Читать книгу Mispa - Helena Christina Hugo - Страница 10

Hoofstuk 5

Оглавление

Willem onthou om sy rookgoed saam te neem, ook ’n hemp en stewels. Hy sit nog water op die stoof en gooi koffie in die koffiesak. Toe trek hy eers aan en stap uit in die grouheid van die voordag. Sy honde wat intussen weer teen die agterdeur gaan lê het, gaap en loop vaak agter hom aan.

Die reent wat met soveel windlawaai gepaardgegaan het, het nie veel indruk gemaak nie. Die grond is nat, maar hy merk nêrens enige modderplasse nie. Miskien is daar meer water veldin. Hy brand om op te saal en te ry, maar Caroline is in kraam en hy sal nie kan wegkom voor dit verby is nie.

Hy gaan sit op die melkkamer se stoepie, steek sy pyp op en trek die rook diep in.

Verbeel hy hom of hoor hy ’n vrou skree? Caroline?

Sy moet moed hou, dis nou-nou oor en verby, dan kan sy rus.

Sy het swaar gedra aan hierdie kind en die laaste dae was moeilik – vir hom ook. Sy was in haarself gekeer, ingedagte en ongeduldig. Gister was sy stug te midde van die feestelikheid, maar kon tog nie anders as om beleefd te wees teenoor Jacoba wat langs haar gesit het nie. Hy hou van Jacoba se oudste seun. Die jongman het ’n kop op sy skouers en die familietrekke is duidelik. Sy ma was nie verniet eers met sy pa se broer getroud nie en Arnoldus is sy kind. As hy weet hy kry so ’n hardwerkende seun laat doop hy die nuwe kleintjie Arnoldus Renier. Dalk dié dat Jacoba hulle so uitgevra het oor name. Sy wil hê hy moet sy oom vernoem. Wat sal dit wees – ’n seun of ’n dogter? Hulle het reeds vier seuns en twee dogters. Nog ’n meisiekind en die vroumense raak hom oor. Hy sal nie weet hoe om hulle te hanteer nie. Seuns word wild groot, maar meisies is anders en Maria is klaar sy oog se appel.

Hy onthou hoe onhandig hy was toe Caroline haar die eerste keer in sy arms gesit het. Sy was soveel kleiner as die seuns en boonop van kop tot toontjies so volmaak, hy het haar dadelik liefgekry – Maria Elizabeth. Hulle moes haar volgens gebruik na sy kwaai skoonma vernoem en sy aard nogal na die ouvrou – net so eiesinnig. Maak nie saak nie, sy besit sy hart so volledig dis moeilik om te verklaar. Miskien sien hy in haar die terglustigheid en lewenslus wat Caroline te gou verloor het.

Die klein merrie het gister byna sy Bybelvoorlesing verongeluk met haar samespraak. Tog verstommend hoe goed sy die gedeelte uit haar kop ken! As hy dit vooraf geweet het, het hy haar op die tafel getel en haar dit laat voordra. Sy sou dit geniet het. Ja, eendag sal sy iemand wees – die vrou van ’n groot staatsman of ’n koningin soos Ester van die Bybel. Beste van als is, sy is sy dogter en sy dogter sal sy bly.

Willem kyk ver. Hy kyk verby die rook wat hy uitblaas en sien die heuwels al blouer afsteek teen die grouheid van die skemerlug. Die skaduwees krimp, maar die velde lê nog net so wyd soos elke ander dag op Mispa – die plek waar die Almagtige vir Hom ’n toring gebou het sodat Hy sy skepsels kan dophou.

Dis die storie waarmee sy pa die hel se vrees in hom ingepreek het, maar dis ook hoe hy met sy swaarkry vrede gemaak het. Die Here sien, Hy kyk en sien nie net die kind wat huil van uitputting nie, maar ook die pa wat die platriem lig en slaan.

Vandag kyk hy met trots na die werk van sy hande. Hy is die baas van hierdie plaas. En gisteroggend wil Jan Adriaan sowaar weer vir hom kom sê hy het ook erfreg, volgens wet moes hulle pa die grond tussen al sy seuns verdeel het. Vir wat?! Hy het drie man se werk gedoen voordat hy veertien was. Waar was Jan Adriaan en oorlede broer Daan toe? Aan die blink klippies uitkrap saam met die ander skelms van Sodom en Gomorra, Jan Adriaan soos ’n skoothondjie agter Daan aan die verderf in en nou wil hy ’n stuk van Mispa kom inpalm. Hebsugtig sonder gelyke …

Willem skreef sy oë. Verbeel hy hom of sien hy iemand by die sydeur uitstap. Kan einste Jan Adriaan wees, hy het gesê hy wil vroeg inspan, Neels ook. Net jammer Caroline kan nie sonder Hester nie, maar dalk is sy nie langer nodig nie. Die son skiet sy eerste strale uit en die werfhaan spring op sy stellasie en kraai. Vandag kondig hy nie net die dagbreek aan nie, hy kondig die geboorte van ’n nuwe seun vir Mispa aan.

Met ’n glimlag om sy mondhoeke staan Willem en opkyk na die bokamer waar hy minute gelede sy vrou aan die genade van ou Sêrah agtergelaat het. Hy druk sy pyp dood en stap flink kombuis toe. Die honde wat sy gemoedstoestand sien verander het, draf kwispelend agterna. Doelie is op haar pos en het koffie gemaak. Sy roer in die pappot, haar skouers styfgetrek.

“Môre, Doelie.”

“Seur Willem.”

“Is Sêrah nog bo?”

“Ja, my seur. Dit gaan swaar.”

“Hoe weet jy?”

“Nôi Hessie het kom koffie haal.”

“Ek dag die kind kom met die dagbreek.”

“Partykeers wil hy nie.”

Willem sak in sy stoel neer. “Skink vir my.”

Sy is klaar daarmee besig. Hy gooi suiker en melk in, vat ’n beskuit en sit dit weer terug. Wat gaan aan? Caroline was voorheen lank in kraam, maar toe was die pyne flou en ver uitmekaar, nie so intens soos hy ’n uur of twee gelede waargeneem het nie. Hy is bekommerd. ’n Uitgerekte geboorte kan gevaarlik raak.

Doelie lig een van die skinkborde met koffie en beskuit. “Ek vat vir hulle nog drinkgoed.”

“Waar is Siena?”

“Sy help saam met nôi Hessie.”

Willem brand sy mond toe hy te vinnig sluk. Wat moet hy doen – boontoe gaan of hom besig hou met die melkery? Hy trek Daniël se gatvelle af as hy nie vanoggend opdaag vir werk nie.

“Die dag ná Kersfees en die partytjie is verby.” Klink soos Susanna, en dit is. Sy loop reguit na hom en kom sit haar hande op sy skouers. “Môre, swaer Willem.”

“Dag, Susanna. Jy is vroeg.”

Sy het ’n bloes aan met baie valle, ’n hoë kraag wat seker veronderstel is om haar gesig te versier. Dit help nie – sy frons steeds asof sy gereed is om te pik.

“Ons is op pad. Jan Adriaan het gaan kyk of daar iemand by die stalle is wat kan help inspan.”

“Danko.”

“Dis die dag ná Kersfees, hulle maak hul eie brousels.”

“Danko en Hansie slaap in die stalle. As hulle onkapabel is, help ek.”

Sy kom sit langs hom en tuit haar mond asof sy ’n soentjie soek. “Wil jy so graag van ons ontslae raak?”

“Jan Adriaan het gisteraand gesê hy ry vanoggend, of is ek deurmekaar? Caroline se pyne het laas nag begin.”

“Siestog, ja. Ons het wakker geword van die onrustigheid. Hoe gaan dit?”

“Te stadig.”

“Het iemand dalk tee gemaak?”

“Nog nie.”

Susanna gooi maar vir haar ook koffie in. Sy drink dit swart en bitter. “Ek het vir Hester gesê sy klim ’n mal perd op met die Khoi-vrou, én ek het vir Caroline gevra hoekom sy nie Kimberley toe kom vir die bevalling nie, die tweeling verpleeg saam met suster Stockdale – en julle is welkom om by ons tuis te gaan.”

“Caroline glo aan Sêrah Bok.”

“Ja … julle plaasmense. Julle kan goed eet en drink en vrolik wees, maar julle het geen verantwoordelikheid nie. Bly by die ou dae se dinge, glo nie aan vooruitgang nie. Hospitale, dokters en badkamers is mos uit die bose.”

Willem kners sy tande en staan op. “Ek gaan kyk of Jan Adriaan reggekom het.”

“Dankie! Maar kom kuier ’n slaggie by ons in Belgravia, dan kan jy sommer ons badkamer ook afkyk soos jy hierdie stoeltjie afgekyk het.”

Voor hy die agterdeur oopmaak, hoor hy hoe sy vir Doelie beetkry. “Hoekom lyk jy vanoggend so kroes? Was die Krismiskos nie lekker nie?”

Willem draai net daar om. “Doelie, gaan kry vir die mense ’n soutribbetjie en een pond botter in die koelkas, drie dosyn eiers in die spens, ’n waatlemoen en ’n boerpampoen. Hulle is op pad terug stad toe en ons wil hulle nie met leë hande sien gaan nie.”

Hy wag nie vir Susanna om weer haar mond oop te maak nie, maar klap die agterdeur harder as gewoonlik toe.

In die melkery kry hy Klaas en Vaaltyn aan die werk.

“Het julle vir Daniël en Sadrag gesien?”

Hulle lyk skuldig en vermy sy oë.

“Komaan, praat.”

“Hy sal huis toe kom as die meisiekenners weg is.”

“Is hy bang vir hulle?”

Klaas lag in sy mou. “Hulle is – Sadrag ook.”

“Melk klaar. Wie help met my broer se karperde?”

“Danko is by die stalle. Die ander man met die wa en osse wil ook inspan. Hy is bang Brakrivier kom af.”

“Miskien is hy reg. Hoeveel het dit by julle gereent?”

“Bietjie, nie baie nie.”

Willem kyk op. Die lug is poeierblou met middellangs ’n smeersel van ’n wit streep – nie juis belowend nie.

“Daai is die waterslang se spoor,” sê Klaas. “Hy’t klaar geloop.”

Saam staan hulle en kyk hoe die witterigheid oplos en uitrafel.

Dalk is dit goed as die reent eers wag, besluit Willem. Droë lope verander oornag in riviere en paaie verspoel wanneer die hemel se sluise ooptrek. Die kuiergaste is op pad terug en dit sal nie deug as hulle nie kan koers kry nie.

“Klaas,” sê hy asof die gevoel van naderende onheil nie saak maak nie, “ek loop stalle toe. As hulle my soek, kom haal my dadelik. Die nôi kry swaar.”


Caroline sterf, en sy gee ook nie meer om nie. Die lig verdof. Hester en Siena wat weerskante van haar staan, smelt weg. In hulle plek verskyn haar engele. Die hele kamer is vol van hulle – soveel, hulle moet hul vlerke om hulle toevou om in te pas. Hulle lig haar uit die bed, sy strek haar arms en raak aan die plafon. Op die katel onder haar lê ’n nakende vrou met oopgesperde bene, bloed en water vloei uit haar. Daniëltjie fluister in haar oor: “Kom, Mamma.”

Hoe salig die eindelose nag!

“Caroline, word wakker! Moenie slaap nie! Ag, Here, wees ons genadig.”

Hester, dis Hester, sy trek haar af en klou haar so vas sy kan nie asem kry nie. Maar sy soek haar oë. Hulle is bang. “Ek wil vir jou iets gee. Dis ’n kind. Jy moet die kind vat en grootmaak.”

Hester skud haar kop. “Jy weet nie wat jy sê nie. Kry lewe, as jy nie lewe kry nie, sterf die kind!”

Nog een kom by. Sêrah Bok. Sy praat kwaai, die ou droë biltong.

“Kerliena! Hoor jy vir my? Dis tyd. Jy gaan nou druk as ek sê druk.”

Nooit geweet ouma Sêrah is die duiwel se werktuig nie, en sy is.

Iewers uit die dieptes kom die opdrag.

“Vat groot asem … Nou!”

Haar keel is droog, sy hyg na lug, haar maag keer om.

“Druk, Kerlienatjie! Skop vas en … druk!”

Sy wil nie en sy kan nie, maar sy moet. Sy gryp die katelstyl en stort die kind die wêreld in.

Die engele hou asem op, hulle huiwer en dan word alles swart. Haar lyf sak in die matras weg, haar bene en arms word water, haar hartklop stadiger en stadiger. Sy weet nie hoe lank sy weg was nie, maar toe sy uit die donker bykom, fladder woorde by haar verby.

“Lewe hy?”

“Hy lewe.”

“Sy… Dis ’n vroukend.”

“Sý lewe!”

“ ’n Meisietjie.”

“Hallo, tant Hester se skattebol.”

Iets skree soos ’n klein katjie.

Die ander lag.

“Jy het ’n pragtige dogtertjie. Is jy bly? Ek is.”

“Ek voel niks.”

“Maar Caroline …”

“Nôi Hessie, gee haar vir Siena lat sy eers afgebad kom. Ons moet klaarmaak.”

“Hoor jy, sus Caroline?”

“Los my uit.”

“Jy’t hard gewerk, ons is trots op jou, maar ons moet die nageboorte afkry. Dis belangrik.”

Die marteling is ver van oor. Sy speel onwillig saam, sy kla nie. Die hande wat haar vasgevat het, is nou so sag, sy verbeel haar sy dryf. Die stroom vat haar weg, sy spoel op die wal uit. Iemand lig haar op en laaf haar met soet geurende olies. Sy kry skoon beddegoed, ’n nagrok wat voor oopknoop. Sy laat hulle toe om haar hare te kam en ’n beker soet tee voor haar mond te hou sodat sy asseblief tog net ’n paar slukkies neem.

Eindelik lê sy teen die kussings terug – soos ’n lyk wat pas uitgelê is. Hester sit ’n bondel in die holte van haar een arm. Dis swaar, dis ’n gewig wat haar aftrek – af en af tot in die grond in onder die bed. Sy kyk weg, sy huil.

Hester vou die kombersie oop. “Haar voetjies makeer niks, dank die Here.”

Ek het Hom gesmeek, onthou sy doodmoeg.

“Hoe voel jy nou?”

“Klaar.”

“Jy kyk nie eens na haar nie? Raak net aan haar, toe.”

Caroline kan nie haar trane keer nie. Sy is te moeg om haar hand op te lig.

“Los eers, nôi Hessie, lat sy slaap.”

“Maar dis haar baba.”

Ouma Sêrah neem oor, sy praat hard, die ou vrou. “Bring die bedjie hier, stoot hom teen die katel. Lê die kend neer. Ek loop nou. Maak die kamer goed skoon voor julle uitkom.”

Wat ’n verligting toe Hester die bondel optel en wegneem. Geleidelik sluimer Caroline in. Sy voel gerus oor die gewerskaf wat nog om haar aangaan tot een van hulle, dis Siena, skielik uitroep.

“Kaggen!”

“Dis net ’n hotnotsgot, trek toe die gordyne.”

“Nôi Hessie, Nôi praat nie mooi nie. As hy nie hier was nie, het nôi Kerliena nie deurgekom nie.”

“Ek dag jy is gedoop?”

“Ek is, maar dit vat hom nie weg nie.”

“Red my van die dag dat ek ’n gogga moet aanbid. Ek sal die emmer dra, vat jy die lakens.”

“Hy is nie ’n gogga nie, hy maak hom klein om ons nie bang te maak nie.”

“Wat van mense wat vir goggas skrik?”

“Partykeers verander hy hom in ’n elandbul of ’n slang of ’n aasvogel.”

“Hou op met stories maak en trek toe die deur agter jou dat jou nôi kan rus.”

Dit word stil, so stil, selfs die engele swyg en dis goed. Caroline dink aan niks, sy voel niks behalwe uitputting. Die dooies se slaap kom maklik, sê sy vir haarself voor sy wegraak om te gou weer uit die newels van rus opgetrek te word aan haar hare, so voel dit vir haar.

“Caroline! Vrou, is jy wakker?”

Daar lê ’n gewig soos ’n klip op haar skouer. Sy is so moeg, sy kan skaars haar oë oopmaak.

“Het ek geslaap?”

“Heeldag.”

Dis haar man. Hy buk oor haar, sy hand is op haar skouer. Sy kan net sy vorm uitmaak, maar dit is Willem Basson. Hy soen haar op haar voorkop. Sy vingers dwaal na haar nek, sy baard raak aan haar neus. Sy reuk is bekend. Dit bly by haar toe hy regop kom.

“My vrou … Jy is ’n goeie vrou.”

Sê jy dit nou, noudat jy jou sin gekry het? Maar eers was ek sleg. Sy roer haar skouers om ontslae te raak van sy hand. Hy neem dit nie weg nie, hy vryf haar nek.

“Ons het nog ’n dogter.”

Sy draai na hom en kyk hom in die oë. “Ek wil haar vir Hester gee,” sê sy.

“Haar naam is Caroline Anne, jou naam. Sy is perfek.”

“Haar naam moet Hester wees – Hester Johanna.”

“Sy is Caroline Anne. Ek gee nie my kinders weg nie.”

“Hester moet haar vat.”

“Nee!”

“Roep haar.”

“Wie moet geroep word?”

Dis toe Hester met ’n skinkbord en hulle het haar nie hoor aankom nie.

“Ek wil seker maak dat jy jou baba saamvat as julle ry. Wanneer ry julle?”

“Môreoggend vroeg, tensy dit weer reent.”

Hester sit die skinkbord neer, sy staan en kyk. Willem bring die spieëlkasbankie sodat sy kan sit. Hy praat te veel. “Ons kind het reent gebring, ’n paar goeie buie laas nag, vandag ook nog. Die familie wou jou nie wakker maak om te groet nie. Jan Adriaan en Susanna het voor sonsopkoms gery, Jacoba-hulle ook. Almal wens jou spoedige herstel toe.”

“Jy moet eet sodat jy jou kragte kan herwin.” Hester bedoel dit, sy klink ernstig. “Kan jy regop sit?”

Bloed tap uit haar. Dis ’n rivier wat afkom en los goed saamneem, stukke van haar binnegoed.

“Ons help jou. Willem, vat aan haar ander kant.”

Hulle doen dit sonder om haar in ag te neem, sleep haar op teen die kussings, prop nog agter haar rug in, glimlag vir haar asof sy hulle moet bedank.

“Ek is nie lus vir kos nie,” sê sy ferm. “Roep vir Sêrah!”

“Ek loop,” sê Willem en maak dat hy wegkom.

Hester laat haar nie gebied nie. Sy neem haar Mother-houding in, skep ’n lepel vol en hou dit voor Caroline se mond. “Dis kragtige hoendersoep en jy gaan dit drink, al moet ek jou forseer.”

“Sê eers jy sal die kind vat.”

“Baie dankie, maar om ’n pasgebore baba in hierdie weer op ’n perdekar te laai en Warrenton toe te ry, is nie net dom nie, dis gewoon wreed.”

“Wil jy haar nie hê nie?”

“Miskien, maar jy moet haar eers vir my voed tot sy gespeen is, dan praat ons weer. Toe, maak oop jou mond of wag, ek gee vir jou die bakkie, dan skep jy self. Ek gaan haal solank ons dogtertjie uit haar wiegie. Sy is jou mooiste kind.”

“Joune.”

“Goed, myne.”

Sy skep van die sop, sy toon haar dank en eet, kyk tersluiks na Hester wat oor die wiegie leun.

Buite gil en raas die baba se broers en susters.

“Sy slaap, sy is so soet, word nie eens wakker van die ander kinders nie.”

“Wat raas hulle so? Dit pla my.”

Hester hink so saggies van die wiegie af weg, jy sou sweer sy loop maklik op haar tone. “Die vlieënde miere is uit ná die reent, dis ’n spelery. Weet nie wie dit die meeste geniet nie – die kinders of die voëls.”

Caroline stoot die bord van haar af weg. “Ek het genoeg gehad.”

“Skaars drie happies? Verlang jy nie na jou kinders nie? Wil jy nie weer sterk word en opstaan en kyk hoe hulle speel nie?”

Sy skud haar kop. Hester raak so seker van haarself en haar goeie raad, dis ’n grap en sy lag daarvoor – een droë, gevoellose, dooie lag. “Ek bloei my leeg en jy is net ’n vaal kol langs my sterfbed. Sal ek nog ’n dag haal? Ek glo nie.”

Mispa

Подняться наверх