Читать книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier - Страница 9

Оглавление

Verhaal 4: Om in genade te leef omdat jy vergewe is

4

Om in genade te leef omdat jy vergewe is

Marie Enslin

Aan God, my Vader en Beskermer, al die eer.

Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop.

– Psalm 40:2–3

Vir jou wat my verhaal lees: God hoor jou smeking, Hy antwoord jou na sy goeddunke. Wanneer jy in jou diepste nood na Hom roep, antwoord Hy jou nie net deur jou daar uit te haal nie, Hy plaas jou voete op vaste grond en Hy hou jou vas wanneer jy begin loop. Dit wat nou hier volg, is maar enkele voorbeelde van God se genade wat ek ondervind het in die bykans vyf jaar wat verby is. Daar is so baie om te vertel, maar mag hierdie enkele grepe jou versterk, bemoedig en nader aan Hom bring.

My verhaal begin die oggend van 10 Desember 2006. Ek is gelukkig getroud met Johann Enslin en in daardie stadium werk hy al twee en ’n half jaar lank in Bagdad. Dit is twaalf dae voordat hy huis toe kom vir Kersfees. Ons gesin is opgewonde. Ons koop vleis, want wanneer Pa by die huis is, sal hy wil braai!

Op hierdie Sondagoggend is ek soos baie ander Christene in die kerk. As jy my daardie oggend sou vra waarheen ek sou gaan as ek sterf, sou ek met redelike sekerheid gesê het dat ek hemel toe gaan. Ek is gereeld in die kerk. Ek’s aktief in my gemeente en doen min of meer al die regte goed op al die regte plekke. Min het ek geweet wat ’n ware verhouding met Jesus, die God van hemel en aarde, regtig behels.

Ons dominee preek uit 1 Korintiërs 13. Ek, daarenteen, word vasgegryp deur 1 Korintiërs 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Die woorde lyk of hulle groot uit my Bybel uitkom, voor my oopmaak en weer net so in die Skrif verdwyn. Ek sit ’n uur lank geheel en al vasgevang oor wat met my gebeur het. Ek verstaan glad nie wat ek beleef het nie. Ek het geen idee gehad van wat besig was om te gebeur nie.

Tweeuur daardie selfde middag kry ek ’n oproep en hoor Johann-hulle is vroeër die oggend (terwyl ons in die kerk was) gevange geneem deur vreemde magte in Irak. Niemand weet eintlik waar hulle is nie. My eerste reaksie op hierdie skokkende nuus is ontkenning. Ek is so geskok dat dit voel of ek ’n baie slegte droom beleef. Ek voel as ek net lank genoeg gaan lê en my uithuil, sal die nagmerrie verbygaan.

Die Here begin in hierdie tyd egter ’n baie dieper proses met my. Ek hoor kliphard die Skrifwoorde in Sagaria 13:8–9: “Daar sal net ’n derde van hulle oorbly in die land, en dié derde sal Ek met vuur louter soos silwer gelouter word. Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor. Ek sal sê: ‘Hulle is my volk.’ En hulle sal sê: ‘Die Here is ons God.’” Ek weet instinktief dat hierdie woorde in die Bybel staan en begin soek daarna, maar dit neem my ’n hele jaar om die woorde, presies soos wat ek dit gehoor het, in Sagaria 13 op te spoor. En hier begin die Here se proses met my.

Gedurende die eerste drie weke van Johann se verdwyning hoor ek aanmekaar dié Skrifgedeelte. Die Here kon regtig tot my deurdring, want ek was so verslae, so volkome platgeslaan dat ek vandag self nie eens weet hoe ek daardie eerste paar weke oorleef het nie. In hierdie eerste paar maande is ek dag en nag voor die Here. Ek stoei en onderhandel met die Here. Ek bly belowe dat ek ’n beter lewe sal lei as Hy Johann net sal terugbring. Beurtelings skree, huil en veg ek met God die Vader. Ek sou alles gee of doen om Johann net weer terug te hê. Hy was die liefde van my lewe.

In die aand, wanneer ek voor die venster sit aan Johann se kant van die bed, is daar op my lippe net een pleitbede: Here, bring hom terug. Here, spaar hom. Laat u engele hom oppas. Maak ’n sirkel van vuur rondom hom sodat niemand aan hom kan raak nie.

In hierdie tye dat ek so voor ’n oop venster met die Here worstel, kry ek die reuk van afgebrande gras. ’n Vuil, olierige reuk bly in die lug hang. Verskrik vlieg ek dan op en kyk deur my oop venster om te probeer sien watter van my bure brand iets elfuur in die nag. Maar daar is niks nie. En sodra ek dan weer gaan sit en verder bid, bring die Here die soetste reuk, die reuk van fyn gemaalde blomme gemeng met olie na my toe.

Ek verstaan nie. Ek weet net ek beleef al hierdie ongelooflike oomblikke. Ek verstaan egter nie dat dit deel van ’n proses is nie. Ek weet die Here laat maal aanmekaar die woorde dat ons gelouter sal word soos deur vuur heen, soos wat goud en silwer gelouter word, deur my kop.

In Maart 2007 staan ek weer voor die venster. Ek hou die diefwering krampagtig vas. Soos gewoonlik is ek besig om te pleit dat God hierdie nagmerrie tot ’n einde sal bring – dat Hy Johann se lewe sal spaar en hom na ons sal terugbring. Uit skone benoudheid begin ek bid: “Ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom? My hulp ...” en net daar, by daardie spesifieke gedeelte van my pleitgebed, spreek die Here my vir die eerste keer in my hele lewe direk aan. Die Here sê: “Marie, my genade is vir jou genoeg.” Op daardie oomblik, nodeloos om te sê, het ek só geskrik dat ek my hele tirade laat vaar, in my bed spring en die duvet tot styf onder my neus trek. Ek het net geweet: Geen woord verder nie. Nou moet ek stilbly en net rustig wees. Daar is geweldige krag in God se stem.

In April 2007, vier maande nadat Johann-hulle as vermis aangegee is, besluit ek om te vas. Ek doen dit uit pure desperaatheid. Ek het gaan kyk na voorbeelde in die Skrif waar die Here vir sy volk antwoorde gegee het toe hulle hul voor Hom verootmoedig en gevas het. In 1 Konings 21:29 staan: “Het jy gesien Agab het hom voor My verootmoedig? Omdat hy hom voor My verootmoedig het, sal Ek die ramp nie tydens sý lewe laat plaasvind nie. Tydens die bewind van sy seun sal Ek die ramp oor sy familie bring.” In die tyd van Esra het God ook die volk se gebede verhoor nadat hulle hul verootmoedig het en gevas het: “Ek het daar by die Ahawarivier ’n vasdag uitgeroep om ons voor ons God te verootmoedig en Hom te bid om ’n voorspoedige reis vir onsself, ons afhanklikes en al wat ons besit het ... Ons het dus gevas en die hulp van ons God gevra vir die onderneming, en Hy het ons gebede verhoor” (Esra 8:21, 23).

Dit is vir my ’n splinternuwe ervaring. Ek is egter gehoorsaam. Ek drink net water. Ek eet geen kos nie en bid voortdurend tot God die Vader.


Op die aand van die derde dag van my vas wys die Here my die ongelooflikste ding. Hy wys my die kant van sy mond. Letterlik soos ’n profiel waar jy net die lippe sien. Uit hierdie lippe kom die verskriklikste vuur, ’n vuur met ’n krag so sterk soos die wind in die Kaap. In die middel van hierdie bol vuur wat soos ’n wind uit God se mond uitgaan, is ’n bal. Hierdie bal lyk min of meer soos ’n bol wol, losserig opgedraai sonder ’n spesifieke, netjiese patroon. In die middel van hierdie bal sien ek vier mans regop staan. Die bal spin boontoe, ondertoe, regs en links soos die vuur se krag hom draai, maar die vuur gaan nooit die bal binne nie en die vier mans bly staan. Die vuur bly te alle tye aan die bal se buitekant. Ek besef dit is Johann, Kallie, Hardus en André. Dit is hulle wat in hierdie bal staan. Skielik besef ek dat die woorde van Sagaria 13:8–9, die reuk van die vuur en die olie, verband hou met die visioen van die vier manne in die bal. Die soet reuk wat ek tot in daardie stadium geruik het, weet ek skielik, is die reuk van die Heilige Gees.

Ek besef vir die eerste keer dat die Here besig is met ’n proses: ’n proses van suiwering. Wanneer goud gesmelt word, kom daar ’n stof na die oppervlak waarna mynwerkers verwys as “dros”. Hierdie stof moet van die goudstof afgeskep word om die goud volkome suiwer te kry. Ek besef dat God besig is om my, Marie, te suiwer en om soveel goed wat in die verlede vir my belangrik was, van my af weg te neem. Hy wil hê dat daar by my net een begeerte moet oorbly en dit is om by sy voete te sit en deur Hom vertroos te word.

Ons as ’n gesin gaan deur hel. Maande lank word ons deur verskeie mense belieg en bedrieg. Daar is soveel beloftes, soveel vals inligting wat aan ons deurgegee word, maar steeds is geen einde in sig nie. Die verdwyningsnagmerrie duur voort. Ons weet glad nie of die mans nog lewe nie. Ons het in geen stadium kontak met hulle of met die mense wat hulle gevange hou nie. Hierdie hele gebeurtenis van Johann se verdwyning is soos ’n swart kleed om my. Dit hang om my soos die dood self.

Op 21 Oktober 2007 kuier ek en my dogter, Carien, by vriende in Johannesburg. Ons gaan saam met hulle kerk toe en die dominee vra die gemeente om na ons as ’n gesin toe te draai, hul hande na ons toe uit te steek en vir ons te bid omdat ons deur hierdie moeilike tyd gaan. Terwyl die mense so omdraai en hul hande na ons uitsteek en bid, sê die Heilige Gees kliphard vir my: “Jesaja 62.” In gehoorsaamheid slaan ek dadelik my Bybel oop en lees: “Die Here het ’n eed afgelê, en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen: Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie, uitlanders sal nie weer die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie. Dié wat die koring oes, sal dit eet en hulle sal My loof; dié wat die druiwe oes, sal die wyn drink in die voorhof van my heiligdom” (vers 8–9).

Terwyl trane oor my gesig loop, voel ek oorstelp deur die diepe besef van God se genade. Ek vra die Heilige Gees wat hierdie “wyn” en hierdie “koring” is. Die Heilige Gees sê die wyn is vreugde en koring is versorging. Nooit weer sal vreemde soldate kom en my versorging en my vreugde van my af wegneem nie: “Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die HERE prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe” (vers 9, 1933-vertaling).

En weet julle, daar breek iets in my los en vir die eerste keer kan ek die Here opreg bedank vir dit wat besig is om met ons te gebeur. Vir die eerste keer in al daardie maande, kan ek vir die Here dankie sê dat Hy my lewe verander het. Al is dit hoe moeilik, al is ons hartseer hoe groot en al mis ons Johann verskriklik baie. Ek kan dankie sê dat Hy my kinders se lewens verander het; dat Hy besig is om ons elkeen se lewe op ’n baie besondere manier te verander en ons verhouding met Hom te verdiep. Dit beteken nie dat daar nie pyn, hartseer en verwarring in my gemoed is nie! Daar is egter ’n diepe besef dat dit nie oor ons gaan nie, maar oor ons ongelooflike ontmoeting met die God van die hemel en die aarde – op ’n baie spesiale manier.

Die Here het my in verskillende stadiums en op verskillende maniere deur verskillende prosesse geneem. In 2008 was ek so desperaat dat ek saam met ’n Moslem-man op pad was Irak toe om te gaan kyk of ek Johann nie kon opspoor nie. Die naweek voordat ons sou vertrek, woon ek die Hadasa-vrouekamp by. By die kamp moet ons die Saterdagoggend ’n kaartjie uit ’n toegemaakte boks trek. Die kaartjie wat ek trek, het ’n kompas op en hierdie kompas wys noord. Op die noordelike rigtingwyser is ’n kruis. Ek sien dit as die bevestiging dat ek Irak toe moet gaan, dat ek veilig sal wees en dat daar niks slegs met my sal gebeur nie. Tydens een van die sessies staan ’n vroutjie wat nie geweet het van my oortuiging dat ek moet Irak toe gaan nie, op en sê die Here wys vir haar ’n geel muur en sy moet my waarsku dat ek nooit verby die geel muur moet gaan nie.

Toe ek in Johannesburg by Liresia se huis (waar ek sou oornag voor my vlug die volgende oggend) aankom, is die huis, tot my stomme verbasing, omring deur ’n geel muur. Ek sê in my hart: Here, U kan nie ernstig wees nie. U stuur my al die pad Johannesburg toe net om vir my te wys ek mag nie hierdie eiendom verlaat nie. Here, hoe is dit moontlik? U weet hoe baie ek opgeoffer het. U weet dat ek alles op die spel geplaas het. En nou sê U vir my ek moet binne hierdie geel mure bly?

Die volgende oggend kry ek ’n boodskap dat ’n onbekende persoon die Moslem-man omgery het wat my in Johannesburg sou ontmoet om saam met my Irak toe te vlieg. Sy beserings is van so ’n aard dat ons nie sal kan vertrek nie. Nou is ek opstandig. Nou is ek kwaad. Ek sit in Johannesburg en dit voel of die Here ’n gek van my maak. Ek sê vir die Here: “Here, kyk net na alles. By Hadasa het die kompas noord gewys. Here, kyk na my. Elke item wat ’n Moslem-vrou kan droom om te besit, is in my tas. Ek staan gereed om aan boord te stap, en nou dit?”

Ek lees Psalm 125. Die Heilige Gees praat met my in woorde wat ek nog nooit gehoor het nie en nie verstaan nie. Ek is verstom. Deur my trane sien ek die volgende geskryf staan in Psalm 125: “Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd” (vers 1–2).

Daardie oggend was ek in opstand, maar toe ek later terugkyk kon ek nie anders nie as besef dat ’n mens soms so graag ’n spesifieke uitkoms wil hê dat jy nie mooi hoor wat Gód vir jou wil hê nie. Jy luister na jou emosies en begeertes. In retrospeksie, weet ek die Here het eintlik vir my gesê: “Ek is reeds in Irak. Ek het nie jou hulp nodig nie. Ek is in beheer van die situasie.” Die kruis op die kompas was die teken dat God in die noorde, in Irak teenwoordig is, net soos in die suide, en dat Hy nie vir my, Marie, nodig het om die probleem uit te sorteer nie.

Ek begin soek na die betekenis van die woorde wat die Heilige Gees my gegee het, maar ek kry niemand wat dit vir my kan vertaal nie. ’n Jaar later sit ’n vriendin langs my in die kerk en vertel my opgewonde dat sy pas ’n rekenaarprogram gekoop het wat woorde van Hebreeus na Engels kan vertaal. Ek dog my hart gaan staan. Ek vra haar om te vertaal wat ek gehoor het en dit vir my neer te skryf. Die betekenis het my verbyster gelaat oor God se goedheid: “Die Vader sal alles voorsien wat jy nodig het om weer heel en volkome te wees.” Hy het al op daardie oggend in Augustus 2008 geweet wat sy unieke plan vir my lewe is, al het ek nie my omstandighede verstaan nie en al kon ek nie sy plan sien nie.

Aan die begin van 2009 skryf ek my seun vir sy eerste jaar by die Universiteit van Potchefstroom in. Teen hierdie tyd is die mans al drie jaar lank weg en die twyfel, seer en onsekerheid is besig om ons families op talle vlakke af te breek. Johann se ouers en ons kinders kyk na my vir antwoorde, maar ek het nie eens vir myself antwoorde nie. Ek besluit om in hierdie tyd dat ek Gideon by die universiteit inskryf, weer te vas. Ek sê vir die Here ek soek antwoorde op twee vrae: Wat is die plan met my lewe, en waar is Johann?

Ek hou sestien dae lank op met eet. Ek het soveel energie. Die Heilige Gees en die Here dra my op maniere wat ek nie eens kan begin verduidelik nie. Ek sit tussen kliënte in ’n restaurant, maar daar is geen hongerte in my nie. Ek kan met vreugde my water drink. Ek het geen behoefte aan die kos voor my nie, want die Here dra my in hierdie vas. So gaan die vasdae verby en op dag veertien is ek steeds saam met my seun en my dogter in Potchefstroom. Ons sit in die Keg-restaurant en oorkant my sit ’n man wat ’n bord skyfies eet. Skielik is daar ’n oneindige lus in my om handeviervoet op die tafel te spring en soos ’n dier na sy tafel toe te kruip en die skyfies in my mond te druk. Ek vertel vir Carien van hierdie vreemde, skielike lus en sy kyk na my en sê: “Ma, ek dink nie dis van die Here nie.” Ek vra: “Sussa, hoe weet jy?” Sy antwoord deur vir my te sê: “Ma, jy eet nie eens skyfies wanneer jy kán nie.” Ek bly ’n rukkie stil en sê vir haar in my gees gaan ek aanvaar dat hierdie ’n aanval van die Bose is. Ek eet nie.

Later dieselfde middag is ek na die gastehuis toe. Ek gaan lê op my bed om ’n bietjie te rus. Skielik sê die Here vir my: “Marie, gee My jou woede.” Ek is ontsettend verras, aangesien ek rustig voel en glad nie kwaad is nie. Ek sê vir die Here: Here, maar ek is nie kwaad nie. Die Here sê vir my: “Marie, soek die bron van jou woede.” En die Here neem my terug in my lewe. So ver terug dat ek later weer die klein dogtertjie is wat baie siek is met asma en wat meer tyd met ’n suurstoftenk by die hospitaal deurbring as tuis. Die Here sê weer vir my: “Gee My jou woede.” En op daardie oomblik oorhandig ek my woede aan God die Vader. Ek gee ’n groot, swaar klip aan Jesus oor.

Toe sê die Here: “Marie, gee My jou wraak.” Ek doen weer dieselfde ding en sê: Here, kyk na my. Ek is heeltemal rustig. Die Here laat my onthou van almal wat ons in hierdie sage belieg, bedrieg en seergemaak het. Die Here bring elke persoon se gesig afsonderlik voor my en dan moet ek hulle soen, vergewe en vir Hom teruggee. Toe die Here my deur al hierdie mense geneem het, was dit weer soos ’n groot, swaar klip wat ek vir Jesus gegee het.

Die laaste ding wat die Vader van my gevra het: “Marie, gee My jou beheer. Ek is ten volle daartoe in staat om die situasie te hanteer. Jy hoef my nie te help nie.” Dit was vir my baie swaar om beheer aan die Here oor te gee. Ek is ’n “doen-mens”. Ek het altyd ’n paar planne. Vreeslik besig en pro-aktief. En weer gee ek die Here ’n reuseklip. Toe bring die Here my uit die visioen. Ek besef vyf uur het verloop vandat ek gaan lê het totdat ek weer volkome wakker was. Ek besef toe dit was Satan wat my in die restaurant aangeval het. As ek opgestaan en die skyfies geëet het, sou ek dalk nooit hierdie middag saam met God beleef het nie. Satan het geweet wat kom, wat die Here met my gaan doen – dat Hy my sou bevry.

Twee dae later, op dag sestien van my vas, is ek steeds in Potchefstroom, maar in ’n ander gastehuis. Dis ongeveer agtuur die aand en ek het pas klaar gebad. Ek sit en kyk na iets op TV en die volgende oomblik voel dit of iemand sy hand in my liggaam druk en my hart oopruk. Ek skrik verskriklik groot. Daarmee saam hoor ek die Here kliphard sê: “Jy sal my Woord regoor die wêreld verkondig.” Ek sit daar en ek het nie woorde nie. Ek verstaan vir die eerste keer hoekom Daniël elke keer op die grond neergeval het wanneer die engel met hom gepraat het. Daar is ’n verskriklike krag in God se stem wanneer Hy met jou praat. Jou hele wese weet die beste posisie is een so na moontlik aan die grond, want hierdie is Jahwe, hierdie is die God van hemel en aarde.

Ná daardie aand het ek weer begin eet. Die Here het my in verband met my tweede vraag nooit direk in woorde geantwoord nie. Hy het my nooit gewys waar Johann was of wat sy omstandighede was nie, maar Hy het my wel ’n visioen gegee waar Johann gekniel staan met sy kop ver vorentoe uitgestrek. Dit is die posisie wat hulle jou laat inneem voordat hulle jou kop afkap. Ek kon egter nie in my menswees daarna kyk nie. Ek het net geskree. Op daardie selfde oomblik het die Here my vier mans gewys wat in wit geklee is. Die vier mans was op die rand van ’n steil afgrond met hul rûe na my toe gedraai. Hulle het gestaan en wag vir die son om op te kom.

Somtyds is dit vir ons baie moeilik om te aanvaar dat God se wil soewerein is. Dat Hy in wat was, wat is en wat sal wees vir ons elkeen ’n goeie plan het – al kan ons dit nie sien nie. En dat in hierdie tye van swaarkry, hetsy dit ’n geliefde is wat gevange geneem word of kanker kry, of ’n kind is wat die pad byster raak of ’n geliefde wat verslaaf raak aan drank en dwelms, dit net menslik is om na elke bietjie hoop en eie menslike verwagting te gryp. Die moeilikste is om te aanvaar wanneer God “nee” sê vir al ons gebede oor ’n betrokke saak. Dit is nie maklik om Hom te vertrou as die uitslag nie is wat ons sou wou gehad het nie. Omdat Hy God is en omdat Hy die toekoms ken, sê Hy “nee” omdat Hy beter weet en ons liefhet.

In 2010 is ek vir die tweede keer in Israel, saam met Julius Magan. Ons is besig met lofprysing by die tabernakel. Ons stap deur die hele tabernakel en doen buitekant lofprysing. Terwyl ek staan en sing onder die tabernakel se materiaalflappe, vat God my en plaas my voor ’n goue muur. Dis ’n muur wat lyk of dit deel is van ’n berg, want ’n mens kan die voue en groewe sien. Tog weet ek terselfdertyd dat dit sag onder my vingers sou beweeg as ek daaraan raak. Die muur is gemaak van suiwer goud en terwyl ek in verwondering voor hierdie muur staan, sê God kliphard vir my: “Marie, jy is vry en my genade beskerm jou.” Te midde van die versengende hitte in die woestyn loop trane van dankbaarheid en lewe oor my wange. Ek besef die Here het die sirkel met my voltooi. Hy het my gewaarsku dat ek gelouter gaan word; dat Hy my gaan louter soos goud en silwer gelouter word. Hy het die vuur gebruik om die “dros” uit my lewe te haal; om elke selfsugtige begeerte, elke faset van my lewe wat nie tot sy eer en plesier was nie, van my af weg te neem. Hy moes Johann neem om mý lewe en die lewens van vele ander te verander.

Here, U het al die gemors in my lewe met u houtspaan afgeskep.

Ek weet, Here, dat U my gereinig het.

U het my deur hierdie geweldig moeilike periode gebring waar die vuur soms so fel was dat ek wou sterf.

Here, U het my gebring na die plek waar my grootste behoefte is om te leef volgens die wil van God die Vader.

U sê dan ook dat ek vry is: vry van gister, vry van my verlede, vry van my vrese en Here, ook vry van my verwyte rondom Johann se ontvoering. Maar meer nog, Here, vry om môre aan te pak, om my toekoms vas te gryp in die vertroue dat U ook vir my ’n unieke toekoms het.

Ek kan beweeg terwyl U my bedek met u guns. Wat meer kan ek vra? Ek weet, Here, dat U my elke dag bystaan, dat U my nooit verlaat nie.

U het my na die plek gebring waar dit nie meer saak maak wat presies met Johann gebeur het nie. Ek vra nie meer waarom nie. Ek wil nie meer weet wie verantwoordelik was nie, want U het my vrede gegee: daardie vrede waarvan die Skrif ons vertel dat dit so groot en so kragtig is, dit gaan alle menslike verstand te bowe.

Ek het vrede en vreugde.

U belofte in Jesaja 62 het waar geword. Ek het die vreugde van die Heilige Gees in my en ek is versorg na liggaam en gees.

Alle eer aan God die Vader.

So stap ek aan, opgewonde oor wat môre inhou in die vaste wete dat dit in sy wil is.

Ware verhale van vergifnis

Подняться наверх