Читать книгу Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier - Страница 8
ОглавлениеVerhaal 3: Verkrag, maar nie verbitterd nie
3
Verkrag, maar nie verbitterd nie
Hettie Brittz
Uittreksels uit Hettie Brittz se boek Vreesloos vry, saamgestel deur Helana Olivier
My man staan met sy hande agter sy rug vasgebind. Hy staan by die voetenent van ons bed, met drie donker rowers agter hom. Die vierde een staan links van my, met ’n rewolwer langs my kop. Hy beveel my om op my maag om te rol. Hulle bind my hande ook met veters agter my rug vas. Ek verwag die ergste toe ek die een rower oor my rug hoor buk en sy asem teen my arms voel stoot. Hy lig my hande op en skraap my trouring met sy tande van my vinger af. Toe hy die ander ring nie afgebyt kry nie, bied ek aan om dit vir hom af te haal.
Ek is van plan om alles te gee wat hulle vra. Hulle moet net my man en kinders uitlos. As ons net almal kan bly lewe, gee ek nie om wat gebeur nie. Meer as ’n uur lank is dit op en af met die trappe, heen en weer in die kamer en kantore, op soek na wapens, juwele, rekenaars en skootrekenaars. Uiteindelik staan ek op my knieë gedruk voor die kluis met ’n rewolwer teen my kop terwyl Louis hardop bid. Die deurtjie swaai gewillig oop. Hulle bind eers weer my hande vas en laat ons daar en dan op die mat lê terwyl hulle die kontant soos speelkaarte tussen die vier van hulle uitdeel. Hulle is baie tevrede met die geld.
Toe weer op met die trappe. Ek en Louis lê op die vloer, langs die bed in ons slaapkamer. Louis se voete wys oos en myne wes. Ons koppe is bymekaar. “Honey, as dit die einde is, sien ek jou aan die ander kant.”
Louis gaan saam met drie rowers na sy ateljee, waar hulle “iets” hoor biep. Die weerligbeskermers is al so lank uitgeprop nadat hulle die rekenaars gesteel het, dat dit ’n laebatterysein begin uitstuur. Hulle is bang dis ’n alarmstelsel.
Een van hulle bly saam met my in die slaapkamer agter. Hy sit op die bed en rits die tasse wat Louis vir sy musiektoer Doebai toe ingepak het, oop en toe. Ek lê halflyf onder die bed om so skadeloos moontlik te lyk – en ek bid. Ek is baie verlig dat die rower op die bed my klaarblyklik ignoreer en baie meer geïnteresseerd is in die bagasie as in my kaal bene wat onder my kort nagrokkie uitsteek. Maar die jong man sien my wel. Die tasse se ritssluiters word stil. Hy dink, of kyk, of iets. Dis toe dat ek helder in my gedagtes Jesus hoor sê: “Hettie, onthou jy is my bruid.” As ek al ooit nodig gehad het om aan sy liefde herinner te word, is dit nou. Dit is ’n vreemde botsing van beelde. Sy ’n bruid in wit satyn – ek nou al vol stof en als behalwe uitgedos. Sy ’n bruid geëerd en bewonder op haar spesiale dag – ek ’n stuk vleis wat nou verkeerd bekyk word. ’n Bruid dansend op ’n dansbaan – ek vasgebind op die koue vloer. Terwyl die inbreker om die bed na my kant toe stap, beleef ek dat die Here my belowe dat Hy my gees en siel sal vashou. Jesus kan by ons wees in siel en gees, al is ons liggame op hierdie aarde met al sy naarhede vasgevang.
Hy kniel langs my, rol my om op my rug en sit sy hand om my lyf.
“I want.”
Die ware ek en jy is versteek in God, buite bereik van die een wat ons siele haat omdat hy Jesus haat. Die ware ek en jy is versteek in ’n stuk vleis – vet, maer, aantreklik, gewoon, met of sonder selluliet en spatare. Die ware ek en jy is nie sommerso op die oppervlak sigbaar en maklik om by te kom nie. Die aanvaller sal my liggaam kan bykom, maar dis al. Wat my liggaam dan daarvan sal oorkom, moet ek vanuit my vervulde gees en geredde siel kan oorwin.
Anders as baie verkragters wat vroue uit haat en weerwraak verniel, is my aanvaller fluisterend, verskonend, baie haastig en bang om betrap te word. Hy is vol wellus, nie vol haat nie. Hy het geen respek nie, maar ook geen woede nie. Ek is steeds met my kop en bors onder die bed. Ek kan nie en wil nie sien of hy gewapen is nie. Soos hy, sal ek bly wees as niemand weet of sien nie. Kalmte, beleef ek, gaan die sleutel wees om nie seer te kry nie. Wie weet of hy dalk sy makkers sal roep om te kom help as ek nou terugveg?
Hy druk sy kop onder die bed in, maar my oë is steeds toe en ek sien nie sy gesig nie. Hy soen my ’n paar keer op my mond. Hy ruik na bier en sweet. Dit maak hom steeds niks minder as ’n verkragter nie, maar ek is dankbaar dat my ergste nagmerrie van messteke en wrede geweld nie waar word nie.
Ek draai my kop eenkant toe en kies om in Jesus se gesig te kyk. Dan beleef ek iets baie onverwags. Liefde. Nie van hierdie man af nie, maar van God af. Sy liefde is oorweldigend en amper tasbaar daar waar ek lê. Ek is nie net bewus van sy liefde vir my nie, maar ook van sy liefde vir hierdie verkragter wat met soveel boosheid, vrees en leegheid lewe.
Ek wonder hoe hy grootgeword het en wat met hom gebeur het om hom tot sulke desperate keuses te bring. ’n Gedagte spoel deur my kop: “Ek wens jy’t die Liefde geken wat ek ken. Jy sou nie gedoen het wat jy doen as jy dit geken het nie.”
Ek wens ek kon sy taal behoorlik praat of hy myne sodat ek dit vir hom kon sê. Hy ken so min liefde dat hy moet inbreek, vasbind en kaal stroop om ’n uiters onbevredigende namaaksel te soek. Ek ken ouerliefde, kinderliefde, manliefde, vriendskapliefde en bowenal Jesus-liefde. Hierdie liefdes is my preserveermiddels. Dis al rede waarom ek beter daaraan toe is as hy.
Ek het beslis nog nooit so gekyk na enige ander misdadiger nie. Ek kan maar maklik met ’n veroordelende oog kyk. Dit kom baie natuurlik. Daarom glo ek vas die Here leen in hierdie nagtelike ure vir ’n paar oomblikke sy oë vir my. As ek nie kan sien wat Hy sien nie, sal ek nie kan vergewe nie. Dan sal ek hierdie jong man vrees as die een wat my kan vernietig, in plaas daarvan om hom te bejammer as die een wat self klaar vernietig is. Ek kan nie nou bekostig om twee lywe te sien nie. Ons onwettige fisieke eenwording is skreiend, maar dis nie die belangrike ding om hier raak te sien nie. Wat hier onwettig is, is dat my gees en sy gees een sou word. My gees en sy gees bots hier meer as wat taal, kultuur of liggame ooit kan bots. My gees is lewend; syne is dood. Myne is veilig en in Jesus opgesluit; syne is in gevaar.
Jesus het aan die kruis na die Romeinse soldate gekyk en na die skare wat sy dood en Barabbas se vrylating geëis het en uitgeroep: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Luk 23:34).
Vergifnis kan net plaasvind as ons reg kyk en reg hoor. Met ons oog op die wapens, reageer ons met vrees. Met ons oog op die selfvoldane gesigte van ons aanvallers, haat ons. Met ons oor op dreigemente, krimp ons harte ineen. Maar met ons oog op die gebrokenheid wat deur vernietiging in ons aanvallers se binnekant agtergelaat is, kan ons met God se hulp vergewe. Met ons oor teen God se mond kan ons, selfs in hierdie onwaarskynlike oomblikke, sy liefde beleef.
Terwyl die man haastig my onderklere op my heup stukkend skeur, bid ek dat Louis onbewus is van wat gebeur. Ek weet dit sal verander as ek nou sou skreeu. Dit sal ook my kinders wakker maak. My jongste is tien treë van my af met geen deure tussen ons nie. Ek beleef nie dat ek iets anders kan doen as om te aanvaar wat gebeur nie.
My gedagtes is uiteraard nie net geestelik nie, want ek is heeltemal voelbaar teenwoordig in my liggaam. Ek is geheel en al bewus van alle aspekte van die werklikheid. Ek besef ek word nou deel van Suid-Afrika se verkragtingstatistiek. Omdat ek nie veg nie, druk hy my nie vas nie en gebruik hy geen geweld nie. Ek is dankbaar dat dit kalm gebeur sodat ek nie kop verloor nie. As ek bang word, word ek maklik aanvallend – presies wat nie nou moet gebeur nie. Ek dink met kommer aan seksueel oordraagbare siektes en omdat ek nie vasgedruk word nie, kan ek my liggaam posisioneer om so min moontlik fisieke skade op te doen.
In die halfdonker kan ek net sy broekspype en skoene sien, maar selfs sy manier van opstaan is verleë. Hy probeer om bewyse te verdoesel. Hy rol my weer terug op my maag en sit my netjies terug waar ek was en trek my nagrokkie so laag moontlik af. Hy los my daar en gaan met die trappe af om by die ander aan te sluit.
Nie lank nie, of twee bendelede storm in die kamer in. Een lig my nagrokkie op, sien dat my onderklere weg is en bevoel my om vas te stel of ek verkrag is. Hy trek my klere weer reg. Hulle storm uit en los my alleen. Daar ry ’n kar. Dit is stil. Ek voel alleen. Ek praat met Jesus: “Laat my asseblief weet wanneer dit veilig is sodat ek hier kan opstaan.”
Terwyl ek wag, kom ’n oorbekende vers by my op: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7, 1933-vertaling).
Ek kan die woord “vreesagtig” links voor my in my gedagtes sien en regs die res: “krag, liefde en selfbeheersing”. Ek besef ek moet kies, ek mag kies. Ek kan my vrees onder hierdie bed los as ek wil. Ek hoef nie die res van my lewe daarmee te loop nie. In plaas daarvan kan ek krag, liefde en selfbeheersing kies, wat letterlik beteken konsekwente, helder gedagtes. Ek sê: Here, ek kies liefde.
Dit is nogal onverwags om tydens so ’n rooftog en verkragting die mees oorweldigende bewustheid ooit van die Here se liefde te beleef. Geen verwoesting kan ons egter skei van die liefde van Jesus nie. Ek ervaar juis nou hoe lief die Here my het.
Ek ervaar dat dit veilig is om nou onder die bed uit te kruip. Die veters kom baie maklik los. Voordat ek by die kamer uitgaan, versamel ek DNS op my nagrokkie, maar trek dit nie uit nie omdat ek vaagweg onthou ’n mens moenie. Ek trek net skoon onderklere aan en hoop dat dit sal help om die res van die DNS-bewyse te behou.
My eerste stop is die drie kinderkamers. Die kinders is ongedeerd. Dankie, Jesus! Die belangrike telefoonnommers is op my gesteelde selfoon, nie in my kop nie. Op pad na die bure oorkant die straat sien ek Louis in die pad aangedraf kom. Ek lewe, hy lewe, die kinders lewe! My arms is om my man se lyf. Die res is irrelevant. Waarom moet hy weet? As mens oor hierdie dinge praat, kruip daar net weer drake uit die vleuels ... hulle kruip dalk tussen ons in. Ek moet stilbly.
Hierdie stilblyleuen is die fluistering van een van die dodelikste slange in die tuin, maar dit klink soet aan my binnekant. Ek wil met die stilblyleuen saamstem – dis beter as niemand ooit weet nie. Maar hoe gaan ek verduidelik dat ek by die traumakliniek moet uitkom? Ek moet hom dus vertel. Die woorde kom krom en skeef uit: “Jy moet hier vir die polisie wag. Ek moet hospitaal toe gaan. Die ou wat by my moes bly, het my verkrag. Maar hy was bang en onervare en ek het nie seergekry nie. Moet asseblief nie kwaad wees nie.” Hy is kalm en sê: “Ek sal dalk later anders voel, maar nou gaan ek net kalm bly sodat ons die regte ding kan doen.” Ek prys die Here stilweg vir ’n man met selfbeheersing. In my afwesigheid word die huis gefynkam vir leidrade. Louis bel my ouers wakker om ons drie kindertjies Bosveld toe te neem sodat hulle die toeloop en ontsteltenis wat nou ongetwyfeld gaan losbreek nie hoef te beleef nie.
Alles het vandag verander. Vandag het ek lief met liefde wat nie uit my kom nie. Vandag se vrede is ook nie my eie nie. Die afwesigheid van woede, selfs al is baie van ons eiendom gesteel, is ook nie uit myself nie.
Ná die doktersondersoeke en gesprekke met beraders, kan ek huis toe gaan. Die dokter vra of ek nie eers wil stort nie. Ek gaan in die aangrensende badkamertjie in en kyk na myself in die spieël. Nie te onaardig nie, maar ek moet darem my hare was. Ek klim in die stort en begin hare was. Hare? Is dit vuil hare wat my pla? Ek behoort te voel asof ek die velle van my lyf af wil skrop.
Dan was Ek julle met skoon water, en julle sal skoon wees ... Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas ...
– Esegiël 36:25; 16:9 (NLV)
Dis dan waarom ek nie vuil voel nie, besef ek. So lyk God se vingerafdrukke dan. Dit los nie blou kolle op my skouers nie, maar ’n soort vrede en ligtheid wat nie menslik is nie. Dit trek my skoon aan.
Baie verkeerde verslaggewing steek kop uit. Vir weke lank braak mense gal in die koerante. Daar’s briewe van mense met goeie bedoelings, maar ook van diegene wat nie net weier om met geestelike oë te kyk nie, maar wat die geestelike werklikheid haat. Is dit nie snaaks dat as die mure om iemand reeds platgeslaan en iemand weerloos is, mense juis hul kans waarneem om te begin aanval nie? Ek het besef ek sal my toespits op die geskenk van die Here se stralende teenwoordigheid in my en dat dit nie wys gaan wees om in pengevegte betrokke te raak nie. In ’n stadium lees ek vir Louis ’n uittreksel uit die dagstukkies van Charles Spurgeon:
’n Christen moet ’n toonbeeld wees van Christus se vrymoedigheid. Moet nooit skaam wees vir jou geloof nie. Jou belydenis (van jou geloof in Christus) sal jou nooit tot skande maak nie; maak seker dat jy nie jou geloof beskaam nie. Wees soos Jesus, baie manmoedig vir jou God ... Die beste van alles sal wees as jy probeer om, soos Jesus, jou vyande te vergewe. Dit sal Hom ten beste vertoon. Laat die verhewe woorde van jou Meester altyd in jou ore weerklink: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Luk 23:34.) Vergewe soos jy hoop om vergewe te word.
In Psalm 18:7–16 is dit duidelik dat God baie kwaad word wanneer sy kinders so deur die vyand aangeval word. Die aarde bewe. Rook, vuur, blitse en haelstene kom uit God se mond en neus. Dis ’n kwaai beeld. God skeur die onderaarde oop. Hy is woedend. Ek glo vas daar sal baie siele by Satan afgeneem word in ruil vir wat hy aan my en Louis gedoen het. Seuns en dogters van God wat ver van Hom af weggevoer is, sal ook terugkom. Omdat ek Jesus se Naam bely, is my verkragting, die doodsdreigemente en Louis se ontvoering nie verniet en gratis nie. Die Here eis iets van die Satan daarvoor, bloot omdat ons sy kinders is. Ons sal nooit menslike lyding verstaan, met al die bloederigheid daarvan, as ons weier om na die onsigbare wins daarvan te kyk nie.
Jesus se offer aan die kruis – vir die verkragter se vergifnis en vir my genesing – was op gelyke basis vir ons twee gebroke mense beskikbaar. God het Hom nog nooit laat afsit deur enige mens se vuilheid nie en was ook nog nooit beïndruk met enige mens se poging om vanself te probeer skoon word nie. Die verskil tussen my en die verkragter is dat ek dit wat Jesus na my toe uitgehou het – my verlossing en genesing – met groot dankbaarheid ontvang het, maar dat my verkragter waarskynlik steeds in dieselfde gebroke toestand is as wat hy was toe hy daardie nag halfbesope in my huis ingekom het. Hy is die een wat ons gebede die nodigste het.
Moenie in my en Louis vaskyk nie. Moenie vra wie ons is, wat ons roeping of beroepe is, waar ons woon, in watter kerk ons is, of ons gedoop is, in tale praat, Skrifgedeeltes oor ons gesin uitgeroep het of nie. Dis die verkeerde vrae.
Vra liewer: Wie is hierdie God wat ’n vrou soos ’n bruid laat voel op die nag van ’n verkragting? Wie is dit wat vergifnis in ’n man se hart kan sit teenoor die rower wat sy vrou probeer onteer het? Wat vertel dit van God wanneer Hy mense deur ’n vuuroond van trauma neem, maar nie toelaat dat hulle na rook ruik nie? Ja, vra die vrae wat ons nie mag vra nie. Vra hoe groot ’n God is wat ’n verkragting ten goede kan laat meewerk vir iemand wat Hom liefhet. Vra jou af wat in die Vader se hart is wanneer Hy besluit dat nie net ek en Louis nie, maar ook ons drie kinders nie ’n enkele simptoom van trauma sal toon van daardie dag tot nou nie. Vra saam met een van die spottende briefskrywers waarom die Here my nie lank genoeg voor die tyd gewaarsku het sodat ek kon wegkom nie? Waarom net ’n paar minute voor die tyd? Luister dan na die onwaarskynlike antwoord: Dalk omdat Hy nooit van plan was om my te laat wegkom nie, maar van plan was om by my te wees en iets veel beters van my lewe te maak as gevolg daarvan. Dalk omdat die voorreg om Hom te sien en te hoor groter is as die onreg om verkrag te word. Jubelskree dan saam met Paulus:
Hoe ongelooflik wonderlik is God nie – hoe ontsaglik ryk en wys en vol kennis is Hy nie! Sy beslissings gaan ons begrip te bowe; sy manier van doen kan ons nie deurvors nie. Wie van ons kan regtig verstaan hoe God dink? Of wie sou as sy raadgewer kon optree? Of wie sou ooit aan Hom ’n guns kon bewys vir wie Hy dit sou moes vergoed? Hy is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.
– Romeine 11:33–36 (NLV)
Dit maak dus geen sin om te kyk na my en Louis, of na enige ander Christen met wie iets gebeur, en te dink ons gaan leidrade sien oor waarom dit gebeur en antwoorde kry oor waarom God hier iets keer en daar iets toelaat nie. Ons gaan ook nie oordele kan vel oor mense se getuienisse nie, want God is wie Hy is – onverklaarbaar. Hy sal doen wat Hy wil doen – onvoorspelbaar. Wat ons beleef het, was inderdaad onverklaarbaar en onvoorspelbaar. Niks in ons sou ons kon laat vermoed dat ons die voorreg van ’n wonderwerk sou beleef nie.
Hiermee ontken ek nie dat die lang worsteling op pad na genesing vir baie Christene ’n werklikheid is nie. Dis selfs vir my ’n werklikheid.
Vergifnis is ’n wonderlike ding. Dit maak dat ek nie vandag met ’n rower op my skouers rondloop nie.