Читать книгу Ter wille van Talita - Helena Christina Hugo - Страница 9

Vyf

Оглавление

“Ek het ’n gevoel ek moet vandag nog oorstap na Edwina. Ek wil nie agter Theuns se rug omgaan nie, maar sy sal nie hiernatoe kom nie en daar’s goed wat ek dringend moet uitvind. Ek het hom nie gevra of hy sy dogters verbied het om aan die Kersspel deel te neem nie, ook nie wat Edwina daarvan dink nie.”

Emma het haar verpleegstersuniform aan, haar noodhulptassie byderhand. Sy is op pad na Ciska om haar voete te verbind. Daarna doen sy ’n voormiddagskof by die kliniek. Sy lyk asof sy die nuwe week moedig aanpak.

“Weet Edwina dat Theuns hier was?” vra sy.

Johan haal sy skouers op. “Ek is nie seker nie. Ek ry in elk geval eers Lambertsbaai toe na oom Maans. Herman het gevra. Hulle was gistermiddag soontoe en sy pa het hulle glad nie herken nie. Die ding dat Marta skielik verdwyn het, het die oumense sleg gevang. Oom Maans verstaan nie. Hy hou aan dat sy haarkapper oorlede is.”

“Dis Maandag. Jy sal Edwina moet kans gee om wasgoed te was en haar kinders se skoolwerk aan die gang te kry. Ek kan bel en vra of haar migraine beter is en of sy wil rys kook vir Dinsdag se sopkombuis. Sy sal sê of sy reg is vir besoekers.”

“Goed, bel jy en maak vir my ’n afspraak.”

“Wat gaan aan met Theuns?”

“Hy was Sondagoggend onredelik. Maar ek het vanoggend sy weerlose kant gesien. Iets het in sy lewe verkeerd geloop.”

“Nie hier nie. Hier het hy, volgens alle getuies, gebalanseerd en gelukkig grootgeword.”

“Dit kom van die tyd toe hy weg was, toe hy vir sy pa op Malmesbury gaan werk het. Wonder waar het hy en Edwina mekaar ontmoet.”

“Sy praat van Somerset-Wes.”

“Die verlede is hulle saak. Ongelukkig het dit ’n uitwerking op die hede en op die toekoms van die dogters. Ek moes gisteroggend gepraat het toe hy Danika aan haar vlegsel rondgeruk het.”

“Jy soek al so lank na ’n rede om in te gryp, dis jammer jy het nie.”

“Miskien gee die Kersspel my een. Hoe dit ook al sy, daai gesin het hulp nodig.”

Emma raak liggies aan sy wang. “Moet ek vir Rosie vra om vir jou tee te maak?”

“Nee, dankie – ek ry nou dadelik.”

Sy soen hom tot siens. Hy kry die geur van haar parfuum, iets soos ’n mengsel van angeliere en varings – ’n vars, koel geur kenmerkend van niemand anders nie as Emma. “Lief vir jou,” sê sy.

“En ek vir jou,” sê hy en hy bedoel, nes sy, elke woord. Hy weet dat sy hom liefhet en dat hulle saam die Here liefhet.

In die bakkie op pad Lambertsbaai toe dink hy nie aan oom Maans nie, maar aan Theuns en Edwina. Saam lyk hulle soos twee wandelen­de lyke. Hulle praat skaars met mekaar en hou hulle hooghartig teen­oor ander mense. Die meisietjies tree op soos poppies wat in ’n glaskas woon en per geleentheid uitgehaal en afgestof word. Trouens, dit lyk asof die gesin hul verskyning vooraf repeteer en sorg dat hulle by die teks hou en toneel speel dat dit klap totdat hulle veilig terug is in hul donker huis, alles rondom hulle diggemaak. Kon Gerda Schoonraad dalk al daar ’n deur of twee oopkry, ’n kas, ’n laai? Hy vermoed sy weet meer van wat agter die skerms aangaan, maar sy is nie ’n vrou wat stories aandra nie en hy nie ’n predikant wat sy gemeentelede onderling met mekaar bespreek nie. Hy luister en hoor wat hulle sê, maar hy sal nie vis nie. Dis Emma wat hom dikwels die nodige skietgoed kom gee om die vrae te kan vra wat hom by die waarheid uitbring. Mense kan die sedigste gesigte opsit wanneer hulle hul predikant of sielkundige om die bos wil lei. Theuns van den Heever het hom aan die begin oortuig dat hy ’n reus in die geloof is, en hy is nie.

Johan het vars lug nodig, gedagtes wat hom nie in die duisternis aftrek nie. Hy draai die bakkie se ruit af en laat die wind van die duineveld af deurwaai. Dit ruik na kruiebos en skoon grond. Links van hom lê die see vandag helderblou, die duine spierwit. Hy wens hy kan die bakkie in een van die inhamme parkeer en kyk hoe die golwe aanrol, ’n ruk lank alleen met sy Skepper verkeer – hier waar daar nie ’n mens in sig is nie en min ander verkeer.

As jy nie konsentreer terwyl jy bestuur nie, kan jy jou lewe op die stil pad tussen die see en die duineveld verloor. Marta sê sy het te vinnig gery en weggekyk. Wat ’n bestiering van Bo dat Herman Bezuidenhout en klein Herman daardie middag ’n pap band moes omruil juis naby die plek waar sy haar Mazdatjie laat rol het. Sy kon vir ure alleen in daardie wrak vasgekeer gewees het. Sy kon haar doodgebloei het. Maar die Here het haar en die Bezuidenhouts met perfekte tydsberekening op een punt bymekaargebring. Was daardie ongeluk nodig?

Johan draai die ruit weer op. Die veldgeure bly om hom hang en hy asem diep in. Hy glo die Here het ’n plan met alles, selfs met die slegte dinge wat Hy toelaat om te gebeur. Hy het Marta tot rus gebring. Hy het haar kans gegee om Hom van nader te leer ken. Johan het diep gesprekke met haar en Gunther gehad, ook met haar suster, Maria, en dié se predikantman toe hulle kom kuier het en by hulle in die pastorie tuisgegaan het. Maria het soggens vir Ragel gaan help om Marta te versorg en nie van Ragel verwag om hul gasvrou te wees nie. Die Here het die Kosters geseën met Marta se noue ontkoming. Hulle het mekaar van voor af liefgekry en leer waardeer. Miskien het die Here klein Herman ook ’n slag tot sy sinne geruk, wie weet? Andrea en groot Herman kuier die laaste tyd gereeld by oom Maans, selfs al herken oom Maans hulle nie meer nie. Die bande wat hulle bind, is stewiger, die besef dat die lewe kort is, meer akuut.

Het die Here ’n plan met Theuns en Edwina en Talita en Danika?

Ja, beslis.

Dis versteek, maar dis daar en sal mettertyd aan die lig kom.

Maar, Hemelvader, werk saggies met die meisietjies. Hulle is onskuldige kinders. Werk saggies.

Johan keer die knop in sy keel. Het hy sy plig jeens hulle versuim? Is dit nou besig om hom in te haal?

Die gedagtes jaag hom, maar hy moet drasties spoed verminder. Lambertsbaai is wel groter as sy eie dorp maar ewe rustig en slaperig – ’n tipiese vakansiedorp by die see. Hy hou by die stadige pas en ’n kwartier later draai hy by die hek van die tehuis in en kry ’n parkeerplek onder een van die bome. Die skaduwee is nog lank en sal nie wegkrimp voordat hy klaar is met sy besoeke nie.

Dankie, Here, flits dit deur sy gemoed, ook vir die skaduwee. Toe voel hy skuldig oor die ramp wat hy vir die Van den Heevers in die vooruitsig het. Die Here werk nie net deur ongeluk en siekte nie, Hy werk ook deur bekering en vergifnis en genesing. Die Here verras en verwonder. Hy bring lig waar daar duisternis is en insig waar onkunde en verwyte mense blindelings laat voortstrompel het. Een straaltjie is nodig om die donkerste nag te verlig. Musiek kan dit doen, die Kersspel kan.

Maak Theuns se hart ontvanklik vir die saad wat vanoggend gesaai is.

Johan haal sy selfoon uit en skakel dit af. Hy sit sy Sakbybeltjie in sy sak en onthou van oom Maans.

Raak asseblief oom Maans se verstand aan, Here, dat ek met hom ’n gesprek kan voer.

Toe hy uitklim, ruik hy die seelug. Daar speel ’n koel windjie deur die bome en struike en niemand is buite in die tuin nie. Hy gewaar tog ’n paar van die oumense op die stoep. Dis ook oom Maans se gunstelingplek, maar Johan moet eers by die sekuriteitshek verby om op die stoep te kan kom.

Die matrone is in haar kantoor aan diens. Sy staan agter haar lessenaar op. “Dominee Van Velden!” roep sy.

Hy sou haar gaan groet het, maar dit lyk asof sy bang is hulle loop mekaar mis.

“Dag, Matrone. Hoe gaan dit?”

“Goed met my, nie vandag so goed met oom Maans nie. Ons het die dokter laat kom en vir Herman gebel. Hy is op pad. Dominee kom asof Dominee gestuur is.”

“Herman het my gisteraand by die kerk gevra.”

“Ja, hulle was gistermiddag hier.”

“Hoe gaan dit met die ander, tannie Hester en ouma Bettie?”

“Baie goed, net ontevrede met die nuwe haarkapper. Hoe gaan dit met Marta?”

“Uitstekend. Sy en Gunther Swanepoel het gister verloof geraak.”

“Wonderlik! Wanneer kom werk sy weer?”

“Dit sal ongelukkig ’n tydjie neem. Ek dink ek stap solank. Is oom Maans in sy kamer?”

“Ons het hom siekeboeg toe verskuif, dan kan die susters hom beter dophou.”

“Dankie, Matrone.”

Nou eers besef hy hoe siek die oom is. Hy wil aanstap toe die diensklokkie lui en hy Herman en Andrea en, tot sy groot verbasing, vir klein Herman agter die sekuriteitshek gewaar.

“Dankie dat jy gekom het,” sê Herman. “Ek het nie verwag dat jy so vroeg al hier sou wees nie. Dag ek bel jou as dit dringend raak.”

“Ek het belowe.”

Oom Maans lê hom na aan die hart. Nou is klein Herman ook hier. Die kind lyk gespanne en bleek. Sy gewone bravade het plek gemaak vir ’n soort versigtigheid. Hy groet onseker, sy stem hees. Toe hulle aanstap, sit Andrea haar arm om sy skouers. Skielik lyk hy vir Johan kinderlik jonk en onskadelik.

’n Besige verpleegster trippel in die gang by hulle verby. Sy groet vrolik. Hoe voel dit vir haar om heeldag met die oues op die rand van die graf te werk? Emma sou sê dis om’t ewe – siek mense is siek mense. Dit breek jou hart as dit kinders is. Waarom sien hy nou weer hoe Theuns sy jongste dogtertjie aan die vlegsel rondruk? As hy dít op straat doen, wat doen hy waar niemand hom kan teëgaan nie?

Die saalsuster kom hulle tegemoet. Matrone het haar seker laat weet.

“Dit gaan nie goed nie,” sê sy sag.

Oom Maans is in ’n privaatkamer. Johan ken die kamer. Dis die sterwenskamer. Hulle stoot uiterste gevalle hiernatoe. Herman weet dit gelukkig nie. Sy ma het een nag sag in haar slaap gesterf. Geen teken van siekte of pyn nie. Die vorige dag het hulle die oumense nog uitgeneem Weskusrestaurant toe, viskos geëet en ’n ent langs die see gaan ry. Hulle het eers gedink dis die skulpvis, maar sy was nog nooit allergies vir iets nie en nie een van die ander het siek geword nie. Haar hart wat die vorige dag nog sterk geklop het, het bloot gaan staan. Haar vrolike laggie het stil geword. Oom Maans was daarna nooit weer dieselfde nie.

Hy lê op sy rug, suurstofbuisies in sy neus, sy dun profiel nog dunner as ’n week gelede. Herman gaan staan onseker langs die bed. Hy byt op sy tande, sien Johan. Andrea en klein Herman stol by die voetenent.

“Pa?” Herman lyk asof hy enige oomblik gaan verkrummel. Oom Maans roer nie. “Pa, ek is hier.”

Geen reaksie nie.

Herman kyk hulpsoekend na Johan.

“Kom ons bid.” Johan maak ’n gebaar om Andrea en klein Herman in te sluit. Hulle staan nader, klein Herman tussen sy ma en pa. Hulle omarm mekaar, hou mekaar vas. Johan staan aan die ander kant van die bed. Dis goed so. Hy is die predikant, ’n broer in Jesus, maar nie bloedfamilie nie.

“Hemelvader, ons is hier om ons dankbaarheid te betuig teenoor Maans Bezuidenhout, oupa en vader, geliefde vriend en leier wat soveel vir sy dorp en sy mense beteken het. As gesinsman is hy ewig lief vir hulle wat die naaste aan hom is – sy vrou wat hom vooruitgegaan het, sy dogter wat oorsee woon en sy seun en skoondogter, die kleinkinders op wie hy baie trots is. Hy was goed vir die grond wat hy sy hele lewe deur bewerk het, die werkers op sy lande, die diere en die veld. Die see het hom gefassineer. Bo alles is hy lief vir U, Here Jesus. U weet hoeveel ons nog vir hom wou sê, hoeveel ekskuse en jammers. Maar dit was die laaste tyd moeilik om te gesels. Vandag sê ons dankie, Pa. Dankie, Oupa en oom Maans. Dankie. Dis by u wat ons geleer het om uit te deel en te seën en onvoorwaardelik lief te hê. Oom, Pa, Oupa, u loop voor en ons kom agterna. Ons dra u op aan die genade van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Amen.”

Niemand roer nie. Hulle luister na oom Maans, hoe hy asemhaal. Buite in die gang word ’n trollie verbygestoot. Verpleegsters gesels gedemp. Johan weet nie of die sterwende die gebed wat aan hom opgedra is, gehoor het nie. Miskien tog. Hy buk oor en druk die maer hand saggies. “Rustige dag, oom Maans. Ek kom môre weer.”

Andrea is die enigste een wat haar oë ’n oomblik van die sieke kan wegneem. Haar mond vorm die woord “dankie”. Johan druk Herman se skouer in die verbygaan en rus sy hand teen klein Herman se rug. Nie een maak ’n geluidjie nie.

Dis ’n verligting om by die ander oumense te gaan inloer en gesellige kuiers te kuier in sonnige kamers. Tannie Bettie bly nog in haar eie woonstelletjie. Sy is aan die kousies brei vir haar derde agterkleinkind. Sy oorhandig ’n pakkie wat hy vir Marta moet gee, iets om haar gestel te versterk. “Dis Turkish Delight. Sy hou daarvan. En sê vir haar geluk met haar verlowing. Ons wens haar ’n lang en gelukkig huwelikslewe toe.”

Die lewe is iets wat geld nie kan koop nie, besef Johan net weer toe hy twee uur later in sy bakkie klim. Die kajuit is nog in die skaduwee en koel. Die Bezuidenhouts se viertrek staan in die son. Miskien sal hulle later ry om iets te ete te soek en dan weer terugkom of aanstoot huis toe. Hang af. Oom Maans se einde is naby, maar hy kan nog weer regkom en uit die sterwenskamer na sy eie kamer toe teruggestoot word. Die Here het sy eie tyd. Oom Maans kan bykom en vir oulaas sy seun se naam sê. Hulle kan mekaar in die oë kyk en onthou. Enigiets is moontlik. Maar dat klein Herman saam met sy ma en pa langs sy oupa se sterfbed kom staan het, sou Johan nie kon glo nie. Vandag het hy gesien dat daar ’n hart in die haantjie se lyf is, dat hy omgee vir sy oupa. Hy sal vir Emma sê hulle oordeel te maklik. Klein Herman kan nes Theuns van den Heever ook seerkry.

Johan skakel sy selfoon aan. Daar is twee onopgeëiste oproepe en vier boodskappe. Een van die oproepe en een van die boodskappe kom van Emma. Die ander is almal van Theuns.

Ter wille van Talita

Подняться наверх