Читать книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo - Страница 7
Drie
ОглавлениеNá die vrolikheid by die Kosters is die stilte in die pastorie byna neerdrukkend. Emma het koffie gemaak. Sy bring dit studeerkamer toe. Dis twintig oor vyf en Johan is besig met die aand se Bybelstudie.
“Waar trek ons?” vra sy toe sy die skinkbord op die hoek van die lessenaar neersit.
“1 Korintiërs 3:1-9 onder die opskrif: Die oorsaak van die verdeeldheid. Ek konsentreer op vers een waar Paulus sê hy moes met hulle praat soos met wêreldse mense. Dit is kenmerkend van die wêreld dat hulle jaloers is en mekaar niks gun nie. Ek vra die vraag: ‘Is ek ’n wêreldse mens’?”
“Jou gemeente sal jou vertel wat die wêreld verkeerd doen en vergeet hulle staan self agter die deur.”
“Ek sal hulle daaraan herinner dat Geesvervulde mense soos Geesvervulde mense moet leef.”
“Ja, en ons moet onsself gedurig vasvat.” Emma gaan sit op die stoel skuins voor die lessenaar. “Kom Theuns vanaand?”
“Dis Edwina se beurt.”
“Dan sal ek ook bywoon.”
“Hoe so?” Johan gooi suiker in sy koffie en roer dit tydsaam.
“Ek sien haar te min, selfs by die vrouevergaderings. Johan, sy is bang vir Theuns. Sy sê, hy sê dis net ’n geteedrink en ’n geklets, maar sy wil hom nie teëgaan nie. Ek weet eerlikwaar nie wat haar besiel het om met hom te trou nie. Het sy gedink wat sy doen?”
“Het jý gedink wat jy doen toe ek jou gevra het?”
“Gelukkig het ek nie ’n fout gemaak nie.”
“Onthou jy daai nag?”
“Dit was op die stoep van my oupa se huis in die Boshoff-distrik. Die sterre was nog nooit so helder nie. Die volgende dag is ons Kimberley toe om die verloofring te soek.”
“Ons mag nie die lig aangesit het nie, anders lok ons muskiete. Maar toe kon ek jou in vrede soen.”
“Oupa het gedink jy sal jou soos ’n priester gedra omdat jy vir predikant geleer het.”
“Jy kry wêreldse priesters ook – smulpape en sulke goed.”
“Ons sukkel almal met ons wêreldsheid.”
“Ek teken aan,” sê Johan en skryf: Ons is vlees en bloed, word regeer deur hormone en emosies. Wil ons dit beheer?
“Vra dit, Johan. Wil ons regtig oorgee?”
Hy dink aan Rentia en klein Herman en wonder of sy na hulle verwys, maar hy skuif dit van hom af weg. Die teks werp ook perspektiewe op ander verhoudings. “Paulus moes oorgee en vrede maak met sy gevoelens oor Apollos voordat hy met ’n skoon gewete voor die gemeente kon staan. Hy was jaloers, hy was seergemaak, maar hy het tot die regte slotsom gekom. God gee vir elkeen ’n unieke taak. Paulus plant, Apollos gooi nat en God laat groei. Sommige van ons glo dat ons beheer moet neem en hou wat ons het – soos oom Ollie wat nie die kosterskap wil opgee nie.”
“Ag, my arme man. Wie anders is daar?”
“Ons kan die pos adverteer. As die Here iemand in oom Ollie se plek wil hê, sal Hy ons verras.”
“Theuns is vinnig op pad om ’n groter probleem te word.”
“Met hom het ek nie raad nie. Niemand hou van hom nie, maar as daar gestem word, kom hy in.”
“Hoe verklaar jy dit?”
“Hy is ’n man van sterk beginsels. Dis al waaraan ek my troos.”
“Wat van Gunther? Sal hy nie belangstel om in die kerkraad te dien nie?”
“Ek gaan hom vra om hom verkiesbaar te stel.”
“Volgende jaar begin ons nuut.” Emma sit die leë koffiebekers op die skinkbord. “Rentia gaan Stellenbosch toe. Sy sal nuwe vriende maak.”
Johan se skouers voel styf en seer. Hy sit agteroor in sy kantoorstoel. “Het jy haar toe gebel?”
“Haar foon was op boodskap. Ek kan gou weer probeer, of wil jy?”
“Doen jy dit en sê groete!”
Emma knik. Sy tel die skinkbord op en stap uit. Johan buig sy kop.
Hemelvader, gee tog dat hulle kan praat sonder om te stry.
Hy lees die gedeelte in Korintiërs twee keer stadig deur, stip ’n paar aantekeninge aan en maak sy boeke toe. Iewers in die huis hoor hy Emma oor haar selfoon gesels. Klink soos in die slaapkamer. Hy stap soontoe om sy tande te borsel en sy kerkbroek en wit hemp aan te trek.
Sy sit op die bed met die selfoon teen haar oor. “Pa stuur groete. Tot siens, my kind.”
“Wat sê sy?”
“Sy’s op pad kerk toe.”
“Vriendelik?”
“Stug, maar nie onvriendelik nie.” Sy sit die selfoon op die bedkassie neer. “Ek gaan my nie vandag verder ontstel nie.”
“As sy sê sy gaan kerk toe, gaan sy kerk toe.”
“Klein Herman sal nie Malmesbury toe ry om saam met Rentia kerk toe te gaan nie, of sal hy?”
Johan gaan staan voor Emma, trek haar regop en slaan sy arms om haar. “Kom ons wag tot haar volgende uitslaapnaweek, dan probeer ons weer.”
Emma woel haar uit sy omhelsing. “Ek wil hê sy moet gelukkig wees, sonder klein Herman.”
“Ek ook.”
Hulle maak in stilte reg vir die Bybelstudie. Johan het lankal die aanddienste laat afskaf. Om vir drie mense die hele kerk se ligte aan te skakel, orrel te speel en te preek was waansin – veral as dit gepaardgaan met kragonderbrekings. Die kerkraad wat eers wou vassteek, het sy punt ingesien toe hy hulle aangesê het om hom te help deur self gereeld die Sondagaanddienste by te woon. “Bybelstudie in die konsistorie,” het oom Ollie met die volgende vergadering namens hulle verklaar, “is waardevoller, aangesien dit gemeentelede wat saans wil uitgaan, kans gee om in ’n klein groep om die Woord te verkeer sonder die steurnis van kragonderbrekings. Een lamp is al wat nodig is om die konsistorie te verlig.”
Binne die volgende halfuur sal dit donker wees, maar daar is genoeg lig wanneer Johan en Emma kerk toe stap. Hy moet eerste daar wees om oop te sluit. Dis nie die moeite werd vir oom Ollie om spesiaal kerk toe te kom nie, tensy hy die aandbyeenkoms wil bywoon wat hy deesdae bitter min doen. Die enigste mense wat honderdpersent getrou is, is Theuns en Edwina van den Heever.
Johan hou die kanthekkie vir Emma vas toe die Van den Heevers se voordeur oopgaan en Theuns te voorskyn tree. “Moenie nou kyk nie, maar hier kom Theuns en hy’t gesê dis Edwina se beurt.”
“Miskien sluit hy net die deur vir haar oop,” sê Emma.
“Hoop so, anders het jy nie geselskap nie.”
Hulle wag nie om uit te vind watter een van die twee Van den Heevers by hulle gaan aansluit nie en stap flink konsistorie toe. Die jasmyn wat aan die uitblom is, ruik heerlik en Johan wens hulle kan eerder ’n ver ent gaan stap. “Nog twintig minute voor ons begin,” sê hy wanneer hy die deur oopsluit.
Die konsistorie is warm en bedompig. Hy sit sy Bybel, aantekeningboek en die bottel water wat hy uit die yskas saamgebring het, neer en maak die vensters oop. Emma gaan na haar poshokkie en haal die notule van die laaste vrouediensvergadering uit.
“Naand, naand! Hoe gaan dit vanaand met Dominee en Mevrou?” Dis Theuns wat groet asof hy opdrag gekry het om hulle te vermaak.
Johan sug innerlik. Hoekom voel dit altyd asof hy wil weghardloop as Theuns sy hand weer na hom toe uitsteek? Dis omdat hy hom tien keer op ’n dag met ’n handdruk groet – al verloop daar ook skaars ’n uur tussenin – en hom elke keer vra hoe dit gaan. Niks slegter as vanoggend nie, wil Johan hom soms toesnou, maar hy haal diep asem en antwoord gelykmatig.
“Baie goed, dankie. Waar is Edwina?”
“Sy voel nie te wel nie – ’n vreeslike migraine. Sy vra om verskoon te word. Ek sal aantekeninge maak en die boodskap met haar deel. Ons doen graag Bybelstudie. Kan ek ’n bietjie water kry?”
“Was Edwina al by ’n dokter met haar hoofpyne?” Emma stoot die bottel en ’n glas in sy rigting. Hy sit sy stapel Bybels op sy aantekeningboek neer. Daar is sweetdruppels teen sy slape. “Dokter sê dis spanning. Sy moet leer om te ontspan.”
Emma slaan haar vrouediensboek oop. Theuns gooi te veel water in. Hy vee die oorloop met sy hand van die tafel af en sluk die res te vinnig. “Ek is Maandag weer op die pad, dan raak sy so. Sy kan nie die dogters alleen beheer nie. Hulle is ’n handvol. Dominee het gesien hoe maak hulle vanoggend, hulle het nie ore nie.”
Johan pluk die laaste venster oop. Hy is lus om reguit te wees en vir Theuns te vertel watter berge hy van molshope maak. Maar hy byt op sy tande en bly stil.
Gerda Schoonraad het pas haar kop by die deur ingesteek. “Naand, almal,” groet sy vrolik.
Theuns hou sy hand na haar uit. “Naand, suster.”
“Naand, Theuns.” Sy ignoreer sy hand en wend haar tot Emma. “Ek is bly jy is hier. Daar’s ’n paar punte op die notule wat ek met jou wil bespreek. Ek het dit voorlopig in potlood neergeskryf.”
“Is ek by die verkeerde adres?” Theuns maak kastig ’n grap, maar niemand lag nie. “Suster Schoonraad, ons hou Bybelstudie, nie vrouediensvergadering nie.”
Gerda is nie op haar mond geval nie. “Die Bybelstudie begin oor tien minute. Gun ons intussen ’n oomblik, broer Van den Heever.”
“Dominee, waar is die dae toe mans nog gerook het? Anders kon ons buite gaan staan en dampies maak het tot die vroue klaar geskinder het.”
Emma klap die boek toe. “Gerda, ek bring môre vir jou die groente vir Dinsdag se sopkombuis, dan handel ons sommer die notule ook af. Hoe gaan dit verder met jou?”
“Besig. Ons verwag volgende week ’n bus vol Vrystaters.”
“Die heel laaste blomkykers vir die seisoen?”
“Moenie so seker wees daarvan nie.”
Theuns is verontwaardig. Die vroumense ignoreer hom en dit staan hom nie aan nie. Johan maak asof hy dit nie agterkom nie. Hy gaan sit aan die kop van die tafel, maak sy Bybel oop en staar na die Skrifgedeelte wat hulle vanaand moet behandel. Sy oog dwaal hoër as hoofstuk drie. Maar ons, ons het die Gees van Christus.
Hoekom heers hier dan soveel spanning in hierdie vertrek? Is dit net ek wat dit aanvoel, wat so fyngevoelig is – of versigtig vir konflik? Die oorsaak van verdeeldheid. Wie of wat is die oorsaak? Johan sien uit die hoek van sy oog hoe Theuns hom drie sitplekke van die vroue af tuismaak en sy Bybels nadertrek. Is dit Theuns? Is hy die skuldige? Probeer hy te hard om gaaf te wees of is hy juis nie gaaf nie? Johan weet nie hoe dit vanaand sal gaan met hom en Theuns aan die een kant en Emma en Gerda aan die ander kant nie.
Here, ons het balans nodig. Stuur asseblief nog van u kinders.
Hy spits sy ore en luister totdat hy ’n voertuig naby die kerk hoor stilhou. Dalk reisigers wat by dooimansdeur gaan aanklop aangesien Gerda en Emma albei hier is en hulle twee die dorp se enigste gastehuise bedryf. Maar die insittendes is tog aan die naderstap.
“Bybelstudie Sondagaande!” Dis ’n vrouestem, taamlik uitasem.
Groot Herman Bezuidenhout verskyn eerste in die oop deur. Die oorsaak van verdeeldheid. Dis nie hy nie, dis sy seun wat verdeeldheid in die pastorie veroorsaak. Johan voel ongemaklik. Moet hy vanaand self ook ’n paar lesse leer?
“Is ons laat?”
“Glad nie!” Theuns spring regop. Herman is sy werkgewer en vir hom het hy ontsag. “Naand, Meneer!”
“Ja, Theuns.”
“Ek vat môre die pad Vrystaat toe.”
“Dis Sondagaand, Theuns. Ons praat nie shop nie.”
“Ja, Meneer.” Theuns pluk twee stoele uit.
Andrea, Gerda en Emma soengroet mekaar. Andrea is opvallend bruin gebrand. Haar somerrok het ’n val om die skouers wat haar lae halslyn beklemtoon. Johan hou Emma dop. Hy kan sien hoe haar kop werk. Sy dink die rok is onvanpas.
Gerda sê wat sy wil. “Jy’t lekker gebrand.”
“Dis Margate se son. Hallo, Emma. Het die vleis wat Herman vir die sopkombuis geskenk het by julle uitgekom?”
“Baie dankie, dit het.”
Andrea plak haar langs haar man neer. “Die kok moes dit gaarmaak ook.”
“Sy het en baie lekker. Dankie, Herman.”
Groot Herman knik instemmend. Hy is ’n lopende teenstrydigheid: ’n suksesvolle boer, maar ’n filantroop wat uit sorgsaamheid vir sy werkers nie alles op sy plase meganiseer nie. Sy vrou draai hom om haar pinkie en sy seuns het van kleins af hul sin gekry. Boetie gaan nog skool en hy besit al ’n trop Arabier-perde. Klein Herman is toegelaat om drie jaar op universiteit te mors en drie motors af te skryf. Die laaste tyd leer hy hom glo boer. Of hy dit gaan regkry, is ’n ope vraag. Maar klein Herman is volgens Andrea stiller vandat hy en sy pa op Marta se ongeluk afgekom het.
Dis drie minute voor sewe toe Hennie Gouws en Bakker Bakker opdaag.
Hennie se oë is rooi. “Die baba kry tande. Hilda is gedaan.”
Die geur van varsgebakte brood hang om Bakker.
Theuns skuif sy stapeltjie Bybels haaks. “Edwina kry die vreeslikste migraines,” sê hy om Hennie seker te troos.
Dis seweuur.
Dankie, Vader, ons het lanklaas so ’n groot Sondagaand-opkoms gehad.
“Ons open met gebed,” begin Johan en buig sy hoof. “Onse Vader wat in die hemel is, laat u Naam hier geheilig word, laat u koninkryk kom, u wil ook op die aarde geskied soos in die hemel. So het Jesus ons geleer om te bid en so wil ons vanaand voor U neerval en U vra om deur u Gees die leiding te neem in hierdie bespreking. Gee dat nie een van ons afbreuk doen aan u opdrag om mekaar te vergewe, te respekteer en in Jesus lief te hê nie. Om U te ken, te eer en lief te hê met ons hele hart, siel en verstand.”
“Amen,” sê almal in ’n koor.
“Dis vir my ’n voorreg om julle vanaand in Jesus se Naam te verwelkom. Dankie dat julle hier is.”
Johan maak sy Bybel oop. “Ons skrifgedeelte kom uit 1 Korintiërs 3:1-9. Wie wil vir ons lees?”
Andrea steek hand op. Sy lees helder en foutloos.
Uit ondervinding weet Johan dat haar bydrae aan die bespreking hierby sal volstaan. Dink sy ooit aan die betekenis van die woorde wat sy lees? Hy onthou hoe sy langs Marta se hospitaalbed gehuil het oor klein Herman. Vir die eerste keer was haar seun die toeskouer by ’n ernstige motorongeluk en nie die beseerde nie, en sy wou seker maak dat hy ’n les daaruit leer. Miskien kan hy dit as aanknopingspunt neem as hy eendag die kans kry om met klein Herman te gesels.
“Wat dink julle was die oorsaak van verdeeldheid in die gemeente van die Korinte?”
Theuns sit gereed met sy antwoord. “Naywer!”
“Ja, en wat nog?”
“Jaloesie.”
“Twis.”
“Wêreldsheid.”
Die aand neem sy loop. Hulle deurtrap die gedeelte deeglik. Herman en Andrea is stil, maar luister met aandag. Theuns praat weer te veel. As voorbeelde van wêreldsheid haal Gerda Romeine 1:24-32 aan. Johan beklemtoon die nodigheid van groei in geloof, en dat Geesvervulde kinders van God hulle deur die Gees laat lei, nie deur selfsug en wêreldse begeertes nie. Hennie Gouws maak ’n waardevolle bydrae toe hy verklaar dat ’n mens nie vir die kerk moet werk om beloon te word nie. Theuns stem heelhartig saam. Hy verwag nie om geprys te word vir sy lojaliteit teenoor die gemeente, die predikant en die kerkraad nie. Sy verhouding met die Here is vir hom belangriker as sy gesin – en hulle is sy lewe.
Johan sien hoe Gerda se oë rek. Haar mond gaan oop om iets te sê, maar sy doen dit nie. Bakker staar Theuns aan, sy lippe is saamgepers, sy vingers boor in sy arms wat hy voor hom op die tafel gevou het.
“Die tyd het ons ingehaal,” sê Johan en maak sy Bybel toe. “As enigeen nog vrae het oor die gedeelte, bel my en maak ’n afspraak.”