Читать книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier - Страница 5
ОглавлениеInleiding
Inleiding
Vergewe? Oor my dooie liggaam! Vergeet? Nooit nie!
Klink dit bekend?
Dalk was die lewe eens op ’n tyd vir jou rooskleurig. Maar toe, op ’n dag, het alles verander. Die lewe het begin “gebeur”. Dalk kon jy nie swanger word nie. Of jou kind is gestremd gebore. Dalk was jy iemand wat moes hoor jou pragtige kind is noodlottig beseer of word ’n para- of kwadrupleeg. Jou lewensmaat is dalk nie die mens wat jy gedink het nie – jul kind word misbruik of jy word fisiek mishandel. Dalk het jou geliefde in die tronk beland weens misdaad. Jou lewensmaat het jou dalk verruil vir ’n “beter opsie”. Jy is dalk selfs die ander kant van die munt: Jy is die persoon wat die hele gemors veroorsaak het! Daar loop seker nie ’n enkele mens op hierdie aarde rond wat nog nooit te na gekom is of wat nie self iewers langs die pad iemand gekwets het nie.
Wanneer mense en situasies ons teleurstel, verloor ons soms moed en wroeg ons. Ons voel dalk deurentyd kwaad, verbitterd of so gegrief dat negatiewe gevoelens ons begin verteer. Die situasie waarin ons is, beïnvloed ons dalk fisiek en geestelik sodanig dat ons al dieper in ’n ál donkerder gat wegsink.
Hierdie boek se bydraers het elkeen ’n krisis beleef en hulle vertel ons hoe hulle die pad na vergifnis geloop het. Almal van ons weet vergifnis is nie maklik nie ... totdat ’n mens op ’n dag besluit om met die proses te begin en voel hoe ’n groot gewig van jou afrol! Weer eens mag jy dalk die ander party wees: Die persoon wat vergewe word.
Die goeie nuus is dat vergifnis nié iets emosioneels is nie. Dis ’n keuse. Moenie van ’n berader of iemand anders verwag om jou vry te maak nie. Hulle kan jou slegs lei in die proses. Vryheid is die gevolg van jou eie keuses. Moenie toelaat dat onvergewensgesindheid jou laat voel jy het nie mag oor ’n situasie nie. Dis vals om te glo jy is hulpeloos.
As ’n mens verbitterd of angstig bly, kan jy nie jou lewe herbou nie. Bykans elke bydraer getuig van die vreugde wat hulle ervaar het nadat hulle uit die donker gat opgestaan het. Almal van hulle wil graag hierdie bevrydingsboodskap daagliks uitdra en hul bydrae tot hierdie boek is ’n beskeie deel van hul dankbaarheid teenoor God vir sy genade. Die boodskap wat soos ’n goue draad deur hierdie verhale loop, is dat ’n mens jou kán losmaak van jou pynlike verlede en dat dit moontlik is om te vergewe, al is dit nie altyd moontlik om ooit heeltemal te vergeet nie. Knip die bande van die pynlike verlede en word vry!
’n Baie spesiale woord van dank aan elke bydraer wat tussen ontstellende herinnerings moes gaan delf om hul reis na algehele bevryding weer te gee. Elkeen van julle het my lewe op ’n besondere wyse geraak. Ek glo jul openheid oor hierdie onderwerp sal mense wat nog diep in ’n donker gat lê, laat opstaan en weer vry laat asemhaal. Ek glo vele mense sal ná die lees van jul verhale, vrede, vryheid en die volheid van die lewe ervaar. Groot seën vir elkeen van julle.
As ons die volgende vier “B’s” in gedagte hou, sal die pad na ’n vergifnis dalk makliker wees:
• Besluit ... dis ’n keuse om nie meer ’n gevangene te wees nie.
• Bid ... met Markus 11:25 se beloftes in gedagte.
• Bestudeer ... vergifnisverse in die Bybel.
• Wees Blymoedig en leef vry en in vrede ... wanneer jy vergifnis ontvang óf wanneer jy iemand anders vryspreek.
Helana Olivier