Читать книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen - Страница 7

Dave Pepler

Оглавление

in gesprek met George Claassen

“Die ontstaan van alle gode het te make met die onvermoë om natuurverskynsels te verklaar. Hoe anders kon ons voorvaders eenvoudige verskynsels soos dag en nag, vloede, siekte en die dood verklaar het? Alle gode ontstaan uit onkunde.”

Wie is Dave Pepler en wat is die pad wat jy in jou lewe geloop het van geloof na ongeloof?

My naam is Dave Pepler en ek is ’n ateïs. Gebore in Robertson, te midde van ’n uitsluitlik gelowige gemeenskap, het ek in ’n huis grootgeword waar niemand kerk toe gegaan het nie, maar daar wel ’n Bybel was. My ma het gevoel dat ek ten minste Sondagskool moet bywoon, want in die vroeë 1950’s was ’n katkisasiesertifikaat ’n baie beter getuigskrif as ’n universiteitskwalifikasie.

My pa het twee dinge afstootlik gevind: die politiek van die Nasionale Party en die skynheiligheid van deursnee-kerkgangers. Hy het konsekwent getuig dat beide hierdie instellings gedoem was omdat die waarheid altyd sou seëvier. Natuurlik is hy daarom as randfiguur beskou, maar vreemd genoeg het hy terselfdertyd die hoë agting van die NG dominees gehad wat hom gereeld aan ons huis kom besoek het. Ek dink hy was diep gelowig, maar het nooit daarmee gedweep nie. Sy intellektuele redding was sy nederigheid en ’n roekelose liefde vir lees.

Ek kon Sondagskool nie verduur nie. My katkisasiemeester was ’n vreemde man wat, net voor hy as dominee sou kwalifiseer, die kluts kwytgeraak het en op Robertson as kerkskriba beland het. Hy het skaars hoorbaar voor ons staan en prewel en ons het stom van verveeldheid sit en droom oor ’n middag by die poele van die Breërivier. Ná jare het ek ’n sertifikaat ontvang, sonder enige van die gekleurde sterre en simbole van die getroues en gelowiges.

En toe sterf my pa, by my, waar ek langs sy bed gesit het – dood aan ’n hartaanval op 57. Ek was agtien en het die reëlings vir sy begrafnis hanteer. Ons wyk se dominee het die buitengewone aanbod gemaak dat hy graag my pa uit die kerk wou begrawe en ek het ingestem. Die Peplers is kerk toe, saam met ons geliefde huishulp Johanna van Rooij, ’n engel uit die hart van die Karoo. Johanna het my pa aanbid. By die deur van die kerk word Johanna weggewys en het regdeur die diens in die oop deur staan en huil. By die graf het sy teen die verste rand van die kringetjie mense gestaan en alléén gerou. Daardie was die laaste dag dat ek my voete in ’n kerk gesit het en ook die dag dat ek besluit het dat hierdie liefdevolle god wat oor die jare aan my opgedis is, ’n onmeetbaar wrede en eensydige figuur was.

Intussen het absoluut niks verander om my van opinie te laat verander nie. Die volgehoue onmenslikheid van gelowiges wêreldwyd (onthou dat ateïsme beteken dat ek nie aan énige god of gode glo nie – a-teïsme) bevestig eenvoudig my afkeer.

Wat my verstand te bowe gaan, is hoe enigiemand nog aan ’n liefdevolle skepper wat toekyk hoe elke vesel van sy skepping deur die mens verniel en verwoes word, kan glo.

Oor die toekoms van die status van wetenskaplike bevindings by die lekepubliek vra die Suid-Afrikaans gebore ontwikkelingsbioloog Lewis Wolpert in Six Impossible Things Before Breakfast – The Evolutionary Origins of Belief: “The beliefs of science are the most reliable we have about how the world works, so could these, with time, become the everyday basis for forming beliefs?” Dink jy mense sal ooit irrasionele denke verruil vir rasionele en bewysgedrewe denke? Brei asseblief hierop uit.

Die vermoë tot kritiese denke berus na my mening op twee dinge – ’n pynlik eerlike selfkennis en daarby ’n breë en gedisipplineerde leeskultuur. Oor selfkennis: beskaafde mense gaan om met wat universeel is (waardes en norme) en nie noodwendig met wat internasionaal opgedis word nie (modes en giere). As dit kom by leeskennis, haal ek ’n beskaafde vriend aan: “Connections, connections, connections – the more you read, the more connections you can make.”

Die grootste problem met die polarisering van geloof en kennis is dat die meeste teoloë nie die vaagste benul het waaroor die wetenskap (dit wat ons wéét) en, erger, die aard van die wetenskap gaan nie. Sou hulle slegs verstaan dat die wetenskap gesistematiseerde kennis is, en daarby selfregulerend, kan daar ’n poging tot dialoog wees. Daarenteen het die meeste uitgeproke ateïste ’n deeglike kennis van beide die teologie en die wetenskap.

Luister asseblief na wat H L Mencken in 1923 gesê het: “The inferior man’s reasons for hating knowledge are not hard to discern. He hates it because it is complex – because it puts an unbearable burden upon his meager capacity for taking in ideas. Thus his search is always for short cuts. Their aim is to make the unintelligible simple, and even obvious.” In dieselfde essay bied hy dan ook ’n antwoord: “The cosmologies that educated men toy with are all inordinately complex. To comprehend their veriest outlines requires an immense stock of knowledge, and a habit of thought.”

“I like your Christ. I do not like your Christians. Your Christians are so unlike your Christ,” het Mohandas Gandhi gesê. Watter invloed het die voorbeeld wat gelowiges stel op jou eie ongeloof in die lig van aanhangers van die fundamentalistiese Shofar-kerk wat al buite ’n klaskamer op die kampus van die Universiteit Stellenbosch op jou gespoeg het omdat jy jou klas in biologie gewy het aan die wesenlike werklikheid van evolusie as aanvaarde wetenskaplike teorie?

My oombliklike reaksie by hierdie voorval was een van oorweldigende weemoed. Ek was stomgeslaan dat drie jong, aantreklike, gesonde en bowenal klaarblyklik intelligente studente van die wetenskap so geestelik gewond kon wees. Waarom die wetenskap bestudeer wanneer dit jou bestaansreg so bedreig? Waarom oorgaan tot afstootlike gedrag as iemand waag om jou geloof te bevraagteken? My enigste afleiding, tot vandag, is dat hierdie jong mense ontneem is van een van die mens se grootste gawes – dié van kritiese en vergelykende denke.

Hoe wyd lê die plig van wetenskaplikes om hierdie soort waninterpretasie en verkeerde begrip oor die natuurwette by vatbare jong mense hok te slaan?

Gesien in die lig van die bykans onherstelbare, mensgemaakte skade aan die ekologie en die wêreld se absolute onvermoë om oorlog en onregverdigheid hok te slaan, het die tyd nou aangebreek vir militante optrede. Enersyds moet wetenskaplikes en ekoloë nou die moed hê om duidelik en nie-emosioneel hierdie probleme op die hoogste vlak aan te spreek. Bowenal moet ons kalm, maar met meedoënlose logika, optree as ambassadeurs vir die wetenskap en ook as katalisators tussen kennis, geloof en politiek.

Waarom dink jy het die mens behoefte aan gode? En het jy nie ook soms so ’n behoefte nie?

Die ontstaan van alle gode het te make met die onvermoë om natuurverskynsels te verklaar. Hoe anders kon ons voorvaders eenvoudige verskynsels soos dag en nag, vloede, siekte en die dood verklaar het? Álle gode ontstaan uit onkunde. In die verlede, toe ek somtyds oorweldig was deur tragedie en verlies, het ek partykeer gehunker na ’n god, om my pyn te verlig. Die afgelope vyftien jaar staan ek elke dag op en verwonder my dat ek my dáágliks in die paradys bevind.

Gelowiges sê dikwels religie is hul anker en kruk. Toe jy van jou geloof afstand gedoen het, hoe lank het dit geneem om daardie anker uit die water te trek en jou kruk heeltemal weg te gooi? Hoe moeilik was dit?

Soos hierbo genoem, was daar tye in my lewe waar tragedie en moedeloosheid so intens was dat ek wel getwyfel het aan my gebrek aan ankers en stutte. Dan, met nugterheid, herinner ek myself aan die mens se verruklike kapasiteit om goed te doen, sy adellikheid van gees. Daarom beroep ek my op die mens se inherente kapasiteit om goed te doen en goed te wees. Dit was baie makliker as wat ek vermoed het.

Die joernalis en kwasi-wetenskapskrywer Gideon Joubert lê in sy pryswennende boek, Die Groot Gedagte, aanhoudend klem op die hand van ’n skeppende godheid om die natuur se wondere te verklaar. Hy skryf: “Die bewyse dat die heelal ’n Groot Gedagte, die produk van ’n Intelligensie ver bokant menslike begrip is, is onomstootlik . . . ’n Opperwese, God, wat alles bedink, en Hom intiem op geestelike vlak bemoei met één uitgesoekte lewensvorm: die mens.” Hoe verklaar jy ’n wêreld waarin mense so dikwels dinge wat met hulle gebeur aan God se wil toeskryf en dat so ’n boek pryse kon wen?

Ek is allermins verbaas oor die sukses van hierdie boek. Dit vorm deel van ’n swetterjoel ander skrywers se pogings om waarlik absurde idees en teorieë te verkwansel, soos dié van Von Däniken, Dan Brown en Siener van Rensburg. Die blote gedagte dat ’n skepper van die bekende heelal (kyk net na een beeld, veral die Deep Field, van die Hubble-ruimteteleskoop) hom of haar kan besig hou met die longe van ’n bidsprinkaan is absoluut tragies. En hom of haar dan bemoei met die sewemiljard siele, waarvan die meeste in absolute ellende lewe?

Watter rol speel wetenskaplike ontdekkings en bevindings en die wette van die natuur in jou oë as ’n teenvoeter vir geloof in bonatuurlike wesens soos gode, engele en duiwels?

Ek sal die eerste wees om te erken dat die wetenskap nie alles op, en buite, die Aarde kan verklaar nie. Maar laat ek my beroep op Jacob Bronowski se manjifieke uitlating oor die wetenskap: “Science is a tribute to what we can know, although we are fallible. In the end the words were said by Oliver Cromwell: ‘I beseech you in the bowels of Christ, think it possible that you may be mistaken’.” Lees slegs een uitgawe van ’n weeklikse vaktydskrif soos Nature, Science, The Lancet en New Scientist en jy sal sien hoe die wetenskap gereguleer word deur konstánte vernuwing en aanpassing by bewese feite. Geen geloof kan dít doen nie.

As gewilde aanbieder van die natuur en -leweprogram Groen op KykNET weet jy wat die wondere van die natuur is, maar as wetenskaplike ken jy ook sy aaklighede. Hoe verduidelik jy aan mense dat dit blote wensdenkery is om te sê die bewyse van God se bestaan lê in die wondere van die natuur?

My betrokkenheid by Groen het eenvoudig my geloof in ongeloof versterk. Ek is so dankbaar dat Groen my die geleentheid gegun het om verdere balans te verkry in my denke oor kosmiese geregtelikheid en toeval in die natuur. Sodra die mens homself beskou as onlosmaakbaar deel van biodiversiteit, as deel van die broederskap van alle lewende organismes op Aarde, verval enige behoefte om die onbekende aan God se bestaan toe te skryf.

Timeo hominem unius libri (“Pasop vir die man van een boek”), het Thomas Aquinas gewaarsku. Hoe het boeke jou lewe beïnvloed en verander om te dink soos jy nou dink? En as jy aan jong mense raad kon gee om vyf boeke te lees waarsonder hulle nie die lewe behoort in te gaan nie, watter boeke sou dit wees?

’n Leeftyd lank lees ek roekeloos – daar is altyd ’n stawel boeke langs my kooi. Sedert kindsbeen lees ek met ’n potlood op my bors, byderhand, sodat ek interessante en boeiende passasies in die boek kan merk, met ’n gepaardgaande nota op die agterste blanko blaaie. Ek kan dus ’n aanhaling uit veertig jaar gelede binne minute opspoor. Ná soveel duisende boeke is dit verstommend maklik om ’n kortlys van vyf saam te stel:

1 Bredenkamp, Francois. 2007. Marcus Aurelius Antoninus: Meditasies. Pretoria: Protea Boekhuis. Oor die jare het ek Marcus Aurelius altyd in Engels gelees todat hierdie verruklike vertaling onlangs verskyn het. Boek Een is ’n volledige templaat vir ’n goeie lewe. Oor tweeduisend jaar heen het ons niks nuuts geleer oor korrekte gedrag, geluk en regverdigheid nie.

2 Freke, Timothy. 2000. Lao Tzu’s Tao te Ching. Londen: Piatkus. Die Ooste het merkwaardige boeke opgelewer soos The Tibetan Book of the Dead, die Upanishads en die Bhagavad Gita. Maar die Tao te Ching troon bo almal met sy eenvoud en erns. Dis een van die boeke wat ek altyd langs my bed wil hê.

3 Abram, David. 1997. The Spell of the Sensuous. Vintage. New York: Random House. Abram is beide ekoloog en omgewingsfilosoof. Wat mens bowenal aangryp van hom is sy wonderbaarlik poëtiese styl: “Thus the living world – this ambiguous realm that we experience in anger and joy, in grief and in love – is both the soil in which all our sciences are rooted and the rich humus into which their results ultimately return, whether as nutrients or poisons.” Abram baan die weg na ware liefde vir die self, vir jou medemens, en vir die Aarde.

4 Bronowski, Jacob. 1973. The Ascent of Man. Londen: Macdonald Futura Publishers. Sedert die publikasie van hierdie verruklike filmreeks en boek het geen van Bronowski se stellings oor die mens en die wetenskap verouder nie. Inteendeel, sy uitsprake word by die dag meer relevant.

5 Wood, Michael. Legacy: Search for the Origins of Civilization. Londen: Network Books. Sou mens nog getwyfel het oor die mens se teenstrydige vermoë om beide beskawings uit niks te skep en dit net so maklik te vernietig, moet jy Wood lees. Hy bring balans na die somtyds gebroke en onduidelike verloop van die onlangse agtduisend jaar van beskawing, maar bowenal skets hy die kristalhelder waarskuwing dat ons moet leer uit die foute van die verlede en, voor dit te laat word, besluite maak gebaseer op wat ons wéét.

DAVE PEPLER is op Robertson in die Klein Karoo gebore en dís waar hy skoolgegaan het. Daarna is hy na Saasveld, waar hy bosbouer geword het. In 1974 verhuis hy na Stellenbosch en spandeer die res van sy loopbaan aan die Universiteit Stellenbosch as tegnikus en later dosent in Bewaringsekologie. Sy denke is gevorm deur lewegewende vriende en ’n roekelose liefde vir vergelykend lees. As humanis glo hy dat die belangrikste bydrae tot die lewe is om die lot van mense fundamenteel ten goede te verander en lewenspaaie te kies waarin daar ’n hart klop.

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles

Подняться наверх