Читать книгу Elim - Helena Hugo - Страница 6
Hoofstuk 1
ОглавлениеLadybrand-distrik, Februarie 1896
Dis laatmiddag. Die vure is lankal aangesteek en die ribbetjie lê op die kole en smeul. Willem sit met sy rug teen die wawiel, sy bene voor hom uitgestrek. Die duiwelstwak waarmee hy sy pyp gestop het, het ’n kalmerende uitwerking op hom en die karos wat hy vir sy sitvlak gevou het, is sag en warm. Langs hom lê Kaptein met sy kop op sy pote, sy bek kwylend van hondedrome wat ruik na halfgaar braaivleis.
Willem krap agter sy ore en hy steun saggies.
“Ja, oubaas se honne. Wat sal ons sê?”
Die dier rek sy nek, snuif ’n slag, sug en lê sy kop weer neer.
Willem tuur oor die deinende Vrystaatse heuwels en vlaktes bedek met soetgras en suurgras, wuiwende rooi-gras so ver soos die oog kan sien. Sy blik vang Basoetoland se grougrys berge, daar waar ou koning Moshweshwe sy volk gevestig het en hom ingegrawe het ten koste van elkeen wat sy gesag uitgedaag het. Die Engelse het hom ’n streep getrek en van sy grond afgeneem, maar Thaba Bosiu is steeds onoorwonne en die Basotho, kenmerkend trots op hul ponies, so deel van die landskap dat geen mens hulle hul verblyfreg durf ontsê nie.
Die boer op wie se grond hy staning gekry het, Lombaard is sy naam, noem sy plaas Melrose. Hy is met ’n vrou getroud wie se ouers oorspronklik van ’n dorp in Skotland is, ook Melrose, ook tussen berge. Hulle wil eendag soontoe om te sien of alles wat hulle gehoor het, waar is. Daar is glo ’n murasie van ’n kerk wat eeue oud is. Die veld is groener as hier en waterryk, nes koning Dawid se velde van rus. So het Doreen se ouma altoos vertel. Dis nie soos hier waar die winterveld vergeel en die beeste soms van hongerte stink bossies vreet wat die melk sleg maak nie.
Lombaard het Willem gasvry ontvang, die weiding aangewys, sy geld gevat, hom uitgenooi vir ete en gemaan om nie langer as twee weke te bly nie. Hy boer met beeste, dis groot diere wat baie vreet en die winter kom aan.
Willem wou by hom weet of hy iets gehoor het van die Rinderpest, ’n besmetlike veesiekte wat beeste en ander herkouende diere binne dae tot die dood toe uitmergel. Hele troppe word glo in ’n ommesientjie uitgewis. Versprei soos veldbrand.
“Wolhaarstories,” het Lombaard gesnork, en hom gemaan om sy vure dop te hou. “Hier is brand ons grootste gevaar. Maak nie saak of daar voorbrande is nie, hy spring oor. Kyk mooi waar julle vuurmaak.”
Willem het sy humeur beteuel. Van boerdery kan niemand hom iets vertel nie, niks van die aanslag van wind en weer nie, niks van rugbreekwerk en pyn en teleurstelling nie.
Lombaard het sy skaap so gekyk en kop geskud asof hul agteruitgang sy skuld was.
“Ek hoor die Karoo is berug vir sy droogtes. Hoe hou julle dit?”
“Ons hou omdat die veld altyd weer opstaan. Julle moet by ons kom kuier wanneer dit goed gaan,” het Willem hom genooi. “Miskien soek jy eendag weiding by ons.”
“Daai bossieveld?”
“Gras ook.”
“Ek sal dit glo as ek dit sien.”
Doreen het ’n boerpampoen oorhandig, ’n bossie vars uie.
“Pampoen,” het sy gesê, “en dié is uie.”
Asof hy nog nooit groente gesien het nie.
“Dankie. Wat kos dit?” het hy moedswillig gevra.
“Dis ’n geskenk.”
Sy het geglimlag en hom aangekyk met sulke bekende oë, of was dit hy wat na háár gekyk het?
Diepbruin met goue vlekkies soos die tieroog wat baron Ludwig se Lutzie trots vir hom gewys het, bruin met goue vlekkies soos Georgina se oë, gevoelige oë. Of was dit sy verbeelding? Ag, maar hy verlang.
Willem se pyp het doodgegaan en hy gee nie om nie. Hy kyk in die vuur en sien Georgina soos sy die laaste aand op die rand van die bed gesit het, haar hare los tot op haar heupe, skouers sag gerond, die kromming van haar nek so weerloos toe sy vooroor buig en met haar rug na hom toe sê: “Ek is verwagtend. Ek verwag jou kind – ons kind.”
Die aankondiging het hom nie onverhoeds betrap nie. Hy het dit al maande lank gevrees en was byna verlig toe sy vrese eindelik bevestig word.
Sy het nie omgekyk nie, net so gesit en wag. Hy het hom op sy elmboog gestut en haar hare sag van haar rug afgelig, haar toe langs hom neergetrek.
“Jy maak my gelukkig,” het hy gesê en sy plathand op haar maag gesit.
“En die kind? Maak die kind jou ook gelukkig?”
“Kinders is ’n seën van Bo, maar ons is nie getroud nie.”
“Dit weet jy tog van die eerste keer dat ons saamgekom het.”
“Jy het my verseker jy sal sorg dat jy nie in die ander tyd raak nie en nou wil jy met ’n gesin begin?”
Dit was ’n blote vraag, nie ’n verwyt nie, maar dit het haar so ontstel. Sy het sy hand eenkant toe gestoot en uitgeroep. “Is dit my skuld terwyl ek alles gedoen het wat ek kon? Hoeveel maande al hou ek die maan dop en tel die dae en bid ek dat ek nie verwagtend raak nie? Het jý jou ooit daaraan gesteur?”
“Hoekom moes ek? Julle vroumense het julle metodes.”
“Wat nie almal altyd ewe goed werk nie.”
“Caroline het dit laat werk.”
“Ja, en jy hou dit teen haar. Of maak dit skielik nie meer saak nie?”
Vreesaanjaende gedagtes het in sy kop begin rondmaal. Hy het gewonder wat sy sou doen as sy sou weet hoe hy Caroline op die ou end gestraf het en dat hy niks kan verander aan die gevolge nie – ’n kind soos Cara wat nie hoort nie. Hy is haar pa, maar hy wens meer en meer sy is liewer nie gebore nie. Hierdie kind wat Georgina verwag, gaan hom net so seker soos Cara aan sy sonde en skuld herinner. Sy oortreding gaan gestalte kry, nog ’n skandekind gaan in sy naam gebore word!
Georgina het gehuil asof sy weet wat hy dink, haar wang nat teen sy slaap. Hy het oorgebuk en haar trane met sy vingers afgevee. Haar vel was klam en souterig toe hy haar soen.
“Ons sal ’n ander plan maak,” het hy homself hoor sê. “Jy kan weggaan Kaap toe, die kind vir aanneming gee en terugkom. Niemand sal weet nie.”
“Dis óns kind,” het sy gesê en haar stem het gebreek. “Hoekom wil jy hom weggee?”
“Ter wille van jou, Georgina, jou reputasie.”
“Omdat ons nie getroud is nie? Oor die mense, oor wat hulle sal sê?”
“Die mense gaan jou uitmekaarskeur.”
“Vir jou ook.”
Hy het op sy tande gekners. Jan Adriaan se Susanna het gesorg dat die skinderstories by hom uitkom. Daarteen kon hy stry, maar as Georgina begin opsit, wat dan?
Sy het gelag. “Almal sal weet wie die pa is.”
“Verkeerd, almal sal raai,” het hy gebrom en van haar af weggerol.
Sy het hom gehoor en harder gelag. “So maklik kom jy nie los nie, Willem Basson. Ek sal hom hou en ek sal hom grootmaak en hom vertel wie sy pa is. Ek sal die hele wêreld vertel.” Hy is behoorlik uitgelag, maar toe het haar lagbui oorgegaan in ’n klaaglied. “Hoe kan jy dit van my dink? Niemand anders lê by my nie, net jy. Jy is nie meer lief vir my nie, en dis jou kind. Jy het hom verwek!”
Dit het moeite gekos om haar tot bedaring te bring. Hy het haar vasgehou en beloftes gemaak wat hy voor sy siel geweet het onmoontlik is om uit te voer. Wat het hy haar nie alles in die ore gefluister nie! Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek het jou lief tot in ewigheid. Vergeet van die mense, laat hulle hul stories opmaak. Dis al wat hulle kan doen, stories aandra, ander mense swartsmeer. Hou die kind, doen wat jy wil. Ek sal my berus by wat jy besluit.
Toe klim sy in sy arms en liefkoos hom met ’n duisend dankies.
Sag en warm, dis Georgina, maar daardie nag kon hy nie slaap nie. Drogbeelde van sonde en straf het by hom gespook. Hy het sy pa se stem gehoor, sy pa se harde oordeel. Wat jy begin, moet jy klaarmaak, verantwoordelikheid neem. Die almagtige God sien wat jy doen én wat jy nie doen nie. Groot en angswekkend het sy pa uit sy graf opgerys. Die plak was in sy hand. Hy het sy arm gelig, die slaanding hoog geswaai. Dis van rondlê dat Satan jou baasraak. Staan op en loop doen jou plig! Houe het op hom neergereent. Sweepslae. Sy vel het oopgebars, bloed het in sy keel opgestoot en oor sy bors gestroom op sy hande, op sy voete, in die grond in. Hierdie grond is met die bloed van jou voorvaders gekoop, moet dit nie vergeet nie! Sy pa se stem het in sy kop weergalm toe hy sidderend uit sy nagmerrie wakker word. Dit was oggend, tyd om terug te gaan Mispa toe.
Georgina het langs die bed gestaan met koffie en beskuit, ’n geheimsinnige glimlag om haar mond. Sy wou hom nie sê wat sy besluit het nie. Sy het hom weggestuur sonder gerusstelling en dalk met die grootste leuen wat hom in sy lewe kon tref. Dis waar hy hom nou bevind – in dié niemandsland sonder raad of daad, dalk vir maande ’n swerwer ver van sy goed, naby sy skade en soos klei in Georgina se hande.
“Seur Willem!” Rooivalk ruk hom uit sy mymering terug kamp toe. “Die vlees is gaar, die pampoen ook.”
Kaptein kry lewe, rek hom uit met lang hondegape.
Skemer het intussen op die vlaktes neergedaal.
Uit die bloute wonder Willem oor Caroline en die kinders. Maria, sy hart se punt, dartel soos ’n skoenlapper. Waar in die dag is hulle nou?
Dis etenstyd op Mispa. Somertyd raak die kombuis so bedompig, die gesin sit in die eetkamer aan vir die middag- en vir die aandete. Die kinders wat ’n kwartier vroeër aangesê is om hande en gesig te was, storm op hul stoele af. Een se plek bly opvallend leeg. Caroline kan dit nie miskyk nie, maar sy is te moeg om haar daaraan te steur. Blindweg beduie sy vir meester Elie dat hy die tafelgebed kan doen.
“Moeder, Lutz is nog nie hier nie.”
Dis Maria wat al weer vir die seun in die bres tree. Hoekom doen sy dit?
Caroline se skouers sak. “Waar is hy? Was hy nog hande?”
Haar dogters weet nie en die seuns lyk onskuldig.
Sy draai haar gesig na Elie. Sy uitdrukking versag vir ’n oomblik, byna vertroostend kyk hy haar aan. Dan frons hy in die rigting van die kinders. “Weet nie een van julle iets van hom nie?”
Hercules skuif in sy stoel, loer onderlangs na Klein-Willem.
Elie se frons keep dieper, sy oë vernou. “Julle twee, waar en wanneer het julle hom laas gesien?”
“Vanmiddag in die skool,” kom dit van Klein-Willem.
“Wat van ná skool?”
“Ons het bal geskop en hy wou nie.”
“Speel jy en Lutz dan nie meer saam nie?”
“Nee, Meester, hy hou van meisies.”
“Los my!” Maria klap na hom toe Klein-Willem haar met sy elmboog in die sy pomp.
“Is julle nie meer maats nie?”
“Hy gooi my met klippe.”
“Vir ons ook.” Hercules en George vou hul arms, trek hul skouers op tot by hul ore. Dis nie die eerste keer dat hulle Lutz hiervan beskuldig nie.
“Wie nie kom op sy tyd, is sy maaltyd kwyt,” verklaar Klein-Willem triomfantlik.
Caroline het genoeg gehad. “Kom ons eet dan maar. Elie?”
“Sê nou hy kom nie terug nie?” keer Maria.
“Hy het nog elke aand.”
“Sê nou hy kom nie vanaand nie?” Maria is naby trane. “Die donker sal hom vang.”
“Én die spinnekoppe! Spinne-, spinne-, spinnekoppe. Ou Lutz is bang vir spinnekoppe.”
“Jy!” Maria gryp haar lepel en slaan na Klein-Willem.
“Kinders. Ons is aan tafel.” Elie sit regopper. Hy moet die tafelgebed doen, maar hy bal sy vuiste asof hy hom gereedmaak vir ’n geveg.
Net toe loer Doelie om die deurkosyn. “Nôi Kerlien, ek het daai kend vroegmirrag pad-af sien loop.”
Caroline sug. Nie al weer nie.
“Doelie, sal jy asseblief vir Dampies agter hom aanstuur, en bring die kos tafel toe, ons eet solank.”
“Dampies raak moeg, my nôi.”
“Dis ’n ander man se kind, as hy verloor, is ons in die tronk.”
“Ek sal Dortjie aansê, dan bring ek die kos.”
“Dankie, Doelie.” Caroline vou haar hande in gebed. Voor sy haar oë toemaak, sien sy die kinders haar voorbeeld volg.
“Kom ons bid.” Elie gee stilte kans om op hulle neer te daal, nie dat dit help nie. In die kombuis stry Doortjie met Doelie dat die potdeksels so klap.
“Heer,” sê Elie en wag …
Caroline moet keer of die wrewel jeens die skoolmeester se vriende haal haar in. Hy is haar vriend, maar sy vriend se seun is besig om ’n wig tussen hulle in te dryf. Eers het sy hom elke derde dag daaraan herinner dat Lutz sý verantwoordelikheid is en dat hy hom so ver moet kry om deel te word van die huisgesin en in te val by hulle manier van doen. Deesdae vra sy hom daagliks om vir sy vriend te skryf dat hy sy kind moet kom terughaal. Byna ’n maand het verloop en die seun se gesindheid het nie verbeter nie, eerder versleg. Dit sal ook nie die eerste ete wees wat deur sy toedoen in ’n hondegeveg ontaard nie en Elie kan maar bid, Lutz is nie hier om te hoor nie.
Haar gedagtes maal, maar die ou bekende woorde: “Heer, voor spijs en drank, seg wij U lof en dank,” bring tog kalmte in haar gemoed.
“Amen.”
Doelie sit die opskepskottel neer en lig die deksel. Dis melkkos, ’n gunsteling vir aandete. Caroline skep eers vir Elie en dan vir die kinders. Klein handjies vat die borde gretig aan. Maria, amper tien jaar oud, help Annatjie om haar kos koud te blaas.
“Het Cara geëet?” onthou Caroline om te vra.
Doelie maak haar mond oop om te antwoord, maar agter haar vlieg die gangdeur oop en Lutz storm die eetkamer binne, ’n tros rieme triomfantlik al swaaiend in die lug. “Paviane, julle dink julle ken knope. Sieh mal! Ek het losgekom!”
Hy spring om en gaan druk die bondel onder Klein-Willem se neus. Per ongeluk of waarskynlik met opset, sleep hy die rieme oor die borde en besmeer die tafeldoek met hul aandete.
Elie spring op en neem sy meester-houding in. “Lutz, wat gaan aan met jou?”
“Die Paviane het my aan my bed vasgebind.”
“Jy het ons met klippe gegooi.”
“Julle los my nie uit nie.”
“Jy’t eerste begin.”
“Dis julle.”
“Issie.”
“Is.”
Elie kyk verlangend na die plak wat Willem aan die spensdeur vasgespyker het om sy kinders mee bang te maak, want Willem slaan nie, hy praat en daarna kry hulle strafwerk. Elie, daarenteen, het sy toestemming om nou en dan ’n raps met sy kweperlat uit te deel.
“Stop!” Elie hou sy hand op. “Wie se plan was dit om Lutz vas te bind? Uit daarmee en gou, voor ek vir Doelie stuur om my lat te gaan haal.”
Die oorblywende snysels word koud in die opskepbak, die res stol op die tafeldoek. Doelie sluip terug kombuis toe terwyl Caroline haar nogeens verstom aan die seuns se vindingrykheid wanneer dit by kattekwaad kom.
“Hy het my voëleiers gebreek.”
“Per ongeluk.”
“Is nie, jy het dit stukkend gekap.”
“Jawohl, omdat jy my skoene vol dorings geprop het.”
“Jy krap in my kis.”
“Jy spring op my bed.”
“Hy poep stink.”
“Julle poep stinker.”
“Drie teen een,” gil Klein-Willem, en Maria en Annatjie giggel sonder ophou.
“Pavian.”
“Ek is nie ’n bobbejaan nie, jy is.”
“Dummkopf!”
“Duitser!”
“Drol!”
Nou het sy genoeg gehad. Caroline gryp haar tafel-klokkie, ’n geskenk van skoonsus Susanna wat handig te pas kom wanneer sy haar gesag wil laat geld. Met alle mag lui sy die gestry tot stilte.
Doelie het geen verduideliking nodig nie. “Sal ek brood sny, nôi Kerlien? Dan gooi ek die snysels vir die varke.”
Sy loop om die tafel, tel borde op en vee smeersels melkkos van die tafeldoek af, haar oë flitsend in Lutz se rigting. Hy staan asof hy ’n septer in sy hand hou, ’n suur glimlag om sy mond.
Elie kyk reguit na Caroline. Wat maak ons? vra sy oë.
Sy wys na die stoel langs Maria. “Sit, Lutz.”
Maria trek hom aan sy arm en hy sak onwillig neer.
Caroline raas nie, sy praat sag. “Julle het eers goed klaargekom, soos broers.”
“Tot ek hulle leer ken het, almal Dummköpfe.”
“Ek weet wat jy sê!”
Lutz grinnik tevrede toe Klein-Willem die woedetrane met sy vingers keer.
Caroline is jammer vir hom. Dis nie sy skuld dat die vreemde kind hier afgelaai is nie. Boonop is Lutz ouer en meer wêreldwys, iemand wat hy eers bewonder het, maar wat nou vir hom ’n bedreiging geword het. Wat staan haar te doen!
Doelie bring die brood en botter asof sy geroep is.
’n Gebed flits deur Caroline se kop.
Liewe Vader, help my, ek is raadop.
“Willem, ná huisgodsdiens, wil ek en Meester jou en Lutz onder vier oë sien.”
Was dit sy wat dit gesê het? Ja tog, en dít terwyl sy nie herwaarts of derwaarts weet nie, maar die Here het haar nie verlaat nie en miskien het Elie ’n plan in die kop. Hy lyk of hy diep dink.
Die brood is nie een van Doelie se beste baksels nie en die ete raak ’n langtandgedoente, afgerond met George wat sy melk omgooi en Annatjie wat verdrietig huil omdat sy haar tong raakgebyt het.
Elie stuur vir Maria om die Bybel te gaan haal. Hy blaai lank voor hy sy plek kry.
“Ons lees Psalm 133,” sê hy en skuif sy bril reg.
“Meester, dis nie waar ons laas opgehou het nie,” snip Maria.
“Dit weet ek, maar ek wil hê julle kinders moet luister wat die psalmdigter vir ons sê, jy ook, Maria.”
Sy word rooi in die gesig, haal diep asem, maar antwoord nie terug nie. Lutz gluur onder sy digte wenkbroue na Elie wat rustig weer sy bril verstel.
“Psalm 133. ‘Een liedt Hammaaloth van David. Siet hoe goet ende hoe lieflick is het dat broeders oock t’samen woonen. ’t Is gelijck de kostelicke olie op het hooft nederdalende op den baert, den baert Aarons: die nederdaelt tot op den zoom sijner kleederen. ’t Is gelijck de daeuw Hermons die nederdaelt op de bergen Zions: want de Heeren gebiedt aldaer den segen ende ’t leven tot in der eeuwigheyt.’ Oë toe, ons bid.”
Die kinders wat hulle gereed gemaak het vir ’n lang voorlesing, skrik skielik wakker en buig die kop. Elie vertaal die Hooghollands, hy sorg dat hulle presies weet wat hy gelees het en sluit af met: “So sal ons van hierdie tafel opstaan, en met die vergifnis van ons sondes in vrede en goeie naasbestaan bed toe gaan. Amen.”
Maria help die tafel opruim en sy en Annatjie bly in die kombuis vir voete was.
“Julle kan ook gaan,” sê Caroline vir Hercules en George wat hul stoele amper omgooi soos hulle spring om weg te kom. Klein-Willem lyk of hy die ergste verwag. Lutz krap verveeld met sy duimnael patroontjies op die tafeldoek. Hulle verskil soos dag en nag. Elie se voorlesing was goed bedoel, maar hulle is nie broers nie en Lutz ’n enigste kind wat skielik ’n kamer met drie ander moet deel. Dalk sal dit help as hy sy eie plek het en nie dag en nag by die ander moet aanpas nie.
Daniël se stoepkamer staan tog leeg. Hoekom nie?
Sy draai na Elie. “Ons skei hulle,” sê sy asof die seuns nie teenwoordig is nie. “Daniël se kamer is oop. Lutz is die oudste. Hy kan dit kry.”
“Sê nou Daniël wil terugkom?”
“Nie vanjaar nie, daar is te veel bouwerk op Elim. As dit klaar is, bly hy daar.”
“Jy gehoor, Lutz? Jy kry jou eie kamer.”
Lutz se mond ontspan, hy glimlag so wyd, dit lyk asof sy gesig in twee helftes breek.
“Danke schön, Frau Basson, danke.”
Met dié spring hy op, gryp haar hand en soen dit.
Sy pa se kind, dink Caroline, te groot vir sy skoene en oud gebore.
Maar waar kom hy vandaan? Vir die soveelste keer wonder sy wie sy ma is.