Читать книгу Elim - Helena Hugo - Страница 10
Hoofstuk 5
ОглавлениеCaroline is in haar skik met haarself. Sy het dadelik met Daniël se klere begin en net tien dae gevat om drie hemde en twee broeke te sny en te stik. So twee jaar gelede het sy en Georgina nog saam klere gemaak, en hulle verskil hemelsbreed. Georgina is aangelê vir naaldwerk. Haar skatting is so goed, vir haar is dit nie nodig om te pas nie. Caroline is onhandig en het haar tyd geneem met elke naatjie. Gelukkig het Daniël twee keer per week vir kategeselesse gekom en sy het hom elke keer gevra om eers aan te pas. Dit was maklik tot sy die eerste hemp se moue afgesteek het en met ’n skok agtergekom het dat hy net sulke breë skouers soos sy pa het. Haar hande het so aan die bewe gegaan, sy moes die spelde versigtig insteek. Hoe anders? Sy dink nie eens aan Willem nie en hier staan hy voortgeplant in die liggaam van sy seun!
Daniël was in sy noppies met sy nuwe klere.
Hy het sy arm om haar gesit en haar gesoen. “Dankie, Moeder.”
“Jy moet vir jou tant Georgina dankie sê dat sy my geleer het.”
“Moeder kon sonder haar klaargekom het.”
Dit het soos ’n verwyt geklink, maar miskien is sy net oorgevoelig. Dis nie maklik om te erken nie, maar sy het skuld aan Willem se ontrou. Soms as sy snags alleen in haar bed lê, verlang sy na sy arms om haar, die manier wat hy gehad het om haar hare te streel. Hy kon sag wees as hy wou. Maar sy kon haar lyf net nie meer vir hom gee nie. Sy het moeg geword en die moegheid het haar afgetrek na ’n donker plek, diep in ’n gat waar sy skaars kon asem kry.
Die vooruitsig om ’n slag weg te kom van Mispa het haar met werkywer besiel en sy het vir die dogters ook elkeen ’n nuwe rokkie gesny. Haar Singer-naaimasjien het goed te pas gekom en Doortjie help graag met die afronding. Katryn het ook hand bygesit en die oggende rondom die naaldwerktafel het in ’n aangename samesyn ontwikkel. Annatjie en Cara is te jonk vir meester Elie se skool. Hulle het met stukkies lap onder die tafel gespeel. Later moes Katryn die knoopsgate los en help poprokke maak. Caroline het vir Cara se lappop ’n rokkie gesny wat nes haar eie Sondagrok lyk. Sy het die synate met die Singer vasgewerk en Katryn het die res gedoen. Annatjie wou als self doen en werk toe, tot haar groot frustrasie en Cara se genot, haar poprok aan haar eie rok vas.
Cara is twee en ’n half jaar oud. Katryn het haar nog nie gespeen nie en die band tussen hulle is so vas en stewig gebind, Caroline weet glad nie meer wat sy moet doen nie. Mag sy die kind vir haar terugneem of mag sy nie? Hoe vat jy ’n kind uit die arms van die vrou wat tot nou toe haar moeder was en steeds is, selfs al het sy nie aan haar geboorte geskenk nie? Cara praat haar soogmoeder se taal, glad soos seep glip die klik-klakklanke van haar klein tongetjie af. Sy vly haar teen Katryn aan en raak aan die slaap nadat sy versadig gedrink is.
Sy is ’n engelkind met haar goue lokke en persblou oë, haar vel heuningbruin van sonskyn en gesonde buitelug. Caroline kon haar verkyk aan die klein handjies wat kinderlik onhandig haar lappop se slap arms in die nuwe rok se moue druk. Die verwondering waarmee sy opgekyk het toe Caroline ’n satynlint om die pop se wolkop bind, was ’n veel groter geskenk as Nuwejaarsdag se papierblom. Daar was iets soos herkenning in haar ogies, iets van ’n oerverbintenis.
Caroline moes keer voor sy haar vra of sy die eerste paar uur van haar lewe onthou. Sy, aan die ander kant, onthou nie net nie. Sy weet dat sy haar toe nie wou vashou nie.
“Nôi, jy was siek, die kind het jou siek gemaak.” Dis wat Siena sê, elke keer as sy troos soek.
Siena se laatlam kom die nag van 10 Maart in die wêreld. Doelie is die vangouma en het nie die volgende dag kom werk nie. Sy het Griet in haar plek gestuur.
“Dis ’n vroukend,” het Griet aangekondig. “Siena is sterk, sy was klaar haar eie wasgoed.”
Caroline het ’n mandjie gepak en net ná die oggendgodsdiens strooise toe gestap.
Siena het regop gesit, plat op die grond, rug teen die strooismuur, en die baba gevoed.
“Nog ’n meisiekend,” het sy trots gesê.
Sy het gewag tot die kleintjie die tepel los, dit uit die mondjie gehaal, die stroompie melk met haar vinger afgevee en die dogtertjie vir Caroline aangegee. Die dingetjie was so styf vasgedraai in haar flenniekombersie, dit was maklik om haar vas te hou – ’n opgestopte lapworsie met ’n slaperige gesiggie, die reuk van gestampte boegoe en warm melk wolkerig om haar, ’n alwetende kyk na die vreemde vrou wat huil sonder om ’n geluid te maak.
Sy het gehuil omdat haar arms so leeg was en toe so vol van wat kon gewees het.
Siena was besig om die mandjie uit te pak, van die koekies vir die ander kleintjies aan te gee. “Gaan roep ouma Fien, sê haar nôi Kerliena is hier.”
Caroline het die baba staan en sus, trane in strome oor haar wange.
“Sy trek op ouma Fien,” het Siena gesê – gewoon asof sy die strome nie sien nie.
Caroline het haar trane gesluk. “Wat noem julle haar? Fien?”
“Ouma is blind, maar sy sien die kend met haar hande. Ons gaan haar Stefiena doop.”
“Stefiena. Dis mooi.”
“Stefiena Karoliena. Eerste naam vir ouma Fien, tweede naam vir jou.”
“Ek verdien dit nie.”
“Jy was siek, jou kend het jou siek gemaak. Eendag as jou kend jou nie wil oppas nie, sal dié ene. Sy sal jou in jou ouderdom sorg as ek nie meer hier is nie.”
“Wat van jou, Siena?”
“Hier is baie meisiekenners wat teen daardie tyd groot sal wees.”
Ouma Fien het voel-voel met haar stok uitgestrompel, krom soos ’n hoepel, stadig en versigtig.
“Ouma, ek sou binnetoe gekom het!”
“Tyd lat ek son vang voor hy te hoog brand. Waar staan my sitplek?”
Caroline het haar na haar stoel toe gehelp, ’n gemaklike leunstoel met sagte kussings en ’n kombers vir haar knieë.
“Hoe gaan dit met jou, my kend?”
“Goed, ouma Fien, en met Ouma?”
Ouma Fien se mond het gebewe. “Die bekruiper het ou Gert gekom vat.”
Caroline het vir Siena gekyk. Siena het haar skouers opgehaal. Oupa Gert was al tien jaar dood.
“Ek is jammer om dit te hoor,” het Caroline getroos.
“Hoe gaan dit met Klein-Willem se magoed? Leef sy nog?” het ouma Fien gevra.
Dit was toe duidelik dat sy nie meer weet waar sy is nie. Caroline was spyt dat sy so lank gewag het voor sy ’n slag by die strooise uitgekom het. “Willem se ma is lankal oorlede,” het sy gesê, “sy pa ook.”
“Sit hom gou-gou oener die kluite. Sondag is goed, dis die Here se dag.”
Sy het gegroet, die ou vrou se hande in hare geneem en dit saggies gedruk.
“Wie is jy?” Ouma Fien het haar ken gelig en soos ’n dier in die lug gesnuffel.
“Ek is Willem Basson se huisvrou.”
Die ou vrou het haar vingers stywer vasgeklou. “Jy moet jou kend vat.”
“Watter kind, ouma Fien?”
“Klein-Willem. Hy slaat vir hom dood, ek sê jou nou.”
Op pad terug het sy aan haar eerste huweliksnag gedink, haar hande op Willem se rug, die littekens onder haar vingers. Hy wou haar nie vertel waar hy die merke gekry nie. Sy het by Doelie uitgevind en Doelie het vir haar gesê sy ken die storie omdat sy Jakob gehelp het om Groot-Willem Basson se seunskind deur te sien. Hy was te naby sy dood om te weet dat sy by was.
Caroline kon nie herstel van haar besoek aan Siena-hulle nie. Die besef dat sy as moeder misluk het, het haar verlam. Sy het aan Cara gedink en sy het aan Willem gedink. Een nag het sy gedroom sy is Willem se ma en sit met haar hande in haar skoot gevou en kyk hoe sy pa hom vermoor. Sy het wakker geskrik, opgestaan, voor die oop venster gaan staan en gewag vir die naglug om haar af te koel. Daar was lig in Elie se venster, flou kerslig. Wat sou hy doen as sy oorstap en hom van haar nagmerrie vertel? Het Willem al vir hom verduidelik hoekom hy wat so streng is, nooit sy kinders slaan nie? Hulle is vriende, gesels veral nagmaalnaweke tot laatnag, drink saam witblits uit blikbekers. Dis hoekom Elie hom van sy kinderdae in Warskou vertel het. Sy was te jaloers om te probeer uitvind wat presies. Sy weet nie veel van Elie nie, en gans te min van Willem.
Die moegheid is weer besig om op haar toe te sak.
Willem het staning gekry in die Senekal-distrik. Die boer wat hom vriendelik ontvang het, se naam is Coenraad Klopper. Die Klipspruit-rivier loop deur sy plaas Driekuilen, waar hy met mielies, koring en vleisvee boer. Hy het Willem verseker dat die Rinderpest nooit in die Vrystaat sal uitslaan nie, simpatiek uitgevra na die droogte en belang gestel in Willem se plaas, sy boerdery en sy gesin. Toe huurgeld vir die staning ter sprake kom, het hy hom laat verstaan dis nie belangrik nie, daaroor kan hulle later ooreenkom. Willem het met die eerste aansig respek vir hom gekry en vir sy vlytige huisvrou, Petronella. Hulle het ses kinders van wie twee pare tweelinge is – almal opgeskote seuns wat van vroeg tot laat te perd kom en gaan, altans so ervaar Willem dit. Wat pla, is dat hulle hom aan Daniël herinner wat ’n ruiter soos min is, tuis op ’n perd se rug, lief vir diere, ’n boer in murg en been. Daniël, op wie hy gereken het, maar nie meer kan vertrou nie.
Coenraad se wewenaar-vader, diep in die tagtig, benut elke geleentheid om oor die Groot Trek van ’38 uit te wei en oor die Klopper-familie wat kruis en dwars oor die land geswerf het, voor hulle die Basotho verdryf het en onder Johannes Brand tot rus gekom het.
“Hulle koek saam op Thaba Bosiu en maak bendes wat vee steel.” Die grysaard het sy hees laggie gelag en bygevoeg. “Meeste het stert tussen die bene weggehol Natal toe.”
Willem het probeer uitwerk hoe sterk die nasie was voordat hulle uitmekaar gejaag is en liewer niks genoem van die ruiters op die heuwel nie.
Dit was Woensdag, maar Petronella het ’n Sondagmaal voorgesit. Ná ete is die werkers, manne toegewikkel in Basotho-komberse, tot Willem se verbasing ingeroep vir huisgodsdiens.
Die ou man het weer na hom toe oorgebuig: “Moenie vir jou bekommer nie, hulle is makgemaak,” het hy hardop gefluister.
Willem vertrou nie uitdrukkinglose gesigte nie en Coenraad Kloppers se volk het alte gevoelloos voorgekom. Die vrou wat in die kombuis werk, was weer gans te oorlams en is toegelaat om op ’n regop stoel te sit. Op trek kom jy vreemde gewoontes teë, het hy besluit, en gewonder wat Doelie sal sê as jy vir haar ’n eetkamerstoel gee om op te sit.
Coenraad het met trots aangekondig dat die Bybel ’n familie-erfstuk is wat sy Voortrekker-voorsate van Somerset af binneland toe saamgebring het. Die Bassons van Mispa se Bybel kom ook uit die Voortrek, maar Willem het stilgebly. Oor sy voorouers, veral sy pa, praat hy nie graag nie. Trouens, hy het dit tot ’n fyn kuns ontwikkel om vrae oor hulle te ontwyk.
Coenraad het ’n psalm gelees, waarvan Willem nie veel onthou nie. Daarna is daar gesing en gebid en een van die seuns het, asof hy nie sy pad sou kon kry nie, saam met hom teruggery kamp toe. Dit was nog lig, die eerste dag.
Die Kloppers het hom nie weer vir ete genooi nie.
’n Paar dae later het dieselfde seun en een van sy broers vir hom vars geplukte mielies en wors gebring. “My pa sê Oom mag ’n rooibok skiet vir vleis.”
Eienaardige seuns. Hulle is altyd kortaf en haastig. Seker skaam, het Willem gedink.
Dae het verbygegaan. Die ooie het gelam en die trop het gedy. Danster het die rooibok geskiet – eers ’n week later. Dis te warm om biltong te maak, maar Willem het tog ’n paar repies boudvleis gesny, in die wa opgehang, die res gepekel, in die vel toegedraai en in ’n goeie gat in die grond begrawe.
Hy oorweeg dit om vir die huisvrou te gaan vra of hy van die biltong in haar koelkamer kan hang, toe die seun daar aangery kom.
“Oom, ek sien Oom het geslag?” sê hy.
“Ja, die rooibok wat ek met jou pa se toestemming geskiet het.”
“Láát skiet het.”
“Hoe nou?”
“Ek het gesien hoe skiet daai Boesman van oom.”
“Dis seker om ’t ewe wie die bok skiet. Het jou pa jou gestuur?”
“Nee, Oom, nog nie.”
“Pla dit jou dat Danster die bok geskiet het?”
“Ek en my broers moet uitkyk vir swart mense met gewere.”
“Luister hier … Wat is jou naam?”
“Marius, Oom.”
“Luister, Marius, Danster en Rooivalk sal nie sonder my toestemming koeëls vat en skiet nie.”
“Reg so, Oom. Ek sal vir my pa sê Oom het hom opdrag gegee.”
“Nog iets, jy is ’n bogsnuiter en ek laat my nie van jou voorskryf nie. Ek wil nie haaks wees met jou pa nie. Dis sy plaas dié en ek is sy huurder. As hy probleme met my het, moet hy my laat weet dat ons kan praat, man teen man. Goed so?”
Die seun hou hom so mak soos ’n lammetjie. “Is reg, Oom. Ek verstaan.” Die volgende oomblik vou hy sy arms voor sy bors en lig sy ken in die rigting van die perde. “Oom, waar kry Oom daai perd?”
“Watter een?”
“Die swarte met die wit vlek.”
“Vonk? Hy kom uit Mispa se stal.”
“Mispa? Oom se plaas?”
“Ja.”
“Rêrig?”
“Sal ek vir jou jok?”
“Nee, Oom. Party mense steel sulke perde.”
“Ek teel hulle.”
“Ekskuus?”
“Ek sê, ek téél hulle.”
“Het Oom nog van hulle?”
“Sy vullens, maar hulle is nie binne jou vermoë nie.”
“Kan ek myne inruil vir daai een? Ek sal betaal wat ek kortkom.”
“Glo vir my, jy kan hom nie bekostig nie.”
Willem dink nog hulle maak grappies, maar die seun is kwaad.
“Ek soek daai perd en ek sal hom kry. Oom sal sien, ek kry wat ek wil hê.”
Met dié draai hy om, klim op sy Boerperd wat glad nie so ’n slegte dier is nie, en galop weg.
Willem staar hom agterna. Wat bedoel die mannetjie? Wil hy Vonk kom steel of gaan hy nou by sy pa kerm vir geld om die perd te koop? Hy verbeel hom hy hoor nog die Boerperd se hoefslae toe staan hy al langs Vonk en vryf hom teen die nek en bors. Sestien hande hoog – ’n pragdier wat hy in die wêreld help bring het en stap vir stap geleer het om aan hom gehoorsaam te wees. “Al gee hulle my ’n hand vol diamante, ek verkoop jou nie, en steel moet daai snuiter waaragtigwaar nie waag nie.”
Die perd runnik saggies en druk sy neus teen Willem se nek. Daar vloei soveel liefde en vertroue uit die gebaar, hy moet sy lippe pers om te keer dat hy trane in sy oë kry. Soveel geneentheid, besef hy vir die hoeveelste keer, kry jy net by ’n perd of ’n hond, selde by mense, minste by jou vrou en kinders, tensy jy hulle hul sin gee. Selfs Maria kan soms te veel vra en te min gee. Maar sy grootste teleurstelling nog, is Daniël. Daniël het Elim van hom afgepers.
Hy wil nie daaraan terugdink nie, hy stry daarteen en skielik kan hy dit nie meer beveg nie. Is dit hoekom die Marius so seker is van sy saak, het hy ook ’n houvas op sy pa? Het Coenraad Klopper, nes Willem Basson, skandes wat hy wil wegsteek?
Hy druk sy voorkop teen Vonk se skouer. Hy maak sy oë toe en sien homself die oggend toe hy by Georgina se voordeur uitstap – en daar sit Daniël.
Eers skrik hy hom lam, toe vat hy duiwel en skel. “Wat de ongeluk maak jy hier?”
Hy bly sit, arms na weerskante toe op die bank se rugleuning, oop en uitdagend.
“Ek sit op Georgina se voorstoep. Wat maak Pa hier?”
“Niks. En sy is ‘tante’ vir jou, nie Georgina nie.”
“Pa, en wat is sy van Pa?”
“Hoe meen jy? Sy is my skoonsuster.”
Daniël spring so vinnig regop, hy struikel byna. “Pa slaap hier.”
“Hoekom nie? Sy is familie. Familie gee vir mekaar slaapplek.”
“In haar bed?”
Hy snak na asem. Sy wind is uit, maar sy seun gee hom nie kans om te herstel nie. “Dit is sonde teen die Tien Gebooie, Pa.”
Wat ’n vernedering om deur jou kind gekapittel te word!
Hy gryp hom voor die bors en skud hom. “Soek jy moeilikheid, of hou jy jou heilig, mannetjie!”
“Nee, dis Pa wat Pa heilig hou. Pa lees vir ons uit die Bybel en dan oortree Pa die Wet. Is Moeder nie genoeg vir Pa nie?”
“Kom dit uit jou mond, snotkop?”
“Ek is nie ’n snotkop nie. Ek is ’n man.”
“Jy praat oor dinge wat jy niks van weet nie.”
“Ha!”
Daniël lag lelik. Hy ruk hom so skielik los, sy hemp skeur. Dit skeel hom nie, hy gaan hamer aan die voordeur, so hard dat dit dreun. Willem wil keer, maar vergeefs. Georgina maak oop, nog in haar japon.
“Kom in,” sê sy, “of wil julle hê die bure moet wonder wat aangaan?”
Sy hou die deur oop. Daniël stap voor, hande in die sakke.
“Kan ek vir jou koffie maak?” vra sy.
“Ek soek nie jou koffie nie,” sê hy.
“Goed, wat anders?”
“Vertel vir my pa van die nag toe jy by my gelê het.”
Georgina word spierwit. “Dit is ’n leuen!” roep sy uit.
Daniël kyk haar uitdagend aan. “Vroumense,” smaal hy en stap uit.
Die deur ratel in die kosyn soos hy dit toeklap.
Georgina kerm en huil. Sy trek haar hare uit haar kop. “Nog nooit in my lewe is ek so belieg en verneder, so uitgemaak vir ’n … wat? Dit is nie waar nie!”
Willem staan eers besluiteloos, toe gryp hy haar en dwing haar tot stilte. “Het jy dit gedoen?”
Haar oë is wild, haar gesig verwronge. “Nee.”
“Ek vra jou weer.”
“Nee, nogmaals nee!”
Toe trek hy haar nader, hou haar vas en troos haar tot sy hemp nat is van haar trane.
Willem leun met sy voorkop teen Vonk tot die dier onrustig raak, na hom toe oorbuig en klein proesgeluidjies maak.
Georgina het gebewe en gesnik nes Maria toe die jakkals haar hanslam gevat het.
Stilte het daarna soos ’n onbeweegbare rots tussen hom en Daniël kom lê. Nie een van hulle het haar naam genoem nie, nie een het gevra of geantwoord nie. Willem wou nie. Dis asof hy banger was vir die leuen as die waarheid. Sy laaste woorde aan Daniël was: “Jy kry Elim om te maak wat jy wil, op een voorwaarde – jy hou jou liegstorie vir jouself.”