Читать книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo - Страница 8
Vier
ОглавлениеDie nag slaap Johan sleg. Hy droom deurmekaar en bly so dors hy moet kort-kort opstaan om water te drink.
“Dis Ragel en Tienie se feeskos,” troos Emma, wat ook ’n slag na die waterglas langs haar bed gryp.
Die maaltyd was ryk en oordadig, maar dis Theuns wat die hoofrol speel in sy nagmerries. Hy het soos gewoonlik weer tot heel laaste by die kerk agtergebly – kastig gehelp vensters toemaak, maar so tydsaam dat hulle vanselfsprekend alleen was toe Johan die deur sluit.
“Dominee het gehoor ek ry môre Vrystaat toe, maar ek moet dringend met Dominee praat voor iemand anders weer stories aandra. Dit staan in verband met my dogters. Dominee, hulle is my lewe. Ek wil en sal hulle nie op die spel plaas nie.”
Theuns gebruik die vreemdste uitdrukkings en sy woordkeuse is nie altyd korrek nie, maar dié keer kon Johan nie sy verbasing wegsteek nie. “Wat bedoel jy, watter spel?”
“George van der Merwe wil my ouerlike gesag ondermyn sodat hy kan bewys dat hy reg is, en dis nie goed vir hulle nie. Ek is hulle pa, nie George nie. Hy verwar hulle, erger nog hy …”
Johan het hom nie gesteur aan die onafgeronde sin wat dramaties in die lug bly hang het nie. Hy het ook nie laat blyk dat George hom Dinsdag wil spreek nie. “Hoe laat wil jy kom?”
“Voor agtuur as Dominee nie omgee nie. Ek moet Dinsdag op Bultfontein wees.”
“Halfagt?”
“Seweuur?”
“Afgespreek.”
Theuns het sy kenmerkende kniebuiging gemaak, sy hande biddend voor sy voorkop saamgeslaan, kastig nederig. Johan het gedink dis goed dat hy ook sy kant van die saak aanhoor. Maar vannag het hy gedroom Theuns stoot hom van die preekstoel af en skreeu hy verkondig kettery. Die gemeente is aan Theuns se kant. Hulle eis dat hy vir hulle preek. “Ons is vir Theuns van den Heever! Weg met Johan van Velden!” Bakker en Tienke, Gunther en Marta en sy liewe Emma is die enigstes wat hulle by hom skaar en langs hom kom staan.
Toe hy wakker skrik, was sy mond so dor soos papier en moes hy dit ’n paar keer uitspoel voordat hy beter gevoel het. Hy het vir Emma gesê Theuns wil hom seweuur die oggend spreek, maar het niks van die nagmerrie vertel nie.
Seker gister se Bybelstudie wat by hom gespook het, besluit hy toe hy sesuur onder die stort staan. Hy is saam met die voëls van vieruur af al wakker. Emma het langs hom gelê en snork en hy was weer dors genoeg om suutjies op te staan en dié keer kombuis toe te sluip. Hy het die ketel aangesit en tee gemaak, dit swart met ’n skyfie suurlemoen in gedrink. In die studeerkamer het hy die gordyne oopgetrek en vir die voëls in die blompruim gekyk. Skemerdag het die tuin ’n sagte skynsel gegee.
“Here, gee my wysheid vir hierdie dag,” het hy gebid.
Hy het die Bybel oopgemaak by die boekmerk op die plek waar hy lees.
Esegiël 34: Ek gaan optree teen die herders.
Die opskrif het erg ooreengestem met sy droom.
“Vader, as dit dan ek is wat verkeerd is, laat dit so wees,” het hy gebid.
Hy het die hele hoofstuk gelees en besef dat die Here nie vir hom kwaad is nie, maar dat hy as herder ’n plig het om die Here se lammers te versorg. Dit het hom moed gegee, meer as wat hy verwag het. Theuns se bleek dogtertjies het voor sy geestesoog verskyn toe hy die profeet Esegiël se vermaning lees: Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie?
Daar is dissipline én dissipline, het hy besluit. Theuns is te streng met sy dogters. Hulle is so stil soos muise, maar hy pik gedurig op hulle. Hy hou hulle eenkant. Hy gun hulle nie die normale omgang met maats en ander volwassenes nie. Johan het maande aan hom gearbei om die meisietjies ten minste by die kategeseskool in te skryf. Dis hul tweede jaar en hulle kom goed reg, al mag hulle nie saamgaan na die jaarlikse piekniek op Lambertsbaai nie en al het Theuns alewig die een of ander beswaar teen die inhoud en aanbieding van die lesse.
As hy op reis is, laat Edwina hulle toe om maats te sien – kinders wat hulle in die kategeseskool leer ken het. Talita en Danika gaan nie dagskool toe nie. Hulle word tuis onderrig. Edwina moet dit doen en Edwina het al voor Emma laat val dat sy bekommerd raak oor Talita wat in graad nege is. Sy het nie die vermoë om haar deur matriek te kry nie. Graad tien lê al soos ’n berg voor haar. Sy leer saam met haar dogters en soms snap hulle die uitkoms voordat sy die vraag verstaan. Sy wil hulle skool toe stuur, maar Theuns wil niks weet nie. Hy sal self inspring indien nodig, maar hy is nie alte geduldig nie en sy weet dit gaan hom frustreer.
Edwina help by die kerk. Sy doen naaldwerk vir die Kermis se naaldwerktafel en sy kook vir die sopkombuis – net as Theuns uitstedig is, want hy het besware. Emma het probeer uitvind watter besware, maar Edwina praat dit weg. Sy is stil en eenkant en sy het nie vriendinne nie, behalwe miskien Gerda Schoonraad wat haar al omgepraat het om haar en haar dogters Lambertsbaai toe te vat sonder Theuns se medewete. Dis Gerda wat Edwina by die vrouediens betrek het en wat haar besoek – selfs wanneer Theuns tuis is. Sy het voor Emma laat blyk dat Edwina te sag is vir Theuns. Dit is nie nuus nie. Die dorpsmense praat oor die vreemde Van den Heevers, al kon niemand nog met iets konkreets vorendag kom nie – net dat Theuns besitlik, jaloers en streng is en dat Edwina en die meisies blykbaar daarby aangepas het. Die meisietjies is so pynlik skaam en teruggetrokke – veral Talita. Sy kyk jou selde in die oë.
Theuns se onverdraagsaamheid van gister het by Johan vasgesteek. Hy is gewoonlik geduldiger met hulle. Gister het hy sy frustrasie openlik op hulle uitgehaal. Sou dit die jaarlikse piekniek wees of het die Kersspel hom omgekrap?
Johan besef dat hy te lank onder die stort staan toe Emma aan die badkamerdeur hamer. “Ek het vir jou ontbyt gemaak sodat jy iets in jou maag kan kry voor Theuns jou kom aanvat.”
Dis twintig oor ses. Hy sal moet vinnig afdroog en aantrek om Emma nie teleur te stel nie. Sy het vir hulle die tafel gedek.
“Die Le Roux’s het gebel. Hulle kom môreaand hier oorslaap. Nou nie ’n bus vol Vrystaters nie. Darem twee mense teen driehonderd rand elk.” Emma lyk moeg.
“Is jy seker die gastehuis raak nie te veel vir jou nie?”
“Dis die einde van die seisoen, Johan. Van nou af gaan dit rustiger.”
“Jy werk te hard.”
“Jy ook – maar ons doen dit vir ons kinders. Anders, hoe hou ons hulle op koshuis? Rentia gaan volgende jaar universiteit toe. Die gastehuisgeld is vir hulle studies, Trewwie s’n ook. Ons het verantwoordelikhede en die gemeente kan nie vir alles betaal nie.”
“Ek voel sleg dat jy jou vir hulle ook moet afsloof.”
“Dis platteland, dominee Van Velden. Hulle glo nog daaraan dat hulle twee vir die prys van een kry. My verpleegsterspos is klaar ’n toegewing. Predikantsvroue behoort mos nie uit te werk nie.”
“Die kliniek kan nie sonder jou nie.”
“Die provinsie sal wel iemand invoer as ek bedank. Intussen hou ons wat ons het en tel ons seëninge.”
Emma steek haar hand uit om koffie te skink toe die voordeurklokkie lui. “Eet klaar. Ek sal gaan oopmaak,” sê sy en spring op.
Rosie, wat net sesuur inkom as hier gaste is, is nog nie aan diens nie, anders sou sy gegaan het.
Johan skink sy koffie en spits sy ore. Dis Theuns wat homself aankondig. Sy maag keer om. Oorkant hom teen die muur hang sy versameling ou groepfoto’s van kerkrade en predikante. Hulle staar hom streng aan, netjies in swart pakke met wit dasse. Ja, daardie dae was swart nog swart en wit nog wit. Hoe sou hulle die geval van Theuns van den Heever hanteer het, of was dit toe die norm dat vaders hul gesag ten koste van hul kinders laat geld het? Johan se ouers was nie so nie. Hulle was goeie kerkmense maar nie bekrompe nie. Emma se ouers het haar nou wel in ’n rigting gedryf, maar sy is nie spyt dat sy vandag ’n opgeleide verpleegsuster is nie.
Johan sit sy koffiekoppie neer toe Emma langs hom verskyn.
“Dit is toe hy. Sterkte.”
“Dankie.” Hy haal diep asem en stap studeerkamer toe. Dis sy domein hierdie en Theuns sal in sy spoor trap. Hy sal nogtans sy woorde moet tel. Theuns het al gedreig om sy eie huiskerk te begin en dit moet hy tot elke prys vermy.
Here, wees ons asseblief genadig.
Theuns sit op die punt van die stoel skuins voor die lessenaar. Hy spring regop toe Johan instap.
“Môre, Dominee!” En hy steek sy hand uit.
Johan groet gewillig. Ten minste sal dit vandag net twee keer gebeur – nou en netnou wanneer hulle afskeid neem.
“Dag, Theuns. Is jy reisvaardig?” Sy joviale stem weerklink vals in sy eie ore.
“Ja, Dominee, maar ek is bekommerd.”
Johan maak hom agter die lessenaar tuis. Hy hou van die afstand. Dis veilig waar hy sit. “Hoe so, Theuns?”
“Daar is redes hoekom ek en Edwina nie ons dogters in die kategeseklas wou inskryf nie.”
“Ek dag ons het dit deeglik uitgepluis?”
“Ja, maar, Dominee, daar is nou ander dinge wat ek nie voorsien het nie.”
“Soos wat?”
“Die konsert.”
Johan hou hom dom. “Konsert? Watter konsert?”
“George sê dis ’n Kersspel en almal doen dit. Dis juis waar die euwels begin. Om ’n pop in ’n kastige krip te sit en te maak asof dit Jesus is en om Maria en Josef soos die Katolieke voor te stel, is sonde. Dis beeldeaanbidding. Die hele dorp se kinders gaan glo deelneem, tot die skool en almal. Hoe werk dit as hulle ander klere moet aantrek? Wie hou toesig? Ek weet wie se kinders is almal in die dorpskool. Ek sien hulle. Dis Herman Bezuidenhout se plaaswerkers se onopgevoede gebroedsels. Van daai seuns is vervloeks al twintig en hulle sit in graad elf. Hoe meng jy hulle met ons kinders? Dominee weet wat sewe jaar gelede hier op dié einste dorp aangegaan het – verkragting van en moord op skoolmeisies deur skoolseuns. Dink Dominee dit het verander? Hulle doen dit nog, helder oordag. Ek gaan nie my dogters se reinheid op die spel plaas nie en ek kan nie insien hoe Dominee die res van die kategeseskool wil blootstel nie, Dominee verstaan.”
Johan se ore tuit. Theuns het sag begin, maar hoe verder hy gevorder het, hoe harder het hy gepraat – totdat hy skielik stoom verloor het.
Johan tel sy pen op, tik liggies op die oop dagboek voor hom. “Goed, Theuns, wat wil jy eintlik sê?”
“Ek sê nie, Dominee, ek waarsku – hier kom ’n ramp.”
“Wil jy hê ons moet die konsert kanselleer?”
“Dit sal die regte ding wees om te doen.”
“Ons gaan baie kinders en grootmense teleurstel as ons dit doen.”
“Dominee, ‘As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word’!”
Theuns raak so opgesweep, sy gesig is vlamrooi, sy oë blits.
“Theuns, broer,” probeer Johan hom kalmeer. “Jy haal korrek aan, maar dis uit konteks. Hierdie is ’n onskuldige kinderkonsert wat al jare deur die skool aangebied word en wat nou in samewerking met die kerke gedoen word om die hele gemeenskap te betrek. Dis dieselfde kinders wat jaar ná jaar die Kersspel by die skool opvoer en nog nooit het iets verkeerd geloop nie.”
“Weet Dominee wat agter die skerms aangaan?”
“Nee, miskien kan jy my inlig.”
“Ek weet ook nie, maar ek kan my voorstel.”
“Die skool staan op Christen-beginsels. Meneer Stals sit saam met jou op die kerkraad. Jy ken hom.”
“Net in die kerkraad. Ek was nog nooit in sy huis nie, en ek stel ook nie belang in sy vriendskap nie. Dominee, skoolseuns wat onder sy toesig is, verkrag en vermoor en geen Christelike beginsels sal dit uit hulle kry nie!” Theuns skuif so gevaarlik nader aan die punt van die stoel, Johan verwag dat dit enige oomblik vooroor gaan kantel. “As Dominee met hierdie konsert wil voortgaan, sal ek my en Edwina se lidmaatskap aan Dominee se kerk ernstig moet heroorweeg. My dogters het in alle onskuld hulle name op die konsertlys geskryf, maar dit kom af. George het my beswaar op skrif en hy – oor hom sê ek liewer niks. As Dominee wil hê ek moet dit vir die kerkraad ook stel, doen ek dit.”
Met dié spring Theuns so skielik op dat die stoel wel kantel en hy dit vinnig moet raakvat. Sy geronddans is so komies dat Johan sy lag moet inhou. Met sy gesig afgewend skuif hy sy boeke en penne reg voordat hy weer opkyk.
“Broer, ek neem kennis van jou besware en ek sal dit oordink. Maar ek wil hê jy moet ook nadink oor wat ek nou vir jou gaan sê.” Johan het nie die vaagste benul nie. Wat sê jy vir iemand wat so negatief en onchristelik is? “Raak nou eers rustig. Moenie ontsteld op die pad gaan nie. Wat van ’n koppie koffie?”
Theuns bewe soos ’n riet. “Dink Dominee kafeïen is wat ek nou nodig het?”
Johan probeer sy vaderlike glimlag. “Jy is reg. Jy het eerder tyd nodig. Is jy klaar gepak?”
“Die kar staan voor die deur. Ek wou my saak kom stel …”
Lig, God se lig, sif deur die donker. Johan gryp dit aan en praat sonder dat hy na woorde moet soek. “Jy het gepraat,” sê hy. “En ek verstaan jou kommer. Wat ek wil voorstel is – probeer om jou in die plek van die kinders te plaas. Hulle is nie almal onopgevoed en ongedissiplineerd nie. Van daardie groot seuns sing in die koor. Juffrou Pool en Gunther Swanepoel is die afgelope weke besig om hulle af te rig. As jy terug is, wil ek hê jy moet saam met my na een van hulle oefensessies kom luister. Dis wonderlik wat hulle met die kinders regkry, glo vir my. Hulle doen hul bes en daar is toesig. Ons sal mos nou nie die kinders aan hulleself oorlaat nie.”
“Ek het beginselbesware.”
“Theuns, broer, ons doen hierdie Kersspel nie om mense te aanbid nie, maar om God te eer. Ek wil hê jy moet jou dogters se deelname heroorweeg. Dis soos om in die kerk te sing. Dis soos om jou hart te gee.”
“Dominee, jy moenie op my gevoelens speel nie. Ek is nie ’n vroumens nie. Ek is priester en profeet en koning. Ek is hoof van my huis.”
“Ek stry nie met jou nie. Ek respekteer jou. Al wat ek van jou vra, is dat jy my ook respekteer. Bid oor hierdie saak. Dink daaroor na. Genade, Theuns, het jy die Kersbome van jou kindertyd vergeet, die Kerskonserte? Onthou jy die geskenke wat oom Maans en tant Alida aan die skool se Kersboom opgehang het? Onthou jy hoe opgewonde julle destyds was en hoe julle geraai het watter soort lekkers julle gaan kry, watter verrassing?”
Skielik lyk Theuns verbaas. Hy gaan sit weer op die stoel, stadig soos ’n ou man. “Hoe weet Dominee van die ou dae? Jy is nie van hier nie.”
“Mense praat, mense vertel my van die goeie tye toe die dorp nog gegroei het en hier jongmense was wat matriek geskryf het en wiskunde en wetenskap by meneer Koster gekry het. Julle het gereeld konsert gehou en mevrou Swanepoel het saam met die koor gesing. Sy’t my vertel dat die onderwysers en kinders Kersaand deur die strate geloop en Kersliedere sing het. Sy onthou dat jy kon sing en toneelspeel, maar meer van rugby gehou het. Sy moes jou soebat om in die operette op te tree – en jy het op die ou end.”
Theuns gluur hom wantrouig aan. “Wat weet Dominee nog van my?”
“Net wat die Swanepoels my vertel het. Jou naam het toevallig ter sprake gekom toe ons deur meneer Koster se plakboek geblaai het. Kan jy die Kersliedere onthou?”
Theuns kyk af. Hy vryf ’n slag met sy hande oor sy bobene. “Dit was anders, nie soos nou nie.”
“Ons probeer dit terugbring. Help ons daarmee.”
“Nie ten koste van my dogters nie.”
“Gun jy hulle nie ook wat jy gehad het nie?”
Theuns lyk gedaan. Hy steier orent. “Dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Die Here weet, die lewe is nie maanskyn nie.”
“Alles kan nie perfek wees nie.”
“Ek gaan nou. Ek het ’n lang pad voor my.”
“Oorweeg jou besluite deeglik. Dink, Theuns.”
“Ek sal vir Dominee kom sê, as ek terug is.”
“Bid daaroor.”
Theuns antwoord nie. Hy kies koers deur toe. Johan loop agterna om die voordeur vir hom oop te maak. Hy het gistermiddag vir die eerste keer gehoor dat Theuns van den Heever ook by meneer en mevrou Swanepoel klas geloop het. Hy is so drie jaar jonger as Gunther en Gunther kon nie veel oor hom vertel nie, behalwe dat hy vinnig kon hardloop. Oom Maans en tant Alida se Kersboom was een van die ander mooi stories wat oom Swanie opgerakel het. Johan het ’n kans gewaag toe hy Theuns daaraan herinner het. Nee, die Here het die woorde in sy hart en in sy mond geplant – en dit het die regte snaar geraak.
By die deur draai Theuns om en steek sy hand na Johan toe uit. “Tot siens, Dominee. Hou maar ’n ogie terwyl ek weg is. Edwina sukkel sonder my. Dis my werk wat my wegvat.”
“Ry versigtig en kom veilig tuis.”
Theuns se handdruk hou ’n rukkie langer aan as gewoonlik. Dit lyk amper asof hy nog iets wil sê.
Hy laat los en stap kar toe sonder om om te kyk.