Читать книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier - Страница 7
ОглавлениеVerhaal 2: Misbruik tot bruikbaar
2
Misbruik tot bruikbaar
Esté Mostert
My pad van vergifnis begin toe ek ongeveer ses jaar oud was. Ons gesin het bestaan uit my ma, my pa, ek en my sussie. Ons het in ’n drieslaapkamerhuisie in Suidrand, Kroonstad, gewoon. Wat ek van hierdie tydperk van my lewe onthou, is motorongelukke as gevolg van dronkbestuur, verwyte, beskuldigings, spanning en hartseer oomblikke weens hoop wat telkens beskaam het. Ek sien hoe my pa, ’n alkoholis, reeds wiegend by sy motor se kattebak staan en brandewyn drink uit ’n bottel in die bruinpapiersak. My ma het dikwels gedreig sy gaan haar goed vat en wegloop. Ek het altyd gewonder of ek en my sussie ook deel van haar goed sal wees. As ons nie is nie, wat gaan van ons word? Mettertyd het die lewe by die huis ál meer gespanne geraak en het dit net ál slegter gegaan. Gelukkig kon ek in st. 6 ontvlug koshuis toe. Hoewel naweke steeds ’n gemors was, kon ek vir daardie volgende vyf jaar gedurende die week redelik sonder spanning funksioneer. Om maats huis toe te neem, het egter op ’n fiasko uitgeloop. Ek het ’n baie swak selfbeeld ontwikkel en ’n regte klein rebel geword wat letterlik met alles en almal wou baklei. Ek het geglo die hele wêreld weet wat by ons huis en binne my aangaan en daarom veroordeel almal my.
Om weg te kom van alles en almal is ek ná matriek na die Vroueleërkollege in George. Ek was skielik ver van die huis af. Ek het in ontkenning geleef en sommer vinnig tien kilogram aangesit. Natuurlik het my reeds swak selfbeeld verder verswak, maar omdat ek nie van beter geweet het nie, het ek voortgesukkel. Ek was alleen, onseker en wanaangepas.
Intussen het ek in voeling gekom met die geestelike sy van my lewe. Ek het God aangeneem as my Verlosser, maar toe begin my worsteling om Hom as my volmaakte hemelse Vader te sien, om te verstaan dat Hy my onvoorwaardelik sal vergewe, al was ek woedend vir my pa wat my lewe so verwoes.
In 1979 het ek in Bloemfontein gaan kuns studeer. Gedurende hierdie tyd is kanker by my pa gediagnoseer en hy is in Bloemfontein in die tussentuiste vir kankerpasiënte opgeneem. Weer is ek gekonfronteer met gevoelens wat gewissel het van simpatie tot woede tot frustrasie. Ek het besef die spoke uit my verlede bly saam met my hardloop.
In hierdie tyd ontmoet ek toe ook die persoon met wie ek eendag sou trou. Sy ma was die matrone by die tussentuiste waar my pa versorg is. Dis ’n hanetree van die universiteit af. Albei van ons het in die universiteitskoor gesing en omdat ek my pa se motor gehad het, kon ek hom ’n saamrygeleentheid gee wanneer ons moes gaan oefen. Hy begin my vertel ek is baie oulik en vir iemand met so ’n slegte selfbeeld soos myne, was dit al wat ek nodig gehad het om te hoor. Ek raak halsoorkop verlief. Intussen word my pa ál sieker, en my verhouding met die man raak ál hegter. In 1984 trou ons – min wetende dat dit die begin van die tweede fase sou wees waarvoor ek jare later weer vergifnis sou moes vra.
Die eerste paar jaar van ons huwelik was opwindend – volgepak met gelukkige dae. Ons het suksesvol gevoel: Hy was ’n gesogte onderwyser by ’n baie groot en bekende seunskool en ek het aan die begin van ’n belowende kunsloopbaan gestaan. Vier jaar lank bou ons aan ons loopbane en rig ons ons huis in. Ons lewe sonder werklike struikelblokke. Toe ontdek ek ek is swanger. My man is ontsteld, want dit voel vir hom of hy nie beheer daaroor gehad het nie. In hierdie onstuimige emosionele tydperk ontvang ek een aand ’n oproep van my ouers se predikant om my te laat weet dat “my pappie oorlede is en dat hy sag heengegaan het”. Die volgende dag vertrek ons na my ouerhuis in Kroonstad, net om daar te ontdek my pa het hom in die motorhuis geskiet en my ma het op hom afgekom terwyl hy nog doodsroggelgeluide gemaak het. Ek was woedend omdat die predikant vir my gejok het. Het hy nie gedink ek sal dit in elk geval uitvind nie? Die begrafnisdiens was ’n marteling. Ek wou net wegkom van al die mense wat daar was, maar moes deur die hel sit, want dit was wat die samelewing van my verwag het. My pa se dood was vir ons ’n verlossing, maar dit was die begin van net nog meer skuldgevoelens en huilbuie op die mees onverwagse oomblikke. Ek het begin besef ek sit met ’n groot pak bagasie. Ek het egter nie geweet hoe om daarvan ontslae te raak nie.
Ek was in my element met die geboorte van ons seuntjie. Ek was uit die staanspoor ’n toegewyde ma wat mal was oor my kind. Hy was die oulikste ding wat mens kon kry. My loopbaan het floreer en ek het geblom. Ek het ’n nuwe mate van selfvertroue ontwikkel wat mense na my toe aangetrek het. Met my huwelik het dit goed gegaan. Ek het vir ons vakansies beplan en die huis in ’n groter een herbou. Ek het die leiding in ons huwelik begin neem en het begin voel ek is besig om uit die as op te staan. Ek wou nog ’n kind hê en ons gesin het sommer met nog drie kindertjies gegroei! Ons het tien jaar van geluk beleef en gedink ons “groei”.
Drie dae voor my veertigste verjaarsdag wou my vriendinne vir my ’n partytjie reël. Ek het vasgeskop. Dit het gevoel of ek my eerder wou martel. Op 4 September, ’n winderige dag, het ek drie kubieke meter rooigrond in my tuin weggewerk. Ek was geweldig gefrustreerd, want my man het gesê ek het “verander”. Hy was teenoor ons almal ongeskik, maar veral met die kinders. Wanneer ek met hom daaroor probeer praat het, was hy altyd reg. Sy veranderde houding het aan my begin vreet, want dit het gevoel of ek hom nie meer ken nie. Ek het gewonder hoe dit sou wees as ek hom in daardie stadium vir die eerste keer sou ontmoet. Sou ek enigsins van hom notisie geneem het, aangesien ek niks gehou het van die persoon wat hy geword het nie?
Intussen het ek ál harder begin werk. Ek het in ons gesin se finansiële behoeftes voorsien, ons kinders emosioneel ondersteun en eindelik begin verstaan hoe om my pa se bagasie te begin afgooi. Ek het ál meer begin om my emosioneel van my man te onttrek deur my tot in my eie skeppingswêreld te verplaas. Ek het swaargekry, want my gevoelswêreld was vol swaar emosies en daar was niks wat dit onmiddellik kon regmaak nie. Ons seksuele verhouding is al meer afgeskeep ... in so ’n mate dat daar partykeer maande sonder intimiteit was. Intussen het my man baie ag begin slaan op sy liggaam – om fiks te wees, goed te lyk en maer te wees was skielik belangrik. Al was hy in daardie stadium werkloos, was dit in die haak, want my besigheid en loopbaan was goed gevestig. Daar was egter een probleem. Hoewel ek vir alles betaal het, was die huis in sy naam geregistreer.
Toe kom daar ’n nuwe verwikkeling. My man het besluit om ’n koffierestaurant te koop. Om dit te kon doen, is ’n tweede verband op ons amperafbetaalde, wonderlike ou huis uitgeneem. Soos met enige nuwe besigheid, is daar net meer en meer goed aangeskaf wat afbetaal moes word en die winkel se opbrengs was nie genoeg om al die uitgawes te dek nie. So het ons begin voortploeter. Hy was nooit meer by die huis nie en ek het my amper doodgewerk. Die kinders het begin wonder wat met hul pa aangaan en ons vriende het hul wenkbroue gelig. Tussenin het ons darem elke week Bybelstudie gehou saam met vriende en medegelowiges in ons pragtige, groot ou huis.
Die volgende verwikkeling het my onverhoeds betrap. My man het my onder ’n wanindruk gebring wat sy finansies betref. Ek, wat my lankal reeds emosioneel van hom onttrek het, het my nie eens daaroor bekommer nie. Tot op ’n dag! Skielik het ek besef ek het iewers langs die pad vir hom borg geteken. Ek het glad nie geweet wanneer of hoe ek dit gedoen het nie. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat ons ons huis sou verloor. Hy het ons huis in die mark gesit.
Behalwe dat ek in daardie stadium redelik uitgebrand gevoel het, het ek terselfdertyd ook roekeloos gevoel. Buitendien wou ek net wegkom van die mense rondom my. Om te probeer ontsnap van alles en almal het ek ’n kleinhoewe langs die rivier gekoop. Ek het my aandag probeer aflei deur vir ons ’n tuiste te probeer skep. Ek het baie van ons ou meubels probeer verkoop of verskuif. My dogter kon gelukkig haar perde daar aanhou. Ons nuwe huis was van asbes. Die stoor het nie ’n vloer gehad nie en die muur het gevaarlik beweeg wanneer ’n mens die deur oopmaak. Ons twee hoërskoolseuns het ingespring en tussen hul skoolwerk deur gehelp om die plek meer leefbaar te maak. Daar op die kleinhoewe het hulle hul vriende baie gemis. Met spykers, ’n hamer en ou hout het ons jongste sy vrese en frustrasies in die wilgerbome by die rivier gaan uittimmer deur boomhuise te bou. My man was omtrent nooit by die huis nie. Hy het altyd die winkel as ’n verskoning voorgehou. In my naïwiteit het ek gedink my man sal sy winkel verkoop sodat ons ’n restaurant met ’n galery en werkwinkelgeriewe op die kleinhoewe sou kon inrig. Ek het begin bou aan ’n struktuur van drie honderd en sestig vierkante meter. Daar was ’n groot venster met ’n uitsig oor die rivier sodat ons sou kon sien hoe die son in die weste sak en op al die wonderlike wolke weerkaats wat in die ooste lê. Ek het skilderye uit my privaat versameling begin verkoop en die geld vir die bouwerk gebruik. My drome het my aan die lewe gehou en ek kon so normaal moontlik optree en my kinders emosionele sekuriteit bied.
Een Oktobermiddag het ’n groot skok egter op my gewag. Ek en ’n vriendin het op die stoep gesit. Daar was die mooiste sonsondergang, die buurman se skapies het oor sy kikoejoe aangestap huis toe en die reuk van varsgesnyde lusern was in die lug. ’n Kombi het nader gejaag en voor die stoep tot stilstand gekom. My man het soos ’n kaartmannetjie agter die wiel uitgespring. “Dit wat julle nou sien, is wie en wat ek regtig is.” Voor ons het ’n kaalkop, blinkgeskeerde man gestaan. Selfs sy bors- en rughare was gewaks. Sy houding was afstootlik en sy klere in ’n heel ander styl as gewoonlik. Ek was stomgeskrik. Tog het ek het vir nog ’n maand of twee verby ons hele situasie gekyk. Totdat die bom kort voor Kerstyd ontplof het.
Intussen het ek oproepe begin ontvang van mense wat wou hê ek moes weet wat aangaan. Hulle het my man by gayklubs gesien – in ons stad, sowel as in ander stede. Ek moes hoor van sy verhouding met ’n 27-jarige man. Ek het hierdie man toevallig een aand in die koffierestaurant ontmoet. Ek moes hoor van kere wat hy wedlope op ander dorpe sou hardloop, maar nooit daar was nie. Ek het geweet ons huwelik is iets van die verlede. Dit waarteen ek reeds jare lank geveg het, was onvermydelik. Onder die wilgers by die rivier het ek my byna doodgehuil terwyl die perde rustig naby gewei het. Ek het aanhoudend gesmeek dat God my moes help. En Hy het. Ná ses jaar kan ek terugkyk en weet Hy het my en die kinders op sy handpalms gedra.
Toe ek my man uiteindelik konfronteer, het hy al die aantygings ontken. Hy het beweer ek is die oorsaak van alles wat sleg is in sy lewe. Hy wou weet waar ek aan al die snert kom! Omdat daar reeds soveel tekens was dat hy gay was en die kinders se maats hulle al so dikwels gekonfronteer het met stories oor hom, het ek hom net gevra om te gaan. Hy het dit sonder verdere teëstribbeling gedoen. Ons tienerseuns het verwag ek sou so optree, maar die twee jonger kinders was geskok. Hulle was woedend omdat ek sulke leuens oor hul pa kwytgeraak het en hulle het hom vreeslik jammer gekry. Ek was emosioneel afgestomp. Ek moes hulle noodgedwonge die waarheid vertel, want leuens maak nie die waarheid sagter nie, dit maak dit net baie erger. “Pappa is weg, want hy hou meer van mans as van vroue en daarom kan ek nie meer met hom getroud wees nie.” Ek moes al baie erge dinge in my lewe doen, maar daardie gesprek was een van die ergstes. Ek sal my kleintjie se emosies seker nooit vergeet nie. Hierdie was die laagste laagtepunt in my 48 jaar op aarde. Ons was 27 jaar lank getroud.
In die volgende drie jaar het ek letterlik alles verloor: my hele vorige bestaan met al die baie drome en vooruitsigte. Omdat ek vir my man borg geteken het, het ek finansieel alles verloor. Ook die eiendomme wat ek op my eie bekom het. Ek het my man verloor en die kinders hul pa. My vroulikheid het ’n knak gekry toe ek besef my man se dinge het al voordat die kinders gebore is begin. Ek het fisiek ongesteld geraak en kon vir ’n paar maande nie skilder nie, want my hande was opgeswel en stokstyf van pyn. Galerye wat altyd my werk gekoop het, kon my nie meer ondersteun nie, want ek het gesukkel om produktief te bly. Die siekte het my oë aangetas en as gevolg van die kortisoon wat ek moes gebruik, het ek gewig aangesit. Weer ’n keer was my selfbeeld in sy peetjie. Dit het gevoel of ek nêrens hoort nie en ek het regtig nie ’n houvas op dinge gehad nie.
My man het intussen sy besigheid verloor en is weg Kaap toe om daar ’n lewe te probeer skep tussen mense wat hom sou verstaan. Ek en die kinders het alleen en hartseer op die kleinhoewe agtergebly met kwalik genoeg geld vir petrol en skool. Ons was werklik arm en moes daagliks planne maak om te oorleef. In daardie stadium het ons oudste my ook vertel hy is gay. Hy was baie jammer om hierdie bekentenis te doen, maar het besef die waarheid maak alles soveel makliker vir almal. Al was ek geskok, was ek tog verlig oor sy eerlikheid en moed. Ons het ’n wonderlike verhouding. Ons kommunikeer oor alles wat in ons lewe gebeur en sy onthulling het niks aan my liefde vir hom verander nie. Hy en sy pa het, ironies genoeg, ’n baie slegte verhouding gehad. Sy pa het selfs eenkeer geskryf hy hou nie van sy kind nie. Dit het baie probleme in ons seun se lewe veroorsaak. Hy worstel steeds soms met ’n swak selfbeeld. Vandag, ses jaar later, probeer ons vyf deur baie genade om so na moontlik aan normaal te leef.
Ná my man se vertrek het ons met baie ander emosies geworstel. Ons het in ’n groot mate verstote gevoel. Mense was geskok oor alles wat met ons gebeur het. Hulle het hul afstand gehou. Hulle het nie eintlik geweet hoe om ons situasie te hanteer nie. Van ons manlike vriende en familie het selfs by tye probeer om soos ’n pa vir die kinders te wees. Hierdie goedbedoelde gebare het die arme, gebroke kinders net nog meer verstote laat voel. Hulle het gevoel niemand weet of verstaan wat in hul gedagtes aangaan nie, daarom sou hulle eerder probeer regkom. As ’n enkelma en skielik die geestelike wagter van my huis (wat nou gevoel het soos ’n huis sonder diefwering), het ek begin bid en smeek dat God ons sou help en dat Hy ons sou bedek met sy kosbare bloed. Ek het nie eens vir ander dinge gevra nie, want my lewe was in ’n te groot warboel. Daar was gebroke emosies, woede, gebrekkige finansies, nuuskierige vrae, gesondheidsprobleme en ’n algehele gebrek aan energie. Eintlik wou ek net doodgaan. Gelukkig kon ek nie, want wat sou dan van my kinders word?
Ek was woedend vir my man wat vir baie jare in ’n oneerlike verhouding met ons as gesin geleef het. Ek was ook kwaad omdat hy my vroulikheid misbruik en daaragter geskuil het. Ek was ook ongelukkig dat hy sy kinders die reg ontsê het om in ’n normale, gelukkige gesin te funksioneer.
Die egskeidingsprokureur het my aangemoedig om te veg vir my regte, maar uiteindelik het ek steeds alles verloor en dit terwyl hy duisende rande uit my gemaak het. Ek het baie woede opgekrop en ek moes ’n manier vind om weer vrede terug te vind. Ek moes dit doen ter wille van myself, die kinders en my loopbaan en vinnig ook!
Snags as ek wakker geword het van uitmergelende gewrigspyne, het ek gebid dat God my vrede moes herstel. Ek het begin besef die enigste weg na herstel was dat ek my man moes vergewe en dat ek my kinders daarmee moes help. In die Bybelboek Matteus het God my van 16 Desember 2006 stap vir stap geleer. Jesus is die volmaakte voorbeeld van iemand wat op aarde volgens die wil van sy Vader gelewe en gesterf het sodat ons verlos kan word van sonde en alles wat ons op aarde bind. Deur Matteus 5 het ek besef daar is geen ander keuse nie as om my man en my pa te vergewe. Om vas te klou aan die verlede het my verhinder om te wees wie ek in Christus moes wees. Met ’n wrok en bitterheid in my hart sou ek ook sukkel om te verstaan wat my roeping op aarde is. In Matteus 5:22 staan elkeen wat vir sy broer kwaad is, is strafbaar voor die regbank. God het my gelei en ek het Matteus as ’t ware verslind. Dit was vir my die enigste duidelike riglyn. Die wonderlike dag toe ek die prokureur kon afdank, kon ek met my proses van vergifnis begin.
Ons gesinnetjie het baie gepraat en gebid oor hoekom ons moes vergewe; dat ons ook ter wille van onsself deur die proses moes gaan. Sonder vergifnis sou ons in die slote bly lê en nooit daar uitkom en sodoende skyn vir God se koninkryk nie. Ons het besef ons gaan swaar sakke vol ou gemors en bagasie saam met ons deur die lewe trek. Ons sou bly wonder hoekom ons lewens so saai en sonder visie is. Stadigaan het ek weer hoop begin kry en gesien ek en my kinders kon weer lag en soms sommer net onsself wees – al was dit net vir kort oomblikke. Ja, die vergifnisproses duur langer as een dag. Dit is ’n wilsbesluit en ’n daaglikse lewenstaak.
Op ’n dag het God die pynlike proses waardeur ons moes gaan baie duidelik gemaak. Ek het toe vir die eerste keer besef elke mens op aarde kry ’n kruisie om te dra. Wat anders sou dan die doel van ons aardse bestaan wees? Net lekkerte en vet pret? Ek kan nou eerlik antwoord: Nee, asseblief nie, want ek onthou die tye toe dit met my baie goed gegaan het. Ek was selfversekerd en arrogant, sonder om werklik te besef waaroor ons aardse bestaan regtig gaan. Ek weet nou ons lewe hier is ’n voorbereidingstyd vir die ewige heerlikheid wat op ons wag. Die kruis wat ek hier op aarde dra en dit wat ek daaruit geleer het, sal my help om ’n lig en inspirasie vir ander mense te wees wat dalk ’n swaarder kruis dra sodat hulle sal moed hou in hul hoop en geloof.
Soms het vreemde vroue my voorgekeer om my te vertel van hul omstandighede. Ek het begin besef dat ek ná alles steeds soveel genade van God ontvang het. Vergifnis was nie eens meer onderhandelbaar nie. Ek moes dit eenvoudig net ter wille van God se koninkryk en my doel hier op aarde doen. Ek en die kinders sou nie God se seën en salwing op ons lewens ervaar het daarsonder nie. As ons nie doelbewus gekies het om te vergewe nie, sou die lewe absoluut geen sin gehad het nie en kon ek maar netsowel doodgegaan het toe ek destyds so graag wou.
Ek het egter steeds met een groot probleem geworstel: My man het nog nooit die waarheid erken of ooit gesê hy is jammer nie. Soms het ek te midde van al die getuienis gewonder of ek die regte ding gedoen het om hom te vra om te gaan? Gedurende ons trek terug stad toe in September 2010 het my dogter ons boeke in die boekrak teruggepak toe sy vir my ’n boekie bring en sê: “Mamma, kyk ’n bietjie hierna.” Ek het die boekie herken. Ek en my eksman het in 2000 ’n huwelikseminaar bygewoon. Elkeen van ons het ’n boekie gehad wat ons moes invul, maar in daardie stadium was ek so ongelukkig met ons huwelik dat ek nie die kursus voltooi het nie. Ek het een aand net uitgestorm huis toe. Hy het egter die kursus voltooi en sy boekie ingevul. Op ’n wonderbaarlike manier het hy hierdie boekie nie destyds ingepak saam met sy baie ander boeke nie. Ek glo dit was God se wil dat hierdie stukkie getuienis op die regte oomblik te voorskyn gekom het om my en my kinders te help om klarigheid en vrede in ons lewens te kry.
In die boekie het hy duidelik geworstel met sy swak verhouding met sy oudste kind, asook met sy gevoelens vir en seksdade met mans. Ek het dele in pienk omkring en vir hom uit die diepte van my hart ’n brief geskryf. ’n Brief waarin ek my opgekropte gevoelens verwoord en hom vertel het dat ek hom vergewe en vir hom bid. Ek het my trou- en verloofring (wat die belofte van ons huwelik was wat nou verbreek is) in ’n pakkie gesit en dit vir hom gestuur.
God het sy engele in die vorm van bekende én vreemde mense gestuur om ons gesin te help om weer regop te kom. Geestelik, finansieel en emosioneel het ons stukkie vir stukkie weer normaal begin funksioneer. Ons kon begin lewe sonder die angs en spanning wat die ontwrigting meegebring het. In die plek daarvan het ons weer hoop, vrede en vreugde begin ondervind. Ons is nou dankbaar oor die pad wat God ons laat loop het, want dit het ons laat groei en ons in voeling gebring met onsself en ons doel op aarde. Ek het God gevra om my te skuur en te skaaf soos dit Hom behaag, want ek weet vir seker God sal altyd by ons wees en voorsien in wat ons nodig het volgens sy wil. Lees gerus Matteus 6:32–33.
Vandag, ses jaar later, is ek nie slegs ’n ouer persoon nie, ek is ook ’n ander persoon. Ek is doelgerig oor die dinge wat sin maak in die lewe. Ek leef slegs een keer en wil dit die moeite werd maak vir God. Want anders ... wat was die doel dat Hy my gemaak het? Sou ek daarmee kon saamleef dat God eendag sou spyt wees oor my? Sou ek wou hê Hy moes liewers iemand anders in my plek geskape en aangestel het as sy dienaar?
Ek waardeer die klein dingetjies in die lewe baie meer. Ek verstaan nou dat die een wat gee in ’n baie beter posisie is as die een wat moet ontvang. Ek kan nou praat oor my pa en my man sonder om daardie verskriklike seer en woede te beleef. Nogtans moet ek daagliks werk aan hierdie proses van vergifnis, want die negatiewe gebeure in ons lewe bly ongelukkig altyd deel daarvan. Deur die baie genade wat ons ontvang, help God ons om met sy liefde en verdraagsaamheid hierdie mens in ’n pakkie toe te draai en voor sy voete neer te sit. Dieselfde geld natuurlik ook vir die baie ander mense wat daagliks ons pad kruis en dit soms so ingewikkeld maak.
Fisiek is ek besig om gesond te word en kan ek getuig dat God my en my kinders op alle vlakke van ons lewe deur voortdurende herstelprosesse lei. Ek weet nou my lewe het ’n wonderlike doel en dat Hy my mag vorm en skuur nes dit Hom behaag. Ek sal stil word, wag en luister omdat my hemelse Vader vir my en my kinders omgee en ons só liefhet dat Hy vir ons gesterf het en ons elke dag deur sy Heilige Gees leer hoe om te wandel volgens sy wil.