Читать книгу Nuwe hoop vir ADHD by kinders en volwassenes - Helena Bester - Страница 46
ОглавлениеDeel 2: Toestande wat soms met ADHD verbind word
Daar bestaan ’n toenemende tendens om sogenaamde ko-morbiede of verwante toestande by ADHD-lyers te diagnoseer. Van die algemeenstes is die volgende:
Opponerend-opstandige versteuring
Opponerend-opstandige versteuring (oppositional defiant disorder of ODD in Engels) is volgens prof. André Venter van die Universiteit van die Vrystaat een van die toestande wat die meeste met ADHD verbind word. Ongeveer die helfte van kinders in die gekombineerde ADHD-groep ly aan ODD, terwyl een kwart van die onaandagtige groep met ODD gediagnoseer word. Die toestand lei tot gedragsprobleme wat nie slegs met medikasie behandel behoort te word nie.
Kinders by wie ODD gediagnoseer word, toon uitdagende of uittartende gedrag. Hulle verloor hulle humeur, stry dikwels en weier om gehoor te gee aan reëls of versoeke. Hierdie kinders pak gewoonlik die skuld vir hulle foute op ander mense. (Selfs ADHD-lyers wat nie opponerende gedrag toon nie, is hiertoe geneig.) Hulle is dikwels wraaksugtig en haatdraend. Die simptome ontstaan moontlik omdat die ADHD-kind homself as ’n mislukking beleef en baie frustrasie en woede ervaar.
Gedragsteurnis
Gedragsteurnis (conduct disorder of CD) is ’n baie groter gedragsprobleem as ODD. Een kwart van kinders, adolessente en volwassenes wat aan die gekombineerde ADHD ly, toon duidelike simptome van CD.
Kinders by wie CD gediagnoseer word, toon nie respek vir die basiese regte van ander mense nie. Hulle dreig of intimideer ander kinders, sit dikwels ’n bakleiery aan die gang en is oor die algemeen aggressief en selfs wreed teenoor mense en/of diere. Kinders met CD loop dikwels weg van die huis af of bly die hele nag uit. In sommige gevalle word ernstige oortredings, soos die beskadiging van eiendom en diefstal, begaan. ’n Multidissiplinêre span behoort betrek te word by die behandeling van so ’n kind.
CD by volwasse ADHD-lyers word gediagnoseer indien die persoon nie aan die kriteria vir die diagnose van antisosiale gedragsversteuring voldoen nie.
Ontwrigtende gemoeddisreguleringsversteuring
Ontwrigtende gemoeddisreguleringsversteuring (disruptive mood disregulation disorder of DMDD), ’n nuwe diagnose in die DSM-5, kan ook saam met ADHD gediagnoseer word. Hierdie versteuring word nie vir die eerste keer voor sesjarige of ná agtienjarige ouderdom gediagnoseer nie en moes voor tienjarige ouderdom begin het. Kinders wat aan DMDD ly, het gereeld woedeuitbarstings (gemiddeld drie of vier keer per week). Die woede word óf verbaal óf deur aggressiewe gedrag uitgedruk. Andersins is die kinders meestal geïrriteerd. Die woede en irritasie is opvallend vir onderwysers, ouers en maats.
Gilles de la Tourette-sindroom
By hierdie sindroom, wat algemeen as Tourette-sindroom bekend staan, kan ADHD-simptome in kombinasie met obsessief-kompulsiewe gedrag en senu- en/of spiertrekkings voorkom. Die diagnose word slegs gemaak wanneer onwillekeurige geluide sowel as motoriese trekkings vir langer as ses maande teenwoordig is.
Vroeër jare is geglo dat mense met Tourette-sindroom nie Ritalin kan gebruik nie. Die medikasie word egter deesdae gereeld aan lyers voorgeskryf.
Die uitwerking van neuroterapie op Tourette-sindroom lyk belowend. Neuroterapie word in hoofstuk 10 bespreek.
Gemoedsversteurings
Depressie sowel as bipolêre versteuring kom soms by ADHD-lyers voor. Depressie kom by ’n minderheidsgroep van ADHD-lyers voor, maar wel meer algemeen as by nielyers.
Angsversteurings
Angsversteurings word ook redelik algemeen by veral hiper-aktief-impulsiewe ADHD-lyers gediagnoseer. By die kinders is die voorkoms van skeidingsangs redelik hoog terwyl daar by die volwasse lyers dikwels algemene angs teenwoordig is. (Stimulantmedikasie kan die angsversteuring vererger.)
Obsessief-kompulsiewe gedragsversteuring is nog ’n angsversteuring wat soms met ADHD verbind word.
Onderbroke eksplosiewe versteuring
Hierdie versteuring (intermittant explosive disorder of IED) kom by ’n minderheidsgroep van volwasse ADHD-lyers voor, maar wel meer algemeen as by nielyers.
Die gedrag van lyers aan hierdie versteuring word gekenmerk deur gereelde episodes van impulsiewe, aggressiewe en selfs gewelddadige optrede of verbale uitbarstings wat nie logies verband hou met die omstandighede nie. Padwoede, die mishandeling van geliefdes en die verwoesting van eiendom is nie ongewoon by hierdie versteuring nie.
Dwelmafhanklikheid
Die voorkoms van dwelmafhanklikheid is groter onder mense met ADHD as onder nielyers.
Outismespektrum-versteuring
Volgens die riglyne wat in die DSM-5 gespesifiseer word, kan die diagnose van ADHD ook in die teenwoordigheid van ’n outismespektrum-versteuring gemaak word. In die vorige DSM het die een diagnose die ander uitgesluit. Asperger-sindroom as deel van die outismespektrum-versteuring word nie langer in die DSM-5 gespesifiseer nie.
Outisme-lyers het veral erge probleme met sosiale interaksie en kommunikasie. Hulle toon ongewone en herhalende gedrag en hulle belangstellings is beperk. Sommige lyers het ’n erge taalagterstand, maar nie almal nie.
Leerprobleme
’n Agterstand in lees- en spelvaardighede kom algemeen by kinders met ADHD voor. Probleme met rekenvaardighede kan ook ervaar word. Omdat spesifieke leerprobleme dikwels by ADHD-lyers voorkom, word leerhindernisse verder in hoofstuk 7 bespreek.
In die volgende hoofstuk keer ons terug na die minder tegniese en – uit die ouer of onderwyser se perspektief – meer werklike implikasies van ’n ADHD-diagnose. Ons gesels oor die emosionele realiteit waardeur ouers en onderwysers (om verskillende redes) moet worstel.