Читать книгу Haar ma se kind - Helena Hugo - Страница 6

Twee

Оглавление

Dora kan nie slaap nie, sy lê stokstyf langs Jonnie en luister na sy rustige asemhaling terwyl sy haarself kasty met angsgedagtes. Besef hy nie wat aan die gang is nie? Jo-Anne skryf dat Dania oud genoeg is om alleen Londen toe te vlieg! Sy wil haar wys waar sy woon en werk, sy wil die foto’s wat sy gestuur het en die prentjies wat sy beskryf het, in werklikheid omsit. Sy het geld, sy het haar eie blyplek. Sy sal sorg dat sy ook vakansie neem sodat sy tyd het om Dania te trakteer. Dis een van haar drome, dat hulle mekaar beter leer ken.

In Engeland, nie in Suid-Afrika nie!

Jonnie kyk dit mis en Dania kan bars van opgewondenheid. Sy is nog nie in matriek nie en sy gaan oorsee. Dis al waarom hul tafelgesprek vroeër vanaand gedraai het. Dania wou haar ma dadelik ná ete bel, maar hulle het haar gekeer tot daar meer sekerheid is. Lea is nie wel nie en sy gaan slaap deesdae vroeg. Toe kon Dania nie wag om Lylane en haar ander skoolmaats in te lig nie, maar sy sien hulle eers Vrydag as hulle English composition skryf.

“I’ll phone Lylane and text the rest of them: Dania Pietersen is going places, first stop – London! From now on we speak English!”

Jonnie het sy vurk laat val en ’n grappie gemaak. “Wil jy hê jou oom moet ’n woordeboek saamdra?”

“Oukei, Oom, ek sal ’n uitsondering maak vir Oom.”

Dora praat Engels by die kliniek, van die dokters is Engels en deur die jare het sy ’n paar woorde en uitdrukkings aangeleer. Jonnie, aan die ander kant, se tong knoop. Al probeer hy hoe hard, sy Engels kom so skeef uit jy sal nie glo hy is ’n skoolhoof nie. Goed dat hulle nog nooit by Jo-Anne gaan kuier het nie. Hulle sal haar net in die skande bring.

Dania het ’n slag met tale, sy lees graag – iets waaroor Dora haar ook bekommer, daardie Engelse boeke en liefdesromannetjies wat Marta vir Dania aangee. Die kind slurp dit op en dis juis sulke stories wat meisietjies van haar ouderdom nie nodig het nie. Sy en Lylane giggel gans te veel oor seuns. Hulle dink sy hoor nie, maar sy hoor. Dania is haar ma se kind – te voor op die wa vir vyftien. Altyd bekkig gewees vir haar ouderdom, dis soos sy as tienjarige hier aangekom het. Jo-Anne moes haar nooit by Lea-hulle gelos het nie. Maar goed, destyds het die familie saam besluit dis vir die beste – sy en Jonnie ook – en Jo-Anne het betaal. Toe raak hul baba groot saam met Lea-hulle se spannetjie. Almal was al op skool – Travis, Lester, Garrett en Leandra in die hoërskool, Klein-Neville uit in graad tien om te gaan werk. Dora het respek vir haar suster en oorlede Neville. Hulle het hul gesin op ’n manier bymekaargehou, maar die lewe was altyd te duur en groot kinders soek meer en meer. Daardie erfie was naderhand so toegebou van al die aanbousels, die munisipaliteit het Neville aangeskryf en hy moes afbreek – al sy spaargeld daarmee heen. Toe skuif hulle Dania se toelaag so ver op Jo-Anne kon dit nie bybring nie.

Dis hoe Dania by hulle uitgekom het, tien jaar oud en so cheeky soos ’n kind van dertien. Geduld gekos om haar reg te help sonder om Lea-hulle se huishouding sleg te maak. Sy en Jonnie het klippe gekou die eerste jaar. Maar eintlik is Dania haar en Jonnie se tweede kans. Hulle het saam besluit dat Dania nie soos Jo-Anne in dieselfde moeilikheid sou beland nie, gerieflik vergeet hoe hulle self met sedige gesigte voor die preekstoel gestaan het, Dora so naar sy kon omval.

Sy sal dit nooit uit haar kop kry nie – haar skynheilige wit troue wat altyd terugkom om by haar te spook. Baie nagte as sy wakker lê, sê sy vir haarself dis deel van die Here se straf. Sy wil nie daaraan dink nie, maar elke keer as moeilikheid dreig, besef sy dis waar dit begin het, by haar en Jonnie. Ten minste was hulle eerlik genoeg om nie hul rug op Jo-Anne te draai nie, maar hul liegstories raak toe so ingewikkeld, veral met Lea en Neville wat saamspeel.

Hemelvader, wat my gewete vannag die meeste pla, is dat ons Dania geleer het om eerlik te wees. Sy mag nie leuens vertel nie, nie dinge vir ons wegsteek nie. Maar wat doen ons?

Hulle praat nie hieroor nie, dis wat! Miskien is Jonnie ook wakker en maak hy net of hy slaap, maar as sy nou iets sê, ontaard dit in ’n rusie en dis nie goed vir die kind nie. Sy wat Dora is, moes alreeds aan tafel haar gesig opsit en maak asof sy saam uitsien na Dania se Londense kuier.

“Jou antie is bang jy kom nie terug nie,” het hy laat val.

“Dis nie dit nie, Jonnie, en jy weet,” het sy teruggekap.

“Wat dan, antie Dora?”

Sy het weggeskram en die onderwerp verander. Haar laaste woorde aan Jonnie vanaand voor hulle ingeklim het, was: “Moet ons ons toestemming gee?”

Jonnie het die laken oor hulle getrek en haar hand gevat. Hulle het sekondes lank so langs mekaar gelê voor hy gepraat het.

“Lea is, wat Dania betref, die een wat moet sê. Teen Jo-Anne kan ons nie stry nie, sy het regte,” het hy gesê.

Dora kan nie glo dat hy net die een kant van die saak sien nie. Jo-Anne het regte, maar die meeste daarvan het sy weggegee, en nou skielik besluit sy om dit terug te vat – ten koste van die kind!

Sy kon dit gesê het, maar sy het geweet hy sou dit afmaak.

Sy sal tyd inruim om Lea te bel en die ding met haar uit te praat – sonder om Lea te ontstel, natuurlik. Met Jo-Anne wil sy vir eers nie swaarde kruis nie.

“Slaap nou,” het Jonnie gepor.

“Sy gaan Dania terugvat.”

“Moenie vooruit dink nie, wag tot ons daar kom, dan hanteer ons dit.”

“Ek bekommer my.”

“Slaap.”

Jonnie het haar hand gelos en sy rug op haar gedraai.

Hy was kwaad vir haar, anders sou hy haar met ’n soen nag gesê het.

Sy het haar oë toegemaak en nie geroer nie, roer steeds nie, slaap ook nie. Môre moet sy vyfuur opstaan en voor werk stowevleis opsit vir Vrydag se sopkombuis. Sy moet by drie huise aanloop op pad werk toe. Die kliniek maak nege-uur oop, teen eenuur gaan sy huis toe om groente by die vleis te sit, drie-uur is sy terug by die kliniek. Namiddag laat loop sy by twee ander huise aan – dis so ver, sy bêre dit juis vir laatmiddag as die son begin sak.

Hulle eet nooit van die sopkombuiskos nie, sy steel nie van die kerk nie. Teen sewe-uur moet sy vir hulle kom kos maak. Voor sy gaan slaap, moet sy stroop kook vir koesisters, sy het baie bestellings. Saterdag is al dag wat sy kan bak. Sy kan nie Vrydag stroop kook nie, Vrydag se sopkombuis hou hulle tot laatmiddag op hul voete. Saterdag trek sy skoon lakens oor die beddens en was wasgoed, sy bak heeldag koesisters en stryk ná aandete. Sondagoggend is dit kerk. Sy kook Sondae groot. Dis nou eenmaal tradisie. Hierdie Sondagmiddag moet sy onthou sy doen siekebesoek saam met dominee Willemse. Haar beurt kom darem net een keer ’n maand. Maar dan kry sy gewoonlik nog besoekpunte by op haar gewone lysie tot iemand afsterwe en sy die naam kan doodtrek.

Die laaste tyd voel sy ook nie te wel nie. Soms moet sy haarself dwing om in die oggend op te staan. Die gedagte dat daar niemand is om by haar oor te neem nie, behalwe Mara wat probleme van haar eie het of Emma wat net so oorwerk is, dwing haar om staande te bly. Vir Jo-Anne se kuier moet sy krag spaar. Jo-Anne is haar eie dogter, maar sy verstaan haar net mooi niks. Bid, dis al wat sy kan doen.

Hemelvader, ek het haar lief. Sy is myne – my vlees en bloed, maar die dag toe sy hier uit is kollege toe, kon ek sien sy gaan haar eie pad loop. Ons het stry gekry oor die somerrokkies wat ek vir haar wou maak. Sy wou jeans koop en sy het, jeans en hoë hakke en henna vir haar hare. Jo-Anne het van kleins af altyd ’n wilde streep gehad. Ergste is: Ek het myself in haar herken. Toe ek jonk was – Here, U wat alles weet – wou ek mos vir my ’n dokter gaan vang daar in Groote Schuur, dis hoekom ek verpleegkollege toe is. Wou soos die ryk wit mense in een van daai glashuise teen Tafelberg se hange woon. Ongelukkig moes ek elke maand een naweek terugkom huis toe, en Jonnie Stals het dieselfde pad gery. Kom ons nou by die einde van daai pad, Here?

Dora sê nie amen nie, sy onthou skielik dat sy vir Loesie seep belowe het, mieliemeel en koffie vir die Nagels. Paraffien vir die Porters … Sy moet die goedjies vroeg uithaal en vir Dania neersit sodat sy dit kan aflewer. Wat nog? Pynpille. Uitputting oorval haar tussen paraffien en pynpille …

Toe Jonnie haar wakker skud, begroet sy hom met: “Het ons nog rekverband in die linnekas?”

“Jy het tot laatnag rondgerol,” verwyt hy haar. “Eerste ding waaraan jy dink as jy jou oë oopmaak, is jou werk.”

Sy ruik koffie, besef dat sy laat is en sit regop, mislik en met ’n kopseer. “Het ek verslaap?”

“Dis halfsewe.”

“Ek moes vyfuur op gewees het! Het jy geëet?”

“Ek het hawermout in die mikrogolfoond gemaak, vir jou ook.” Jonnie het ’n baadjie en ’n das aan, ’n spierwit hemp. Net sy weet hoe erg dit is om die sweetvlekke onder daai arms uit te was. Hy frons en kyk skeef na haar. “Jy lyk moeg.”

“Ek sal beter lyk as ek my gesig gewas het en my eerste koppie koffie in het.”

“Dania het gemaak.” Hy gee haar die gebruiklike piksoentjie en vat sy werkstas.

Sy klim langsaam uit die bed, so dronk sy moet aan die bedstyl vashou om regop te bly. Min slaap, besluit sy, en wag tot haar ore nie meer suis nie.


Jo-Anne se wekker gaan elke oggend halfsewe af, maar sy staan nie voor sewe-uur op nie – veral nie in die winter nie. Gewoonlik skakel sy die televisie aan en lê en rook haar eerste sigaret. Vanoggend is sy nuuskierig om te sien of haar pa haar e-pos gekry het. Sy gaan haal haar skootrekenaar, klouter weer onder die komberse in, skakel dit aan en tik haar epos-wagwoord in. Met haar een hand soek sy na die sigarette op haar bedkassie en kry ’n leë pakkie. Laas nag mos haar goeie voornemens laat vaar en genoeg gerook vir die res van die week. Dis nie te sê dat sy ingee nie, sy sal die stryd volstry voor sy huis toe gaan en haar ma beïndruk met haar soet asem. Antie Lea rook, maar haar suster sê reguit rook is sonde. Jo-Anne grinnik. Haar ma het ’n neus soos ’n bloedhond wat afgerig is om enige soort sonde uit te ruik.

Ag nee, nie ’n teken van ’n Stals of ’n Pietersen in haar in-mandjie nie! Miskien later vandag.

Sy klap die deksel toe sonder om een van haar ander e-posse oop te maak, swaai haar bene uit die bed, steek haar voete in pantoffels en slof badkamer toe. Sy het laas nag haar handdoeke oor die relings gehang en die verwarmers op laag geskakel. Dit help veel.

Dania sal moeilik aan die winters gewoond raak, al dink sy sneeu is wonderlik. Ja, dit maak romantiese prentjies, maar vandat aardverwarming toegeslaan het, sneeu dit selde behoorlik. Die vieslike winters ten spyt, wil sy die kind hiernatoe bring en haar die moederliefde gee wat sy ontbeer het. Ongelukkig is daar geen vaderfiguur nie, nie op die oomblik nie. William tel nie en Danny sal haar niks baat nie. Nee, Dania mag nie eens weet van Danny wat in Cambridge woon saam met sy Engelse vrou wat klas gee aan die universiteit, en haar twee halfsussies en een halfboetie nie – beslis nie!

Jo-Anne plak tandepasta op haar tandeborsel en borsel hard en lank aan die bitterheid in haar mond. Hy kom spog mos by haar met sy kinders, maar hy weet nie van Dania nie en sy sal sorg dat hy nóóit weet nie. Een van die dae is sy hier, dan wys sy haar die mooiste stad in die hele wêreld. Museums, kunsgalerye, kastele, parke, tuine, winkels wat enige Weskuskind uit Suid-Afrika net van kan droom – wat sý van gedroom het tot haar hoop verydel is.

Die tandeborsel land skeef op sy staander. Haar hande bewe, sy blaas op die spieël, vee nie die dowwigheid af nie. Dis hoe sy lyk, soos ’n verlore gees wat iewers in die mis rondsweef op soek na vervulling. Vyftien jaar se verlange doen dit, dit maak jou leeg. Antie Lea ondersteun haar, sy het al baiekeer gesê sy weet nie hoe sy dit hou nie. Sy het agt kinders en sal nie een van hulle kon weggee nie. Sal haar goeie ma dit verstaan, sal sy haar kan oortuig? En haar pa?

“Ma, Pa, hierdie winter is die laaste winter sonder my kind.”

Liewe Here, maar wat van Dania? Kan ek dit waag om te vra dat sy haar goedjies pak en saam met my huis toe kom?

Soms maak dit haar so bang dat Dania haar sal haat, sy wou al voor ’n trein inspring. Ander kere dink sy dit sal goed wees om gehaat te word, dan word sy deeglik gestraf en kry miskien eendag vergifnis. Kan Dania haar vergewe, kan die Here? Sy vra so aanhoudend, miskien het Hy. Maar hoe kan sy seker wees voor sy Dania alles vertel het?

Jo-Anne draai van die spieël af weg en trek die badkamerdeur met mening agter haar toe. In die slaapkamer maak sy haar hangkas se deure oop. Sy haal dik wintersklere uit, trek aan, kam haar hare sonder om weer in die spieël te kyk en sit haar mus op. In voorbereiding op die modderpad na haar toesluitgarage trek sy haar Wellingtons aan en gooi ’n paar leerstewels in ’n Sainsbury-sak. Haar skooltas is gepak. Sy maak seker dat sy haar handskoene in haar jassakke het, knoop haar serp om, stel die lugreëlaar en maak die woonstel se voordeur oop.

’n Yswind waai teen haar vas. Sy sluit toe, trippel rond en trek haar handskoene aan. Ver weg hoor sy die portaaldeur toeklap. Drie verdiepings later stoot sy dieselfde deur oop. Dis nog kouer buite. ’n Dun lagie sneeu bedek die grasperk. Oral lê spore van mense, katte, honde en vosse.

Dania kan nie glo daar hardloop vosse in ’n groot stad soos Londen rond nie. Jo-Anne het vir haar ’n foto gestuur van die een wat soms op die kerk se agterstoep slaap. Die koster voer hom met brood en vleis. Hy mag nie, maar in die winter kry die Londenaars al wat ’n dier of voël is, jammer. Ou mister Steward is juis besig om ’n papiersakkie voëlsaad uit te skud. Hy is ’n wag by die Portrait Gallery, dertig jaar lank, weet baie van kuns.

“Good morning, my dear,” groet hy. “Cold today.”

“Good morning, mister Steward.”

“What d’you think, colder than yesterday?”

“Indeed, mister Steward.”

Hy frommel die leë sakkie op, prop dit in sy jassak, wikkel sy skouers en stap met kruppelstappies na die bushalte langs die hoofhek. Jo-Anne voel sleg omdat sy hom nie ’n saamrygeleentheid aanbied nie, maar jy ry nie met ’n kar die stad in nie. Haar skool is drie blokke van hier af. In die somer loop sy, in die winter ry sy. Mister Steward het met haar vriende gemaak toe sy hier ingetrek het en hy hand bygesit het met afpak en aandra. Dit was die eerste en laaste keer dat hy in haar woonstel was. Hulle gesels buite op die trap of in die tuin en het ’n paar keer saam Harvester toe gestap vir vis en tjips. Sy seun, Charlie, werk al amper twee jaar lank in Doebai. Mister Steward sê dis goed, hulle het lank genoeg by mekaar uitgehou, maar hy is eensaam en kla dat Charlie nie gereeld sy e-posse beantwoord nie.

Jo-Anne weet hoe hy voel. Sy wou hom al die waarheid oor Dania vertel, maar sy keer haarself. Die ou mense wat sy ken, oordeel hard en sy wil nie sy vriendskap verloor nie. Soms verlang sy so na haar pa, sy sien hom voor haar loop, skraal en effens geboë, asof hy lank in sy lewe ’n las met hom saamdra.

Haar ma se kind

Подняться наверх