Читать книгу Bet-El - Helena Hugo - Страница 11

Hoofstuk 5

Оглавление

Die baba wat in die wiegie lê, is die gaafste ou seuntjie. Hy kraai van plesier, skop met sy voetjies, maal met sy armpies. Myne, my baba! Anna Catharina buk om sy kombersie reg te trek. Ma Susanna, ma Caroline, tant Georgina, tant Hester, aunty Meredith, al die tantes en Elsje staan in ’n kring om die wiegie. Te mooi, die ou seuntjie, haar en Daniël se eersteling. Ma Susanna en ma Caroline stry oor wie hom eerste mag optel. Tant Hester stoot almal weg, sy lig die kombersie. Die hele wiegie is vol van Daniël se voete, skeef misvormd, seer. Die vloek, die vloek, die vloek, koorsing al die tantes. Almal het swart rokke aan. Annatjie lê in haar kissie, sy kyk vir hulle met die baba se ogies, praat reg uit die Bybel: De Heere doet my nederliggen; hy voert my sachtkens door de dal der schaduwe des doots. Annatjie huppel deur ’n lenteveld van wit blommetjies. Die seuntjie klouter oor die rand van sy wiegie. Die tweetjies vat hande en hardloop reg deur die muur. Sy wil hulle agternasit. Haar voete is in die grond geplant, sy kan nie roer nie, sy is bang en skreeu: Help my, help!

Die volgende oomblik draai die seuntjie om. Sy mond gaan oop, hy praat met ’n harde fluisterstem: “Wat? Wat is dit? Anna, is jy wakker?”

Iemand hang oor haar, ’n donker homp in die grys lig. Ruik na Daniël, maar sy stoot hom weg. Moet asem kry, lug skep. Sit toe vervaard regop, besef sy het gedroom en druk haar hande teen haar gesig, voel verlig dat sy wel ’n gesig het, ’n kop, ’n lyf en arms, bene wat kan hardloop.

Dankie, Jesus. Dis net ’n droom.

“Wat makeer? Anna?” Sy stem kom nog deur droomnewels na haar toe aangedreun. “Jy’s rusteloos.”

“Sommer ’n nagmerrie.”

“Jy praat in jou slaap.”

“Wat het ek gesê?”

“Niks, ek kon nie hoor nie.”

“Waar is ons?”

“In Kimberley. Dis Paasfees. Ons kampeer op die kerk se meent.”

“Skies, ek is deur die slaap.” Sy leun terug. Buite begin die eerste voëltjie tjilp. “Oggend?”

“Amper. Wil jy nog na die vroeë biduur toe?”

“Het ek so gesê?”

“Gisteraand.”

“Dan gaan ons.”

Sy kan hul klere wat Daniël aan ’n staander opgehang het, net-net uitmaak.

“Lyk soos afkopmense.”

“Wat?”

“Ons klere, soos mense sonder koppe.”

Daniël kyk na haar. Sy dink hy frons.

“Moet ek die kers opsteek?” vra hy.

“Nog nie.”

“Wat is dit, Anna? Wat het jy gedroom?”

Sy onthou, maar wil nie daaroor praat nie. “Ek het vergeet.”

“Is dit die uitkamp? Is dit vermoeiend?”

“Nee.”

“As die naweek te lank word, dan pak ons.”

“Dis nie nodig nie, en ons is nou hier.”

“Ja, ons is.”

Hy stoot die beddegoed af, swaai sy bene oor die kant van die bedjie, rek hom uit.

Sy rug is breed, sy skouers gespierd. Soos hy nou daar sit, sal sy nie sê hy is gebreklik nie. Sy het hom liefgekry ten spyte van sy voete en vandat hulle getroud is, sien sy hoeveel pyn hy verduur. Dis in die familie. Tant Hester het dieselfde probleem. Sy loop deesdae met ’n kierie en het al op haar gevoellose manier laat blyk dat Daniël dit gerus ook kan probeer. Hy weier. Weier ook dat sy vrou sy voete elke aand vir hom met olie invryf, die krampe uitvryf.

Liewe Here Jesus, ek het hom lief, maar ek sien wat dit aan hom doen. Wat maak ek as my nagmerrie waar word?

Sy wil haar arms om hom slaan, met haar kop teen sy skouer leun en by hom huil, maar hy het opgestaan en soek sy klere om aan te trek.

“Wens ons is terug by die huis,” brom hy, “die bedjie moor my. Nie ’n wonder jy kry nagmerries nie.”

Sy wil die droom uit haar kop sit. “As ons betyds wil wees moet ek seker ook op,” sê sy.

“Ek bring jou waswater.”

“Voor jy gaan, sê eers. Het jy besluit?”

“Ek sal aanneem.”

“Nou is ek trots op jou.”

’n Uur later loop hulle soos hulle gewoonlik loop as hulle haastig is, nie ingehaak nie, agtermekaar.

Die paadjie tussen die tente deur is nou en Daniël se regtervoet swaai so wyd uit, sy is bang hy pootjie haar. Hulle is in elk geval net betyds vir die diens en moet suutjies in die kerkgang afsukkel tot by hul bank waar Meester reeds vir hulle wag. Hy glimlag moeg. Dit lyk asof hy ook nie goed geslaap het nie. Dominee De Vaal lees ’n gedeelte uit Lukas waar Jesus vir sy dissipels vra wat die mense oor Hom sê. Johannes die Doper, Elia, een van die ou profete wat opgestaan het, so glo die bygelowige volk, maar Petrus bely dat Jesus die Gesalfde van God is. Dit is dieselfde Petrus wat Hom later verloën en ontken dat hy Hom ken. Dominee maan sy gemeente om as gelowiges by hul oortuigings te bly en God te eer. Jesus waarsku juis dat Hy Hom op die oordeelsdag sal skaam vir dié wat hulle vir Hom geskaam het tydens hul lewe op aarde.

Daar is geleentheid vir gebed. Hartroerend bid die ouderlinge en leiers van die gemeente. Die grysaards bid, terwyl die ander luister en sekerlik in hul harte saam belowe dat hulle God getrou sal dien. Dominee De Vaal sluit die gebede af en kondig die slotsang aan. Anna Catharina het die behoefte om Daniël se hand te vat en sy doen dit ook. Hy kyk na haar, sy oë onverwags sag. Die son wat intussen opgekom het, gooi goue strale oor die banke en op Dominee se skouers. Wat sou die gemeente van haar dink as sy God vanoggend voor hulle aangeroep het, die Here Jesus belowe het om Hom vir altyd te prys as Hy haar en Daniël met ’n normale kindjie seën?

Maar dis vroue nie beskore om soos mans voor die gemeente op te staan nie, hulle dien God in die stilte van ’n kombuis of op ’n agterstoep, soggens vroeg wanneer die gesin nog slaap. Sy sal getrou aan Daniël se sy staan, God voortdurend smeek om hulle die regte weg te wys, haar haar sonde van vertwyfeling te vergewe. Dit is haar besluit nou en hier.

Die laaste psalm van die oggend vul die vars oggendlug met suiwer smeking, ook uit haar hart.

“Neem Heer mijn bange klagt ter ooren.

Zie als ’t aan woorden mij ontbreeckt,

wat d’ overdenking in mij spreeckt.

Gewaardig U uit ’s hemels thooren

mijn stem te hooren!”

Die musiek en die woorde bly by haar op pad terug kamp toe. Doelie het ontbyt gemaak, die kinders is aangetrek. Alles werk soos dit moet, al was sy nie by nie. Nadat hulle geëet het, gaan rus sy tot dit tyd raak om reg te maak vir die Goeie Vrydag-diens.

Dit is ’n somber geleentheid, die kerk soos vanoggend en gisteraand gestroop van enige versiering, die kerkgangers diep onder die indruk van die gebeure rondom die kruis.

Dalk is dit te danke aan hul dominee se preek, want die familiebyeenkoms by ma Susanna-hulle volg sonder enige botsing. Alles verloop glad, behalwe vir Lutz wat teen etenstyd soek raak.

“Hy doen dit altyd,” klik Klein-Willem.

“Dankie, ons hoor jou,” sê Daniël, “gaan was solank julle hande.”

“Eerste by die badkamer!”

“Ek race jou!”

Tant Hester kyk die kinders agterna. “Wat gaan aan met daai klein Duitser? Altyd opsent.”

“Hy is kwaad vir sy pa.”

“Of hy verlang. Ons weet nie, want hy praat nie.”

Kok kom sê dat sy hom in die stalle by John gesien het.

“Hy wil eet saam met John,” sê sy toe sy die skottel met vis op die tafel sit.

“Dis beter om die seun te los,” sê Meester. “Hy is gelukkig waar hy is.”

Maria wil opsluit ook soontoe, maar Daniël sit sy voet neer.

“Ek en Neels is ook lief vir perde.”

“Julle bly net waar julle is.”

Daarmee is die saak afgehandel en word die tafelgebed gedoen en die vis opgeskep.

“Lutz is darem te dwarstrekkerig,” sê Anna Catharina voornag vir Daniël.

Die kampbedjie kraak soos hy sy lê kry. “Maar gee hom ’n perdestal om skoon te maak, dan doen hy dit sonder murmurering.”

“Die baron sal nie daarvan hou nie.”

“Waar kan hy ons voorskryf? Hy het sy seun op meester Elie afgegooi en hom vergeet.”

Sy wil vra of hy weet waar Lutz se ma is, maar dink toe aan ma Caroline en die nag van Cara se geboorte. Sy was dertien, haar maandsiekte het pas die vorige maand begin. Ma Susanna het haar behoorlik ingelig oor die nadele van vrouwees en haar gewaarsku om weg te bly van mans, want hulle sit jou in die ander tyd. Die enigste man in wie sy van kleins af belanggestel het, is Daniël en hy het toe nog van haar af weggebly. Dus het haar ma se ouvroustories haar nie ontstel nie, maar daardie nag sal sy nooit vergeet nie …

Dit was Kerstyd en hulle het op Mispa gekuier. Die huis het weergalm van ma Caroline se gille. As dit is hoe dit werk, het Anna Catharina gedink, sal ek nog harder gil. Maar ma Susanna het op haar senuwees geraak en besluit hulle ry die volgende oggend vroeg terug Kimberley toe. Tant Hester het later vertel dat die gekerm tot laatmiddag aangehou het en Cara teen skemeraand in ’n bloedbad gebore is. Ma Caroline was so siek, hulle moes ’n vrou soek wat in die melk was om die baba te voed. Dis hoe Katryn deel geword het van die huishouding. Cara is vier jaar oud en Katryn dra haar steeds op die heup.

Cara weet net so min soos Lutz wie haar ma is.

Dit maal en maal deur Anna Catharina, maar sy kan nie sover kom om dit op te haal nie. Daniël het sy vaste menings en sy respekteer hom daarvoor. Wat alles op Mispa aangaan, sal sy stuk-stuk bymekaarsoek tot sy die hele prentjie het. Vir hom het sy nog nooit reguit gevra nie, luister maar as hy die slag praat.

Vreemd, sy kan soms lank lê en stoei met allerhande kwelgedagtes en dan, sonder dat sy dit agterkom, slaap sy. Want skielik is dit oggend en Daniël staan in die grou lug klaar aangetrek en kyk vir haar.

“Môre, Anna. Nie weer gedroom nie?”

“Nee, gelukkig nie.”

“Reg vir die dorp?”

“Ek moet eers opstaan, Daniël, en aantrek.”

“Ek gaan haal jou waswater.”

“Kan jy sommer die seuns uit die bed opkry? Ek sal kyk of Katryn al wakker is.”

Sy gooi haar japon oor en loop kleinhuisies toe. By die wa stop sy, roep saggies. “Katryn!”

Katryn steek haar kop uit. “Môre, Anna.”

Sy sê “Anna” nes Daniël en dit maak nie vir haar saak hoe Anna Catharina daaroor voel nie. Katryn sê vir niemand “nôi” of “seur” nie. Sy tree op asof sy haar werkgewers se gelyke is, slaap nie by die strooise nie, meng nie met die ander Boesmans op Mispa nie. Katryn het van nêrens af aangekom en is vir dood in die veld opgetel, ’n vlugteling met ’n storie wat niemand kon glo en wat lankal nie meer saak maak nie. Sy is Cara se soogmoeder en klaar.

“Ons gaan vir Georgina kuier, jy onthou.”

“Ek het nie vergeet nie.”

“Ons ry seweuur, dan eet ons daar.”

“Jy het gesê.”

Soms weet Anna Catharina nie of sy haar vir Katryn moet vererg of nie. Dieselfde geld vir Lutz. As hy haar so boosaardig aanstaar, ontstel dit haar. Probleem is, albei laat haar voel asof sy ’n indringer op Mispa is, en dis nie waar nie. Hulle is die indringers.

Toe Daniël met die kapkar voor Georgina’s Dresses stilhou, stoot Pierre Francois die voordeur oop.

Dis ’n geel huis met pers rame en hortjies, die dak afgerond met ’n smeedysterrandpatroon. Op die uithangbord bokant die ewe pers voordeur pryk Georgina’s Dresses in swierig gekrulde letters.

Pierre Francois glimlag breed, hy lig sy hand en waai en waai.

“Hulle het die huis geverf vandat ons laas hier was,” sê Anna Catharina.

“Lyk soos ’n Krismiskoek,” brom Daniël.

Pierre Francois kom in die tuinpaadjie afgedraf. Hy dra ’n stywe broek gemaak van ’n lap met blokkiespatrone en ’n bypassende onderbaadjie. Sy wintertuin staan in volle blom, sy madeliefies dansend in die oggendson.

“Welkom, welkom, welkom!” groet hy.

Daniël knoop die leisels en spring af. “Ek help jou, dan ry ek,” sê hy.

“Cara, kyk die pophuis,” beduie Maria.

Katryn sit penregop met Cara op haar skoot.

Daniël en Pierre Francois groet mekaar met die hand.

“Dag, swaer,” sê Pierre Francois. “Heerlike herfsdag vandag?”

Daniël antwoord hom nie met dieselfde entoesiasme nie. Hy hou sy arm vir Anna Catharina sodat sy makliker kan afklim.

Sy soengroet vir Pierre Francois. “Ek hou van julle huis.”

“Nie so somber nie, nè. Kyk hoe pragtig is sý.”

Hy mik om Cara van Katryn se skoot af te tel. Die dogtertjie druk haar gesiggie teen Katryn se nek en hy maak die fout om met sy vingers deur haar krulle te kam. Ongelukkig trek dit en sy sit ’n keel op tot die bure se honde aan die blaf gaan en Daniël die perde moet kalmeer.

Pierre Francois is so rooi soos ’n beet. Katryn fluister iets in Khoi-taal. Die kind klou aan haar vuilgespeelde lappop, kyk met betraande oë na die beteuterde oom.

“Sy’s skaam,” sê Maria. “Jy is net skaam, nè, Cara? Oom, sy sal nou-nou regkom.”

“Hoop so. Haar niggietjie wag al van vroeg vanoggend af vir haar maatjie.”

“Loop sy, Oom?”

“Nog nie, maar een van die dae. Kan jy self afklim?”

“Ja, maklik.” Maria spring af. “Gee haar vir my, Katryn.”

Katryn laat sak Cara deur Maria se arms af grond toe. Pierre Francois klap hande asof hy ’n sirkustoertjie waargeneem het en Anna Catharina verstom haar nogeens aan Maria wat alles so maklik regkry. Maria en Cara staan al op die tuinpaadjie toe Katryn die mandjie aftel. Benewens Cara se slaapkombersie en ’n stel skoon kleertjies is daar twee bottels van tant Hendriena se ingemaakte perskes, ’n sakkie biltong en ’n bottel met heuning wat Daniël op Elim uitgehaal het. Hy was nie baie gretig om die Du Toits met geskenke te oorlaai nie, maar Anna Catharina het haar eie kop gevolg. Daar lê ook twee pampoene onder die agtersitplek en sy herinner Daniël daaraan.

Pierre Francois besing die pampoene asof dit enige oomblik in Aspoester se koets gaan verander. “Maar kom in, die croissants moet haas uit die oond.”

“Ek kan ongelukkig nie vertoef nie. Totsiens, Anna.” Daniël soen haar en knik in Pierre Francois se rigting.

Hy staan met ’n pampoen in elke arm en kan nie handgee nie. “Waarheen so haastig?”

“Dorp toe vir besigheid.”

“Ek sien.”

Dit lyk of hy nie weet wat hy sien nie, maar hy dring nie aan op ’n verduideliking nie. “Bon courage,” sê hy en tree agteruit dat Daniël die perde aan die loop kan kry.

Hy en Anna Catharina bly staan tot die kar ’n ent weg is.

“Watse besigheid?” vra hy.

“Die bank. Daniël wil met die bestuurder gaan praat.” Sy haak by hom in. “Is jou croissants nie al gaar nie?”

“Emily sal kyk.”

“Sy is vroeg op haar pos.”

“Ons het vir haar ’n kamer ingerig, haar as huishoudster aangestel. Die besigheid blom, Clarabelle kruip die wêreld vol en ek en Georgina kon nie meer alles behartig nie. Emily is ’n ster, sy regeer die huishoudelike personeel met ysterhandjies, drie van hulle en die tuinier.”

“Was sy nie julle ontvangsdame nie?”

“Haar sustertjie het oorgeneem. Vreeslik oulik; so slim met tale, sy praat al Frans.”

Maria staan met Cara aan die hand, Katryn met die mandjie. Hulle wag op die stoep, te beskroomd om in te gaan al staan die voordeur wawyd oop.

“Stap gerus na binne, julle mensies. Ons sal moet roer met die ontbyt. Vandag trap die boervrouens ons dood. Paasnaweek of nie, Saterdag is dorpdag, en ons kan nie bekostig om toe te wees nie. Jy eerste, mevrou Basson. Jy lyk so goed.”

Die ontvangskamer ruik na gedroogde blomblare, rose en laventel. Rolle lap en patroonboeke is uitgestal op die toonbank, ’n stapeltjie boeke met ’n paar bolle blou en pienk wol op die verste punt.

Pierre Francois plak die pampoene neer. “Voor ek vergeet. Jou wol en patroonboeke. Ek’t vir jou my mooistes gemerk. Veels geluk.” Sy kry ’n klapsoen. “Glo my vry, babas is oor en oor die moeite werd. Nè, Pappa se liefding.”

Georgina staan in die gangdeur met die pragtigste pokkeltjie in haar arms.

Sy kraai ’n plesierig “Pa-pa!” en steek haar armpies na hom toe uit.

Hy vat oor, maak ’n verspotte draai deur die kamer en gaan kniel voor Cara, die kleintjie op sy knie. “Cara, dis nou jou niggietjie. Haar naam is Clarabelle. Hallo, Cara. Hallo, Clarabelle.”

Cara staar na die opgepofte valletjiespop asof sy ’n vreemde diertjie is.

Hoe anders, dink Anna Catharina, haar beste maatjie is Siena se Fientjie.

Die pop probeer Cara se blonde krulle beetpak, maar dié keer is Maria wakker genoeg om tussenbeide te kom.

Georgina kyk meewarig. “Een donker en een lig,” sê sy en draai dan na Anna Catharina. “Hoe gaan dit vandag met jou?”

“Goed, baie beter. Ek en my ma het vrede gemaak. Sy kom my elfuur haal vir inkopies.”

“Ek is bly. Los die meisies hier, dan kan julle rustig koop. Ons sal hulle besig hou.”

“Is jy seker?”

“Natuurlik,” beaam Pierre Francois. “Haar speelkamer is oop vir besoekers, nè, Pappa se skat?”

Emily verskyn in die deur. “Goeiedag, mevrou Basson en welkom. Ontbyt is op die tafel.”

Katryn haal Cara se kombersie en ander goedjies uit die mandjie, gee die mandjie vir Emily aan.

“Ingemaakte perskes en heuning en biltong,” sê Anna Catharina.

“Dankie. Baie, dankie.” Tant Georgina lyk verras.

“En daar sit twee vet pampoene op die toonbank.” Pierre Francois wend hom weer tot die dogtertjies. “Die blonde kind fassineer my. Regte goue lokkies met Caroline se viooltjie-oë. Hoe oud is sy nou?”

Maria gee haar ’n stootjie. “Wys vir die oom.”

Cara vou haar regterduim en wysvinger in haar linkerhand toe en wys drie vingers.

“Drie! Sy verjaar mos Kersfees.”

“Die dag ná Kersfees, Oom, dan is sy vier. Ek is elf.”

“Baie mooi. Ons maak vir haar ’n blou blommetjiesrok. Watter kleur hou jy van?”

“Rooi.”

“Fantasties, ’n rooi rok vir ’n rooi roos.”

Tant Georgina sug. “Hy wil almal altyd aantrek.”

Die etensklokkie lui hoorbaar ongeduldig.

“Daar gaan Emily in vlamme op. Pierre, Emily se kos word koud.” Tant Georgina slaan haar arm om Anna Catharina se middel, stuur haar in die rigting van die eetkamer. “Ons stel die voorbeeld, hopelik volg hulle. Dat jy nou ’n boervrou moet wees. Getroud met die liefde van jou lewe.” Sy gee ’n gevoellose laggie. “Meer as wat die meeste van ons kan sê. Onthou dat ek jou iets gee om vir Willem te gee. Ons mag asseblief nie vergeet nie.”

Bet-El

Подняться наверх