlikheid. Ek en Ferdinand het jare gelede ooreengekom dat die een van ons wat eerste sterf die ander sou laat weet indien daar werklik iets ná die dood bestaan. Ná al die jare wag en treur ek nog steeds.
Deur op ’n ewige lewe ná die dood te fokus, word ons aardse bestaan tot ’n soort wagkamer vir die dood gereduseer. Die mite dat mense siele besit wat ná die dood met die ewige lewe “beloon” word, negeer eintlik die betekenisvolle bestaan wat op Aarde gelei kan word.
As jy leef, het die dood geen betekenis nie en wanneer jy sterf, maak dit in elk geval nie meer saak nie. Om te beweer dat ’n mens “die tydelike met die ewige verwissel”, is uit pas met die werklikheid. Die “tydelike” is al wat ons beskore is en ons enigste “beloning” is om vlietend deel van die kosmos te wees en die kans gegun te word om ’n morele en etiese lewe te lei. Dit is selfs moontlik om langs hierdie weg ’n spirituele bestaan te voer.[53]
Daarom is die Franse filosoof Maurice Merleau-Ponty[54] vir my belangrik. Hy betoog, onder meer, dat ons die liggaamlike verwaarloos het en dit moet herontdek. Godsdienste, met hul ietwat irriterende klem op die hiernamaals, negeer die feit dat ons primêr anatomies en fisiologies van die natuur afhanklik is. Merleau-Ponty herinner ons gevolglik daaraan dat elkeen van ons as ’n komplekse fisiese entiteit eenmalig in die kosmos debuteer.
Waarom skryf soveel mense wat met hulle gebeur toe aan een of ander god se wil sonder inagneming van die natuurwette?
’n Universele aspek van menswees is, myns insiens, die versugting na ’n sinvolle bestaan in ’n komplekse wêreld. Hiervoor is die Bybel in sy geheel nie ’n goeie handleiding nie, want dit is vol teenstrydighede[55] en verskaf nie duidelike antwoorde oor hoekom daar soveel lyding in die wêreld is nie. Ons oortuiging dat daar iets groters as ons in die kosmos bestaan, het evolusionêr ontwikkel (hieroor brei ek later meer uit), en gebeure wat ons onverstaanbaar of wonderbaar vind, word outomaties deel van die Almagtige se plan met ons. Om te glo dat iemand anders in beheer van alles is, bring op ’n manier berusting. Daar is dus ’n hele boel goed waaroor ons ons nie hoef te bekommer nie, want God sal na ons omsien en die skuldiges sal gestraf word. Hierdie stelsel is so ongeloofwaardig dat dit waarskynlik die rede is waarom daar van ons verwag word om soos kinders te glo.
Dit bly egter gerusstellend om te beweer dat God in beheer is, dat hy/sy ’n plan met ons het. Die haakplek is egter dat ons eers ná die dood sal agterkom wat die plan is. Predikante maak hiervan gebruik en verwag van ons om die verskriklikste lyding sonder verduideliking te aanvaar as deel van die ewige plan van ’n liefdevolle en ondersteunende God.
Om vir reën te bid, is ’n goeie voorbeeld. As dit ná die biddag steeds nie reën nie, het God ’n ander plan of het ons nie reg gebid nie. As dit wel reën, is dit ’n wonderwerk en God het uitkoms gegee. Mense wat hierdie onsinnige scenario aanvaar, vra blykbaar nooit wie in die eerste plek die droogte en die lyding van al die onskuldige diere en plante veroorsaak het nie. Dit help ook nie om Satan (wat, terloops, nie bestaan nie) die skuld te gee nie. Dit onderstreep net die feit dat die Almagtige God nie in beheer is nie.
Die Bybel verskaf nie ’n rasionele verklaring hoekom daar lyding op Aarde is nie. Volgens die Ou Testament moet die Wet onderhou word, anders word jy en jou familie op verskillende maniere uitgedelg. Dit is egter nie verkeerd om jou dogters aan verkragters oor te gee of slawe te besit nie. As mens van sy tyd het Jesus niks vreemds aan slawerny gesien nie en dit gevolglik ook nie verdoem nie.
Om die traumatiese ervarings in mense se lewens aan die wil van God toe te skryf, is geen oplossing nie, maar op die een of ander manier bring dit vir sommiges berusting. Dit bly egter ’n besonder ongevoelige manier vir ’n Liefdevolle Herder om sy skape te behandel. As ’n mens sien hoeveel anatomiese en fisiologiese defekte ons as “kroon van die skepping” besit en hoe baie dinge in die wêreld verkeerd loop, is dit duidelik dat die Herder planloos is. Selfs die liewe Satan moes deur die mens geskep word sodat iemand darem die blaam vir die slegte kan dra.
Die enigste sinvolle alternatief is om alle gebeure in die kosmos naturalisties te benader. Daar word vandag sterk klem gelê op die waarde van inheemse kennis-sisteme en hoe dit op verskillende vlakke by die Westerse natuurwetenskap kan aansluit. Inheemse kennis-sisteme spreek egter gewoonlik tot spesifieke etniese groeperings. Wat ons tans weet van die oerknal, die daaropvolgende ontstaan van sterrestelsels, die Aarde en die evolusieproses wat tot ons ontstaan gelei het, is deur die mense van die Aarde ontdek. Hierdie Gemeenskaplike Ontstaansmodel (GOM) is ’n inheemse kennis-stelsel van die Aardbewoners. In teenstelling met tradisionele skeppingsmites, wat steeds sterk aanhang geniet, is GOM suiwer naturalisties en steun dit slegs op toetsbare feite en rasionele verklarings.
Die Suid-Afrikaans gebore Britse embrioloog Lewis Wolpert skryf: “Science provides by far the most reliable method for determining whether one’s beliefs are valid. It may be difficult, as it will often go against common sense, but its value is inestimable.” Waarom is Afrikaanse mense so sku om wetenskaplike bevindings wat hul geloof weerlê, te aanvaar?
Wolpert is reg. Die wetenskap poog om natuurverskynsels, waarvan baie deur middel van die tegnologie tot die mens se voordeel aangewend word, te verklaar. Dié suksesverhaal blyk ’n bedreiging vir baie mense se verknogtheid aan ’n onsienlike en afwesige opperwese te wees. Die ironie is egter dat mense wat afwysend teenoor die wetenskap staan, as sou dit die invloed van God verskraal of bedreig, nie skroom om te deel in die talle voordele wat die wetenskap bied nie. Fundamentaliste wat glo dat die Aarde nie ouer as tienduisend jaar is nie, is ewe tevrede om petrol in hul motors te gebruik. Die feit dat ons fossielbrandstowwe suksesvol kan opspoor en ontgin, kan net geskied met behulp van ’n geologiese model wat op die Uniformitarisme gebaseer is. Laasgenoemde verskaf toetsbare bewyse dat die Aarde inderdaad miljarde jare oud is en dat die Jong Aarde-gedagte van die fundamentaliste doodgewoon twak is.
Net so word die kwinte en kwale van anti-evolusioniste deur moderne medisynes wat op diere getoets is, genees. Medisynes word op diere getoets vanweë die onderliggende evolusionêre verwantskap tussen ons en hulle. Met elke pil wat fundamentaliste sluk, onderskryf hulle eintlik die universele werklikheid van die evolusieproses.
Ek dink Afrikaners is dikwels sku om wetenskaplike bevindings wat volgens hul oordeel hul geloof weerlê, te aanvaar omdat hulle lank reeds ingekoop het in ’n naiëwe en voorskriftelike godsdiensmodel. Van die Anglo-Boereoorlog af tot en met 1948 het die Afrikaner om politieke oorlewing gestry en daar is nie geskroom om die Bybel op ’n uiters naiëwe manier as praktiese riglyn in die volkslewe en vir politieke aspirasies aan te wend nie.[56]
Ons pluk vandag steeds die vrugte van hierdie soort benadering tot die lewe. Deur ’n oorvereenvoudigde godsbeeld te aanvaar, loop ons die gevaar om ewe simplistiese verklarings vir natuurverskynsels goed te maak. Myns insiens skep dit ’n kunsmatige gemaksone waar God in beheer is en ons hom net hoef te gehoorsaam. Dit bevorder egter ’n naiëwe onverskilligheid ten opsigte van ’n wye verskeidenheid sake, waaronder aardverwarming en die mens se rol in die uitsterwing van talle spesies. Indien ons boonop glo dat ons ná die dood iewers anders gaan voortbestaan, is daar selfs minder rede om iets aan die verslegtende toestande hier op Aarde te probeer doen.
’n Verdere aspek is dat biologiese verskynsels op makrovlak nie deur die wetmatighede van die fisika en die chemie verklaar kan word nie.[57]Die wisselwerking tussen organisme en omgewing is baie kompleks omdat alles met verloop van tyd verander. In teenstelling hiermee bestaan heliumatome al onveranderd sedert die tyd van die oerknal. Oorgangsvorme tussen groepe (byvoorbeeld genera, families, ordes en klasse) word oral aangetref en kompliseer nie net die taak van die sistematiek nie, maar bemoeilik ook die omskrywing van aspekte soos die spesiesbegrip.
Dolfyne lyk soos visse en swem saam met die visse, maar by nadere ondersoek blyk hulle soogdiere te wees. Daar bestaan tans duidelike paleontologiese en genetiese bewyse dat die moderne Setaseë (Walvisagtiges) uit ’n spesifieke groep oer-landdiere (waarvan hedendaagse seekoeie ook nasate is) oor ’n tydperk van miljoene jare ontwikkel het. Dit is ’n komplekse geskiedenis wat ’n sekere hoeveelheid agtergrondkennis oor die anatomie en fisiologie van soogdiere, die konsep van swerwende kontinente en die geologiese tydskaal veronderstel.
Dit is te verstane dat iemand wie se geestelike teiken die hiernamaals is sulke inligting waarskynlik as triviaal sal beskou. Dit strook egter nie met die werklikheid nie. Die waarde van ’n biologies gegronde lewens- en wêreldbeskouing is onmisbaar vir ’n ewewigtige en rasionele benadering tot ons bestaan. Ons is deel van ’n uitgebreide netwerk van lewe en beslis nie die kroon van die skepping nie. Myns insiens is dit een van die belangrikste redes hoekom Afrikaners so steeks is om bewese wetenskaplike bevindings wat naiëwe geloofsoortuigings weerlê, te aanvaar.
Laastens kan daar ook ’n saak uitgemaak word dat die afkeer waarmee wetenskaplike bevindings en veral evolusie bejeën word, dikwels niks met die wetenskap te doen het nie. Die evolusieteorie word deur baie gelowiges as doodgewoon immoreel beskou en daar word verkeerdelik geglo dat, indien dit waar sou wees, dit die morele en etiese norme van samelewings sal vernietig. Die feit dat die mees morele en etiese samelewings vandag in lande voorkom waar die bevolkings uitgesproke ateïsties en pro-wetenskaplik is, byvoorbeeld Swede, Denemarke, Noorweë en Nederland, toon duidelik dat sulke oortuigings ongegrond is.
Jy kruis as paleontoloog en kenner van Karoo-fossiele dikwels swaarde met kreasioniste en aanhangers van Intelligente Ontwerp. Jy werk ook met biologie-onderwysers om hulle touwys te maak dat die evolusieteorie op feite berus. Wat is die rol wat wetenskaplikes behoort te speel om die lekepubliek in te lig en versuim hulle nie te dikwels hul plig deur in ivoortorings terug te trek wanneer bygeloof regeer nie?
Die aantygings van fundamentaliste soos kreasioniste en ondersteuners van Intelligente Ontwerp (IO) teen die wetenskap en die teologie is oor die jare deur wetenskaplikes, hoofstroom-teoloë en uiteindelik ’n reeks beslissende hofsake as wensdenkery uitgewys.
Myns insiens behoort die rol van wetenskaplikes tydens sulke konfrontasies nie dié van ’n militante aggressor te wees nie. Dit is baie maklik om die kognitiewe dissonansie van die kreasioniste en die IO-ondersteuners bloot te lê. Die doel is egter nie om ’n spesifieke kreasionis of IO-ondersteuner teen wil en dank te oortuig nie. Dit is om redelike en rasionele verklarings vir natuurverskynsels aan die breër bevolking voor te lê. In dié proses word mense oortuig van die geldigheid van ’n rasionele benadering en hoe belaglik die aansprake van die fundamentaliste werklik is. Nie almal stem egter met hierdie werkswyse saam nie. Die sogenaamde “nuwe ateïste”, te wete Daniel Dennett, Victor Stenger, Sam Harris, Christopher Hitchens en Richard Dawkins, verkies ’n meer militante aanslag.
Dit is egter van kardinale belang dat wetenskaplikes (en hopelik meer hoofstroom-teoloë) hul navorsing nie net in vaktydskrifte publiseer nie, maar ook op ’n verantwoordelike manier populariseer. Stephen Jay Gould, Carl Sagan en Richard Dawkins is hier goeie voorbeelde aan die kant van die wetenskap, terwyl Sakkie Spangenberg, Julian Müller en Bart Ehrman van die prominente teoloë is wat met behulp van goed nagevorste, populêre publikasies nie skroom om vernuwing in die dogma-gelaaide kerkers van die geloof te bepleit nie.
Dit is egter heel waarskynlik só dat daar wetenskaplikes aan universiteite is wat so ingestel is op navorsing dat hulle onderrig vermy of dit doelbewus afskeep. Verantwoordelike popularisering van die wetenskap kwalifiseer ook as onderrig. Een van die redes waarom dit nie meer algemeen voorkom nie, is doodgewoon omdat dit moeilik is. Dit is veel makliker om ’n navorsingsartikel (gewoonlik in Engels) vol vakterme te skryf as om interessante aspekte van jou navorsing duidelik en onderhoudend in gewone, korrekte Afrikaans te vertel.
Almal van ons – psigiaters, medici, kunstenaars, filosowe, sportlui, onderwysers, fisici en bioloë – het egter ’n morele plig om die samelewing te dien en die wetenskap op alle vlakke so sinvol moontlik te probeer maak.
Binne hierdie konteks speel wetenskaplikes ’n belangrike rol, aangesien die wetenskap deesdae so kompleks is dat baie wetenskaplikes self dikwels nie goed ingelig is oor bevindings buite hul studievelde nie. Die nuutste teologiese bevindings word ook nie op ’n deurlopende basis aan lidmate deurgegee nie en gevolglik is die meeste Christene oningelig oor die werklike betekenis van die Bybel.[58]
Gelowiges sê dikwels religie is hul anker en kruk. Toe jy van jou geloof afstand gedoen het, hoe lank het dit geneem om daardie anker uit die water te trek en jou kruk heeltemal weg te gooi? Hoe moeilik was dit?
Dit was glad nie moeilik nie, want daar was geen katarsis nie. Deur uiteindelik net die regte vrae omtrent godsdiens en die Bybel te vra, het dit mettertyd duidelik geblyk dat die Bybel nie ’n goeie morele handleiding is nie. Die toenemende wete dat die primêre aansprake van die geloof nie waar is nie, het die soort toewyding wat gedurende my kinderjare van my verwag is, laat kwyn. Uiteindelik het ek ook tot die besef gekom dat dit primêr nie oor my onsterflike siel gegaan het nie, maar om my as Afrikaner op ’n spesifieke manier te manipuleer.
Baie van die sogenaamde waarhede was ook nie meer eie aan die Calvinisme nie, want die NG Kerk is mettertyd deur die destydse Afrikanerpolitiek omvorm tot ’n Volkskerk[59] sodat daar in Suid-Afrika ’n eie, Afrikaanse Calvinisme ontwikkel het wat “. . . nie ’n ingevoerde Calvinistiese stempel dra nie, nie ’n anderlandse Calvinistiese tipe na-aap nie, nie die spreekbuis van oorsese Calvinisme wil wees nie, maar wat ons eie Boerepad loop . . .”. Dit is ’n Calvinisme wat aangepas is by “. . . nasionale verskille van aanleg, temperament, volksaard, geskiedenis en omstandighede”. Daardeur “. . . is ons as volk in die vorige eeu bewaar, aan die een kant teen verengelsing en aan die ander kant teen verbastering”.[60]
Die Boerepad wat die NG Kerk uiteindelik geloop het, sou waarskynlik selfs vir Calvyn vreemd gewees het. Die unieke waarhede waarop die kerk aanspraak gemaak het, soos die maagdelike geboorte, was nie uniek aan die Christelike geloof nie. Baie ander nie-Christelike en spesifiek ateïstiese lewens- en wêreldbeskouings het ook gesonder morele en etiese oortuigings ingesluit. Dit het doodgewoon onnodig en tydrowend geword om so ’n uitgediende leefstyl te volg.
Die NG Kerk sal egter altyd deel van my kulturele bagasie wees, maar nie meer as ’n eksklusiewe en betekenisvolle morele rigtingwyser nie.
Kan godsdiens en wetenskap versoen word? Die Templeton Foundation (TF) probeer dit regkry deur jaarliks die grootste prys denkbaar – selfs meer in prysgeld as die Nobelprys – uit te loof aan mense wat versoening tussen dié twee velde bewerkstellig. Dit word veral gedoen omdat die wetenskaplike feite van evolusie en die oerknal die Bybelse skeppingsverhaal totaal weerlê en die TF probeer om die harde werklikheid van wetenskaplike feite in ’n magiese wêreld te versag. Is dit moontlik, veral in die lig van Richard Dawkins se beskrywing dat geloof in wonderwerke soos dié in die Bybel juis “amounts to a scientific claim, a violation of the normal running of the natural world” en dat die “alleged convergence between religion and science is a shallow, empty, hollow, spin-doctored sham”?
Dit is vreemd dat die Templeton-stigting nie poog om godsdiens met perdewedrenne te versoen nie. By sulke byeenkomste, waar duisende mense met slegs een doel voor oë vergader, word daar sekerlik baie gebede opgestuur. Gevolglik bied dit ideale geleenthede om prakties te bepaal hoe effektief gebed werklik is. Hiervoor is die Stigting blykbaar nie te vinde nie.
Om wetenskap en geloof te probeer versoen, is egter ’n futiele oefening. Die Stigting se onrealistiese droom kan as twee groot bome, waaruit een boom te voorskyn moet kom, voorgestel word. Om dit te vermag, sal die Boom van Geloof die meeste van sy blare, takke en stam moet prysgee, terwyl die Boom van die Wetenskap steeds gedy. Uiteindelik sal ’n enkele Blaar van Geloof waarskynlik op die ander boom oorgeplant kan word. Op die keper beskou, reflekteer dit in elk geval die huidige stand van sake.
Waarom dink jy het die mens ’n behoefte aan gode? En het jy nie ook soms so ’n behoefte as jy op ’n stil Karoonag na die helder sterre kyk wanneer jy besig is met veldwerk op soek na fossiele nie?
Ek dink ons behoefte aan die onsienlike sit in ons neurale netwerke. Die kanse is goed dat dit evolusionêr ontwikkel het. Ongeveer viermiljoen jaar gelede het ons voorsate nie die omgewing oorheers nie en op die savannas van Afrika was die tegnologies mees gevorderde wapentuig stukke hout en verwerkte klip. Groot, gevaarlike slagtande was reeds iets van die verlede en kon nie meer as wapens aangewend word nie. Bipedalisme of tweevoetigheid, ten spyte van al die gepaardgaande voordele, het ons voorsate ook nie in staat gestel om maklik aan die savanna se vlugvoetige roofdiere te ontsnap nie. Die brein was egter besig om geleidelik groter en meer kompleks te word. Die skelet van Australopithecus afarensis toon, van die skouer tot en met die voet, ’n reeks aanpassings wat op beide ’n terrestriële en arboreale vermoë dui. Dit is dus redelik om aan te neem dat hulle gereeld in bome oornag het. Hedendaagse primate doen dit steeds en ons sal dit natuurlikerwys ook doen as ons sonder wapens op die savanna gestrand is.
Ons voorsate het dus, ten spyte van ’n geleidelike toename in neurologiese kompleksiteit, tot redelik onlangs steeds ’n ondergeskikte rol in die natuurlike omgewing beklee. Die logiese manier om onder sulke omstandighede te oorleef, is tropvorming en sosialisering. Sulke gedrag is nie net steeds by ons en die ander moderne primate teenwoordig nie, maar is in werklikheid wydverspreid onder soogdiere.
Dit is nie vergesog nie om aan te neem dat in die lig van die toename in kognitiewe vermoëns by die mens oor die afgelope viermiljoen jaar en die teenwoordigheid van natuurlike verskynsels (die lawaai van donderweer, die vreesaanjaende en verwoestende krag van weerlig om veldbrande te ontketen en lewensvorme dood te maak, asook die ongenaakbare invloed van die son tydens droogtes) die besef by ons voorsate posgevat het dat hulle nie alleen was nie, maar dat iewers daarbo of in ’n vuurspuwende berg iets aanwesig was wat die lewe hier onder op verskillende maniere kon beïnvloed.
Ná ’n veldbrand is daar gewoonlik diere wat in die slag gebly het. Ons voorsate sou so ’n maklik bekombare voedselbron nie geïgnoreer het nie. Ons voorliefde vir gaar vleis het dus waarskynlik ’n lang geskiedenis. Antropoloë wys juis daarop dat dit gesonder is om gaar, eerder as rou,vleis te eet, aangesien die kans op infeksie afneem en vertering aangehelp word omdat die struktuur van die weefsel gedeeltelik vernietig is en nutriënte dus makliker vrygestel word. Alles in ag genome, beteken dit ’n groter kans op oorlewing.
Dit is moontlik dat die gebruik om diere aan die gode te offer ook natuurlik ontstaan het. Die waarneming dat die iets daarbo blykbaar daarvan hou om met vuur te speel en diere te verbrand, maar dat dit hier onder gewoonlik met verwoesting en ellende gepaard gegaan het, kon tot die idee van brandoffers gelei het. Deur die proses om te draai en ’n dier of twee hier onder te verbrand sodat die geur ten hemele styg, kon die almagtige iets daarbo moontlik gepaai word. Dié kortpad lewer dieselfde eindresultaat en sou hopelik groter verwoesting en ellende afweer. Insiggewend is die feit dat Levitikus 1:17 in die ou vertaling hierdie gebruik spesifiek ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here noem.
Hiervandaan is dit ’n klein treetjie om versoeke aan die Almagtige uit te brei. Menslik gesproke is dit onafwendbaar dat die skerper potlode in die blikkie hierdie aktiwiteit sou uitbuit deur aanspraak te maak op spesiale kennis en die vestiging van mites en rituele daaromheen. Die feit dat elke geloof steeds sy eie mites en rituele onvoorwaardelik bo dié van al die ander aanvaar, is insiggewend.
Waar die idee van ’n opperwese dus natuurlikerwys kon ontstaan het, is dit duidelik dat die gepaardgaande rituele en gebruike positief tot die oorlewing van groep kan bydra.
’n Karoonag vol stilte en sterre laat my egter nie na ’n opperwese verlang nie. Die enormiteit van die uitspansel is amper nêrens so werklik as tydens ’n Karoonag nie en die gewaarwording wat dit veroorsaak, is kompleks en wisselend. Miskien is die oorwegende gevoelens vir my een van trots dat ons as mense iets van die ontstaan en werking daarvan ontdek het en ’n soort dankbaarheid dat ek fragmente daarvan kan verstaan en waardeer.
Watter rol kan wetenskaplike ontdekkings en bevindings en die wette van die natuur in jou oë speel as ’n teenvoeter vir geloof in die bonatuurlike wesens soos gode, engele en duiwels?
Ek sien nie die wetenskap as teenvoeter vir die geloof nie. Die wetenskap behoort nie daarop ingestel te wees om geloof verkeerd te bewys nie. Dit impliseer dat geloof ’n belangriker aanspraak op ons het as waarop dit geregtig is. Ons sien nie die wetenskap as teenvoeter vir ander kultuuraktiwiteite soos kunsuitstallings, musiekuitvoerings, opera of sport nie. Uit ’n kulturele oogpunt is godsdiens as ’n universele verskynsel egter interessant en die verskillende weergawes daarvan behoort op ’n vergelykende basis nagevors te word.[61]
Die werkswyse van die wetenskap is egter rasioneel en berus op toetsbare en herhaalbare resultate. Die bestaan van gode, duiwels, geeste, Kersvader en die paashaas is dus outomaties nie deel van die werklikheid nie en vorm deel van ons kultuurgedrewe mites. Wanneer godsdienste egter besliste waarheidsaansprake maak, kan dit wetenskaplik ondersoek word.[62] Een daarvan is die oortuiging dat gebede verhoor word.
Rugbyspelers wat voor ’n wedstryd bid of ná die wedstryd beken dat die Here hulle laat wen het, plaas duidelik meer vertroue in ’n afwesige god as in hul wetenskaplik gefundeerde oefenmetodes. Veel ernstiger is egter die aansprake dat terminale pasiënte deur gebed genees kan word.
Grigg[63] wys daarop dat geloofsoortuigings by baie werklik siek pasiënte wel berusting kan bring, maar daar bestaan nie waargenome gevalle waar dit die ontwikkeling óf progressie van byvoorbeeld kanker selfs net vertraag het, of die herstel van pasiënte positief beïnvloed het nie.
’n Eksperiment met 750 hartpasiënte het getoon dat diegene vir wie se herstel Katolieke en Sufi-Moslems in die Verenigde State, Boeddhistiese monnike in Nepal en Jode by die Klaagmuur gebid het, nie beter gevaar het as ’n tweede groep wat die gewone mediese behandeling ontvang het, of ’n derde groep wat met behulp van onder meer spesiale musiekprogramme en terapeutiese tastegnieke behandel is nie.[64]
Laastens het ’n navorsingsprojek wat tien jaar geduur het en 1 800 hartpasiënte ingesluit het, in 2006 ondubbelsinnig getoon dat gebed geen invloed op die herstel van die pasiënte gehad het nie.[65]
Sommige wetenskaplikes beweer, verkeerdelik, gelowiges is gesonder en gelukkiger as ongelowiges. Is jy gelukkiger noudat jy nie meer glo nie, of mis jy iets?
Ek dink ek was nog altyd gelukkig, maar ervaar definitief ’n gevoel van vryheid getemper deur die wete dat ek alleen vir my doen en late verantwoordelik is. Ek mis die gewyde sang, orrelmusiek en die gemeenskaplike stilte voor die diens, maar nie die preke, voorskrifte en rituele nie.
As gelowiges beweer hulle is gelukkiger as niegelowiges, is dit waarskynlik omdat hulle alles in die hande van die vermeende Opperwese laat. As ’n mens oortuig is dat jou lot deur een of ander god bepaal word, dat hy/sy in beheer van jou lewe is en dat al jou vrese en gewaande sondes uiteindelik besweer en vergewe gaan word, sal jy waarskynlik ook glo dat jou las ligter is. Dit is egter ’n ope vraag of ’n mens onder sulke omstandighede wel gelukkiger is. Voornemende studente wat nie op ’n studierigting kan of wil besluit nie, beweer soms dat hulle op die Here wag om namens hulle te kies. Net só het ’n buurman wat jare reeds versuim om ’n gekraakte muur te herstel, ter verdediging beweer dat die Here nog nie sy goedkeuring vir die herstelwerk gegee het nie. Daar is min twyfel dat sulke gedrag bloot onvolwasse pogings is om die besluitnemingsproses vry te spring.
Tog word die bewering dikwels gemaak dat mense binne ’n godsdienstige gemeenskap gesonder is en ook langer leef. Dit is heeltemal moontlik dat rituele aktiwiteite, gerugsteun deur ’n meelewende gemeenskap, gevoelens van welsyn en optimisme kan veroorsaak en op dié manier die negatiewe effekte van stres verminder. Sulke verskynsels is egter nie uniek aan godsdienste nie, aangesien niegodsdienstige tegnieke, byvoorbeeld meditasie, dieselfde uitwerking het.
Mense wat in die bonatuurlike glo, neem dikwels wetenskaplikes kwalik omdat hulle rasionele denke bo alles stel en beskuldig hulle dat hulle die wondere en magiese uit die lewe wegneem. Hoe belangrik moet rasionele denke gegrond op bewyse na jou mening in ons lewe wees?
Die enigste manier om in ons komplekse wêreld te oorleef, is deur rasionele denke en optrede, anders leef jy in Lala-land. Rasionele denke is die vlam wat ons van die Grieke geërf het en wat steeds help om die donkerte van die kosmos stelselmatig te verlig.
Daar is niks daarmee verkeerd om Kersfees as ’n spesiale geleentheid, wanneer mense vlietend meer tyd vir mekaar het, te ervaar nie. Ook nie om stilletjies ’n traan weg te pink as ’n kinderkoor “Stille nag” sing nie. ’n Behoorlike Afrika-sonsondergang, die Groot Mars uit Aïda of “Ballade vir ’n stadskind” sal waarskynlik by baie mense dieselfde gevoelens oproep. As die son sak en die liedjie verby is, is die werklikheid steeds daar.
Die gevaar lê, myns insiens, daarin dat as ’n persoon voltyds in die magiese wêreld begin leef, hy/sy spoedig die greep op die werklikheid verloor, soos met die onlangse wegrapingsdebakel van Johannes Coetzee. Jim Jones en sy volgelinge se massaselfmoord (1978) en die dood van David Koresh en sy volgelinge in Waco, Texas (1993), is ekstreme voorbeelde van hoe irrasionele denke die oorhand kan kry.
Ek dink dat godsdiens soos dit tans, in die breë, beoefen word, ontoereikend vir hedendaagse omstandighede is. In die proses is die Afrikaanse kerke besig om leeg te loop, nie omdat lidmate ongelowig word nie, maar heel waarskynlik omdat die kerk nie meer die spirituele ondersteuning wat hulle soek, kan verskaf nie. Julian Müller is reg as hy noem dat die kerk haarself as geestelike gespreksgenoot gediskwalifiseer het.[66]
Daar word ook uit verskillende oorde toenemend klem op ’n spirituele eerder as ’n dogmatiese benadering gelê. Dennett[67] reken dat baie mense wat so ’n benadering voorstaan, nie spiritualiteit kan definieer nie. Grigg[68], daarenteen, definieer dit duidelik as deelname en self-transendensie om ’n produktiewe bestaan te voer in die aangesig van die finaliteit van die dood, morele ontoereikenheid en betekenisloosheid. Volgens hom is ’n spirituele bestaan ’n lewe wat in harmonie met die kosmos gevoer word.
So ’n spirituele kruistog op soek na betekenis, doel en morele geldigheid kan myns insiens ten beste met GOM as vertrekpunt gerealiseer word, want dit omseil effektief die onoorkomelike knelpunte van tradisionele godsdienste, te wete die universele probleem van lyding en God se onvermoë om die kwaad te oorwin.
Stadig en pynlik, pynlik stadig wen die mens
aan insig en begrip, verdwyn ou gode uit hul kastele.
Maar die teoloë kou kaiings,
wil steeds Esegiël speel met ou beendere.
Uit: “Ope brief: aan die nuwe Doktorandus” deur MM Walters.[69]
JURIE VAN DEN HEEVER is ’n Karoo-paleontoloog en dosent in vergelykende werweldiermorfologie in die Departement Plant- en Dierkunde aan sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch (US). Ná sy studies het hy veertien jaar lank by die destydse Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad as Karoo-paleontoloog gewerk. Hy het die akademie in 1988 betree toe hy ’n pos aan die US aanvaar het. Van den Heever is sedert 2005 medeskrywer van die weeklikse “Wetenskap vandag”-rubriek in Die Burger en spanlid van die weeklikse wetenskapprogram “Hoe verklaar jy dit?” op RSG. Ná sy aftrede in 2007 is hy op deeltydse basis by die US heraangestel.