Читать книгу God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles - George Claassen - Страница 8
Louis Jonker
Оглавлениеin gesprek met Frits Gaum
“Vir my is Jesus Christus ’n uitnemende uitdrukking van die genade-karakter van godsdiens. Hoewel ek dus nie groot uitsprake wil maak oor Jesus Christus as die enigste pad na God nie, is ek tog oortuig dat Hy vir my die beste pad is!”
Wie is Louis Jonker?
Tans is ek ’n dosent in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie, Stellenbosch. Ek was vroeër tien jaar lank ’n predikant in die NG Kerk Stellenbosch-Welgelegen. Ek het al my studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en het ook die voorreg gehad om verskeie kere in die buiteland (veral Nederland en Duitsland) navorsing te doen en lesings te gee. Ek is dankbaar dat ek in my studiejare blootgestel is aan mense soos professore Charles Fensham, Hannes Olivier en Ferdinand Deist. Hulle het ’n groot invloed op my Bybelverstaan gehad, en het my veral bewus gemaak van die wêreld-agter-die-Bybeltekste.
Beskou jy die Bybel as iets “meer” as ander ou geskrifte en, indien wel, waarom?
Ja, sekerlik! Hoewel ’n mens die Bybel uiteraard as klassieke literatuur kan beskou en dit slegs vanuit ’n literêre hoek kan bestudeer, meen ek dat die Bybel sigself tog as andersoortige literatuur aanbied.
Eerstens, die Bybel roep méér by lesers op as bloot net ’n estetiese waardering. Dit probeer eerder lesers aanmoedig tot ’n ander/nuwe verstaan van God, en van God se verhouding tot die mensdom. Dit is dus inherent godsdienstig en vra daarom na teologiese interpretasie. Hoewel dit dus moontlik is om die Bybel bloot literêr of geskiedkundig te lees, doen dit afbreuk aan hierdie boek indien die teologiese bedoeling daarvan nie in ag geneem word nie.
Tweedens, die Bybel is meer as maar net ’n boek – dit is ’n hele biblioteek wat oor ’n periode van ongeveer 1 500 jaar tot stand gekom het. Die besonderse van die Bybel is dat hierdie verskillende geskrifte uit verskillende tydperke met mekaar in gesprek tree, dat dit telkens kontekstueel wil nadink oor God en God se betrokkenheid by die mensdom. Daar is dus ’n dinamika in die Bybel. Dit is nie net een siening wat van voor tot agter oorgedra word nie. Die Bybel laat ruimte vir ’n diversiteit van Godsvoorstellings, dit neem die konkrete menslike kontekste ernstig op, en dit open die deur vir gesprek en interaksie.
Derdens, die Bybelse geskrifte gee uitdrukking aan gewone mense (soos ek en jy!) se worsteling met die lewe en die Transendente. Ek laat graag ruimte vir ander maniere om oor die Transendente te dink en te praat, maar dit lyk vir my of die Bybelse geskrifte se manier die toets van die tyd deurstaan het. Dit dien reeds vir byna tweeduisend jaar as inspirasie vir geloofsgemeenskappe in hul nadenke oor die lewe en oor God. Dís dalk wat die vroeë gelowiges bedoel het toe hulle gesê het die Woord is “lewend en kragtig”!
Hoe verstaan jy die skeppingsverhale van Genesis?
Dit is goed dat jy oor skeppingsverhale (in die meervoud) vra, Frits. Daar is algemene eenstemmigheid in die Bybelwetenskappe dat ons in Genesis minstens twee verskillende skeppingsverhale het, naamlik die ouer weergawe in Genesis 2:4b-25, en ’n effe jonger weergawe in Genesis 1:1-2:4a. Albei hierdie verhale het in konkrete sosiohistoriese omstandighede tot stand gekom (die ouer weergawe waarskynlik in die laat koningstyd, terwyl die jonger weergawe waarskynlik tydens die ballingskap op skrif gestel is), en albei word geformuleer binne die dampkring van skeppingsverhale wat algemeen in die Ou Nabye-Oosterse kulture vertel is en in omloop was. (Ek het juis onlangs die voorreg gehad om sommige van die Babiloniese spykerskriftablette wat eiesoortige skeppingsverhale bevat, in die British Museum te bewonder!)
Dit sou ’n groot fout wees om hierdie skeppingsverhale van Genesis met ’n moderne verstaan van geskiedenis of natuurwetenskap te benader. Hoewel die antieke Israeliete wat hierdie tekste oorvertel en neergeskryf het waarskynlik oortuig was dat dinge werklik só gebeur het, was hul bedoeling allermins om ’n moderne geskiedenis- of natuurwetenskaplike verhandeling te skryf. Al twee skeppingsverhale wou binne hul eiesoortige sosiohistoriese omstandighede bepaalde belydenisse oor God en die mens maak. Die ouer verhaal in Genesis 2 wou waarskynlik – in ’n tyd toe Juda en Israel se konings hulself al meer mag en invloed toegeëien het – die klem laat val op die broosheid en feilbaarheid van die mens. Die mens is stof en van nature geneig om God te verwerp (soos die voortsetting van die skeppingsverhaal in Genesis 3 getuig).
Die jonger verhaal in Genesis 1 wou weer – te midde van die Babiloniese ballingskap waar Israel se verstaan van hul God, Jahweh, uitgedaag is deur die historiese katastrofe – getuig oor hul God wat alles geskep het, en van ’n skepping wat in absolute harmonie en volmaaktheid funksioneer. Anders as in die Babiloniese verhale waarin vertel word dat die geskape werklikheid deur gewelddadige stryd tussen die gode tot stand gekom het, en dat die mens geskep is om die gode met allerhande offerandes tevrede te hou, vertel Genesis 1 dat God alles in ses dae gemaak het, en toe ’n rusdag gevier het. Die sewende dag vorm die sluitsteen van die Bybelse verhaal om aan te dui dat God en natuur, God en mens, mens en natuur, mens en mens, in harmonie geplaas is deur die God van Israel.
Albei die skeppingsverhale in Genesis wou dus polemies reageer op hul konkrete omstandighede deur belydenisse aangaande God en die mens te maak. Dit is daarom nie heeltemal korrek om van sképpingsverhale te praat asof hierdie verhale primêr oor die totstandkoming van die werklikheid iets wou sê nie. Dit is eerder belydenisse van gelowige mense wat hul verstaan van die konkrete werklikheid en hul gewaarwording van die Transendente teologies verwoord.
Om op te som: Ek verstaan die skeppingsverhale dus nie as feitelik getroue beskrywings van hoe die werklikheid ontstaan het nie. As ’n mens dáároor meer wil weet, moet ’n mens eerder die natuurwetenskaplikes gaan vra. Hulle kan met hul noukeurige waarnemings en die toetsing van hul hipoteses veeleer inligting verskaf oor die totstandkoming van die werklikheid, en soortgelyke kwessies. Maar as ’n mens meer wil weet oor hoe ons antieke geloofsouers teologies oor die werklikheid nagedink het, dan moet ’n mens jou ongetwyfeld tot die Genesisverhale wend! Hierdie verhale beskryf die totstandkoming van die werklikheid deur ’n geloofsoog. En hulle doen dit in konkrete kontekste waarin hierdie verhale veeleer belydenisse wou wees as feitelike beskrywings.
Hoe sien jy ouer verhale uit die antieke wêreld oor soortgelyke sake as dié van die Ou Testament – soos die sondvloed?
Die Bybel het nie in ’n vakuum ontstaan nie. Die wêreld van die Ou Nabye-Ooste was ’n wêreld ryk aan kultuur, godsdiens en geletterdheid. En hierdie gesofistikeerde samelewings het hul gedagtegoed mondelings oorvertel, maar ook op skrif gestel. Ons is besonder bevoorreg dat baie van hierdie geskrifte deur argeologiese opgrawings ontdek is, deur vakkundiges ontsyfer kon word en daardeur bekend geword het. Daardeur kry ons ’n blik op die antieke mense se nadenke oor die konkrete werklikheid en gebeurlikhede. (Die feit dat daar soveel vloedverhale in verskeie Ou Nabye-Oosterse kulture oorgelewer is, laat die indruk ontstaan dat daar dalk êrens ’n gemeenskaplike geheue van ’n katastrofiese vloed moet gewees het.)
Dit word uit hierdie verhale egter duidelik dat die antieke mense meestal hul werklikheid probeer interpreteer het in die lig van godebetrokkenheid. Die meeste van hierdie ou geskrifte het dus ’n teologiese inslag (en kan eweneens nie as feitelike geskiedenis of natuurwetenskap beskou word nie).
Dit is juis binne hierdie dampkring dat die Bybelse geskrifte geformuleer is. Die Bybelse geskrifte maak van dieselfde gedagtegoed gebruik as ander, ouer geskrifte. Die een belangrike verskil is egter dat die Israeliete in húl geskrifte ’n andersoortige teologiese vertrekpunt het. Israel se monoteïstiese godsdiens (waar slegs een godheid – in hierdie geval Jahweh – aanbid word) was sonderling in die destydse konteks. Hoewel hulle dus die verhale op soortgelyke maniere as hul Ou Nabye-Oosterse bure en voorgangers vertel het, het hulle ’n eiesoortige teologiese verstaan daarin weerspieël.
Richard Dawkins soek nie na woorde om Jahweh van die Ou Testament mee te beskryf nie: ’n Ongure, fiktiewe karakter. Jaloers en trots daarop. ’n Kleinlike, onregverdige, onvergewensgesinde beheervraat. ’n Wraaksugtige, bloeddorstige etniese suiweraar. ’n Vrouehatende, homofobiese, rassistiese, babamoordende, kindermoordende, pesveroorsakende, magsbehepte . . . God (The God Delusion). Jou kommentaar as kenner van die Ou Testament?
Ja, dit sou seker ’n opsomming van die Ou-Testamentiese godsverstaan kon wees. Maar so ’n beskrywing toon ’n totale onsensitiwiteit vir en onkundigheid oor die sosiohistoriese ingebedheid en literêre aard van die Ou-Testamentiese belydenisse aangaande God. (En, terloops, ’n mens sou dieselfde beskrywing kon gebruik om sommige moderne mense se verstaan van God te tipeer. Wanneer fundamentalistiese Godgelowiges bomme plant of bloeddorstige moorde pleeg om kwansuis God se koninkryk te beskerm of uit te brei, sou Dawkins se beskrywing van God in hulle geval dalk heel toepaslik wees!)
Dit is baie belangrik om die kulturele bepaaldheid van die Ou-Testamentiese belydenisse aangaande God in ag te neem. Die volgende voorbeeld kan help verduidelik wat ek bedoel. Die antieke Ou Nabye-Oosterse siening was dat ’n godheid militêre oorwinnings aan sy/haar volk besorg. Wanneer ’n bloedige oorlog dus gewen word, word in daardie kulturele omgewing bely dat die godheid die geveg vir sy/haar volk gewen het. ’n Godheid wat sy/haar sout werd is, is een wat oorwinning bewerkstellig – selfs op gewelddadige wyse.
Israel se geskrifte kom binne hierdie dampkring tot stand (soos reeds hierbo verduidelik). Vir Ou Israel sou hierdie waarde eweneens geld: indien Jahweh sy sout werd is, sal Hy militêre oorwinning vir sy volk besorg. Trouens, die metafoor van ’n “dapper kryger” word selfs in sommige kontekste gebruik om Jahweh te besing! Hierdie soort metafore laat natuurlik moderne en postmoderne mense met ’n andersoortige etiese bewussyn gril van afkeur.
Maar wanneer ’n mens ’n vaardigheid ontwikkel om hierdie ou godsdienstige geskrifte in hul eiesoortige kontekste te lees, slaag ons ook daarin om hierdie metaforiese spreke oor God na ons eie konteks toe te “vertaal”. Hoewel hierdie metafore waarmee in die Ou Testament oor God gepraat word dalk in vandag se tyd aanstoot kan gee (soos Dawkins in die oortreffende trap uitdruk), bly die belydenis dat die lotgevalle van mense nie in hul eie hande is nie, steeds geldig. En gelowiges mag – en moet selfs – ander metafore uit hul eie tyd vind waarmee hierdie waarheid tot uitdrukking gebring word.
Hoe sien jy die verband tussen Jahweh van die Ou Testament en die God (Vader, Seun en Heilige Gees) van die Nuwe Testament?
Uit my vorige antwoorde word dit reeds duidelik dat ek die ingebedheid van die Bybelse geskrifte in die antieke denkwêreld as uiters belangrik beskou vir die interpretasie van hierdie geskrifte. Maar, wil ek byvoeg, alle spreke oor die Transendente (antiek of modern) moet per implikasie metafories en analogies wees. Indien ’n mens enigsins rekening hou met die Transendente, impliseer dit dat ons menslike voorstellingsvermoë en denkwêreld nie toereikend is om oor die Transendente te praat nie. Trouens, as dit anders was, sou ons uiteraard nie meer van Transendente kon praat nie – dan slegs oor die Immanente.
Daarmee wil ek aandui dat die Godsverstaan van die Ou-Testamentiese tydvak uiteraard binne ’n bepaalde konteks geformuleer is. Daarom kon hierdie geskrifte byvoorbeeld van ’n Kryger praat, of oorheers manlik-patriargale metafore in hul godsbeskrywings. Maar ons weet uiteraard dat die Transendente in wese nié ’n kryger, of ’n man, of ’n vader is nie. Hierdie is metafore waarmee gelowige mense hul verstaan van God – in konkrete sosiokulturele omgewings – tot uitdrukking wou bring. Dit was pogings om die onsêbare te probeer sê!
In die Nuwe-Testamentiese tydvak het daar egter ’n baie belangrike verskuiwing plaasgevind, naamlik die vergrieksing van die destydse bekende wêreld. Die Grieks-Romeinse kultuurvorme en denkwêreld vorm die konkrete konteks waarin oor God in die Nuwe-Testamentiese tydvak gepraat word. Hoewel die Nuwe-Testamentiese gelowiges die monoteïstiese verstaan van die Ou-Testamentiese gelowiges oorgeneem het (en dus in Een God glo), is hul godsverstaan uiteraard ook deur die Grieks-Romeinse denkwyse oor siel, liggaam en gees beïnvloed. Die belydenis dat God Een is, maar tog gemanifesteer word as Vader, Seun en Gees, weerspieël dus die kontekstuele verstaan van die tyd.
Maar, soos hierbo genoem, kan dit ook nie anders nie! Mense probeer in elke nuwe tydvak die onsêbare sê deur van hul eie menslike voorstellingsvermoë gebruik te maak. Kortom, dus: Jahweh van die Ou Testament is ook die God van die Nuwe Testament.
Voldoen Jesus van Nasaret aan die Ou-Testamentiese verwagtinge van ’n Messias?
Ja en nee! Die verwagting van ’n Gesalfde van die Here (dít is wat die woord “Messias” beteken) het in Ou Israel in verskillende fases ontwikkel. Aanvanklik – veral tydens en kort ná die ballingskap – het die verwagting ontwikkel dat Jahweh weer ’n aardse koning uit die geslag van Dawid oor hulle sal laat opstaan en heers. Die begeerte was dus dat ’n heroprigting van die aardse koninkryk van Israel sou plaasvind. Hierdie verwagting sou nooit tot vervulling kom nie, omdat Israel nooit weer (met uitsondering van ’n baie kort periode van selfheerskappy kort voor die Christelike era aangebreek het) ’n selfregerende monargie sou wees nie.
Algaande het hierdie verwagting dus aanpassings ondergaan. In sommige kringe het mense begin wonder of die imperiale konings nie dalk die Gesalfde van die Here is nie. Só dui baie tekste in die boek Jesaja byvoorbeeld aan dat Kores, die Persiese heerser, die messias is, en dat hy weer Jahweh se heerskappy oor Israel sal vestig. Hierdie verwagting was egter steeds binne-wêrelds gerig.
Met verdere tye van sosiopolitieke en godsdienstige onderdrukking (soos tydens die Hellenistiese en Romeinse tydperke) begin gelowiges al meer moed verloor dat Jahweh se heerskappy weer binne hierdie wêreld gerealiseer sal word, en begin gelowiges al meer uitsien na ’n buite-wêreldse bestaan waar God self ’n Redder sal voorsien. Die siening ontwikkel algaande dat God se redding nie van binne hierdie wêreld af sal kom nie, maar dat Hy ’n Redder van buite hierdie wêreld in hierdie werklikheid sal laat inbreek om verlossing te bring.
Dit is dan veral tydens hierdie laat stadium in die ontwikkeling van ’n Messias-verwagting dat Nuwe-Testamentiese gelowiges in Jesus van Nasaret die Verlosser herken het. Hierdie gelowiges – wat juis die kruisgebeure van Jesus van Nasaret beleef het – bely daarom dat Hy God-met-ons, Immanuel, is en dat Hy redding vir die wêreld bring. Hoewel ons nie kan beweer dat hierdie spesifieke verwagting reeds in alle Ou-Testamentiese tekste geleef het nie, kan ons wel aandui dat die vroeë Christengelowiges by nabetragting Jesus van Nasaret in die Ou-Testamentiese beloftes herken het. Hoewel baie Jode (tot vandag toe) nie aan Jesus dink as die vervulling van hierdie Ou-Testamentiese verwagtings nie, maak dit vir Christen-gelowiges sin om te bely dat Jesus Christus die Messias is.
Is Jesus Christus na jou mening die enigste pad na God toe, Louis?
Omdat ek maar te bewus bly van my (en ander mense!) se gebrekkige vermoë om God se werklikheid te kan ken en beskryf, kan ek nie ’n finale antwoord hierop gee nie. Ek kan nie oordeel oor mense wat – omdat hulle in ander kulturele omgewings gebore is en leef – dalk nooit die geleentheid het of gehad het om Jesus Christus te ontmoet nie. My verstaan van God as ’n liefdevolle God laat nie ruimte vir die verwerping van sulke mense nie! Terselfdertyd is ek terdeë bewus van die Nuwe-Testamentiese uitspraak dat Jesus Christus die weg en die waarheid en die lewe is. En met hierdie uitspraak kan ek heelhartig saamstem.
Wat vir my wel besonders is van die Christelike geloof (en veral die Protestants-gereformeerde weergawe daarvan) is die prominensie van genade. Dis die enigste godsdiens – sover ek weet – wat nie werk met allerhande verdienstes nie. Ek sou baie gesukkel het met ’n verdienste-godsdiens. En ek is dankbaar vir ’n genade-godsdiens! Vir my is Jesus Christus ’n uitnemende uitdrukking van die genade-karakter van godsdiens. Hoewel ek dus nie groot uitsprake wil maak oor Jesus Christus as die enigste pad na God nie, is ek tog oortuig dat Hy vir mý die beste pad is!
Waarop stuur die geskiedenis af?
As ek hierdie vraag vanuit ’n natuurwetenskaplike perspektief wou beantwoord, sou ek sekerlik verwys het na die moontlikheid van ’n big crunch wanneer die hele materiële werklikheid weer deur swaartekrag in een spikkel saamgepers sal word, om dalk weer ’n big bang te veroorsaak. Maar, hoewel ek baie in hierdie soort fisikateorieë belangstel, weet ek vir seker dat my natuurwetenskappe-vriende (waarmee ek op Stellenbosch uitermate geseën is!) daardie legitieme perspektief baie beter sou kon verwoord as ek.
Wanneer ek egter ’n Bybelse of teologiese perspektief op die vraag gee, ontken ek geensins die natuurwetenskaplike waarnemings nie. Trouens, daar is heeltemal genoeg onbeantwoorde vrae met betrekking tot die heelal/veelal dat dit dalk die moeite werd is om verskillende perspektiewe komplementêr te oorweeg in die beantwoording van die vraag.
Die Ou Testament praat van die “Dag van die Here” wat sal kom. En daardie dag sal ’n dag van redding én oordeel wees. Dit sal ook ’n dag wees wanneer die nasies na Sion sal stroom om eer aan God te bring. En ’n dag wanneer mense in vrede onder hul eie wingerde en vyebome sal sit!
Die Nuwe Testament praat van Armageddon waar die finale kosmiese oorlog tussen goed en kwaad sal plaasvind. Elders praat die Nuwe Testament van ’n dag van swael en vuur en oordeel wat sal kom soos ’n dief in die nag. En van die Nuwe Jerusalem wat uit die hemel sal neerdaal.
Soos ek in ’n vorige antwoord reeds aangedui het, is die Bybelse beskrywings van waarheen die geskiedenis op pad is, natuurlik ook gedrenk in hul eie voorstellingswêreld en kulturele omgewings. Die feit bly egter staan dat gelowiges deur die eeue die bewustheid ontwikkel het dat hierdie wêreld nie sommer maar soos ’n opgewende wekker aan die afloop is nie (om van ’n bekende metafoor in die gesprek tussen geloof en wetenskap gebruik te maak). Gelowige mense behou die hoop dat daar ’n uiteinde is wanneer die Onsienbare sigbaar sal word. En hierdie hoop gee sin aan die huidige, aan die teenwoordige.
Natuurlik is hierdie voorstellings nie feitelike, empiriese taal nie. Dis geloofstaal. En dalk sal ’n mens in ons tyd van ander voorstellings gebruik wil maak. Maar dit neem nie weg nie dat gelowiges oor baie eeue heen aan die hoop bly vashou het dat daar méér in die geskiedenis is as wat ons met ons oë kan sien.
Vertel iets meer van jou geloof en hoe dit met jou akademiese navorsing rym.
Ek ontdek elke dag steeds meer waarom ek ’n Ou-Testamentikus geword het: die menslike aard van die Ou-Testamentiese nadenke oor die Transendente staan my aan! Dis vir my baie lekker om medeworstelaars op die lewenspad in die Ou Testament te ontdek: feilbare mense soos Abraham, Dawid, Salomo en andere.
Ek is dankbaar dat ek in my lewe by ’n tweede naïwiteit kon uitkom (of só hoop ek ten minste!). Paul Ricoeur het ’n onderskeid gemaak tussen ’n eerste en tweede naïwiteit. In ’n fase van eerste naïwiteit het ons ’n oogklap-geloof: ons wil niks in die Bybel en in ons godsdiens bevraagteken nie, en ons wil nie uitgedaag word om enigsins krities te dink nie. (Dis jammer dat ’n groot deel van die Afrikaanse Christelike gemeenskap in Suid-Afrika steeds in hierdie fase is. En dis ewe jammer dat sommige natuurwetenskaplikes alle Christene daarvan verdink dat ons só is!)
Die Bybelwetenskappe het my egter na Ricoeur se tweede fase geneem, naamlik ’n fase van kritiese ondersoek. In hierdie fase leer ’n mens om aan jouself en ander te erken dat alles nie so eenvoudig is nie. ’n Mens leer ook dat daar heelwat meer agter die Bybel sit as bloot net sekere oppervlakkige waarhede. Hierdie is nie ’n maklike fase nie, want dit plaas jou op die mespunt tussen geloof en ongeloof. Dit daag jou uit om nie maklike kortpaaie in jou geloof en Bybelverstaan te neem nie. Juis daarom is dit broodnodig om deur hierdie fase te beweeg.
Maar Ricoeur dui aan dat ’n mens nie in die kritiese fase moet bly vassit nie. ’n Mens moet aanbeweeg na ’n tweede naïwiteit. ’n Tweede naïwiteit behels ’n lewensuitkyk waar ’n mens bereid is om kritiese vrae te stel en nie alles vir soetkoek op te eet nie. Dis ’n fase waarin ’n mens nie bedreig voel deur kritiese vrae wat aan jou geloofs- en Bybelverstaan gevra word nie. Dis ’n fase waarin ’n mens literêre, historiese en teologiese vaardighede ontwikkel het om die Bybel in ’n (post)moderne wêreld te kan interpreteer.
’n Tweede naïwiteit bring rustigheid oor die eindigheid van ons menslike verstaansvermoëns, en vrede oor die bewustheid van die Transendente. Dit bring ruimte vir gesprek. My geloofsoortuiging en my akademiese navorsing funksioneer dus nie in aparte kompartemente nie. My geloof word deur my akademiese navorsing verryk en uitgedaag. En in my kritiese akademiese studie van die Bybel verreken ek graag my geloofsoortuiging.
LOUIS JONKER is ’n professor in Ou Testament aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch. Hy het ’n groot belangstelling daarin om die insigte wat vanuit die wetenskaplike eksegese van die Bybel blyk, in te ploeg in samelewingsgesprekke oor die Bybel – insluitende die gelowige en stigtelike interpretasie daarvan. In sy akademiese werk fokus hy veral op die verhouding tussen Bybelse geskiedskrywing en identiteitsvorming in die Persiese periode.