Читать книгу Elim - Helena Hugo - Страница 8
Hoofstuk 3
ОглавлениеDie plan om Lutz sy eie kamer te gee, werp vrugte af. Klein-Willem speel weer met Hercules en George. Daar is vrede aan tafel, en blykbaar by die skool ook. Lutz doen sy deel op die werf, maar smiddae ná skool loop hy veldin, gewoonlik met Maria aan sy sy. Caroline kan dit nie miskyk nie. Maria se kappie blom wit op die swart verbrande aarde. Elie gaan haal hulle voor melktyd, soms met Annatjie aan die hand en Ntumka wat vooruit hardloop. Hulle dra volgelaaide sakke aan na Lutz se buitekamer. Caroline waag dit nie om beswaar te maak nie, nie terwyl die vrede nog so broos is nie.
Elie sê ook niks. Doortjie vat nog sy elfuurtee skool toe. Caroline neem hare in die eetkamer waar sy by die tafel sit en naaldwerk doen. Sy dink terug aan die dae toe sy en Georgina hul naaldwerk op die voorstoep uitgedra het. Sy het geglo Georgina is hier om haar te help, maar sy was verkeerd.
Elke herinnering is versuur en in dié weer is die stoep nie ’n goeie plek nie. Bet vee en poleer dit soggens getrou, maar die wind kom onverwags op en skep hande vol grond uit die dor aarde om haar harde werk ongedaan te maak. Dis moordend warm. Die honde soek vergeefs skuiling teen die vlieë en die sonbesies skree eentonig in die peerbome. Oor die eendedam hang verlepte wilgertakke vaal van die stof en bondel ganse en makoue in modderpoele saam.
Vrydagmiddag kom die skool vroeg uit. Die hitte is ondraaglik en die kinders word ná ete kamer toe gestuur om te rus. Elie het vir Caroline ’n boek tafel toe gebring.
“Wuthering Heights,” het hy gesê. “Jy het dit al gelees.”
“Verlede jaar in die winter, as ek reg onthou.”
“Ek het my boekrak uitgepak om vir jou ’n storie te soek wat jy nie ken nie.”
“Dankie, dié een het ek net een keer gelees.”
Een en ’n halwe keer, het sy gedink en dit vir Doelie aangegee om op die buffet neer te sit.
Elie se gesigsuitdrukking het meer as woorde gesê.
Sy het in trane uitgebars toe hy dit die eerste keer vir haar geleen het – die gedagte aan haar eksemplaar wat Willem in die kleinhuisie opgehang het vir afveepapier, te veel om te hanteer. Hoe het sy nie destyds begeer om die storie klaar te lees nie! Elie weet tot vandag toe nie hoekom sy gehuil het nie en sy sal hom nie vertel nie. Wat hy onthou, is trane van dankbaarheid. Hy wou die boek vir haar present gee, maar sy kon dit nie aanvaar nie.
Vandag is dit meer as ’n geskenk, dis ’n vredesoffer.
In die slaapkamer spoel sy haar gesig af met koel water uit die lampetbeter, trek haar rok uit en gaan lê op die bed in haar onderrok.
Sy maak die boek oop by die eerste hoofstuk:
1801 – I have just returned from a visit to my landlord – the solitary neighbour that I shall be troubled with. This is certainly, a beautiful country! In all England, I do not believe that I could have fixed on a situation so completely removed from the stir of society. A perfect misanthropist’s Heaven – and Mr Heatchcliff and I are such a suitable pair to divide the desolation between us.
Desolation. Sangerig, treurig, hartseer, nimmereindigend.
“De-so-la-tion, ver-la-ten-heid …”
Engels of Hollands. Die gevoel is dieselfde. Sy herhaal dit tot die woorde versmelt en net die betekenis agterbly. Vra iemand haar wie sy is, sal sy reguit antwoord: Die verstote vrou van Willem Basson, aan die vergaan van die verlatenheid.
Die prentjies wat sy teken, lieg ook nie. Haar huis se deure en vensters is toe. Die bome in die tuin is op sterwe na dood – peerbome met hul takke reikhalsend hemelwaarts, perskebome wat te vroeg hul blare verloor het. Aan die suurlemoen se takke hang verwronge vrugte, gaar geskroei deur son en wind.
Die dam wat Willem en Daniël in die lente uitgeskraap het, is dolleeg en kurkdroog. Maria het kom vertel dat daar dooie bokke lê. Sy het raas gekry omdat sy en Lutz dit so ver van die huis af waag.
“Ons het nie, en die huis staan stil,” het sy gesnip.
Sy is reg. Willem Basson se huis staan soos ’n baken op die uitgestrektheid van sy erfgrond. Die veldpaadjies soontoe is diep uitgetrap, die plaaspad wyd genoeg vir ’n ossewa. Maar die werf raak net besig as die familie oor Kersfees en Nuwejaar saamtrek. Selde kom hier ander besoekers en nog minder vreemdelinge, want hierheen moet reisigers van die grootpad afdraai. Dus hou hulle koers, tensy een of ander nood hulle dwing.
Min weet hulle wat verlatenheid is, haar soort verlatenheid in hierdie huis omring van kinders en bediendes. Dagin en daguit, sy en die kinders tussen vier mure wat weergalm van gister en eergister se pogings om geselskap te maak, altyd dieselfde.
“Sit regop. Eet mooi. Het jy jou hande gewas? Wat het Meester julle vandag geleer? Niks?”
Met die bediendes gaan dit nie veel beter nie. Doelie en Doortjie is van voordag af aan die vuurmaak en bak en kook en vee en skrop en wasgoed was en stryk. In die verbygaan bring hulle brokkies nuus van Siena wat so laag dra dat sy enige oomblik geboorte kan gee. Caroline mis haar geselskap. Bet wat die werf vee en die melk karring, is te vinnig in en uit, ook Klaas wat kom verslag doen van nog putte wat opdroog. Willem sal terugkom en sy harde voetstappe sal op die huis se plankvloer en buite op die gruis weerklink. Hy sal werk uitdeel en bevele gee, verder niks – nie een woord vir haar nie. Soggens en saans sal hy uit die Bybel voorlees en die kinders uitvra oor hul skoolwerk – niks vir haar nie. Vrydae sal hy Kimberley toe met vrag vir die mark en mooi woorde vir Georgina.
Haar enigste toeverlaat is Elie Ginzburg. Maar die laaste tyd neem hy sy tee in die skool, groet saans ná Boekevat en maak dat hy wegkom. Sy het die afgelope weke ook so steen en been oor baron Ludwig von Hochvelden se seun gekla, selfs Elie kon dit natuurlik nie meer verduur nie. Sy het hom nodig, maar sy het hom weggestoot. Is dit haar eie skuld dat die moegheid haar die laaste tyd weer oorval en, meer as die versmorende hitte, die lewe uit haar wurg? Lutz is nie alleen te blameer nie, sy het haar hart verhard en dit is nie reg nie.
Iets roer in haar gemoed. Sy onthou hoe die seun hier aangekom het, penregop langs sy pa voor op die huurspaaider, getrek deur twee maer muile, sy tassie met klippe teen hom vasgeklem, hare so lank en ongekam soos die maanhaar van ’n wolf. Wat het sy gevoel? Jammerte of afkeer? Sy was van die begin af nie juis lus om die wilde kind in te neem nie. Haar en Willem se kinders het hom daardie eerste aand egter met soveel uitgelatenheid deel gemaak van die gesin, hy het seker belangrik gevoel en gedink hy sal kan oorneem. Dis nie hoe dit uitgewerk het nie. Sy hoogmoedigheid het hom ingehaal en almal behalwe Maria het hom verstoot.
Hulle twee steur hulle nie aan die ander kinders nie. Ná skool vat hulle koers veldin of stalle toe. Die huilende Annatjie wat soms agternatou, word met afjakke huis toe gejaag. Dis te verstane. Maria was nooit erg oor Annatjie nie, sy het Cara graag rondgedra en al verder van die huis af weggeneem om vir haar veldplantjies en goggas te gaan wys en Katryn ’n blaaskans te gee.
Dit gebeur nie meer nie.
Annatjie is klein, hulle moenie haar so afknou nie.
Caroline tel Wuthering Heights op en kyk lank na die omslag – rooi soos dooie bloed met die titel en die naam van die skryfster donkerder ingegraveer, voor en op die rugkant, inmekaar gerankte roostakke. In haar verbeelding verander sy dit in Heathcliff en Catherine. Gaan Lutz en Maria ook soos hulle saamgroei en mekaar vernietig? Is dit hoekom Elie die boek vir haar gebring het? Is dit wat hy wil sê sonder om reguit te wees en nog ’n rusie te ontketen? Enigiets sodat hulle weer soos goeie vriende met mekaar kan praat?
Ongelukkig is haar gewete nie alte skoon nie. Sy het na Elie gekyk en Heathcliff in hom gesien, die eerste keer toe Willem hom aan haar voorgestel het en hy selfbewus afgekyk het. Toe het sy gewonder of hy haar daardie oggend in die kamervenster sien staan het – die vrou in haar nagrok met haar hare los op haar skouers. Hy is die onskuldige skoolmeester wat haar met sy boeke verlei het. In elke storie wat sy gelees het, was hy haar held en sy sy heldin. Hy is haar geheim en hy het nie die vaagste benul nie. Die bladsye fluister dit tussen haar vingers:
He little imagined how my heart warmed up towards him when I beheld his black eyes withdraw so suspiciously under their brows … and when his fingers sheltered themselves, with jealous resolution, still futher in his waistcoat …
Eenkeer het hy met die wind in sy hare hiernatoe gestap en op die stoeptrap bly staan asof Mispa se huis syne was. Sy het gewens sy kon met die trap af hardloop en haar arms om hom slaan. Maar sy is getroud en hy is skaam. Woorde is al wat hulle deel, en omdat hy hul onderwyser is, is hy die opvoeder van haar en Willem se kinders.
Sy raak bewus van hulle, van die kinders. Dié tyd op ’n Vrydagmiddag is hulle in die leidam. Sy het ’n sluimerende kopseer, maar sy vermoed hy is ook daar – eenkant aan die lees. Opstaan. Dis wat sy moet doen as sy wil weet wat sy bedoeling is met Wuthering Heights.
Die horlosie op die kaggelrak sê dis byna vieruur. Katryn se stem klink helder op. Sy roep vir Cara en paai haar met Khoi-woorde wat Caroline nie ken nie. Die kind sal ook net na haar toe kom as Katryn haar aanpor, iets wat lanklaas gebeur het. Dag vir dag neem die verwydering toe, sien sy hoe Cara aan Katryn vasgroei, ander gewoontes aanleer en aan moederskoot, ’n vreemde taal.
Caroline gooi die rok oor haar kop. Sy maak die knopies vas, kyk in die spieël, trek die moue reg. Haar hare is deurmekaar. Sy kam en vleg en steek vas.
Katryn ryg Boesmankrale in Cara se hare. Sy dra pal van die krale om haar nek en enkels.
“Laat dit so wees,” fluister Caroline vir haar spieëlbeeld. “Ek kan nie meer help nie.”
Sy voel moeg toe sy die trap afklim, wonder selfs hoekom sy moeite doen.
In die kombuis skil en kap Doelie uie.
“Vir die afval, nôi Kerlien.”
Klaas het gister geslag en Bet het gekrap. Spierwit en skoongeskraap lê die pens in die skottel. Caroline eet nie afval nie, nog minder kook sy dit. Sy vlug gewoonlik voor die kenmerkende reuk haar inhaal.
Elie sit teen die koel kant van die huis, onder die yl skadu van die uitgerafelde druiweprieel. Dis vanjaar so warm, die druiwe het in rosyne verander voor dit ryp genoeg was om te eet. Voëls het ingevlieg en die trossies leeggepluk. Hier en daar hang takkies met een of twee korrels toegepak van rooi perdebytjies. Elie beduie vir haar na die stoel langs hom waarop die kinders se handdoeke gestapel is. Hy haal dit af, hang dit oor sy stoel se rugleuning en gaan sit op die punt.
“Katryn kan hulle nie alleen dophou nie,” sê hy asof hy verskoning maak dat hy daar is. “Hulle is al hoe lank aan die gang. Vannag slaap hulle soos klippe.”
Toe sy ’n kind was, het Mother hulle meisies belet om te swem. Maar sy het haar soms dae lank in haar kamer toegesluit, en dan het hulle hul kans waargeneem en saam met die werkers se kinders in die rivier se swemgat gaan baljaar. Sy en Willem het jare gelede ook nes die kinders in Mispa se leidam rondgeplons. Nou die dag nog het hy saam met hulle ingeklim – nie sy nie, nie meer nie. Elie swem nie. Miskien sal hy inspring as een van hulle in die moeilikheid raak. Dis nie onmoontlik nie. Klein-Willem, Hercules en George hou ’n watergeveg en Maria en Annatjie swem soos voëls wat met afvlerke in die dam beland het. Katryn sit op die muurtjie met Cara wat sy halflyf in die water laat afsak. Lutz kielie haar voetjies. Sy skop na hom en hy hou nie op nie. Naderhand spat hy haar nat tot sy haar versluk en aan die huil gaan. Elie spring uit sy stoel uit op. Caroline is nie bekommerd nie, Katryn is daar om te troos.
“Daai mannetjie …” mompel Elie en gaan sit weer.
“Is dit oor hom wat jy Wuthering Heights vir my uitgesoek het?”
Hy kyk na haar, frons op sy kenmerkende manier. “Hoe so?”
“Heathcliff was ’n onopgevoede straatkind wat Earnshaw in Liverpool se agterbuurt opgetel het.”
“Lutz is nie ’n straatkind nie, ver van.”
“Hy en Maria raak erg oor mekaar.”
“Hulle is maats. Jy het mos nie besware dat seuns en meisies maats maak nie?”
“Nie juis nie, Maria kan haar man staan.”
“Anders moet ek met hom praat, maar hy hou nie van my nie.”
“Hy ken jou tog?”
“Juis.”
“Sy pa het jou ’n streep getrek.”
“Ongelukkig raak dit jou ook. Ek is jammer.”
“Ek ook – oor die onenigheid tussen ons.”
“Dit gaan verby, hoop ek.”
“Ja, en dankie vir die storieboek. Ek sal probeer om te onthou dat dit net ’n storie is.”
“Stories is selde net stories.”
Sy wil hom vra wie se storie sy dan tussen die lyne moet lees as dit nie Lutz en Maria is nie, maar Katryn kom aangedraf met Cara wat aan haar vasklou soos ’n nat katjie. Elie gee die handdoek aan en sy gaan staan haar in die son en afdroog. Wat ’n volmaakte klein lyfie! Caroline moet keer of sy loop soontoe en neem oor. Haar hart en hande trek saam. Trane prik haar ooglede. Sy dwing haar om weg te kyk.
Ag, Here, wie is ek om Lutz se pa te oordeel?
Katryn laai vir Cara op haar rug, sy loop verby kombuis toe.
Caroline lig haar hand en waai. Die kindjie waai terug.
“Oulik,” sê Elie. “Sy word baie oulik.”
Arme Elie, hy dink dis die Boere se gewoonte om hul kleintjies vir kinderoppassers aan te gee wat hulle grootmaak tot hulle kan hardloop en die volgende een sy opwagting maak. Dis op die punt van haar tong om hom te vertel dat Cara nes Lutz weggegooi is, maar sy doen dit nie.
“Sy is so lief vir Katryn,” sê sy vroom, “ek glo nie sy besef dat ek haar ma is nie.”
“Wat van die blommetjies wat sy vir jou aandra?”
“Dit was net een, en Katryn het haar aangepor.”
“Nogtans, jou jaar het goed begin.”
“Ek glo nie. Dis droogte. Willem is weg sonder om met my vrede te maak ná ons laaste rusie. Wanneer kom hy eendag weer terug, en wat dan?”
Daar, sy het dit uitgeblaker, alles wat sy opgekrop het!
Elie reageer nie dadelik nie. Sy kan opstaan en loop, maar sy wag, want sy het hom ’n vraag gevra.
Eindelik skuif hy hom reg, maar praat asof hy met homself praat. “Mispa is syne. Hy sal terugkom wanneer die droogte gebreek is. Hy kom ná die reent.”
Donderdagmiddag vyf Februarie maak Willem ’n aantekening in sy boekie: Vandaag voor Lombaard en syn huisvrou gegroet. Trek morgen met dageraad noordoos in het richting Clocolan.
Hy druk die boekie in sy binnesak en gaan help vir Danster en Rooivalk om die wa te laai. Die honde draai kwispelend om hulle rond, klaar snuf in die neus dat hulle gaan pad vat.
Die nag wat volg, raak weer eens te lank. Willem is meer wakker as aan die slaap. Hy kyk oudergewoonte na die sterre en probeer uitwerk hoeveel uur voor die gloed verdof en die môrester opkom. Sy lippe is skurf en sy mond smaak na die witblits waarmee hy dit uitgespoel het voordat hy kom lê het. Hy is nie lus om op te staan en water te drink nie. Hy kyk tot die hemel so laag afsak dat hy benoud raak en moet regop sit en asem skep. Dis asof daar dié tyd van die nag geen skeiding tussen aarde en lug is nie. Steek hy sy hand uit, verbeel hy hom hy raak aan sterstof. Dit sing en die sterre, so voel dit vir hom, raas harder as al die insekte saam. Hul hoë note sny deur sy kop, dit hou nie op nie. Hy druk sy ore toe, maar tevergeefs – die geloei het hom van kop tot tone ingeneem. Niks, selfs nie die veraf gebrul van ’n bergleeu, kan enige verskil maak nie. Dis asof die hemel uitmekaar gaan bars en die almagtige God enige oomblik in al sy glorie sal verskyn, gereed om sy septer deur Willem Roelof Basson se bors te boor en sy hart uit te ruk. God kyk deur die sterre en sien wat Hy wil sien. Dit weet Willem immers van kleins af. Hy word dopgehou en nie net op Mispa nie. God sien hom en Georgina in haar bed in Kimberley. Hy sien die kind wat in haar groei, die sonde, sy sondes en sy nageslagte se sondes tot in die derde geslag. Onvergeeflik, als wat hy gedoen het – en Georgina. Vrees druk die lewe uit sy lyf, sy skouers trek saam, hy voel God se asem teen sy wang.
Met bewende lippe prewel hy: “Here tog, ek kan nie sterf nie, nie nou nie! Ek gaan ’n einde maak aan my en Georgina. Sy moet Kaap toe en die kind vir aanneming afteken, ek sal betaal vir die trein en die losieshuis en die hospitaal. Ek sal betaal, maar sy moet alleen gaan. Help my, dan kom ek nooit weer naby haar nie. Ek sal Klaas mark toe stuur, ek sal vir Kestell-kinderhuis geld gee, my bydrae vir die kerk verdubbel. Help my met hierdie saak en help Mispa met reent sodat ek huis toe kan gaan en my pligte daar doen, voor ek van my kop af raak.”
Is dit trane, is dit snikke wat sy skouers ruk? Kaptein is wakker. Hy kruip nader, kom skuur teen hom, gee klein tjankies, lek die nattigheid van sy wange. In die swak lig sien hy die dier se oë sag glim, voel hy die pyn in sy borskas skietgee. Sonder dat hy wil, hoor hy Georgina se stem.
“Ek het jou lief. Ek sal jou altyd liefhê, selfs as jy teruggaan na Caroline en my nooit weer wil sien nie. Ek sal aanhou om jou lief te hê. Ek sal jou liefhê, al val die hemel en skeur die aarde middeldeur. Ek sal jou in my graf nog liefhê.”
“Dis hoe ek ook voel,” het hy toe gesê.
“Ek kan nie sonder jou leef nie.”
“Ek ook nie.”
Net so, so het hulle trou aan mekaar beloof. Elke keer as sy hart inmekaar trek, wil hy glo dat sy nooit ooit vir hom sal lieg nie, onthou hy sy belofte aan haar. Dit keer hom om en skeur hom weg van elke ander belofte wat hy in sy lewe al gemaak het, en soos vannag, selfs voor die Here wat alles sien. Maar Hy weet van sy stryd, hoe swaar dit is om haar te los, hoe moeilik om die troos wat hy by haar kry, op te gee.
Nee, Hy toon, nes jare gelede, geen teken dat Hy omgee nie!
Ou Jakob was daar, hy het sy wonde verbind, maar God …?
Willem streel Kaptein se nek. “Dis die nag, oubaas se honne, die nag is te lank.”
Kaptein druk sy kop teen Willem se skouer. Dis hoekom sy pa vir hom ’n hond gegee het. Om hom te troos. Later het sy pa die hond wat hy hom gegee het, doodgeskop. Hulle het té geheg geraak aan mekaar, dis hoekom. Willem stoot Kaptein sagkens eenkant toe. Hy grawe in sy sak na sy pyp, stop, steek aan en rook tot die gedagtes aan sy kinderdae en Georgina en Daniël uit sy kop uitgerook is, tot hy aan die slaap raak met die pyp in sy hand vasgeklem.
Danster se gewerskaf by die vuur kondig die nuwe dag aan. Die môrester het haar plek ingeneem, die maan verbleek en die nag lig haar sluier. Willem is moeg, maar hy skuif die tamheid saam met sy karos van sy skouers af. Dié worsteling oor dinge waaraan hy nou niks kan doen nie, moet end kry voor hy in sy slaap begin praat of loop soos Caroline wat heeldag in haar kamer gesit het en snags pad gevat het. Nee, hy is nie sy nie! Hy het werk en dis sy lewe. Soms dink hy dis omdat werk hom kleintyd byna doodgemaak het, maar hy dit oorleef het – en vandag so sterk is soos ’n bees – dat hy nie bang is vir harde werk nie.
Hy spring en vat die voortou om in te span, op te saal en seker te maak elke vuurtjie wat hulle aangeslaan het, is morsdood, elke gat wat hulle gegrawe het, toegegooi – die kampplek netjies skoongevee, klippe op ’n hoop.
“Ons moet goed hou,” waarsku hy. “Met die terugkomslag kom ons weer hier staan.”
Die trek vorder stadig. Hy en Rooivalk jaag die vee aan met behulp van die honde, Danster dryf die wa en osse. Nêrens langs die pad gewaar hulle water nie. Volgens Rooivalk wat die vorige dag vooruit is, wag daar wel ’n vlak pan nader aan hul bestemming. Hulle trek tot die son hoog sit voor die voorosse die water ruik. Nêrens is daar ’n opstal in sig nie. Willem laat Danster-hulle solank uitspan en vuur aanslaan vir koffie, terwyl hy ry om die omgewing te verken.
Hy was die hele tyd in die saal, teen ’n gemaklike pas wat hom en Vonk nie uitgeput het nie. Los van die wa, die vee en sy helpers voel hy so vry soos die wind. Op galop is hy weer jonk en op pad om sy lewe te begin. Hy was dertien toe sy broers van die plaas af weg is en hy soos ’n slaaf moes werk, vir hoe lank? Sewe jaar van hel en doodsangs. Vir hom was dit ’n leeftyd. Die Here het sy tyd geneem om hom te verlos, maar toe is die skade reeds gedoen. Ná sy pa se dood het hy Mispa gekry. En vir Caroline, maar was dit tot sy voordeel? Wie het haar gekies? Was dit hy of die God van sy vader en voorvaders?
Hoe wens hy hy kan die tyd terugdraai en van voor af begin, weer na sy tante se plaas toe ry, weer die boodskap van sy pa se dood oordra, aan tafel sit saam met die gesin – die blosende Fuller-dogters aan die wedywer om sy aandag, almal behalwe Caroline wat hy vir hom gevat het omdat sy hom daarom juis meer as al die ander aangetrek het. Georgina was tien jaar oud, die jongste, die laatlammetjie, skaars so oud soos Maria. As hy aan Maria dink, verlang hy na al sy kinders, die kinders wat Caroline hom gegee het.
Hy leun oor en fluister in Vonk se oor. “Lig jou pote en vlieg, Vonk. Ek sal later besluit of ons terugkom.”