Читать книгу Bet-El - Helena Hugo - Страница 7
Hoofstuk 1
ОглавлениеElim, April 1897
Dis vroeg, nog skemerdonker. Daniël is soos gewoonlik al op en uit, watter tyd van die nag nou weer, weet Anna Catharina nie. Die oggendbries, wat die kantgordyn lig, is verfrissend koel teen haar wang. Sy verwelkom die lafenis. Januarie, Februarie en selfs Maart was ondraaglik warm en sy olik, lig in die kop en mislik – veral as sy soggens die reuk kry van pruttende koffie of eiers wat bak. Praat nie van halfgaar niertjies en lewer nie!
Sadrag se Dina, wat met Bekka op haar rug in die kombuis probeer handgee, was nie veel van ’n aanspraak nie en het haar geduld tot die uiterste beproef. In een ding is sy haar voor. Swangerskappe. Haar maandsiekte het maar die tweede keer weggebly, toe vertel Dina haar hoekom sy naar word van kookmelk en net flou tee in haar lyf kan kry.
“Die melk makeer niks. Jy is in die ander tyd,” het sy haar reguit gesê.
Haar maag het gedraai, die mislikheid het in haar keel opgedruk. Al het sy dit in die stilligheid vermoed, het sy dit nie so gou verwag nie. “Jy lieg,” het sy kastig gestry. “Dis die melk en die wors. Jy’t te veel vet ingemaal.”
Sy was tegelyk skaam en trots.
Dina het mieliepap opgeskep, hare vir haar aangegee. Sonder melk. “Hoeveel maande?”
“Verlede week twee,” het sy met ’n mate van selfvoldaanheid toegegee.
“Tel veertig weke van die eerste dag wat jou man by jou gelê het. Dis hoe lank jy gaan loop.”
“Jy sê niks vir Sadrag voordat ek met Daniël gepraat het nie!”
Daniël en Sadrag was vir ’n week lank buiteposte toe en sou eers oor drie dae terugkom. Dampies, wat op vyftienjarige ouderdom klaar was met meester Elie se skool en op Elim ingeval het, het met die swaar werk op die werf gehelp. Sonder Daniël en Sadrag het hulle nogtans harder as gewoonlik geswoeg. Saans wou sy huil van uitputting. Sy het Dina se raad gevolg en die fraaie Pears-almanak wat aunty Meredith vir haar present gegee het, geraadpleeg. Om seker te maak het sy by die tweede week in Januarie begin, die weke omtrent tien keer sorgvuldig oorgetel, veertig soos ’n optelsom uitgewerk en by middel Oktober uitgekom. Nog drie dae, dan sou Daniël terug wees, eers dan.
Dit was die eerste keer vandat hulle op 5 Januarie getroud is dat hy haar vir langer as vier en twintig uur alleen gelos het, en op so ’n ontydige tyd. Vandat sy besluit het om hom te vertel, het haar hart oorgeloop van angs. As hy iets moet oorkom en sy bly alleen agter, het sy haarself wysgemaak, treur sy haar dood. Die huis was leeg sonder hom en hulle bed … Hulle bed was nie meer hulle bed nie, net ’n lêplek vir een wat nie tot rus kom nie en skaars asem kry in die bedompige kamer, so benoud omdat sy bang was en die vensters dig toegemaak het. Motte en ander vlieënde insekte het teen die ruite vasgevlieg. Die getrippel van knaagdiertjies en die geseil van slange op die houtvloer het haar heelnag uit die slaap gehou. Annatjie se gees het gereeld die kamerdeur oopgestoot en na binne gesweef, ’n wit fladdering teen die mure.
“Help my, liewe Jesus, om myself nie allerhande dinge in te prent nie. Ek is groot, ek is ’n getroude vrou. Help my om dapper te wees,” het sy hardop gebid.
Intussen was sy te bang om die kers op te steek, ingeval haar vrese bewaarheid word.
“Laat Daniël asseblief vroeër terugkom, asseblief, asseblief tog.”
Sy het haar arms om haar lyf geslaan, haar knieë opgetrek, gewag vir die slaap wat weggebly het – en vir Daniël. Hoe het sy nie na hom verlang nie.
Hy kon haar van hul eerste huweliksnag af nie uitlos nie. Sodra hy sy lê langs haar kry, trek hy haar nader. Soms skuif hy haar nagrok oor haar skouers af, soms begin hy by haar voete en vou sy hande om haar enkels, dan haar kuite. Sy hande streel die dag se moegheid uit haar lyf, hy werk haar op tot sy haar skaamte verloor en aan hom vat waar sy nooit gedink het om aan ’n man te vat nie. Die donkerte is haar medepligtige, die hitte van die afgelope dag haar verskoning om haar voor hom uit te trek. Sy het vermoed dis hoe getroudes mekaar liefkoos. Dat dit so maklik kom, het sy nooit kon droom nie.
Haar ma het haar net mooi niks gesê nie, behalwe dat sy hoop Daniël is ordentlik genoeg om nie te veel van haar te verwag nie. Haar beste vriendin Henriëtte Benade het haar bang gepraat met die grusaamste besonderhede uit haar suster se ongelukkige huwelik.
“Maak jou oë toe en dink aan die see,” was tant Hester se raad. “Verduur, dis gewoonlik gou verby.”
Nie met haar en Daniël nie. Hy kan met haar aangaan tot sy uitasem is. Sy het hom lief, van sy breë voorkop af tot by sy skewe voete. Hy het die dierbaarste manier om te sidder elke keer wanneer hy sy saad in haar stort. Dan hou sy hom vas tot hy bedaar, en sy wag vir hom om te sê dat hy haar liefhet.
“Dis gedoen,” het hy op hul eerste huweliksnag verklaar. “Jy is nou myne.”
Vergeefs het sy toe al gewag vir die woorde wat sy die graagste wou hoor: Ek het jou lief, jy is my enigste ware liefde.
Vir hom het sy dit by herhaling in haar gedagtes gesê.
Klankloos. In stilte, met trane in haar oë.
Ek het jou lief! het haar hart geskreeu. Ek het jou lief!
Het jy my lief? wou sy hom vra, maar sy was te bang vir die antwoord.
Geduld, het sy haarself gemaan, dis wat jy nodig het. Wees geduldig en lydsaam. Maak hom gelukkig. Hou hom gelukkig.
Daniël was uit sy vel uit verheug om te hoor sy verwag.
“Ek sal bly wees as dit ’n seun is, maar ek hou ook van dogtertjies. Wanneer?”
“Iewers in Oktober. Ek dink vroeg.”
“Saam met die lentelammers.”
Gister op die Sondag het sy weer die almanak van Januarie af deurgewerk. Dit is vandag die twaalfde April. As sy die weke reg aftel, is sy veertien weke ver. Die naarheid is weg. Haar eetlus en werkywer is terug, hoewel sy soms nog lus voel om tot ligdag onder die lakens te lê. Daniël slaap snags sleg, kry krampe in sy voete, spring regop van pyne in sy bene. Die nag beur nog teen die ruite, dan het hy al vuur gestook en koffiewater opgesit. Sy skrik nie meer nie, sy aanvaar dit en volg haar eie ritme, staan op wanneer die hane klaar gekraai het en die geur van vars koffie die huis ingeneem het. Eintlik is dit lekker om die hele bed vir haarself te hê. Sy lê op haar rug, haar hande op haar maag, en wonder.
Word ek vet of is dit die baba wat groei?
Die werfhaan wat Daniël Mathusalah gedoop het, gee sy eerste hees kraai. Hy is die koning van Elim se hoenderhokke, vir hoe lank nog, kan sy net raai. Lamech, seun van Mathusalah, trek ook los. Hulle antwoord mekaar van oos na wes en van wes na oos.
Anna Catharina maak haar oë toe en dink aan die Here. So ver soos die ooste van die weste af, so ver verwyder Hy ons sondes van ons. Maar Here, bely sy, so ver is ek en Daniël ook van mekaar. Ons is vreemdelinge, al deel ons ’n huis en ’n bed, al het ons saam ’n kind verwek. Is dit nie sonde nie? Daniël kan so maklik die pad vat en loop of dae lank skaars praat, dan snags aan haar klou asof hulle in ’n vol rivier afdryf. Is dit nie ook sonde nie? Dat hy haar nie in sy vertroue neem en haar vertel wat hom hinder nie? Sy voete kan hy nie wegsteek nie, maar daar is nog iets, iets in sy hart. Sy het al gevra. Toe sê hy dis niks, maar hy jok. Dis oor Adrie Janse en sy begeerte na haar, dis nog nie afgehandel nie.
Hy is lief vir die Here, dit weet sy vir seker. Hy het ’n nuwe Bybel gekoop, haar gevra om hul name op die register in te vul, haar geprys oor haar mooi handskrif. Dis waar. Haar letters en syfers neig netjies na regs, almal teen presies dieselfde hoek, almal perfek.
Daniël Matthys Basson, geboren 3 Augustus 1879
Getrouwd op 5 Januarij 1897 met
Anna Catharina Basson, geboren 24 Augustus 1880
Die res van die bladsy moet later ingevul word. As hul eersteling ’n seun is, sal hulle hom na pa Willem vernoem, ’n dogter na ma Susanna. Hulle het nog nie aangekondig dat sy verwag nie, maar die tyd het aangebreek. Dis vandag Maandag. Woensdag pak hulle. Donderdag ry hulle Kimberley toe vir Paasfees. Hulle het besluit om saam vir haar ma en pa te sê dat hulle ouma en oupa gaan word.
Sy sal in elk geval met die baba se kleertjies moet begin. Wol koop en breipatrone vir baadjies en booties in die hande kry. Haar ma hou nie van brei nie, maar tant Hester sal patrone hê, sy het altyd alles. Pierre Francois brei die mooiste rokkies en fynste baadjies vir klein Clarabelle. Babaseuntjies lyk ook oulik in kantpatroontjies. Blou of pienk? Niks so mooi soos ’n babatjie van kop tot tone in wit nie. Aan die voetjies wil sy nie dink nie. Voor haar troue het sy gesê dit pla haar nie, maar noudat sy verwag, is sy selfs te bang om vir Jesus daarvan te vertel, wat nog te sê met Daniël praat. Hy is diep gelowig. Hy sorg dat hulle elke nagmaalnaweek bywoon. Soggens en saans lees hy vir haar en Sadrag-hulle uit die Bybel. Hy kla nooit oor sy gebrek nie, hy leef met die pyn. Bid hy in sy hart, wil sy hom vra, dat hul kindjie sonder gebrek gebore word of is hy ook bang? Hardop het hy die Here nog nie een keer gevra nie.
•
Toe hy ’n kind was, en later toe hy so vinnig begin groei het, het sy bene en voete snags so gepyn hy kon skreeu. Hy het nie, want wie sou hom kon help? Sy ma was sieklik, sy pa ongeduldig, meester Elie aan die slaap in die kamer agter die skool en vir tant Georgina was hy altyd skaam – met reg, het hy later ontdek. Ou Sêrah het hom uitgevind en salf aangemaak wat hy self kon insmeer. Dit het gestink, maar darem gehelp. Ja, hy slaap van sy kinderdae af lig en skrik gereeld in die nanag wakker, oor sy bene, en sy innerlike stryd. Anna het dit vanselfsprekend nie geweet nie, maar hy kon dit nie wegsteek toe hulle eers getroud is nie. Hy het probeer. In die ou dae voordat hy sy bed met sy vrou gedeel het, kon hy maak soos hy wil. Nou verduur hy die krampe, lê lank en luister of sy vas slaap voordat hy opstaan. In die verlede het hy sy bene gebuig en gestrek tot dit oor is, sy voete in sy stewels gedruk en geloop sonder om hom te steur aan die gekraak van die huis se plankvloere. Vandat sy hier is, sluip hy soos ’n dief na buite. Hy kan nie anders nie, hy moet beweeg om die pyn uit te werk en die koelte van die nanag trek hom na buite. Van die agterstoep swenk hy na links, kies die paadjie na sy Bet-El-rots waar hy die Here in gebed ontmoet. Hy gaan staan met sy rug daarteen, sy gesig na die ooste waar die nagswart stadigaan ligter raak.
Wagtend op die môre. Waar staan dit in die Bybel? Watter woorde? Wat presies?
Miskien kry hy dit eendag, toevallig of soos die Here wil.
Dis nie die môre, nie die blote dag, nie verligting van sy liggaamlike pyn nie. Dis die Here self op wie hy wag.
En vergifnis.
Hy druk sy hand in sy baadjiesak, haal sy pyp en twaksak uit en stop. Die laaste tyd, vandat Anna hom meegedeel het dat sy verwag, staan hy meermale in die middel van die nag op om met die Here te kan praat. As die lug volgepak is met sterre, die Melkweg skitterwit, so glo hy, is dit makliker om die God van hemel en aarde te soek en te vind. Jy raak bewus van sy grootheid, met om jou en oor jou die heelal onmeetbaar ver en tog duidelik sigbaar. Meester Elie sê die naaste ster aan die aarde is die son. Die ander sterre is almal sonne en die Melkweg duisende miljoene sonne. Daniël kan dit nie vir hom voorstel nie al sien hy dit snags as hy opkyk en wag, sy oor fyn ingestel om sy opdrag te kry.
Iewers vandaan, God se stem …
Hy het tog sekerheid gekry oor Anna, dat hy die regte ding doen om met haar te trou. Dat sy hom liefhet, dit weet hy, ook dat sy ’n goeie vrou is – heeldag deur arbeidsaam. Vroegaand hou sy die bed vir hom warm. Sy gee hom alles en nog meer, en hy het haar lyf begeer vandat hy haar die eerste keer in haar pa se huis vasgedruk het. Noudat hulle getroud is, maak dit nie meer saak wat betaamlik is en wat nie. Hy verlustig hom elke nag in haar, sy vrou, haar lyf, die lyf van ’n vrou.
Maar laas nag, liewe Here, toe sy lag, lag sy al weer nes Adrie!
Hy het sy hand voor haar mond gedruk om haar stil te maak.
Sy het nie gevra hoekom nie. Vermoed sy iets? Praat hy dalk in sy slaap, mompel hy haar naam? Adrie, nie Anna nie?
Anna … Sy het hom al gevra hoekom hy nie praat nie. Wat moet hy sê? Waar begin hy? By sy bene en voete wat haar nie pla nie, maar wat hy soos pynbanke met hom saamsleep. Sy angs oor die vloek en die kind wat sy verwag? Sy pa? Tant Georgina? Sy oudste boetie wat perfek gebore is en klein-klein dood is sodat hy sy plek en sy naam kon kry, maar nie sy volmaakte voete nie? God se stem in die middel van die dag? En Adrie?
Hy het Anna al in haar slaap hoor huil, sagte snikkies soos ’n klein diertjie. Uit jammerte wil hy haar wakker maak, haar vra wat sy droom. Eintlik wil hy nie weet nie. Wat as sy die een is wat dan met reguit vrae kom?
Mathusalah gee sy eerste kraai. Die môrester skyn helder en die maan staan botstil, maar die haan kraai. Daniël soek vuurhoutjies in sy sak, hy steek sy pyp op. Skreef sy oë op soek na die lig wat skynbaar net deur geveerdes gesien kan word, neem ’n diep teug aan sy pyp. Hy en Sadrag rook vandat hulle tien jaar oud is. Vandag is hy ’n man. Hy rook nie voor Anna nie. Sy is verdraagsaam, maar hy hou nie daarvan om voor sy vrou te rook nie. Hy behandel haar met respek. Soms staan hy verstom oor haar arbeidsaamheid. Die niggie van hom wat kleintyd soos ’n bedorwe brokkie op een plek gesit het, kan werk. Bedags help sy hom op die werf, maak tuin, bly besig in die kombuis en sit sy, is dit agter haar Singer.
As die kind eers gebore is, sal sy nog besiger wees, hy ook. Hy sal iemand moet kry om hom en Sadrag te help met kampe vir die grond wat hy by Piet Bek gaan koop het. Anna weet nog nie dat hy ’n nag op Houhoek oorgebly het nie, hy sal haar moet inlig. Alles daar, van die plaaspad tot die huis en kinders, is in ’n verwaarlosing. Magdalena huil en kla hulle vergaan. Piet Bek doen niks, stook witblits en drink dit tot in sy koffie, witgatwortel sonder melk. Blameer die Rinderpest vir sy ondergang, terwyl Daniël nie ’n hoef verloor het nie.
Hy het moeite gedoen om draad te span, Robert Koch in Kimberley gaan haal en sy diere laat inent, saam met die dokter van plaas tot plaas gery met die entstof wat die Kaapse regering vry en verniet beskikbaar gestel het, saam met die amptenare gewerk om die Kolonie se veestapel van uitwissing te red. Pa Willem, oom Barend van Klipfontein, neef Arnoldus en oom Neels, nog ander het hier en daar gehoor gegee. Die res wou opsluit klaarkom met boererate en huismedisynes wat hulle van oudsher af vir hul siek diere toegedien het. Boererate het nie die Rhodesiërs, Transvalers en Vrystaters gehelp nie, ook nie een transportryer wat sy osse op die Mafekingpad sien vrek het en sy vrag moes agterlaat nie. Hier in die distrik was daar ongekende skade onder diegene wat hulle slimmer as die dokter gehou het.
Nou kyk hulle na Elim en Mispa en skinder omdat die Bassons vooruitboer en geld maak! Hy het sy perd moeg gery om ander in te lig, dit net ’n maand ná sy troue. Wanneer hy tuiskom, het Anna hom nie verwyt nie, maar vrae gevra, belangstelling getoon. Hy sou haar kon liefkry, al is dit net vir haar gewilligheid in die bed. Nee, ook vir haar lydsaamheid, haar bereidwilligheid, haar geduld met hom.
Piet Bek se Magdalena het nogal verneem na Anna Catharina en hoe sy klaarkom.
Hy kon met haar spog, hoewel hy hulle nie van die kind vertel en nie uitgenooi het om te kom kuier nie. Hul kapkar was buitendien op die blokke. Hy sou kon help, maar hy het nie. Sy ruimhartige aanbod vir die grond was wat hom betref genoeg om ’n nuwe kar en ’n nuwe begin te koop. Piet se kop het delwerye toe gestaan, die plaas was nie meer vir hom nie. Beter skole ook op Kimberley noudat die Hollander die pad gevat het, daar geen onderwyser op Houhoek is nie en die kinders verwilder. Daniël het hulle so gekyk en besluit om stil te bly.
“Ons gaan Paasnaweek Kimberley toe, dis volgende week,” het hy gesê. “Ek bring die eerste paaiement vir die grond einde April. Of verkies Oom om saam met my bank toe te gaan, dan betaal ons die geld in Oom se rekening oor?”
“Nee, ek werk nie met banke nie. Bring vir my harde kontant, dan praat ons weer.”
“Ek sal sorg dat meester Elie vir ons ’n kontrak skryf.”
“Wat vir ’n ding?”
“Die kaart en transport, oom Pieter, van die grond.”
“Jy wil nou my hele plaas vat?”
“As Oom so voel, kan ons praat.”
“Ek sal daaroor dink.”
Daniël haal die pyp uit sy mond. Die hemel bokant die horison is roesrooi, die sonstrale skerp in sy oë. Sy gedagtes het weer gedwaal. Is geld en goed dan meer werd as gebed?
Here, vergewe! Vergewe my!
Die son verander in ’n oranje vuurbal. Dit kom los en klim stadig boontoe. Dun rook borrel by Sadrag en Dina se skoorsteen uit. Die werfhonde kom skuur teen Daniël se bene, hy krap agter hul ore. Nero en Caesar. Meester Elie se voorstel toe hulle nog jong hondjies was en buitengewoon groot vir hul ouderdom. “Opregte wolwe van Duitsland af ingevoer,” het die togryer gesê wat van hulle ontslae wou raak, verlede jaar toe hy begin het om elke maand namens sy pa ook Kimberley se mark toe te ry. Sy pa weier steeds om sy voet daar te sit.
“Port Elizabeth of selfs Kaapstad, maar Kimberley sien my nooit weer nie.”
Dis oor tant Georgina en Pierre Francois en Clarabelle, sy skandekind, die halfsustertjie. Om aan haar te dink maak hom deurmekaar. Dis net, sal iemand eendag so eerlik kan wees om haar te vertel dat sy nie ’n Du Toit is nie? Maar is dit nodig? Die bewyse is boonop nie daar nie, want haar voetjies is perfek. Wat wil die Here daarmee sê – dat Hy vergewe en van hulle dieselfde verwag? Daniël wil opkyk en struikel byna oor die punt van ’n rots wat diep in die paadjie begrawe is.
Here, dat hy normaal kan loop, dit vra ek vir die kind en vir Anna, nie vir my nie. Gee dat die vloek nie op een van ons kinders sal val nie.
Die werf het lewe gekry en die gewone oggendgewoel het oorgeneem. Almal lawaai. Koeie en kalwers, hoenders en herfslammers, honde en katte. Anna het die wyfiekat saamgebring en vandag is hier ’n swetterjoel!
Toe hy om die hoek van die huis kom, sien hy haar, sy vrou in die kombuisdeur. Sy gaan nie in nie. Sy staan met die leë melkbeker in haar hand en wag vir hom.
“Môre, Anna. Goed geslaap?” vra hy, die pyn in sy heup erg hinderlik.
“Môre, Daniël.” Sy hou haar wang na hom vir ’n oggendsoentjie. Haar vel is koel teen sy lippe. “Ja,” sê sy, “ek is uitgerus, en jy?”
“Goed genoeg, dankie.”
Toe draai sy om en stap vooruit. In die kombuis gaan sy staan. Hy loop by haar verby, trek vir hom ’n stoel uit en neem plaas, voel hoe die pyn in sy heup skiet gee.
“Wat pla jou, Daniël, dat jy weer donkernag opgestaan en uitgegaan het?”
Hy wil sy vrou gerusstel, haar troos, nie kla nie. “Sit, Anna, daar is iets.”
Sy doen dit sonder om teë te stribbel.
“Ek was op Houhoek, die anderdag toe ek en Sadrag Vlakpan toe uitgery het, by oom Pieter en tant Magdalena. Sy stuur vir jou groete. Ek het ’n helfte van sy grond gekoop.”
“Kan jy dit bekostig?”
“Ek sal nie geld uitgee wat ek nie het nie.”
“Jy moet dink aan ons kinders.”
“Dis juis vir hulle.”
Sy kry trane in haar oë. “Nou weet ek. Dankie, Daniël.”
Die Bybel lê op die tafel voor hom. Hy maak dit oop. “Waar is daai stuk oor die wagters in die môre?”
“Iewers in Psalms.”
“Dan soek ek my dood.”
“Lees maar verder in Markus. Ons was by hoofstuk tien vers ses en veertig.”
Hy kry die boekmerk, ’n fyn gehekelde strokie, glo oorlede ouma Anna se handewerk, die vrou met wie sy pa se pa getroud was, die vrou na wie sy oorlede sustertjie en sy eie vrou vernoem is.
Sy oog val op gisteraand se laaste vers.
Want oock de Sone des menschen en is niet gekomen om gedient te worden, maer om te dienen ende sijne ziele te geven tot een rantsoen voor vele.
Hy lees die geskiedenis van die genesing van die blinde Bartimeus, en die vers bly hom by. Hulle hou hande vas, terwyl hy bid. Hy vra God om hul oë te open, hulle die weg van diensbaarheid aan te wys en die werk van hul hande te seën.
Anna haal asem asof sy wag. Haar vingers is lank en skraal, haar hande soveel kleiner as syne. Hy dink aan die kind wat in haar groei. Sou die voetjies al vorm aanneem?
Straf my nie na my sondes nie, smeek hy in sy gedagtes.
“Amen,” sê hy hardop.
Anna se oë is helder en eerlik, sy glimlag vir hom.
“Ek het deeg aangemaak om koekies te bak vir Kimberley,” sê sy. “Ek wil die eerste baksel voor oggendete uit die oond haal.”
“Jy moet jou nie ooreis nie,” sê hy.
“Dina is hier. Ons werk saam.”
“Ja, en vanmiddag is dit weer jy en die Singer.”
“Ek hou van naaldwerk.”
“Solank jy dit nie oordoen nie,” sê hy voor hy opstaan en uitgaan om te help met die melkery.