Читать книгу Elim - Helena Hugo - Страница 9
Hoofstuk 4
ОглавлениеDie eerste Sondag in Maart breek rustig aan. Op Mispa se werf word die gewone oggendbedrywighede vroeg afgehandel. Bet vee die stoepe, vanoggend poleer sy nie. Die melk word afgeroom en kom in die koelkamer onder nat melkdoeke. Siena sit ’n skaapboud in die pot en Doortjie skil pampoen. Ná ontbyt kom almal wat in die omgewing is, in die ruim kombuis saam vir boekevat.
Annatjie klouter op Caroline se skoot. Lutz maak of Klein-Willem-hulle nie bestaan nie. Blykbaar broei daar weer onmin tussen die seuns. Caroline los hulle eers. Sy sal wag tot een van hulle kom kla voor sy te vroeg ingryp en sake vererger. Cara sit langs Katryn, haar rug teen die muur, beentjies voor haar uitgestrek, kaalvoettoontjies gespits, só fyntjies. George deel sy stoel met Katryn se seun, Ntumka, ’n mooi kind met sy roesrooi krulkop en blas vel. Hulle woon al twee jaar op Mispa. Sy, as Cara se vroedmoeder, ’n vlugteling wat vir haar lewe vrees en weier om die pa van haar kind se naam op haar lippe te neem. Dalk is hy die rede waarom sy Cara nie sal opgee nie, daar moet ’n rede wees.
Maria bring die Bybel en sit dit voor Elie neer. Hy wil nie Willem se plek aan tafel inneem nie, maar Caroline het hom gevra om die huisgodsdiens te lei. Sy sukkel om die Hollands te lees en die kinders sien op na hom.
Willem was laas by die Israeliete se trek deur die woestyn, maar Elie het besluit om liewer Esther se verhaal aan te pak. “As dit voor die einde van die boek reent en julle vader terugkom, lees ons die res in skooltyd,” het hy belowe.
Caroline kyk hoe hy die Bybel by die boekmerk oopmaak en plek soek. Kanse is goed dat dit nog maande neem voor die eerste druppels val. Eintlik wens sy dit, veral noudat sy en Elie vrede gemaak het.
Hy sit sy vinger op die plek en kyk op. “Ons lees verder die verhaal van …?”
“Esther!” roep Maria met Annatjie en Ntumka agterna.
Die kinders geniet die avontuur en Caroline hou van die sprokie van die arm Jodinnetjie wat met die koning van Persië getroud is omdat sy die mooiste in die land was. Verbeel sy haar of hoor sy die gedruis van perdepote? Elie se leesstem kom tussenin, maar verdoof dit nie. Iemand is te perd op pad hiernatoe en Elie hoor blykbaar niks.
“Esther twee vers vyf. ‘Daar was een Jodisch man op de burgt Susan wiens naem was Mordechai, een sone Jairs des soons Simei, des soons Kis, een man van Jemini: Die wechgevoert was van Jerusalem met de wechgevoerde die wechgevoert waren met Jechonia den koningh van Juda den welcken Nebucadnezar de koningh van Babel, hadde wechgevoert. Ende hy was ’t die opvoedede Hadassa (dese is Esther de dochter sijnes ooms) want sy en hadde geenen vader noch moeder: ende sy was een jonge dochter schoon van gedaente ende schoon van aengesicht. Ende als haer vader ende hare moeder storven, haddese Mordechai sich tot eene dochter aengenomen.’ Verstaan julle kinders wat ek nou gelees het? Doelie verstaan jy?”
Almal kyk hom met groot oë aan. Die Hooghollands is duister en die baie name ’n valstrik vir diegene wat niks daarvan kan onthou nie.
“Dogter …” sê Doelie nadenkend en druk-druk aan haar kopdoek.
Perd en ruiter kom teen die agterstoep tot stilstand.
Is dit Willem? Caroline kan dit nie help nie, maar sy is teleurgesteld.
“Wat was die Joodse man se naam?”
“Meester, daar is iemand daar buite.”
Dit lyk jou waarlik asof Elie die ruiter wil ignoreer.
“Mordechai? Sy naam was Mordechai.”
Hy ken die huis, want die honde blaf skaars, toe tjank hulle van blydskap. Nou spring hy van sy perd af, praat sag met die diere. Dis Willem, sy is seker dit is hy.
Ag, Here, wat kom maak hy hier? Bring hy slegte nuus wat hy iewers ver van ons af ontvang het, of kom hy vooruit om te sê hulle kry nie weiding nie en al die vee lê dood?
Selfs Elie sit nou met gespitste ore. Ná die eerste drie tree weet almal wie dit is.
Daniël se voete sleep hoorbaar oor die gruis.
“Boetie Daniël!” Klein-Willem wil uit, maar Elie hou sy hand op.
“Wag, voor julle die godsdiens ontwrig!”
Daniël stoot die agterdeur oop en laat die plankvloer dreun.
Jakob spring op, hoed in die hande opgebondel.
“Ons het nie gebid nie,” maan Doelie en hy sak op sy hurke terug, sy gesig na Daniël gedraai.
Daniël haal sy hoed af, hy staan verleë. “Ek dag ek ry vroeg om betyds te wees vir vanoggend se huisgodsdiens. Nou is ek laat. Dag Meester, Moeder. Dag Doelie, Jakob, Klaas. Doortjie, julle kinders, Katryn.”
“Dag, Daniël.”
Die kind het opgeskiet. Hy is sestien en klaar ’n man met breë skouers en harde hande. Sy klere is te nou vir hom, die donker snorbaard opvallend digter as ses weke gelede, sy hare skouerlengte, gesig rooigebrand behalwe vir sy voorkop waar die hoed hom teen die son beskerm.
“Jy is nie te laat vir die oggendgebed nie,” paai Elie. “Ook nie vir ontbyt nie.”
“Jammer, Meester. Ek sal buite gaan wag.”
“Ons maak klaar en jy staan net daar. Kinders, bedaar nou. Sê eers wie was die koning van Persië in die tyd van Esther?”
“Ahasveros,” kom dit uit ’n onverwagte hoek.
“Korrek!” Elie is in sy skik met Lutz. “Ons lees van nog twee konings. Wie kan hulle name onthou?”
“Babel?”
“Nee.”
Caroline onthou Nebucadnezar, maar meng nie in met Elie se les nie.
“Dis Jechonia en Nebucadnezar, die slagoffer en die oorwinnaar. In die outyd is mense uit hul land weggevoer en as slawe verkoop. Vandag gebeur dit nie meer nie.”
“Meester woon nie in Meester se land nie.” Dis Maria, haar oë blink.
“Ek het uit eie vrye wil op ’n skip geklim en Afrika toe gekom.”
“Lutz se oupa het ’n kasteel in Duitsland. Hy gaan my soontoe vat, nè, Lutz?”
Lutz trommel met sy vingers op die tafel voor hom, hy antwoord nie. Klein-Willem steek vir hom tong uit en Hercules trek skewebek. Hulle lyk so aardig, Annatjie giggel.
Elie kyk hulle streng aan. “Waar is julle respekte?”
Stout gesigte verander blitsvinnig in sedigheid.
Caroline let op dat Daniël glimlag, iets wat jy selde by hom sien, ’n rare glimlag.
“Ons bid saam. Oë toe.” Elie vou sy hande gewigtig. “Hemelse Vader, hou u hand op hierdie Sabbatdag oor hierdie huis. Bewaar en beskerm die huisvrou en die kinders wat U haar gegee het. Ons dank U vir Daniël wat vandag saam met ons aanbid en gesond is. Ons dank U vir kos en klere en veilige verblyf. Ons vra dat U die vader van die huis in lewe en gesondheid sal behoed en bewaar, ook die vee waarmee hy uit nood moet trek. Ons bid dat U vir ons reent stuur sodat die veld herstel en die vader van die huis weer sy plek aan die tafel inneem. Ons dank U vir die siele wat saam met ons aanbid, skenk aan hulle die krag wat hulle nodig het om hulle dagtaak te voltooi. Vergewe, Heer, nou ook elke sonde gepleeg uit onkunde of met opset. Ek bid dit alles in Jesus Naam. Amen. Wat sing ons?”
“Prijs den Heer!”
Uit volle bors sing hulle.
“Prijs den Heer met blijde galmen,
gij mijn ziel hebt rijke stof.
’k Zal zoo lang ik ’t licht geniet,
Hem verhoogen in mijn lied!”
Hulle is nie almal ewe nootvas nie, maar ten minste, so klink dit vir Caroline, doen hulle vandag hul bes voor Daniël wat hulle weke laas gesien het.
Die kinders wil hom dadelik bespring en saamsleep dam toe waar hul kleiosse staan en droogbak, maar Caroline keer en Doelie maak vir hom ’n kom vol waswater sodat hy kan hande was en eet. Die kinders draai om hom en wil weet of hy vir goed teruggekom het.
“Lutz het jou kamer gevat,” klik Klein-Willem.
Lutz is weer nêrens te sien nie, maar Daniël gee nie om nie. “Hy kan my kamer kry, ek het ’n hele huis met drie binnekamers en twee stoepkamers.”
“Ons wil sien!”
“Later. Daar is nou te veel wat gedoen moet word.”
Maria staan hom so en kyk. “Ek hou van lang hare.”
“Ek het nie die regte skêr nie,” verbreek Daniël haar illusie, “anders was dit af.”
Hy tel Annatjie op en swaai haar deur die lug. Caroline kry trane in haar oë. Hy het nog altyd ’n sagte plekkie vir die kruppel sussie van hom.
Elie het aan tafel agtergebly. Sy vermoed hy wil Daniël uitvra oor sy werk op Elim.
“Kleinseur, kom eet nou eers,” nooi Doelie.
Sy het van die pap wat sy vir die werkers maak, uitgeskep en is besig om wors en eiers te bak.
“Jy lyk of jy goed eet?” vra sy.
“Ja, dankie, Doelie. Sadrag maak die kos.”
“Dit wil ek sien.”
Caroline is so nuuskierig oor al sy doen en late, sy het vars koffie gemaak en skink nou vir haar en Elie.
Doelie het Daniël se ou plek gedek. Hy gaan sit en trek die melkbeker nader, voor hy sy lepel in die pap steek, buig hy eers sy kop. Hulle wag eerbiedig tot hy klaarmaak.
“Die Here het aan my verskyn,” sê hy asof hy ’n doodgewone gebeurtenis aan hulle meedeel.
Dis merkwaardig dat hy ’n stil gebed opstuur voor ete, maar dit! Caroline reageer sonder om te dink wat sy sê. “Wanneer? Laas nag?”
“Gister toe ek in die veld was.”
“Helder oordag?”
“Dit was dag. Ek het uitgery om Elim se bakens te soek.”
“Toe verdwaal jy?”
“Ek wou skat hoeveel draad ek nodig gaan kry om kampe te maak.”
“En toe?”
“Toe gaan sit ek onder ’n wag-’n-bietjie en ek raak aan die slaap.”
“Jy’t gedroom.”
“Dit was ’n verskyning.”
Caroline dink aan die engele, die skares wat haar snags in haar kamer besoek.
“Ek glo jou, Daniël, maar hoekom?”
“Desembermaand op pad het ek byna gesterf. Nou wil ek my lewe regruk. Neef Arnoldus het my op Fuller’s Valley gewys hoe spaar jy die veld. Dis nie al raad wat hy my gegee het nie.”
Wat van die Here, wat het Hy gesê toe Hy aan jou verskyn het? wonder Caroline, maar vra liefs nie.
Daniël sit sy paplepel neer. “Kan Meester my weer met my kategismus help? Ek wil by dominee De Vaal hoor wanneer is die volgende belydenisklas. Gaan julle hierdie maand nagmaal toe? Moeder?”
Elie kyk ook vir Caroline. “Dis die derde Sondag van die maand. Hoe voel jy?”
“Enigiets kan intussen gebeur, maar dit sal goed wees as ons gaan. Dan sien ons ’n slag die familie.”
Doelie sit die bord met wors en eiers voor Daniël neer.
“Dankie,” sê hy en Caroline weet nie of dit vir die kos of die nagmaal is nie.
Elie het in sy kop uitgewerk dat nagmaal op twee en twintig Maart val. “Dis om die draai. Afhangende van hoeveel kategismus jy onthou, sal jy ten minste twee keer ’n week hiernatoe moet kom.”
“Ek sê vir myself die vrae en die antwoorde. Moeilikheid is, ek weet nie of ek reg onthou nie.”
“Jy het laas jou werk goed geken. Jy sal maklik weer bykom.”
“Dankie, Elie.” Daniël prop ongeërg ’n stuk wors in sy mond.
“Jy gaan besig wees met die kampe wat jy wil toespan.”
“Ek moet nog eers die draad kry.”
“Werk jy hard?” vra Caroline.
“Ek werk lekker. Elim is goed vir my.”
“Ek is bly jy het die plaas se naam verander. Elim pas beter as Klippoort.”
“Oom Isak het hom teen die klippe vasgekyk.”
“Kan jy hom verkwalik?” vra Elie. “Hier lê die koppe ver, daar is hulle naby.”
“Fonteine ook.”
“En hulle loop, al is dit droog?”
“Ja, ek gaan nog bome plant. Perske.”
“Jy moet hoop jy kry ’n vrou soos tant Hendriena,” terg Caroline. “Haar geelperskekonfyt is die beste. Hier staan bottels vol op die spensrak, alles wat sy my laat erf het. Onthou dat ek vir jou saamgee.”
“Moeder het self ook konfyt gekook.”
Ek het, dink Caroline, geskil en gesnipper om saans besig te bly tot Willem aan die slaap is.
“Jy sal vir jou ’n voorslagvrou moet soek.”
Hy antwoord nie.
“Beter as daai Janse-meisiekind.”
“Moeder, los haar.”
“Goed, ek sal nie weer my mond verbypraat nie.”
“Ek is jammer. Ek wil vergeet, dis al.”
“Jy kan nie alleen boer nie.”
Hy gooi melk en suiker in sy koffie en roer voor hy antwoord. “Ek sal nie alleen boer nie, ek sal ’n vrou vat wat bereid is om saam met my te werk – een wat nie heeldag en aldag dans en sing nie, een wat goed is vir my.”
Prys die Here, dink Caroline. Adrie Janse was lief vir pret, dus het hy tot sy sinne gekom en haar ontgroei. Ja, sy kan die verandering sien. Hy het selfvertroue, hy het planne vir die toekoms, hy het moed.
Voor hy ry, sny sy sy hare, neem sy mate vir nuwe hemde en broeke en probeer hom weer sover kry om met haar te praat.
“Miskien is daar oulike meisies in die katkisasieklas?”
“Ek het klaar besluit.”
“O, en wie is sy?”
“Moeder sal sien.”
“Weet jou pa?”
“Nee.”
Een woord en dis “nee”. Sy verstom haar aan die emosie wat in een woord saamgepers word. Daniël is kwaad vir Willem. Hy wat so goed met sy pa klaargekom het dat hy soos ’n klein hondjie agter hom aangedraf het en elke dag voordag reggestaan het om saam met hom klipkrale te bou en pad te skraap. Die seun wat toegelaat word om op Elim te boer, is kwaad vir sy pa wat die vlaktes deurkruis het en byna van dors omgekom het om hom te soek toe hy weggeloop het. Wat gaan aan?
“Jy is kwaad vir jou pa. Hoekom?”
“Ma weet goed, en kom ons los dit.”
Georgina! Moenie sê Willem het laas toe Daniël saam is Kimberley toe, openlik by haar gaan inkruip nie? O, hy sal betaal vir sy sondes. Die Here laat nie die oortreding van sy gebooie ongestraf nie. Hy het die droogte gestuur, Hy het Willem van sy huis af op die trekpad. Enigiets kan hom te beurt val, en wie sê almal is ewe gretig om hom staning te gee?
Willem-hulle kampeer die nag langs die vlei en is die volgende oggend aan die vuur aanslaan vir koffie, toe storm ’n takhaarboer, sy twee bullebakseuns en ’n verflenterde Hottentot te perd deur die kamp. Die boer is harig, onbeskaaf en onbeskof. Hy val dadelik weg met beskuldigings.
“Wie’t gesê julle kan die vlei kom leegsuip?”
“Dag, broer,” groet Willem ordentlik, maar die man hoor dit blykbaar nie. Hy bly op sy Basotho-ponie se rug en kyk van die hoogte op Willem af.
“Waar kom julle vandaan?”
“Kimberley-distrik.”
“Wat soek julle hier?”
“Weiding.”
“Ek gee nie weiding vir trekboere nie.”
“Ek is nie ’n trekboer nie, ek het grond.”
“Jy lieg.”
Willem steek sy hand uit. “Die van is Basson, ek boer op Mispa. My grond lê tussen Barkly-Wes en Kimberley.”
“Ha! Wat boer jy so tussen die klippe?”
Willem wil hom vererg, maar hy hou hom in toom en grinnik net effens. “Julle Vrystaters,” sê hy, “ken duidelik nie goeie Karoo-veld nie.”
“Nou, wat soek julle hier?”
“Ons reent het weggebly.”
“Hier het ons net genoeg vir ons eie vee.”
“Ons het lank op Melrose naby Ladybrand gestaan. Lombaard het ons toestemming gegee.”
“Niemand het julle hier enigiets gegee nie.”
“Ons soek die eienaar, ek het gister die gebied deurkruis. Waar bly julle?”
“Maak nie saak waar ons bly nie, julle is nie welkom nie.”
“Hoe kan ek seker wees dis jou grond as jy my nie huis toe nooi nie? Ek betaal vir die weiding.”
“Wat maak ek as dit die res van die somer nie reent nie?”
“Jou veld lyk baie goed teen wat ons agtergelaat het.”
“Pak op, en maak dat julle wegkom. As julle more nog hier is, sit ek die honde op julle.”
Willem skud sy kop toe hy die vreemdeling en sy bende agternakyk. “Ten minste het ons een dag se weiding uit hulle,” sê hy vir Danster en Rooivalk.
“Daai manne lyk of hulle in die veld slaap,” sê Danster.
“Hulle sal ons in die oog hou,” sê Rooivalk.
“Ons slaap vannag hier en môre voordag trek ons, die diere moet rus. Ek het waaragtigwaar nie gister ’n opstal in die geweste gesien nie.”
“Hulle is mense wat steel.”
“Veediewe?”
“Hulle lyk so.”
“Vannag slaap ek oopoog.”
Willem is gewoond aan sulke nagte, hier in die veld en op Mispa. Hy is nie ’n goeie slaper nie. Skrik van kleintyd af al in die nanag wakker en dan wag hy vir daglig en soek antwoorde op vrae waarop daar geen antwoorde is nie. Dis hoe Georgina hom gevang het. Sy het by hom in die bed geklim toe hy op sy eensaamste was, sy pyp daardie nag weer sy enigste troos. Iemand het die kamerdeur oopgestoot sonder om te klop, suutjies. Hy dag eers dis Caroline, toe sien hy dis haar suster. Sy het so ’n kort kersie by haar gehad. Sonder ’n woord het sy die deur agter haar toegetrek, die kers doodgeblaas en langs sy bed kom staan. Die reuk van die smeulende kers, sy pyprook gemeng met haar parfuum het hom dronk gemaak. Hy het die pyp sommer op die vloer laat val.
Sy het by hom ingeklim en haar nagrok uitgetrek. “Vannag is ek joune,” het sy gefluister, haar lyf warm en klam teen syne. “Moenie terughou nie, die maan lê reg.”
Dis Georgina se skuld, sy het hom van die eerste keer af voorgesê en hy was te gewillig.
Nagte daarna het hy wakker gesit en vir haar gewag. In die donker was sy vurig en wild. Bedags was sy skaam en arbeidsaam – Caroline se regterhand, altyd aan die wegskram van hom af. Soms het sy weke lank weggebly.
Dit is goed dat sy terug is Kimberley toe, want van toe af is sy die een wat vir hom moet wag. Wat sal hy nie gee om te weet of sy aan hom dink nie en hoe sy van die kind gaan ontslae raak! Slaap sy in die nag of sit sy regop en wens die nag om, soos hy?
Vannag is dit anders. Danster en Rooivalk bly saam met hom wakker.
Hulle maak groot vure en laai hul gewere. Die witblitsbottel bly toegekurk, die koffiepot aan die kook. Willem sit eenkant en dink terug aan die dae van veediefstalle toe sy oupa en grootoupa uit die Visriviervallei moes trek en hulle hul grond en goed met hul lewe beskerm het. Danster en Rooivalk se tata, Jakob Oliphant, het gesien hoe veediewe verskrikte vroue en kinders saam met die vee wegvoer. Willem wil hulle vra of hy hulle ook vertel het, maar hy los dit. Hy mis Jakob se geselskap. Hulle ken mekaar van lank voor Rooivalk en Danster gebore is, toe hy nog klein was en Jakob ’n jongman in sy vroeë twintigs in diens by Willem se pa. Rooivalk en Danster is twee van Jakob se getroude seuns. Hulle werk vir Willem op Mispa. Trouens, die hele familie Oliphant staan vandag in sy diens – net Jakob nie. Jakob is Willem se tweede tata, sy raadgewer, sy gewete. Met ’n steek in sy hart onthou hy dat Jakob hom teen sy weeklikse besoeke aan Georgina gewaarsku het.
“Witmense wat kerkmense is, loop soek nie hunning in anderse neste nie, hulle eet by die huis en klaar.”
Willem se gewete hou hom heelnag wakker. As hy ingesluimer het, was dit omdat hy sy gedagtes so oorlaai het dat sy nek nie meer kon regop bly nie. Rooivalk verras hom ligdag met ’n beker koffie en die gerusstelling dat hy en Danster om die beurt wag gestaan het.
Die takhaar en sy manskappe daag nie op nie, maar Willem besluit nietemin om aan te skuif en staanplek te soek waar hulle kan bly tot lamtyd verby is. Hy onthou die tweespoorpaadjie wat hy gister ontdek het, en volg sy neus in daardie rigting. Hier ontmoet hulle dalk ’n togryer of twee en is dan nie so uitgelewer aan rowers en moordenaars nie.
“Ons moet langs die pad bly sodat die gevaar ons nie op die vlakte vang nie,” beduie hy vir Danster-hulle.
Die son staan op elfuur toe Rooivalk die ruiters op die heuwels gewaar. Dis nie die takhaar en sy makkers nie, maar ’n lang ry Basotho’s met spitshoede op die kop en komberse om die skouers, almal met knopkieries en kortspiese bewapen.
“Dis daai kombersmanne wat hulle mense gaan roep het,” sê Rooivalk, sy oë so groot soos sopkomme.
Willem gee een kyk en sy bloed stol in sy are. Hardop verklaar hy: “Ons trek asof hulle nie bestaan nie.”
“Wat maak ons as hulle afkom en ons doodmaak?”
“Ons baklei hulle terug.”
“Ons is drie, hulle is baie.”
Willem hou hom dapper. “Wat is jy – ’n man of ’n muis?”
In sy hart bewe hy en wonder benoud of hy nie maar die Here moet aanroep nie. Hulle is in die minderheid en ’n teiken vir manne met bose planne. Sal God sy gebed uit dié dal van doodskaduwee hoor en verhoor? Dit flits deur sy gedagtes dat hy niks het om in ruil te gee nie, net sy lewe en om by sy belofte te hou en weg te bly van Georgina.
Dit, Here, het ek tog besluit!
“Hulle is weg! Daai manne is weg!”
Rooivalk se uitroep ruk hom.
So gou? Ek het nog nie eens my woorde agtermekaar gekry om te vra nie!
Hy skreef sy oë, kyk links en regs. Rooivalk is reg. Daar is nie ’n teken van die ruiters op die heuwels nie. Was hulle ooit daar? Maar drie mense kan tog nie saam dieselfde verskynsel waarneem nie? Het die Here God sy skietgebed verhoor? Angs druk sy keel toe, hy het ’n belofte voor die Lewende God gemaak en hy sal sy kant moet bring.