Читать книгу Mispa - Helena Christina Hugo - Страница 7
Hoofstuk 2
Оглавление“Ek gaan Graskamp toe!”
Willem wil nog keer, maar Daniël vlug soos blits voorstoep se kant toe.
“Jy moet help aftuig!” roep hy, en gee moed op. “Groet hy nie?”
Sadrag grinnik met sy ken teen sy skouer. Almal weet hoekom Daniël die hasepad kies. Dis oor die niggies, veral Anna Catharina wat dertien is en nie kan wag om haar neef om die nek te val en papnat te soen nie. Caroline het hulle dopgehou, twee giggelende meisiekinders wat mekaar aanhits om Daniël meedoënloos te agtervolg. Anna Catharina is die jagter en Elsje die spoorsnyer, die een wat eerste uitvind waar Daniël hom bevind en reguit met die inligting na haar suster toe hardloop.
Caroline kan net glimlag. “Dis die meisies, Willem. Hy is skaam, jy weet mos.”
Willem gee ’n snork en wend hom tot Sadrag. “Gaan help die mense afpak en vat die perde stalle toe.”
Caroline kyk hoe Sadrag sy rug regop trek en aanstap. Hy is Daniël se beste vriend en op dieselfde dag as hy gebore. Bet en Klaas wou hom ook Daniël doop, maar dit was eens te veel vir haar en Willem wat hul tweede seun as plaasvervanger vir sy gestorwe broertjie beskou. Dis sy wat die Bybelse Daniël se vriende onthou en Bet en Klaas oortuig het dat hulle hom Sadrag moet noem. Sadrag en Daniël is toe saam gedoop en sedertdien onafskeidbaar. Net deesdae voel dit vir haar asof Willem onderskeid maak tussen die twee en Sadrag alte dikwels Daniël se kastaiings uit die vuur moet krap. Maar om hom nou daarop te wys is ongevraag in die gewoel wat pas losgebars het.
Maria gryp Hercules aan die hand en hardloop. Klein-Willem steur hom nie aan die huilende George nie. Willem raap hom op en loop met die seuntjie op sy arm uit buitentoe. Die kind in Caroline trap vas en slaan bollemakiesie. Sy maak haar oë toe en haal diep asem. Pyn het sy nie, ongemak wel. ’n Ligte fladdering raak aan haar wang, die reuk van soetamaling maak dat sy na haar asem snak.
Sal jy en jou engel minstens nog drie dae kan wag? Ek wil nie op my kraambed lê en sterf terwyl die familie op die voorstoep koffie drink en koek eet nie.
Duiseligheid dwing Caroline om te bly sit, elmboë op die tafel, haar hande in haar hare, oë toe.
“Mama … Mama …” Annatjie se smeekstemmetjie en Doortjie se boegoereuk verdring die engelgeur. Die kind kom tot bedaring. Sy waag dit om haar oë oop te maak.
Doortjie staan langs Annatjie se hoë stoeltjie. “Nôi, ek vat die kleintjie kamer toe.”
Annatjie steek haar armpies na Doortjie uit. Sy lag getroos toe haar oppasser haar al paaiende uit die stoeltjie lig. Siena kom met die skinkbord om af te dek en wag vir Caroline wat alte stadig orent sukkel.
Die kyk wat die twee vroue mekaar gee, is so veelseggend, sy vererg haar. “Dink wat julle wil – ek kraam nie voor die kuiermense nie.”
Siena is die oudste. Sy waag dit om terug te praat. “Nôi Kerlien, hy vra nie vir sy mama nie, hy gebore op sy eie tyd.”
“Oor drie dae,” sê Caroline en staan regop, haar een hand onder haar buik.
“Skoonsuster, en jy loop nog!”
Ag, nee! Was sy so rats soos Daniël, het sy nou veilig in haar bokamer gelê en boek lees.
Jan Adriaan se Susanna staan die kombuis vol, volstruisvere bibberend op haar hoed, perdebylyfie so dun ingegord, lyk asof sy middeldeur kan breek. Sy is ’n modepop, koop winkelrokke en hoede van Frankryk af ingevoer, besprinkel haar met duur parfuum en druk haar voete in hoëhakskoene met gepunte tone. Jan Adriaan het goed gedoen die tien jaar wat hy gedelf het. Hulle woon in ’n kasteel in Belgravia, sy skrynwerkwinkel floreer en van teepartytjies kan jy sy vrou niks leer nie.
Caroline gee haar oor aan Susanna se omhelsing wat eindelik eindig met ’n soen op elke wang.
“Weet nie hoe jy dit in hierdie hitte hou nie. Ons is donkernag uit Kimberley weg, maar toe die son opkom, braai ons. Mag ek my hoed gaan afhaal en my baadjie uittrek?”
“Met plesier. Julle ou kamer is gereed.”
“Die hoekkamer?”
“Ek sal Doelie vra om vir jou waswater te vat en tee … of koffie?”
“Dankie, maar onthou ek neem flou swart tee sonder suiker. Jan Adriaan hou van sy koffie sterk en soet. Julle moet vir julle ’n badkamer aanbou, dis baie gerieflik.”
Caroline byt op haar tande. Sy hoor dit elke keer as Susanna kom afpak en sy gee haar klokslag dieselfde antwoord. “Jy moet Willem vir my oortuig, hy bou liewer nog stalle.”
“Tipies boer, so agter die klip. Ek kry jou jammer.” Susanna pluk haar handskoene uit en waai haar gesig met hulle koel. “Wat ek jou wel beny, is jou swetterjoel bediendes! Boy!”
“Sy naam is Sadrag.”
“Weet hy waarheen?”
Sadrag dra ’n reistas in elke hand en loop verby.
“Ekskuus tog! Ek moet hom inhaal – my slotjies werk nie meer nie en ek kan nie bekostig om iets te verloor nie.”
Ons werkers steel nie soos julle s’n nie, wil Caroline haar toevoeg. Tog is sy dankbaar dat Susanna haar kans gee om die trap in vrede op te sukkel en haar vir ’n uur of twee in haar slaapkamer toe te sluit.
“Maak vir hulle koffie en tee en vat dit stoep toe,” sê sy vir Doelie, “ek gaan kamer toe.”
Die Bybel lê nog op die etenstafel waar Willem laas gelees het. Sy tel dit op en verwonder haar weer aan die kinders wat die gewig kan hanteer. Dis ook net Maria en Klein-Willem wat al sterk genoeg is om die paar treë van die voorkamer eetkamer toe en terug te loop – Daniël vanselfsprekend ook. Vandag is die taak in die geharwar nie voltooi nie.
Die Bybel se ereplek is op die hoektafel tussen twee koperkershouers, bo-op ’n gehekelde kleedjie oorhoeks gedrapeer om die tafelblad te beskerm. Daar is ’n stoel byderhand en ’n inkpot en pen in die laai. Die kleedjie is skeefgetrek en een van die blakers lê op sy sy. Caroline maak alles reg voor sy die Boek netjies neersit. Ingedagte maak sy die koperknippe los, lig die leeromslag op en blaai twee bladsye aan. Die Bassons se familiegeskiedenis staan op bladsy drie – getrou geskryf in die vorm van name en datums deur Willem en sy moeder Anna Catharina Basson, gebore Venter. Sý, Caroline Anne Basson gebore Fuller, het die meeste inskrywings gemaak. Sou Willem daarmee voortgaan as sy nie meer hier is nie, haar sterfdatum en hul jongste kind se geboortedatum invul? Wie se naam gaan op hare volg – een van haar ongetroude susters s’n of iemand wat sy glad nie ken nie? Willem sal tog nie sonder ’n vrou kan klaarkom nie en die kinders moet ’n moeder hê.
Caroline maak die Bybel toe en sak op die stoel neer. Sy moet haar kommer met iemand deel – iemand soos ousus Hester. Willem is streng en arbeidsaam, maar selfsugtig en veeleisend en so puntenerig, sy word nie eens toegelaat om vir die kinders uit die Hollandse Bybel voor te lees nie. Die probleem is, sy het met die King James Bible grootgeword, hy met hierdie Nederlandse Staten-Biblia. Nou reken hy hy is die enigste een in die huis wat Hooghollands kan lees – nie dat dit vir hom so maklik is nie. Hy oefen die afgelope weke so hard aan Lukas twee van vers een tot sewe, sy en die kinders kan gedeeltes daarvan al opsê. In haar kop hoor sy sy stem buig en bars om die moeilike Hollandse woorde: “Ende het … geschiedde als sy daer waren dat de dagen vervult … wierden dat sy baren soude. Ende sy baerde haren eerstgeboren soon ende … wondt hem in doecken ende leyde hem neder in de kribbe.”
Wat sou Maria gedoen het as sy die volgende dag wakker geword het en haar kind haal nie meer asem nie? Maar vir haar was dit nie so bestem nie. Haar seun was ’n jongman in die fleur van sy lewe toe sy Hom aan ’n kruishout sien sterf het. Kan dit makliker wees?
Caroline laat sak haar kop.
Ag, Here, is ek ondankbaar?
“O, hier is jy!”
Ousus Hester! Sy staan ’n tree of twee van die portaaldeur af, geklee in gemaklike ryklere, strooihoed in haar een hand, reissak in die ander.
“Ousus, ek is bly.”
“Ek ook. Wat maak jy so alleen in die hoekie?”
“Ek het die Bybel kom bêre, toe rus ek bietjie.”
Hester sit haar tas neer, haar hoed op die bankie met die bont geborduurde kussings. Sy gooi haar arms oop, hink nader, buk oor en hou Caroline vas.
Sy ruik na stof en gekneusde roosblare, maar sy is sagter en versigtiger as Susanna.
Toe sy regop kom, hou hulle nog hande vas. “Hoe gaan dit?”
“Ek weet nie.”
“Moeg?
“En … bang.”
“Ek help jou boontoe, dan rus jy in vrede. Ek sal Susanna geselskap hou.”
“Ek waardeer dit, maar moenie my vergeet nie. Daar is vrae wat ek jou wil vra.”
“Laat ek net gou die middagkos aan die gang kry, dan kom sit ek by jou.”
“Is jy nie ook moeg nie?”
“Van die heerlike oggendrit?”
“Susanna sê dis warm.”
“Susanna dra baadjies in die middel van die somer. Wat verwag sy?”
Caroline wil lag. “Saggies, sy hoor ons.”
“Ek sal haar reguit sê. Kom, ek klim saam met jou boontoe.”
Dit verstom Caroline telkens dat iemand wat so swaar loop soveel energie het, maar dis ousus Hester. Sy steur haar nie aan haar gebrek nie, sê altoos dat sy aan niks anders gewoond is nie, sy sit in elk geval net as sy naaldwerk doen en groente skil.
“Heerlik koel is jou slaapkamer!” roep sy uit.
Soggens is dit inderdaad heel aangenaam, maar smiddae bak die son op die dak en dan raak dit soms ondraaglik. Dis nie die ergste nie, Caroline kan hier alleen wees en daarvoor sal sy opoffer. Hester help haar op die bed. Sy trek haar sloffies uit, druk-druk aan die geswelde voete.
“Jy moet met jou bene hoër lê. Het jy ’n ekstra kussing?”
“Dit help nie meer nie.”
Hester prop die een aan Willem se kant onder Caroline se hakskene in. “Beter?”
“Ja, soos jy dit doen.”
“Nog pyne?”
“My kop.”
Hester gooi water in die lampetkom, maak Caroline se waslap nat en gee dit vir haar aan. “Hou jou kop koel.”
“Dis die einde.”
“Dis die begin.”
“Wag tot ek jou van my nagmerries vertel.”
“Steur jou nie aan sulke drome nie.”
“Ek sien oorlede Daniëltjie – helder oordag.”
Hester vat die waslap, vou dit tot dit smal genoeg is en sit dit op Caroline se voorkop. “Vergeet van Daniëltjie. Hy sal weggaan sodra die kleintjie gebore is. Rus nou, ek sal Siena stuur met jou tee.”
“Net water, asseblief.”
Voor sy loop, maak Hester seker dat die silwertafelklokkie binne Caroline se bereik is. “Lui hard as jy ons nodig kry.”
Willem voel die trots in sy borskas opborrel. Jan Adriaan kan sy oë nie van Baron afneem nie.
“Waar kom jy aan hom?”
“Direk uit Holstein in Duitsland ingevoer.”
“Wanneer?”
“So … jaar en drie maande gelede. Julle kom mos nie kuier nie.”
“Dit was ’n besige jaar. Hoeveel het dié een jou uit die sak gejaag?”
Willem kyk na Danko wat die leiband vashou, sy gesig uitdrukkingloos. Hy sal nie die bedrag voor die stalkneg uitlap nie, Danko is slim genoeg om sulke inligting tot sy eie voordeel te gebruik.
“Dit was ’n waagstuk, maar dit het my naam as een van die voorste telers gevestig.”
“Hy’t seker ’n ellelange bloedlyn?”
“Ja, die oorspronklike Holsteiners gaan so ver terug as die dertiende eeu. Dit het hulle honderde jare geneem om die ras te verfyn.” Willem vryf met sy hand oor die lang nek, die hoë skof, die mooi gevormde skouers en langs die reguit rug af. Die dier trap rond en skud sy maanhare. “Bedaar, Baron, bedaar.”
“Wat noem jy hom?”
“Baron. Sy stamboeknaam is Baron von Brandes IV.”
“Baron von Brandes IV uit Holstein in Duitsland op Mispa in die Karoo?”
“Ek sal hom nie tussen my wilde perde loslaat nie, as dit is wat jy bedoel?”
“Jy’t vir hom ’n merrie uit die adelstand gekies – soos ek jou ken.”
“Prinses Hermina Elbertina.”
“Een van jou Frieslanders?”
“Haar vullens vaar goed op die Kaapse Turf en sy’s weer dragtig.”
“Ek hoor by van my Londense vriende die Turf is ’n klug teen die Ascot.”
“Gee kans, die Kaap kom by en Port Elizabeth is nie ver agter nie.”
“Dink jy regtig perdewedrenne gaan in ons land ook posvat?”
“Mense wil geld maak. Buitendien, ek verkoop nie net renperde nie. Mispa se stoeterye het ’n goeie naam, ons Boerperde haal hoë pryse.”
“Ons?”
“Ek en my seuns.”
Jan Adriaan maak ’n keelgeluid. “Jy en jou seuns? Klein-Willem is skaars sewe.”
“Oor vyf jaar is hy twaalf en Daniël negentien. Teen daardie tyd sal hulle kan kies of hulle in skaapboerdery of in renperde belangstel. Ons gaan aan die voorpunt wees, hou ons dop en vergeet nie vir Hercules en George nie.”
“Jy dink ver in die toekoms.”
“Tyd vlieg. Danko, vat vir Baron in.”
Danko, wat die heeltyd geduldig Baron se halter staan en vashou het, draai die reusedier terug na sy stal. Jan Adriaan vis in sy baadjiesak en haal ’n blikkie sigarette uit. Hy maak dit oop en bied een aan.
“Dankie, ek hou by my pyp.”
“Nes jy wil.” Jan Adriaan trek ’n vuurhoutjie en maak sy sigaret brand.
Willem voel in sy sak na sy rookgoed, maar los dit eers. Hy en Neels kan netnou saam aansteek. “Kom ons staan huis se kant toe. Swaer Neels is seker klaar met aftuig.”
“Kan nie verstaan hoekom hy dit nie aan jou knegte oorlaat nie.”
“Hy hou daarvan om toesig te hou en ek gun hom dit.”
“Nes jy.”
“Jy ook.”
Jan Adriaan gee ’n keellaggie. “Ek hoor jou.”
Willem glimlag. Alles is wel. Dié keer heers die gees van Kersfees dalk van begin tot einde en verseker gemoedelikheid, broederliefde én wedersydse respek. Om hom te beïndruk, lei hy Jan Adriaan met ’n ompad langs die buitegeboue verby. Die mure is pas afgewit en alles vertoon vooruitstrewend. In die smidswinkel is Danster en sy helpers aan die werk. Hulle groet beleefd.
“Jy’s bevoorreg om die Oliphants in jou diens te hê, ek sukkel met werkers,” sê Jan Adriaan.
“Ek gee vir hulle ’n heenkome.”
“Watter heenkome? Hulle was mos maar altyd hier op Mispa.”
Willem antwoord nie. Hy het te gou gerus geraak. Sy broer volg sy ou taktiek, hy wil hom uitlok om weer sy erfporsie te probeer regverdig.
Dit veroorsaak onnodige stremming en hy loop vinniger, maar Jan Adriaan hou by.
“Het Neels al jou stoethings bewonder?” vra hy.
“Ons het hom in Port Elizabeth gaan haal – ek en Neels.”
“So, julle boer nou saam?”
“Ons help mekaar. Ek het vanjaar twee merinoramme by hom gekoop. Dieselfde span wat by hom skeer, skeer by my ook. In droogtetyd koop ek voer by hom. Hy mors nie met die rivier nie, hy boer vooruit en daarvoor het ek respek.”
“Ek skat so – hy lewer gereeld vars groente in Kimberley.”
Willem is verbaas. Jan Adriaan en Neels is verlangs aangetrou, maar nie vriende nie.“Kuier julle?”
“Ons groet op straat. Sy naam staan op sy wa – Erasmus-tuine – al is sy plaas se naam Doringfontein.”
“Die tuine is mos eintlik Hester se afdeling.”
“Kwaai vrou, daai een.”
“Sy dra die broek, dis nie altemit nie. En jy? Susanna kan jou mos om haar pinkie draai?”
Jan Adriaan neem ’n teug aan sy sigaret en grinnik. “Vreemd tog van jou – jy is vooruit wat jou boerdery betref, maar jy klou aan ou gewoontes.”
“Ek hou van my vrou op haar plek.”
“Dit weet ons almal. Jou baard verraai jou.”
Willem hark met sy vingers deur sy baard. Dit tref hom skielik dat Caroline dit eens op ’n tyd gekam en geknip het. Sy doen dit nie meer nie. “Wat het my vrou met my baard te make?” Sy stem klink selfs vir hom rou.
“Niks, behalwe dat sy lyk asof sy met haar oom getroud is. Jy is uit die oude doos, broer Willem. Skeer, voor jy en Caroline weer Kimberley toe kom.”
Willem byt op sy tande, maar dis uit voor hy kan keer. “Jan Adriaan, jy het niks om my mee te troef nie, nou raak jy persoonlik. Los liewer jou stadsmaniere, voor ek jou die hek wys. Of het jy vergeet hier op Mispa maak ek die reëls?”
Jan Adriaan blaas die rook van sy winkelsigaret eenkant toe. “Kleinboetie! Moenie jou so opwerk nie – ek terg soos toe ons kinders was.”
“Ek’s nie meer ’n kind nie en ek laat my nie terg nie.”
“Goed-goed, ek hoor jou.” Jan Adriaan lig sy hande kalmerend. “Ons sien mekaar ook so min – dalk verstaan ons mekaar nie meer nie. Wanneer kom julle weer stad toe?”
“Sodra die nuwe kleintjie sterk genoeg is – vir die doop.”
“In die winter?”
“Of volgende somer. Hang af van die kind. Dis nie asof julle so gereeld hier kom kuier nie.”
Jan Adriaan suig aan sy sigaret. Hulle loop in stilte tot by die eendedam en gaan staan in die koelte. Die ou wilger se takke sleep in die modder. Eende en makoue plons in die water en roei weg. Vinkmannetjies bou fluks aan die soveelste nes. “Ek weet nie of ons weer hier moet afpak nie,” sê Jan Adriaan.
“Hoekom nie? Ma en Pa se grafte is hier, ons is familie.”
“Juis. Pa het nie nodig gehad om ons te onterf nie – dis teen die wet en jy weet dit. Deel van Mispa moet my toekom.”
“Jou ou deuntjie, en spyt kom altyd te laat.”
“Ek was nog nooit spyt oor Kimberley nie. Die stad het my goed behandel. Oor een ding verwyt ek my en dis broer Daan. Ek is jou en Caroline ewig dankbaar dat julle sy naam laat voortleef. Ek en Susanna werk nog daaraan.”
“Dis Pa se name en jy hou nie van Pa nie.”
“Asof jy met Pa klaargekom het.”
“Ek was dertien, een jaar jonger as my oudste seun toe ek saam met Pa begin boer het en nie geweet het of ek die volgende dag gaan haal nie. Julle – jy en broer Daan – het my in die steek gelaat.”
Jan Adriaan gooi sy sigaretstompie op die grond. Hy trap dit fyn en flenters. “Kom ons vergeet van die verlede voor ons mekaar nog ’n keer pak.”
“Jy soek daarna.”
“Jy gee dit vir my op ’n skinkbord.”
“God vergewe jou jou onregverdigheid,” prewel Willem. “Ek kan nie.”
Of Jan Adriaan gehoor het wat hy sê, weet hy nie. Hy vat koers en loop koeikamp toe waar hy swaer Neels druk in gesprek met Klaas sien staan.