Читать книгу Mispa - Helena Christina Hugo - Страница 11
Hoofstuk 6
ОглавлениеVoordag sit Willem in die kombuis en dink terug aan hoe hy en sy ma en pa soggens drieuur opgestaan het om volgens tradisie en uit gewoonte huisgodsdiens te hou. In die winter was die wêreld wit geryp en die uur voor die vuur ’n warm troos, al kon hulle skaars sy pa se stotterende voorlesing verstaan. Sy ma het eerste opgestaan om die stompe aan die brand te kry en die ketel oor te hang. Nie dat sy pa veel later gelê het nie. Willem moes gou wees as hy sy ma wou help en die klein deeltjie van die dag saam met haar deurbring. Sy het nie veel gepraat nie, maar haar teenwoordigheid het hom getroos. Toe was hier nog ’n oop herd en ouma Fien Bok, destyds ’n sterk vrou, het volgens reël net ná sonop van die strooise af ingekom om met die huistake te help en saans voor sy gaan die hout reggepak sodat sy ma net kon aansteek.
Hy het die houtstoof laat insit voordat hy Caroline hiernatoe gebring het. Hy het baie gedoen om die huis vir haar gerieflik in te rig. Die badkamer kom ook nog. Jan Adriaan sê hulle kan pype van die leidam af aanlê, jy draai die kraan oop en die water loop. G’n aandraery nie, maklik.
Hy het nie getel hoeveel emmers hy laas nag op- en afgedra het nie.
Daar is fout met Caroline. Hulle het heelnag geen rus of duurte met haar gehad nie. Vroeg al moes hy Sêrah wakker maak en met haar plekke ruil. Sy bly toe in die kamer by Caroline, hy hier in die kombuis om water te kook en emmers vol op te dra – af met die roeswater, te bang om te kyk of die bloedkleur ligter raak. Hulle het hul bes gedoen. Hy het aangedra en sy het om die beurt warm en koue kompresse opgesit om die bloeding te probeer stop. Hester het ook kom hand bysit. Die kind het gehuil en sy het haar met ’n teelepel water gevoer en weer aan die slaap gesus. Maar vandag gaan sy en Neels terug Doringfontein toe. Wat dan?
Willem gooi drie lepels suiker in sy koffie.
“Môre, Willem.”
Dis Hester wat met ’n bondel vuil linne in haar arms ingestap kom.
“Môre, Hester. Hoe gaan dit?”
“Sy slaap eindelik.”
“Jammer sy wou nie laas nag die warm melk drink nie.”
“Uitputting het gewen.”
Hester los die bondel net buite die kombuisdeur en kom skink vir haar koffie. “Neels wil vandag ry, maar ek het besluit ek sal met hom praat. Sêrah kan nie alleen nie, selfs al help Siena haar. Dis nie dat ek hulle nie vertrou nie, maar Caroline is my suster en ek is bekommerd. Buitendien, Annatjie en George is nog klein, hulle moet ook versorg word. Ek gaan vir Neels vra of ek en Neelsie hier kan agterbly – ’n week of so. Gee jy om?”
Willem voel verligting deur hom spoel. “Ek sal jou ewig dankbaar wees. Maar wat van Neels?”
“Hy kan goed op sy eie regkom. Soms dink ek hy’s ’n beter huisvrou as ek en Lena is daar vir die skoonmaak en die wasgoed.”
Willem draai sy leë beker in sy hande om en om. “Susanna is dalk reg, oor die hospitaal.”
“Vir Susanna is als in Kimberley reg en dit is nie. Ek weet van sterk jong vroue wat soontoe is om sogenaamd deur ’n dokter verlos te word en by die dood omgedraai het van infeksies wat hulle in die wonderlike hospitaal opgedoen het. Nie almal is ewe skoon nie en hulle steek mekaar aan.”
“Moet ek nie die dokter gaan haal nie? Hy het kennis.”
“Ouma Sêrah het veldkennis en dis genoeg. Sy weet ten minste sy moet skoon werk. Jammer om dit nou vir jou te sê, maar as Caroline sieker word, is dit nie Sêrah se skuld nie.”
“Myne?”
“Haar eie, tensy sy ’n hartsverandering ondergaan en begin saamwerk, maar ons sal haar deurhaal en Susanna hoef niks hiervan te hoor nie.”
Willem luister haar enduit, en kan toe nie help om te glimlag nie. Neels staan agter haar en wag tot sy klaar uitgevaar het. “So, hier is jy,” sê hy en kom soen sy vrou goeiedag.
“Koffie?” vra sy.
“Dankie.”
Sy vat een van die skoon bekers op die skinkbord en loop stoof toe waar die koffiepot staan en prut.
“En jy, swaer Willem? Hoe gaan dit?” Neels lyk opreg besorg.
“Goed met my.”
“Nie so met die vrou nie?”
“Nee, sy is gedaan.”
“Ek is jammer.”
Hester sit die koffie voor hom neer. “Ek het aangebied om te bly.”
“Ons kan nie die plaas laat lê nie.”
“Jy kan gaan, ek bly.”
Neels lig sy beker en drink eers tydsaam voor hy praat. “Klaar besluit?”
“Dis my susterlike plig. Jy mag nie weier nie.”
“Nee, ek sal ook nie.” Hy neem nog ’n behaaglike sluk. “Jy is reg, jou suster het jou nodig. Bly Neelsie ook?”
“Dis goed vir hom om ’n slag tussen maats te wees.”
“Dis dan afgespreek, ek sal hom inlig.”
“Dankie, my man.”
“Lekker sterk koffie gewees.” Neels sit sy beker neer, staan op en stap uit.
Hy is ’n beter broer as Jan Adriaan, dink Willem wat die gesprek met ’n gevoel van vaag erkende naywer gevolg het. Laat Hester wees wat sy wil, sy kan raakvat en Neels weet om haar te ondersteun.
“Dankie, Hester. Jy is die enigste een wat Caroline sover sal kry om tot haar sinne te kom.”
“Ek kan dit nie alleen doen nie, nie sonder Sêrah nie. Die arme mens sal moet sorg dat sy vandag slaap. Waar is sy?”
“Veld toe om bontbees te soek. Sy maal die verdroogde blare en trek dit soos tee. Dis glo goed vir bloedlating.”
“Vergeet ek – sy’t dit gisteraand genoem. Ek ken dit en rooivergeetwortel.”
“Laat ons hoop een van hulle werk.” Willem staan op om vir hom ’n pyp te gaan opsteek. “Van sit en staan kom niks gedaan – ek moet gaan melk.”
Maar Hester keer hom. “Voor jy loop. Daar is nog iets.”
“Ek wag.”
“Ons moet ’n soogmoeder soek.”
“Laat Caroline haar eie kind soog.”
“Sy wil nie. Sy raak nie aan die kind nie, en sy is siek.”
Willem voel die wrangheid in hom opstoot. Waar op aarde gaan hy ’n soogmoeder uitkrap? Die distrik is groot en hy ken sy naaste bure, maar nie so goed nie.
“Sêrah sê daar is drie vroue in die kraal wat in die melk is.”
“Teel aan soos hase,” brom Willem. “Dink jy daai vroue se mans sal hulle wil loslaat om ’n wit kind te voed?”
“Daar is glo een wat nie ’n man het nie. Sy het ’n seuntjie van vier.”
“En haar kind het uit die lug geval?”
“Dis ’n hartseerstorie. Sy het te voet hier aangekom.”
“Ek hou nie van vreemdes op my grond nie.”
“Sy het Kersdag vir Doortjie met die kinders gehelp.”
“Dag ek sien een wat lyk of sy nie hoort nie. Wie’t haar hier aangebring?”
“Siena, sodat Doortjie in die kombuis kon handgee. Ek het my konsent gegee.”
“Jy moes my gevra het.”
“Haar Boesmannaam is Kamka, haar witnaam Katryn, sy is skoon en fluks. Wees tog maar inskiklik – ter wille van klein Caroline.”
“Moet ek toelaat dat al wat rondloper is hier kom plak?”
“Nee, maar ons het ’n soogmoeder nodig en Katryn is byderhand.”
“Ek sal daaroor dink.”
“Praat met Siena.”
“Ja, later.”
Toe Willem uitstap voel hy nie meer so geneë teenoor Hester nie. Gee haar die pinkie en sy vat die hele lyf, dis duidelik.
Siena is by die wasklip aan die lakens en kraamdoeke uitspoel, maar hy hou verby. Dit is nie die plek en tyd om die saak op te haal nie en wie weet, dalk is Caroline vandag soveel beter dat sy eet en drink en vra om die kind vas te hou. Hy het nog ander sake ook om hom oor te bekommer. Een van hulle is Daniël wat steeds nie terug is nie. As hy vandag moet uitry om hom te gaan soek, spat die vonke!
Soos die duiwel dit wil hê, kry hy einste Daniël en Sadrag in die huispad op hul ponies aangery kom.
Die twee lyk bra versigtig en toe hulle hom gewaar – nog versigtiger. Hy beduie vir hulle om nader te kom en vat sommer Daniël se ponie, Vrystaat, aan die toom vas. Sadrag ry uit lojaliteit nie ’n tree verder nie. Die honde is opgewonde en maal om hulle rond. Willem is self ook verlig, maar hy durf dit nie wys nie.
“Waar kom julle nou vandaan?”
“Kraalbos.”
“Dis landuit!”
“Ons wou wegkom, Pa.”
“Hoekom gaan julle toe nie reguit diamantvelde toe nie?”
Daniël frons. “Pa weet ons sal nie soontoe nie.”
“Wat gaan aan met julle? Dis Kersfees, die familie het kom kuier en julle vat die pad. Dis die Here se dag, die heel belangrikste, en julle vlug soos jakkalse die veld in. Almal eet lekker en julle moet veldkos soek? Vir wat?”
“Ons hou nie van meisiekinders nie.”
“Watter meisiekinders?”
“Daai vettes van oom Jan en tant Susie. Hulle jaag ons.”
“Die jongste is skaars agt.”
“Sy leer by haar suster.”
Willem skud sy kop. Eintlik is hy dik van die lag, Caroline en die soogvrou vir ’n wyle in die agtergrond.
“Nou toe nou, uit vrees vir twee meisiekinders mis julle die lekkerste kos van die jaar.”
“Ons het geëet.”
“Wat?”
“Springhaas.”
Die swaar belaaide Kerstafel flits voor Willem se geestesoog verby en daar is geen vergelyking nie. Hy weet hy moet streng wees en hulle goed afransel, maar hulle het hul straf weg. Moet erken, hy sou op sy dag onder dieselfde omstandigheid ook die pad gevat het en daarom sal hy hulle oorsien.
“Moenie eendag by my kom huil as julle begin vrou soek en al wat ’n meisiekind is, hardloop vir julle weg nie,” berispe hy hulle ligweg.“Saal af, versorg julle rydiere, gaan was vir julle en kom help by die melkery. Miskien is daar nog oorskiet van Kersdag. Jou ma is siek, ons moet saamwerk.”
Daniël gly van Vrystaat se rug af. “Ons het ouma Sêrah in die veld gekry, sy soek verdroogde bontbeesblaar.”
“Toe help julle haar nie?”
“Sy wou alleen wees om te bid, toe los ons haar. Is Ma baie sleg?”
Willem dink skuldig aan Caroline se bleek willoosheid en sy keel trek toe.
“Ja, ons moet ook bid.”
Vir watter gode bid die ou Khoi-vrou – vir Kaggen, vir al die veldduiwels wat op loer lê? Maak sy vuur, dans sy? Hy was een keer op die rand van een van hul deurnagdanse en het gesien hoe die sjamaan in die vuur val, lank vir dood bly lê voor hy opstaan en, terwyl die bloed uit sy neus stroom, die skrikwekkendste rampe voorspel. Daai sjamaan was reg. Die droogte het sewe jaar geduur, die diere en die veld het saam gesterf, die groep se kinders het siek geword en almal is dood, sy speelmaat ook.
Sy ma het gesê dit was masels, hulle het mekaar aangesteek. Nogtans – die sjamaan het in die donker gesien en dit het gebeur.
Nou is Caroline se toekoms ook duister. Wat word van haar as die bossies wat ou Sêrah trek, nie werk nie?
“My tante het haar so uitgebloei en Moeder het haar gesond gedokter. Sy het aan rou lewer geglo,” troos Neels toe hy afskeid neem. “Ek het Hester daaraan herinner. Rou lewer en beetwater, ’n treksel van dawidjieswortel of wildeals om die gestel op te bou. Ou Sêrah sal weet.”
“Caroline wil nie eens warm melk met heuning in drink nie – wat nog te sê beetwater en bitter brousels.”
“Sy sal saamwerk as julle haar sover kry om te glo sy wil lewe. Wys haar die kind.”
“Ek sal weer probeer, dankie, Neels.”
Willem groet hom met die hand. Neels bedoel dit goed en hy gaan nie sy raad afmaak nie.
“Ek bid saam met julle dat die Here genesing stuur. Nou ja, ek wil weg wees voor die son opkom.”
Hester kom met ’n deur-die-slaap klein Neelsie aangedraf. Hulle omhels mekaar asof Neels vir goed uit hul lewe gaan verdwyn. Hy is kort en rond en Hester lank en fris. Lyk nie juis asof hulle vir mekaar bedoel is nie, maar Willem kan weer nie anders as om op te let hoe vertrouend hulle na mekaar opkyk nie.
Neelsie wil ’n ent saamry, ook Maria en Klein-Willem wat intussen bygekom het. Willem stuur vir Doortjie om die kar agterna te loop en die kinders veilig terug te bring voor hulle dit in die kop kry om heeldag in die veld rond te dwaal.
“Maria wil kort-kort weet of sy die babatjie kan sien,” sê hy vir Hester toe die kar uit die oog is. “Ek het haar belowe sy kan vandag, maar ek wil nie die kinders blootstel aan ’n ma wat soos ’n gees in die bed lê nie.”
“Jy moet moed hou,” troos sy. “Die Here sien haar lyding en Hy sal haar betyds oprig.”
Willem kan dit nie in woorde uitdruk nie, maar as hy in ’n hoek gedryf word of rampe en ellende dreig, dink hy aan Mispa, die betekenis van die naam en aan die kere toe hy dit wou verander en nagdeur daaroor geworstel het. Hy het al tot die slotsom gekom die Almagtige sien net wat Hy wil, maar hy gaan nie vir Hester skok met sy ongeloof nie. Wanneer terugslae hom teister, bid hy asof hy glo God kyk met mededoë en nie om te oordeel nie. Hoe kan hy as mens dan die skuld afskuif?
“Ek gaan in,” sê Hester.
“Voor jy loop – wat dink jy van haar plan om klein Caroline vir jou te gee.”
“Ek dink dis die beste geskenk wat iemand my nog aangebied het. Om eerlik te wees – ek wil haar hê, veral as sy my so aankyk asof ek haar moeder is.” Hester kyk af, sy stoot met haar skeef gestewelde voet aan ’n klippie in die sand. Toe sy weer praat, is dit met hartseer, maar ook gelatenheid. “Sy is jou kind ook en as jy nie daarmee akkoord gaan nie, bly sy hier. Ek sal my daarby neerlê as jy dit goed ag om my en Neels by die doopplegtigheid as getuies te roep. Ten minste sal ons as peetouers ’n wakende ogie oor haar hou en haar saam met Neelsie in ons testament opskryf.”
“Ons kan dit doen, solank die ander kinders nie afgeskeep voel nie. Of het jy vergeet dat julle reeds vir Maria en George ook geteken het?”
“Ek het nie en ons sal hulle gelyk behandel.”
Uit die hoek van sy oog sien hy sy keer die trane met haar vingerpunte. “Hierdie ou kleinstetjie lê my net so na aan die hart,” sê sy, “ek kan Caroline skud. Sy bid vir ’n volmaakte kindjie en toe sy haar kry, wil sy haar weggee.”
Weer eens skiet dit hom te binne – die ding wat hy gedoen het. Hy kan maar nie die herinnering aan daardie nag uitwis nie, al het hy soveel keer vir homself gesê sy het lig daarvan afgekom, moederskap kan tog nie ’n straf wees nie.
“Dit gebeur,” hoor hy homself sê. “Ek het genoeg weggooilammers in my ooikamp opgetel.”
“Was daar al ooit een wat haar lam gaan soek het?”
“Nee, want hulle dink nie en Caroline is die laaste paar dae soos een van hulle, maar sy kan regkom en dan soek sy haar kind.”
“Dis waarvoor ek ook bang is.”
“So, jy verstaan hoe dit werk?”
“Ja, Willem.”
“Sy is ’n Basson – mý kind – en sy hoort hier.”
Hy moes dit duidelik maak en dalk kon hy dit sagter gestel het, maar hy het Hester se moederlikheid onderskat. Want skielik is sy op haar agterpote.
“Als reg,” sê sy, “maar of sy hier bly of Doringfontein toe gaan, sy het versorging nodig en sy sal nie veel langer met water tevrede wees nie. Het jy met Doelie gepraat?”
“Ek was besig. Wanneer moes ek?”
“Dan doen ek dit.”
Hester is al weer besig om oor te neem. Dit laat hom kriewel – en toe volg een woord op die ander en hy en sy oorywerige skoonsuster staan vroegoggend op die werf en rusie maak. “Ek hou nie daarvan dat my kind aan ’n rondlopervrou drink nie!”
“Sy is nie ’n rondloper nie, sy’t gevlug.”
“Wie prop jou kop vol leuens?”
“Dink jy Doelie sal lieg?”
“Ons lieg almal. Hoekom sal sy nie?”
“Jy is onredelik.”
“As ek nee sê vir ’n vreemdeling wat sonder my medewete hier kom nesskop het?”
“Jou werkers het haar ’n heenkome gegee.”
“Dan bly sy by hulle. Sy sit nie haar voet weer op my werf nie.”
“Ek hou van haar.”
“Hoe kan jy oordeel op een dag se kennis?”
“Sy is sag en goed met kinders. Dit was opvallend.”
“Is sy skoon?”
“Gee haar een van die kleiner stoepkamers, ek sal haar beduie wat van haar verwag word.”
“Nee.”
“Wil jy hê jou kind moet van honger doodgaan?”
“Ek sal by die bure gaan verneem of daar iewers ’n Boervrou is wat kan soog.”
“Teen die tyd dat jy een opspoor, is jou kind dood.”
“Vra vir Sêrah of sy weet van ’n wit vrou wat in die melk is. Caroline is nie die enigste wat van haar dienste gebruik maak nie.”
“Sou jy jou vrou en kind wegstuur om iemand anders se kind te gaan grootmaak of wil jy nou skielik jou kind weggee om by vreemdelinge groot te word? ”
Willem byt so hard op sy tande, dit voel of hulle kraak. “Doen wat jy wil,” sê hy en mik stalle toe. “Koeimelk sal ook nie die kind doodmaak nie.”
Vervloeks, hy gaan vir Vonk opsaal en veldin ry om te kyk waar die reent geval het – enigiets om een of twee uur weg te kom, uit onder die doodswolk wat oor sy huis hang!
Caroline was tog gelukkig toe hy haar oor die drumpel gedra en sy van kamer tot kamer gehardloop het om alles te ontdek, meer nog toe sy binne die eerste maand van hul huwelik swanger raak en Daniëltjie nege maande later sy opwagting gemaak het. Hulle het saam oor sy dood gehuil en sy was saam met hom dankbaar toe hul tweede seuntjie die volgende jaar opdaag. Sy was aan die voortou om hom ook Daniël Matthys te doop, asof die Here hom in hul eerste Daniël se plek gestuur het en kreupel geskape het sodat hulle hom nie met hul eersteling verwar nie, maar wel die familienaam die toekoms in kon dra. Sy het ten spyte van alles wat sy in die geheim gedoen het en daardie nag toe hy haar betrap het, saam met hom vorentoe geloop. Nou weet hy nie meer wat die dag van môre inhou nie.