Читать книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen - Страница 6
Cecile Cilliers
Оглавлениеin gesprek met Frits Gaum
“Jy vra wie is God vir my? Vir my is Hy ’n konstante Teenwoordigheid. Vir my is God ’n Realiteit – ek kan nie anders nie. Ek gló, en is dankbaar dat ek glo, en dat ek binne sy genade kan leef.”
Wie is Cecile Cilliers?
Wer bin ich? Só begin Dietrich Bonhoeffer se aangrypende gedig wat hy uit aanhouding skryf, wagtend op die doodsvonnis vir sy aandeel aan ’n komplot om Hitler te vermoor. Die gedig beskryf die tweeledigheid van sy aard en die dilemma waarin hy hom bevind. Mense vertel hom, dig hy, dat hy rustig, vrolik, ferm uit sy sel tree, soos ’n landheer uit sy kasteel. Hy is vry in sy omgang met sy bewaarders, vriendelik en oop, syne skynbaar die reg om bevele te gee. Mense vertel ook dat hy sonder vrees die mistroostige dae tegemoet gaan, gelykmatig, glimlaggend, trots: iemand wat gewoond is om te oorwin.
En dan volg daar tien versreëls van vrees vir die toekoms, angs, rusteloosheid; ’n voël in ’n kou vol verlange na kleur, na blomme, na voëlgesang; ’n dors na woorde van vriendskap en buurmanskap, magteloos, vermoeid, leeg van bid, van dink, van skep, afgemat en bereid om alles finaal te groet.
Wer bin ich? Der oder jener? Hierdie mens of daardie een? Is ek vandag dalk só en môre weer anders? Is ek dalk albei tegelyk – voor mense ’n huigelaar maar voor myself ’n veragtelike, weeïge swakkeling? Of is daar iets binne my wat soos ’n oorwonne leër in wanorde vlug van ’n oorwinning reeds behaal?
Eensame vrae hou my vir die gek: Wer ich auch bin, Du kennst mich, Dein bin ich, o Gott! Wie ek ook al is, U weet, o God, ek behoort aan U!
Hierdie gedig spreek tot my. Ek is op 24 Mei gebore, onder Gemini; dus Tweeling in die Diereriem, tweeledig van aard. Ek weet dis onsin, die astrologie, en is nogtans geamuseerd verstom hoedat die persoonlikheidstrekke soos deur die sterre bepaal met my eie ooreenstem. Tweeledig en gesplete – vol verbeelding en tog logies, serebraal maar emosioneel, lief vir mense en hul stories, terselfdertyd krities en privaat van aard, vol nood aan mense óm my en daarenteen immer smagtend na stilte; flambojant, laatsienerig, eiegeregtig; dikwels bang en huiwerig maar meestal liefdevol, vredesoekend. Stellig so gekompliseerd soos enige ander mens.
Maar, wie en wat ek ook al is (en o, hoe hou ek van die intieme Duitse duzen van die Skepper), Jy weet, o God, ek is Joune!
Wie is God vir jou?
Ek het op Montagu in die Boland grootgeword waar my pa, Bram Pretorius, landdros was. En my verhouding met God is vroeg reeds bepaal deur my verhouding met my pa. Ek noem God Vader, doen dit met vrymoedigheid, die begryplike angs van baie vroue wat gely het aan die hand van vaders en mans ten spyt. Want my pa het ek leer ken as ’n regverdige, liefdevolle, diep gelowige man met ’n innemende humorsin en ’n ironiese blik op die ganse mensdom. Van hom het ek die gawe van ’n geloof soos syne ontvang.
Pappa het soos Henog (Gen 5:22) “naby God geleef”. Nie dat hy ooit die Skepper by sy naam genoem het nie. Hy, het hy gesê, of my Skepper. Maar hy was in daaglikse gesprek met Hom. En die innigheid van daardie verhouding, die absolute geloofsoortuiging wat ook al die omstandighede, die ontsag, die eerbied, dié het ek by my pa geërf. En daarby die wete dat as jy nederig voor God leef, jy jou vol selfvertroue kan laat geld onder ander.
Maar dis nie vanselfsprekende erfgoed nie. Op die keper beskou, is geloof ’n gawe van die Gees. Jou omstandighede kan miskien (of sal waarskynlik) die aard van jou geloof bepaal, maar die daad van glo – dit kom van God self af. So glo ek, wéét ek.
Dus: God is die objek van my geloof (ek glo in God die Vader, die Skepper, die Almagtige . . .), maar Hy is ook deurlopende, innige Gespreksgenoot.
Ek begryp dat sodanige gesprekke met God verdag mag klink. In gesprek met ’n geestelike begeleier het hy my op ’n kol daarop gewys dat dit waarskynlik blote binnegesprekke is, dialoog met die self. Dit het my weke geneem om weer my vertroulike gesprekke met God aan die gang te sit: onnodiglik het ek ter wille van die twyfel van ánder die troos en nabyheid van God ontbeer.
Nie dat daar nie soms twyfel is nie. Ek ken Benediktus se “donker nag van die siel”, wanneer ’n kerker van angs jou omsluit, die nag binne donkerder as die swart daarbuite, en jý verteer deur onhoudbare skuldgevoelens en ’n volslae gebrek aan geloof. Maar die dag breek altyd deur, en ek glo my geloof word daardeur versterk.
Jy vra, Frits, wie is God vir my? Vir my is Hy ’n konstante Teenwoordigheid. Ek gaan saam met Hom slaap, staan elke oggend dankbaar in sy Teenwoordigheid op. Vir Hom hoef ek nie ’n beste voetjie voor te sit nie – Hy ken my elke fout, my elke strewe, elke woord van elke gebed. Hy ken my – sy maaksel, sy skepsel – tot in my nerf en het my nogtans (wat ’n genade!) deurlopend, allesvergewend en onvoorwaardelik liéf.
Ek kan my lewe kwalik met groter troos, groter selfvertroue, meer vreesloosheid leef as juis só, met die wete dat God se vangnet altyd daar is. Altyd. “All will be well and all will be well and all will be well,” skryf Juliana van Norwich. Verwar ek ’n bepaalde, positiewe geestesingesteldheid met geloof in ’n onsigbare, onbegryplike Godheid? Dis moontlik, en ek kan verstaan dat buitestanders my geloof met argwaan kan beskou. Maar vir my is God ’n Realiteit – ek kan nie anders nie. Ek gló, en is dankbaar dat ek glo, en dat ek binne sy genade kan leef.
Waarom is die Bybel vir jou méér as ’n ander groep baie ou boeke?
As kind was ek leesgierig, is dit nog; ek kan die geskrewe woord – enige geskrewe woord – nie weerstaan nie. En daarby word ek maklik deur ’n storie verlei. My ouers het die leesgierigheid aangemoedig, daar was altyd boeke in ons huis. En my oupa, skoolhoof op Franschhoek, het ’n hele boekery besit; ek het vroeg kennis gemaak met die klassieke kinderliteratuur, ook in Engels. (Uncle Remus se stories het ek skelm gelees – my ma het gevoel die “Amerikaanse” taal sal my Engels bederf.)
Die Afrikaanse Bybel het in die jaar van my geboorte (1933) verskyn, en ek het daarmee grootgeword. Met ’n Bybel in die huis was daar altyd iets om te lees, en ek het veral die stories in die Ou Testament uitgesoek en uit nuuskierigheid enigiets wat na seks gelyk het: Hooglied en die hoereerdery met Baäl . . . Toe die gelykenisse en die poësie van die Psalms.
Leer die Psalms van buite, het juffrou Mostert ons in graad ses gemaan, eendag as julle oud en blind is, moet julle hulle tot troos kan opsê. (As ou Mossie maar kon weet dat die geheue nog gouer as die sig verdwyn!) Ook het juffou Mostert gemaan dat die Bybel ’n heilige boek is, dat dit altyd langs jou bed moet lê, en dat geen ander boek daarop moet rus nie . . .
In die Sondagskool, van die kansel af, is ons geleer dat die Bybel die Woord van God is, en dat elke woord daarin daarom waar is – want dis deur God ingegee. Maar hoe meer ek die Bybel gelees het, en veral toe ek in die letterkunde begin studeer het (dit was al ’n vak op hoërskool), hoe meer het ek tot die besef gekom dat “elke woord” onmoontlik waar kon wees.
Die boek Ester – hoe het beide Jood en Christen getwyfel oor die insluiting daarvan in die kanon! – is weinig meer as ’n opwindende Persiese sprokie met ’n mooi Jodin as heldin: die naam van God kom nêrens daarin voor nie. En vroeg al was Jona vir my ’n storie binne ’n storie, ’n storie wat eers tot volle blom kom by die lees en begryp van Jesus as Jona vir drie dae in die donker maag van die vis. Maar waar of nie, was dit die deernisvolle geregtigheid van God, veral soos dit te voorskyn kom in die aangrypende slotreëls van die Jona-boek, wat my aangespreek het.
Dieselfde sin vir regverdigheid, vir geregtigheid, het Pappa in Jesaja gelees. As hy sy sin kon kry, sou hy daardie boek op hoërskool laat voorskryf het, oor die magtige profesieë, oor die beelde, oor die taal, maar veral oor die geregtigheid van God, vernaamste vermaning van die groot profeet.
Later jare het ek die werk van die Amerikaans-Lutherse teoloog Marcus J Borg leer ken, onder meer sy Reading the Bible Again for the First Time. Interessant daarin was sy indeling en bespreking van die Ou Testament – inligting wat studente in die teologie waarskynlik in hul eerste jaar reeds leer ken, maar wat ek daar vir die eerste keer gelees het. Boeiend ook sy aandrang op geregtigheid vir die armes, die weduwees en wese, die onderdruktes, wat soos ’n goue draad deur al die Profete loop. Baie dinge wat ek onbewustelik waargeneem het, het Borg vir my in woorde omskep: die Bybel is inderdaad ’n heilige boek – nie omdat dit woord vir woord die Woord van God is nie, maar omdat dit deur gelowiges se eeue lange gebruik daarvan heiligheid bekom het.
Dít is dan wat die Bybel vir my beteken: ’n boek waarvan die inhoud ’n bepaalde heiligheid besit omdat dit my, saam met miljoene ander Christen-gelowiges, na God lei, my geloof en my lewensbenadering bevestig, my gewete opskerp en my tot groter en wyser onderskeiding lei.
Daar is ander ou geskrifte wat verhale oor die mens vertel en wat ook baie wysheid besit, en dikwels dieselfde soort episodes beskryf. Die eposse en sagas, die legendes en mites wat fokus op die reis van die mens van geboorte tot die dood, beskryf op daardie pad feitlik onvermydelik (want dis menslik) dieselfde hindernisse: haat en nyd, moord en doodslag, honger, koue, vrees, begeerte, verkragting, bloedige onderdrukking. Daarteenoor is daar altyd sagte oomblikke van medelye, deernis, vriendskap, liefde. Deurlopend bly die mens egter hoofsaaklik soek na iets groter as die self, iets buite die self. Michael Fox, die Amerikaanse akteur wat aan Parkinson se siekte ly, skryf in die tydskrif Good Housekeeping dat hy stoei met geloof en spiritualiteit, maar: “I think there’s a God and I know it’s not me. I practise a humility that presupposes there’s a power greater than myself.”
Dít is die deurlopende tema van die Bybel, die wete van die Ander, die Een wat groter en magtiger as jy is – die Een wat tegelyk die mens verhef tot net onderkant die engele, soos Dawid in Psalm 8 dig, maar terselfdertyd daardie mens deeglik bewus maak van die almag van God, soos Job begryp wanneer hy eindelik kan erken: nou het ek Uself gesien.
Die Ou Testament en sy skeppingsverhale word in baie ander ou geskrifte weerspieël, byvoorbeeld in die Assiriese Gilgamesj-epos, waarin veral die verhaal van Noag (Utnapishtim) herken word.
Maar in al daardie ou geskrifte, die Assiriese, Egiptiese, Asteekse, Griekse, Romeinse, noem maar op, waardevol soos hulle is (en veral waardevol as ’n weerspieëling van hul tyd en van die begeertes en behoeftes van die mense van daardie tyd) word daar ’n magdom gode aanbid waarvan nie een werklik by die mens belang het nie. En waarvan nie een, soos die Bybel, die liefde openbaar wat die lewende God vir die mens het nie. En dis op die skarnier van die liefde dat die deur tot die heerlikheid van die ewigheid soms, net soms, op ’n kier oopgemaak word.
Hoe verstaan jy Genesis se skeppingsverhale?
Genesis se skeppingsverhale boei my. “Toe God die mense geskep het, het Hy hulle gemaak as beeld van Homself” (Gen 5:2). Al weer die manlike oorheersingsbeeld, kla die feministe, en hulle wat swaar ly onder eiegeregtige mans. Maar so sien ek dit nie. Die “beeld van Homself” kan tog onmoontlik fisiek wees. Inteendeel. Myns insiens is dit die asem van God wat lewe gee: die skeppingsvonk van die kunstenaars, die digters, die beeldhouers; dit is die liefdesvonk, wat húlle aanvuur wat omgee vir ander; dit is die vonk van goedheid wat God van sy Beeld, sy Wese, ingestraal het in die mens. En wat aan die mens lewe in sy volheid gee.
Jesus, Seun van God, Persoon in die Drie-enige God, het fisiek méns geword, mán geword, saam met ander mans en vroue die Aarde bewandel, maar Hy sou nét goed wees, vol liefde en met die vermoë om te skep en te herskep. Sy volmaaktheid kan ek onmoontlik ewenaar, maar met sy lewe as voorbeeld, die Bybel as handboek, en gedring deur die liefde, kan ek probeer om ’n lewe te lei wat eerder skeppend en helend is as afbrekend en kwetsend. En dis moontlik, omdat die skeppingsvonk van God ook in my leef. Glo ek.
Vir ’n jonger geslag wat blootgestel word aan die jongste wetenskaplike bewyse en teorieë word geloof ’n uiters problematiese saak as daar aangedring word op die “feitelike waarheid” van die Genesis-skeppingsverhale. Hierdie planeet wat ons tuiste is, is immers meer as 60 miljoen jaar oud en die geskiedenis daarvan kan in die Suid-Afrikaanse gesteentes gelees word. Die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika het ’n pragboek uitgegee oor die Suid-Afrikaanse fossielegeskiedenis – Life Etched in Stone – waarin die ontstaan van lewe, van die eerste varingblaartjie wat oopkrul tot by Homo erectus (die mens wat begin regop loop), gevind kan word.
Ek kan my op ’n manier vereenselwig met Genesis se verhaal van ’n sesdaagse ontstaantydperk, eenvoudig omdat God se tyd nie die méns se tyd is nie, maar op die keper beskou, is die Bybel se skeppingsverhaal dié van enige ander saga of epos waarin ’n primitiewe mensdom oplossings vir sy bestaan op Aarde probeer vind. Probeer dit met ’n wetenskaplike dissekteermessie blootlê en verklaar, en jy mis die bedoeling daarmee geheel en al.
Hef geloof ’n mens se rede en gesonde verstand op?
Hef wetenskaplike kennis my geloof op? Inteendeel. Ek skaar my by die oortuiging van Colin MacRae, die samesteller van Life Etched in Stone, wanneer hy in die voorwoord skryf: “. . . the concept of the slow evolution of man from an animal is highly controversial and disturbing to those who attest to the biblical record of the creation of the world and man. I believe, however, that the two concepts are reconcilable. The fossil record of evolution bears witness to a wonderfully complex divine plan.”
Ek het ’n asemrowende, byna geestelike, openbaring – ’n epifanie – ervaar toe ek by die Smithsonian Institute in Washington, D C, ’n “ruimtereis” onderneem het met Tom Hanks as kommentator. In ’n leunstoel, kop agteroor, het ek Jupiter op die horison sien opkom, en hier vlak langs my Saturnus met sy ringe, en doer anderkant Venus. En by die verwonderde kyk moes ek hoor dat daar buite ons sonnestelsel, anderkant die Melkweg, anderkant die Suiderkruis en Orion, minstens nog tienduisend sonnestelsels lê. Te ver vir selfs die magtige Hubble-teleskoop om hulle digitaal te bereik of te voorspel. Vir my was dit ’n geloofsbevestigende ervaring: hoe onbegryplik gróót is die God in Wie ek glo en my vertroue stel!
Ek het ’n goeie mate van verstand én gesonde verstand van my ouers geërf, is effe minder logies as my pa, beslis meer as my ma, maar my gawes en my opvoeding neig weg van die wetenskaplike. My agtergrond en opleiding is literêr; van my mees geliefde leesstof is die poësie. Vol binnepret lees ek hoedat die Amerikaanse digter Billy Collins kaalvoet oor die Atlantiese Oseaan loop terwyl visse oopmond na sy voetsole staar. Gesonde verstand kan dit maklik afmaak as onsin, maar dit neem niks weg van die waarheid daarvan binne die gedig nie. Die wêreld van die poësie skep ’n ánder werklikheid. Ek gebruik die poësie as metaforiese voorbeeld, maar hiermee wil ek sê dat ’n mens nie alles “redelik” kan en hoef te verklaar nie, en dat my gesonde verstand nie afbreuk doen aan my geloof nie.
Hoe verstaan jy Jesus se woorde in Joh 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie”?
Ek is eerlik, Frits, hierdie teks was lank vir my ’n tameletjie. Die mistieke Johannes met sy baie metafore is nie altyd maklik te begryp nie. Ek het die teks maar altyd op sigwaarde geneem totdat dit eendag deur ’n Christen-kennis gebruik is om Moslems en ander “ongekerstendes” aan die verderf toe te vertrou. Toe moes ek opnuut nadink oor hierdie teks en die tradisionele eksegese daarvan.
Self leef ek in die geborge kring van die liefde van God en van die genade van Jesus die Christus. Watter reg kan ek dan moontlik hê om met hierdie teks dieselfde genade aan ander te ontsê? Dit is my oortuiging dat Jesus vir die ganse mensdom gesterf het – so groot is die liefde van God vir die mens wat Hy geskep het. En ek glo dat ons daardie liefde en genade net so min kan begryp as die feit van die tienduisend sonnestelsels wat steeds buite ons bereik bly.
Was ek meer teologie-geletterd, kon ek moontlik wat ek met my hart aanvoel op ’n vaste teologiese grondslag plaas. Na aanleiding van ’n gedagte wat Richard Rohr, die Amerikaanse geestelike, geopper het, sal ek probeer verduidelik wat vir my uit hierdie teks te voorskyn kom. Dit dui nie daarop dat jy Christen-gelowige moet wees om die saligheid te erf wat daar in Jesus se dood opgesluit is nie. Hy het vir die ganse mensdom gesterf, nie net vir ’n handjievol Christene nie. Nee, hierdie teks in Johannes dui eerder op die selferkende Eenheid wat Christus is: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie . . . Sonder om daardie eenheid van weg, waarheid en lewe te bereik, waarvan Hy die verpersoonliking is, is dit vir die mens moeilik om een met die Vader te word. En die God wat ek deur Jesus, sy Seun, Vader noem, is die Enigste, die Almagtige. Slegs deur die lewensweg te volg waarvan Jesus se selflose weg die voorbeeld is, in waarheid en met integriteit, en ten volle bewus van die kosbaarheid van die lewe en die volle benutting daarvan, is eenheid met die Almagtige moontlik. Vir my is Jesus die weg en die waarheid en die lewe. Ander gelowiges mag ’n ander pad na God volg, mits dit die pad van integriteit en die lewe in al sy volheid behels.
As die éénheid van Jesus sentraal gestel word, word daardie eenheid die saak onder bespreking, en verval die problematiese aspek van die teks.
Nico Koopman het êrens geskryf: “Sonder die opstanding van Jesus uit die dood is die lewe hel.” Jou kommentaar?
As Nico met dié opmerking bedoel dat die opstanding van Jesus die Christelike geloof ten grondslag lê, dat sy opstanding vir die Christen-gelowige in die lewe én in die dood die hele verskil maak, stem ek met hom saam. Sonder die opstanding het Jesus se maagdelike geboorte, sy lewe van voorbeeld en wonderwerke, sy lyding, en sy dood ter wille van die mensdom weinig meer betekenis as een van die mites wat Flip Schutte so breedvoerig aanhaal in sy boek The Resurrection in Joseph’s Garden (2009). Vir my is die liggaamlike opstanding van Jesus (let wel, nie die metaforiese nie) dít waaroor die Christelike leer ten diepste gaan. En daardie opstanding maak dit vir my moontlik om ten volle te leef en eindelik geborge te sterf. Sonder die opstanding, sou ek skertsenderwys wou sê, is die hiernamaals hel! Maar ek weet nie in watter konteks Nico Koopman die stelling gemaak het nie, en daarom is dit moeilik om daarop kommentaar te lewer.
Christene bely “die opstanding van die vlees” (Twaalf Artikels). Hoe letterlik verstaan jy dié belydenis?
Ek gaan jou vraag beantwoord deur weer my pa te betrek. Hy is in sy 87ste jaar aan kanker oorlede en het gééstelik huis skoongemaak voordat hy gesterf het. Só kom ek eendag by hom in die hospies in Pretoria en hy begin, soos so dikwels, om ’n storie te vertel.
Die predikant was gister hier, sê hy, en hy vra my – dit is sy herderlike plig – of ek vrede het met die naderende dood. Dominus, antwoord Pa (hoe graag het hy – ironiese blik – die predikant Dominus genoem), ja, ek sien kans vir die dood, en ek glo die leer, behalwe vir daardie een frase in die Geloofsbelydenis: “Ek glo aan die opstanding van die vlees . . .” Ek kan my verstand nie daarom kry nie. Hoe kan dit moontlik wees? In watter vorm, en wat van hulle wat veras is of in vernietigende ongelukke gesterf het? Ek verstaan dit nie, en jy, Dominee, het dit nog nooit vir my uitgelê nie. Oom Bram, antwoord die predikant, ek hét, hoeveel keer al, maar jy wil my verklaring nie aanvaar nie. En daarmee is hy vort, kind, sê Pa. En ek?
Ek het die hele nag met my Skepper geworstel, en vroeg vanoggend, toe die eerste mossies tjilp, toe staan Hy langs my bed en Hy sê: Bram, Bram, vir wat tob jy so? In die huis van my Vader is daar baie wonings!
En dís my antwoord, Frits.
Omdat ek deesdae ’n stiller, meditasie-gerigte diens verkies, het ek lanklaas my geloof hardop in die hart van ’n gemeente bely. Dit kan ’n gemis wees, want dis ’n belangrike oefening – by die hardop voordra onderskraag die een se geloof die ander se moontlike twyfel. Maar soms snags, wanneer ek witoog wakker lê (kruis van die ouderdom), sê ek die Geloofsbelydenis op, toets my geheue én my oortuiging. En haak ek soms geloofsgewys vas op die volslae vergifnis van sonde – in die wit nag lyk dit my so ’n onoorkomelike struikelblok. Dan onthou ek Pa se ervaring, en slaap getroos: in die huis van my Vader is daar baie wonings.
Hoe sien jy die “uiteinde van alles”, Cecile . . . en jóú uiteinde?
Die uiteinde van alles? Van die Aarde, bedoel jy? Of van die wêreld, soos ons dit ken? En mý uiteinde, vra jy?
Ek het ’n geseënde, gelukkige en bevredigende lewe (amper) agter die rug. Ek het baie gawes ontvang (waaronder die geloof) en die genade om hulle te gebruik en uit te leef. Ek ken smart en kon dit met dieselfde genade verwerk. Ek het groot vreugde aan hierdie wêreld – aan sy skoonheid, sy mense, sy groot verskeidenheid. Dat dit eindelik tot ’n einde moet kom, begryp ek. Alles kom per slot van rekening tot ’n einde, en ons son brand uit – kouer sal die wêreld word . . . En wie weet, lank voor dit kan ’n meteoor die Aarde tref. Ek is nie blind vir klimaatsverandering en aardverwarming nie, en ook nie vir die groot verwoesters van die mensdom nie: ek het my deel, hoe gering ook al, probeer bydra om armoede, ongeletterdheid, vooroordeel, ongelykhede in die samelewing, MIV/vigs, te bekamp. Grootgemaak om my te ontferm oor my naaste, is dit oor die probleme van die hede dat ek my verknies eerder as oor die uiteinde van dit alles.
En wie sal weet hoe en wanneer die einde sal gebeur? Van my en van jou en van ons Aarde? Die Bybel probeer die ouderdom van die Aarde vaspen in etlike duisende jaar, terwyl dit miljoene der miljoene jare reeds bestaan, mét en sónder die mens – laasgenoemde ’n skrale strepie, ’n haarbreedte op die lang lyn van die oergeskiedenis.
My jare word minder – daar is beslis baie minder oor as wat verby is – maar ek is nie bang om te sterf nie. Nie bang nie, nee, maar wel huiwerig. Want hoe jy ook al glo (of nie glo nie), die heengaan – waarheen gaan jy heen? – is onseker.
Ek neig soms om te dink dat hierdie Aarde ons enigste hemel is (“our Heaven is here, is now,” dig Rupert Brooke), of kon wees, as ons saam met God harder werk aan sy herskepping daarvan, miskien die Aarde en mekaar meer liefgehad het. In my leeftyd sal ek daardie hemel op aarde in sy geheel nie meemaak nie, maar kol-kol het ek tog wel – dis dié dat ek aan die bestaan daarvan glo.
Maar ek dink ook dat alle mense ’n hiernamaals tegemoet gaan – nie wat hulle verdien nie, maar wat hulle verwag. Jy skep jou eie hemel en jou eie hel, net soos hier op die Aarde. En as jy glo dat daar geen lewe ná die dood is nie, sal jou lewe soos ’n kers gewoon gesnuit word.
En my uiteinde dan? Daar is geen sekerhede nie, maar vir my kan daar geen groter vreugde wees nie as die wete van God se Teenwoordigheid, magtig, oorweldigend, troostend, naby: in die huis van my Vader is daar baie wonings. Ná die dood, wie weet, sal dit my miskien beskore wees om vir ’n kort oomblik, vir ’n ewigheid (God ken immers geen tyd nie), bewustelik deel van sy lig te wees voordat ek in Hom versmelt.
CECILE CILLIERS is ’n letterkundige en rubriekskrywer. Sy het haar opleiding ontvang aan die Universiteite van Pretoria, die Witwatersrand en die eertydse Randse Afrikaanse Universiteit. Sy het drie kinders op drie vastelande, reis (gelukkig) graag, lees graag, kook graag en is lief vir mense. Sy beskou haarself as ’n geseënde vrou.