Читать книгу Haar ma se kind - Helena Hugo - Страница 10

Ses

Оглавление

Dis Vrydagaand. William het Jo-Anne gevra om saam te gaan Covent Garden toe, die Kersversierings is glo vanjaar iets om te beleef. Sy was nie juis lus nie, maar hy het haar ná skool voorgekeer terwyl sy op pad na haar motor was. Minuskule sneeuvlokkies het in die lug rondgedans en ’n yswindjie het gewaai. Sy was haastig om uit die koue te kom.

“Ons kan ’n show gaan sien,” het hy gesê. “Miskien daarna iets gaan eet? Ek sal betaal, dan maak ek op vir Woensdagaand toe ek nie jou sopaand kon bywoon nie.”

Toneelopvoerings is duur en sy wil nie hê hy moet soveel geld op haar uitgee nie. Dit sal ’n verpligting op haar plaas om hul vriendskap verder te neem en sy wil nie – al dink Sandy-hulle William is ’n vangs. Wat haar betref, is hy nie so wonderlik nie. Hy is ’n goeie mens, betroubaar en ewewigtig, maar nie ’n vangs nie.

Sy het ingestem omdat sy haastig was om by die huis te kom.

Nou sit hulle in een van die koffiekroegies op Market Square, drink warm sjokolade en luister na die Heilsleër-orkes wat onder een van die ornamentele lamppale staan en Kersmusiek speel. Buite op die plein val die sneeu al harder. In die agtergrond toring die oorspronklike kloosterkerkie soos iets uit ’n Middeleeuse droom. Mense met musse en serpe staan in groepies nader aan die orkes. Dit lyk vir Jo-Anne nes een van die Kerskaartjies wat sy as kind uitgeknip het en op ’n skoolboek geplak het om die buiteblad te versier. Om te dink dat hulle selfs in Suid-Afrika Kersfees met sneeu en koue assosieer, en skaapboud, boontjiebredie, soetpatats en gebakte dadelpoeding bo kouevleis en slaai as Kersmaal verkies. Dania het in haar e-pos geskryf dis so warm, die hoenders gaap.

“Lyk of ons vanjaar ons wit Kersfees gaan kry,” sê William.

“Nie as al ons sneeu in November val nie.”

Hy kyk na haar met so ’n vreemde uitdrukking dat sy bloos. Sy sien vir die eerste keer dat sy oë so geel soos goud is.

“Global warming.” William kyk af en roer sy sjokolademelk.

Die koffiewinkel se lig het sy goudrooi krulkop in ’n vlammesee omskep en Jo-Anne kry uit die bloute lus om sy hare nog meer deurmekaar te krap. Dis die eerste keer sedert sy hom ken dat sy sulke begeertes koester. Dalk is dit die intieme atmosfeer in die koffiekroeg wat so aansteeklik is. Oral liefkoos paartjies mekaar met soentjies en aanrakings. Soms verlang sy na die warmte van ’n ander lyf naby hare, maar dan onthou sy betyds hoe Danny haar liefde vertrap het.

Moenie, vermaan sy haarself, dat William Morgan jou ontstig nie. Praat voor die ongemaklike stilte te lank uitgerek word.

“Wat ek nie kan verstaan nie,” sê sy byna uitasem, “is dat aardverwarming koue en sneeu veroorsaak. Ek kan insien dat die somers warmer word, maar hoekom word die winters kouer?”

“Ons hét ’n warm somer gehad,” sê hy. “Amper jou geliefde Suid-Afrika oortref.”

“Verlede winter het dit so baie gereën, nie net die Kaapse Vlakte nie, die hele Wes-Kaap het oorstroom. My pa sê die damme is vol en sy boorgat loop sterk, maar die hitte slurp soveel vog uit die aarde, hy moet elke dag tuin natmaak.”

“Kan jy glo, jy’s op pad soontoe?”

“Uit die yskas in die vuur.” Meer as een soort vuur, dink Jo-Anne wrang.

“Ons praat maar oor die weer,” sê William skielik verwytend.

“Wat van Kersfees?” wil sy dit wegredeneer. “Ek kan jou lank besig hou met ’n verslag oor die Stalse se voorgenome Kersnaweek, alles in detail uitgewerk. My ma se dag is in minute opgedeel, wat nog te sê ure!”

Sy probeer lighartig klink, maar sy weet wat hy bedoel het. Hulle is die enigste paartjie in die omgewing wat nie handjies vashou nie.

Toe doen hy dit. Hy vat haar regterhand in albei syne en streel met sy duime oor haar kneukels. Sy laat hom begaan en praat anderkant toe om haar ongemak weg te steek.

“My ma glo die familie moet op Kersdag by hulle saamtrek, almal van Wellington, elke kind wat oor die lengte en breedte van die land verspreid geraak het en van oorsee, ons moet …”

“Jy is vanaand vir my die mooiste meisie in hierdie hele kamer – trouens, in die hele stad,” sê hy en wag met ’n glimlag vir haar om te reageer.

Sy kan voel sy bloos, maar dis meer van ontsteltenis as enigiets anders. “Ek waardeer die kompliment, maar jy moenie sulke goed sê nie.”

“Hoekom nie?”

Die ou bitterheid maak dat sy haar hande uit syne trek en onder die tafel inmekaarvou. “Jy weet mos – ek is shop-soiled, damaged goods, opgebruik.”

“Jy moenie so van jouself praat nie.”

“Dis wie ek is. Ek is Jo-Anne Stals wat ’n kind in die wêreld gebring het en haar weggegee het omdat die man wat my verniel het vir my belangriker was as my kind. Ek het my eie geluk gekies bo dié van my dogtertjie. Ek het ’n baba wat nog aan my gedrink het, in ’n ander vrou se arms gesit, my klere gepak en agter my minnaar aan gedros. Ek is sleg, nie goed genoeg vir jou nie. So, vergeet van my.”

Maar William kyk haar net aan en sê: “Wat weet jy van my, Jo-Anne Stals?”

Dit verwar haar. Hy is in sy veertigs en was nog nooit getroud nie. Soms verwys hy laggend na die vlinders wat van sy vangnet af weggefladder het. Hulle luister in die donker na sy minnesange tot hulle hom in die lig van ’n straatlamp sien. William spot met homself, maar hy is talentvol en musikaal – speel van kitaar tot doedelsak, sing klassieke korale in die All Saints-koor, Elvis-liedjies in die skoolkonsert. Hy is ’n gewilde onderwyser, snaaks, saggeaard, geduldig.

Hy wag dat sy iets moet sê en sy is versigtig. “Jy is nie soos Danny nie.”

“Reg, ek is nie soos Danny nie, ek is soos William en William is ’n alkoholis.”

Dis nie waar nie! wil sy uitroep. Ons ken mekaar byna twee jaar en jy sit nie jou mond aan drank nie. Dan besef sy: Dis hoekom! Hy hanteer dit so goed, as hulle wyn skink, drink hy water of vrugtesap. Eenkeer het hy gesê hy het ’n belofte voor die Here gemaak om nooit alkoholiese drank te drink nie en bygevoeg dat hy dit nie van hulle verwag nie, dis gevaarlik om sulke beloftes te maak. Hy het en hy is verplig om daarby te bly.

“Waar dink jy kry ek hierdie neus?”

Jo-Anne skud haar kop. Sy dag hy is so gebore.

“Ek het smoordronk teen die sypaadjie se rand geval en in die sloot gelê tot ek bygekom het. Iemand het my omgedraai en my naam gesê. ‘Hulle het hom aangerand,’ het iemand anders gesê. ‘Sy eie skuld, los hom dat hy sy les leer,’ het nog iemand gesê. Hulle was my vriende en hulle het my net daar gelos en geloop. Die polisie het my later opgelaai en hospitaal toe gevat. Die dokter het nie veel simpatie getoon nie. Hy het my perfekte neus se punt afgesny en die res so sleg toegewerk dat ek nooit weer na myself in die spieël kan kyk sonder om daai nag te onthou nie.”

Nou kry sy hom jammer. Sy het ook al geval. “Wat van plastiese chirurgie?” waag sy dit.

“Britse mediese dienste betaal nie vir Walliese dronkies wat hulself mismaak het nie.”

“Hoekom gaan jy nie terug Wallis toe nie?”

“Ek spaar, ek gaan Duitsland toe sodra ek genoeg het, en as ek terugkom, sal niemand my herken nie. Het jy geweet Duitse dokters is die beste plastiese chirurge in die wêreld?”

Nee, sy het nie geweet nie. “Ek sien nie jou neus raak nie,” sê sy en wil haar tong afbyt toe dit uit is. William se neus is sy hele gesig vol, en as sy dit nie raaksien nie, beteken dit dat sy dit nie wil sien nie of lieg omdat sy hom jammer kry. “Dit was nie nodig om my te vertel nie,” voeg sy tot haar eie konsternasie by. “Hoekom vertel jy my?”

“Nie om jou onder ’n verpligting te plaas nie.” Hy raak stil. “Henry-hulle weet nie en hulle hoef ook nie te weet nie – dis gedane sake, ek is drie jaar al skoon. Wat ek jou eintlik wil vertel, is hoe die Here my sover gekry het om my verslawing te breek. Daar was ’n ou dametjie wat in die hospitaal met my kom praat het en vir my gebid het. ‘Niks,’ het sy gesê, ‘is te veel vir die Here nie, Hy wil jou genees en Hy sal. Bely jou sonde, vra sy vergifnis en sondig nie meer nie.’ Ek het nogal gewonder hoe weet sy van my sondes en watter sondes ek moet bely – tot my pa die volgende dag opgedaag het. My pa is ’n ou drinker. Hy het by my bed kom sit en tjank soos ’n hond.”

“Jou ma?”

“Hulle is lank terug geskei. Toe verander sy haar naam, vat my sussies en gaan sing opera in Wene. Drank het ons gesin uitmekaargedryf. Ek het my pa gehaat omdat hy drink, en toe volg ek sy voorbeeld.”

“Dit gebeur.” Waarom sê ek dit? wonder Jo-Anne. Is dit omdat ek dit al gesien het? Maar ek het – in die omgewing waar ek grootgeword het. Drankmisbruik is soos ’n genetiese siekte wat van die een geslag na die ander oorgedra word. “Ek meen, dis soos jy grootgeword het, dis die voorbeeld wat hy vir jou gestel het. Hy was spyt, dis hoekom hy by jou kom huil het.”

Hy knik en tuur by haar verby. “Dit sneeu nie meer nie.”

Sy wou nog vra of hy sy pa vergewe het. Dan dink sy aan Dania. Wat sal Dania sê as sy moet weet haar ma het haar weggegooi? Moet sy nie maar alles los soos dit is nie – aanhou lieg tot in ewigheid?

“Die sypaadjies gaan glad wees,” sê sy. “Ons moet huis toe voor dit verys.”

“Het ek jou aand bederf?” vra hy berouvol. “Het ek jou met my laste belaai?”

Sy kyk hom reg in die oë. Sy gesigsuitdrukking vul haar hart met deernis – en, vreemd, sy neus ook.

“Nee, jy het my raad gegee. Daar kom ’n dag van afrekening, van omdraai. Jy het dit reggekry, ék moet nog mý sondes bely. Ek is nie seker hoe dit gaan uitwerk nie. Ek kan dalk alles vererger!”


Dis Saterdag. Dania draf al vinniger en vinniger – asof dit haar sal help om vir goed weg te kom van die huis waar antie Dora siek lê en alles onderstebo is. Antie Emma het die sopkombuispotte Vrydagaand teruggebring en antie Dora verseker dat alles onder beheer is. Mevrou Maasdorp, wat in haar jong dae blykbaar verpleeg het, help by die kliniek, en ouma Mara-hulle sorg saam vir ouma Loesie en ander wat tuis verpleeg word. Antie Dora moet in die bed bly tot sy gesond is en ook nie weer probeer koesisters bak nie.

Antie Dora het Vrydagoggend, nadat Dania en oom Jonnie weg is skool toe, opgestaan en deeg aangemaak en heeloggend koesisters gebak. Sy was agterna so pootuit dat sy die skottelgoed net so laat staan het en die olie op die stoof gelos het met die plaat nog aan.

Gelukkig het Dania vroeg klaar geskryf en dadelik huis toe gegaan. Toe borrel en rook dit al soos lawa in ’n vuurspuwende berg. Sy het die pot afgeskuif en al die vensters oopgemaak, maar die reuk wou nie uit nie en oom Jonnie was woedend.

Hy is nie geduldig met antie Dora nie en antie Dora is siek. Sy humeurigheid pla Dania so, sy is lus en verkla hom by Dominee.

Dis hoekom sy die pad gevat en gaan draf het, want antie Dora wil opstaan en oom Jonnie baklei met haar. Dania het die oggendskottelgoed gewas en die kombuisvloer gevee. Sy het die taai koesisterstroopkolle so gekyk en besluit sy sal moet vloere was, maar later, as oom Jonnie toetse merk en sy studeerkamerdeur toegetrek is.

“Ek gaan draf!” het sy hulle in die gang af gegroet en nie gewag dat een van hulle haar keer nie. Hulle was in elk geval so ernstig aan die redeneer – soos oom Jonnie hul uitvalle beskryf – dat hulle nie in haar belang gestel het nie.

Een van die dae is Jo-Anne hier, dan sal hulle hul beste voetjie voorsit.

Antie Dora kan nie wag om gesond te word nie – sodat sy kan koekies bak en lekkergoed maak. Sy gee altyd Kersgeskenkpakke vir elke familielid en vir almal in die dorp saam met wie sy werk, ook vir haar pasiënte én die armes. Sy werk haar elke Kersfees gedaan. Oom Jonnie het gisteraand gesê hierdie Kersfees kan sy winkellekkers koop, maar sy staan nie weer op voor haar bloeddruk en hartklop normaal is nie. Hy wil haar Clanwilliam toe vat om die dokter te spreek, maar sy sê sy kan wag tot die reisende kliniek weer dorp toe kom.

Sy was baie kwaad omdat hy vir Jo-Anne wou laat weet. “Ek is skaars twee dae in die bed en jy maak of ek doodsiek is. Wat kan Jo-Anne in Londen doen, behalwe om haar te bekommer?”

“Sy kan vroeër kom en langer bly.”

“Die huis is vuil, ek gaan nie dat Jo-Anne die huis so kry nie.”

“Jy gaan jou nie vermoei nie.”

“Ek sal Valery kry om te help.”

“Dit sien ek nog.”

“Ek het griep, Jonnie, nie hartversaking nie.”

“Dis oorerflik.”

“Ek het dit nie.”

“Jou familie is vrot van die hartsiektes en jy verbeel jou jy spring vry.”

“My hart makeer niks.”

“Jy redeneer teen jou beterwete in. Ek loop liewer voor ek jou ontstel.”

“Jy het klaar.”

Dania is al ’n hele ent weg en haar kop draai steeds van die oor-en-weer-beskuldigings.

Woorde, woorde, woorde wat steek soos bye wat uit ’n korf losgelaat is en agter jou aanvlieg en aanhou steek en seermaak. Dania wens sy kan tot in Lambertsbaai hardloop, maar haar voete volg dieselfde paadjie, altyd in die rigting van ouma Mara se roosheining en die huis waar Rodger woon.

Dié keer hoef sy nie die hele straatblok af te draf nie, sy sien hom sit op die hoek van Negende Laan en Tweede Straat. Haar hart gaan so wild aan die klop, dit voel of sy ook die familiekwaal geërf het. Maar sy sal tog dat dit haar keer! Sy haal diep asem en verslap haar pas sodat sy by hom kan stop.

Sy bene en krukke steek voor hom uit, reg in die straat in, en hy staar na sy selfoon se skerm.

“Haai!”

“Haai.”

Slegte nuus?

Hy prop die selfoon in sy sak en kyk weg.

“Jou bene is reg in die pad. Wil jy hê iemand moet hulle vir jou afry?”

“Hier ry nie karre nie.”

“Jy dink so.”

“Oukei – om jou te please.” Hy swaai sy bene uit die pad.

“Jy’s ver van die huis af – met jou krukke.”

“Jy ook – met jou kieriebeentjies.”

Dania wil haar vererg omdat hy haar beentjies beledig, maar dalk het sy daarvoor gesoek. En dit wys ten minste dat hy haar raaksien.

“Ek wil hulle laat rus. Kan ek sit?”

Hy klap met sy hand op die sypaadjie langs hom en sy gaan sit so een liniaallengte van hom af.

“Julle klaar geskryf?” vra hy.

“Gister. En jy?”

“Ek moet volgende jaar hereksamens doen.”

“Dis nie reg nie.”

“Ek wil mos my lewe in gevaar stel en verlief raak op die verkeerde meisie.”

Jou stupid, dink Dania, hier sit die regte een langs jou en al wat jy sien, is haar kieriebeentjies. “Daar’s ander meisies,” sê sy tentatief.

“Ek sal haar nooit weer sien nie.”

“Het julle dit uitgemaak?”

“Sy’t hulle adres ge-SMS.”

Dania tel ’n stokkie op en krap daarmee in die sand. “Gaan jy soontoe?”

“Ek besluit nog.”

Sy gooi die stokkie dat dit trek. “Jy hou dan so van haar.”

“Ek hou van haar, maar dis beter dat ek haar los.”

Dania kyk na hom. Iets is verkeerd, en dit kan dalk tot haar voordeel strek.

“Hoekom?” waag sy dit.

“Ek’t gister gebel, toe sê haar oupa hy gaan haar nie roep nie, en ek moenie weer bel nie.”

“Dis goor.”

Dania is in haar skik om te hoor hoe goed sy toneelspeel. Vir haar is dit allesbehalwe goor.

“Toe vra ek of hy my ’n rede kan gee.”

“Oukei?”

“Hy sê Talita maak ’n nuwe begin, sy moet die verlede vergeet en nie meer skuldig voel oor goed wat gebeur het nie, dis hoekom hy my vra om te bly waar ek is.”

Dania hou haar sedig. “Sê hy jy is nie meer goed genoeg vir haar nie?”

Rodger skuif rond soos iemand wat vasgemaak is. “Ek is niks slegter as hulle nie. My ouma het my grootgemaak omdat my ma dood is, nie omdat my pa my lewe hel gemaak het nie.”

Vreemd, Rodger praat nooit sulke goed met haar nie – en hier sit hulle, en dit voel reg.

“Ten minste is jy nie aangepass soos ek nie,” sê sy in ’n poging om hom te troos.

“Is jou ma ook dood?”

“Nee, maar sy’s siek en oud, met baie kleinkinders. Sy ly aan haar hart, dis hoekom ek by antie Dora-hulle kom bly het. Nou’s antie Dora ook siek, en oom Jonnie hou aan dis haar hart. Ek weet nie wat om te doen nie.”

“Help jy partykeer in die huis?”

Hy bedoel dit seker nie sleg nie, maar dit voel of hy haar wegstuur. Sy spring op.

“Of course help ek! Hier sit ek en nonsies praat en die kombuisvloer moet gewas word!”

Terwyl sy haar agterent afstof, punt sy haar tone sodat haar beentjies minder soos stokkies lyk en meer soos ’n model s’n.

“Werk jy soos Aspoestertjie?” vra hy amper tergerig.

“Ja, nie soos jy wat heeldag op die straathoeke sit en niks doen nie!”

“Ek sit nie en niks doen nie, ek dink.”

“Oukei, lekker dink!”

Sy wonder of hy haar agternakyk toe sy wegdraf.

Aspoestertjie het ’n prins gekry, maar Dania Pietersen sal tevrede wees met Rodger Davids.

Haar ma se kind

Подняться наверх