Читать книгу Bet-El - Helena Hugo - Страница 8

Hoofstuk 2

Оглавление

Ma Susanna se tafel is keurig gedek met die beste porselein en die fraaiste teelepels en koekvurkies. Daar is gehekelde doilies in die pierings en geborduurde servette wat by die tafeldoek pas. Op staanders en koekborde, sjokoladekoek, suikerbrood, koeksisters en jemtertjies, presies soos Kok geleer is om dit te bak.

Aunty Meredith trek haar kantmoffies uit. Sy vou haar servet oop, veeg met haar plathand oor die kunstige borduurwerk. “Lovely,” sê sy waarderend. “This is pure art, you know.”

“My mother’s handiwork,” spog ma Susanna. Sy skuif selfbewus aan die koekbordjie. “This … tablecover ook,” voeg sy by.

Cloth, dink Anna Catharina, die woord is tablecloth. Hoekom haar ma vanoggend wil Engels praat, is ’n raaisel. Dalk verbeel sy haar, soos baie van haar Belgravia-vriendinne, dat dit by deftige teetafels pas. Aan aunty Meredith is daar nie salf te smeer nie. Sy weier om enige ander taal as Engels te besig, en sy is nie die enigste onder die Fuller-susters nie. Sy en die tweelingtantes wat in die Carnavon-hospitaal verpleeg en aunty Ethel wat Kaap toe getrek het om goewernante te wees. Hulle hou getrou aan hul Engelse herkoms en beskou ma Caroline, tant Hester en tant Georgina as afgewaterde Engelse wat met die Hollanders ondertrou het, hoewel tant Georgina haar laas keer vertel het sy leer nou Frans.

Sy is ook hier, uitgevat soos dit ’n modemaakster betaam, sit sy langs tant Hester wat haar servet omdraai en die agterkant van die borduurwerk bekyk asof sy dit vir ’n kompetisie beoordeel. Tipies tant Hester.

Dis Donderdagoggend en teetyd in Belgravia. Geen verskoning nie, sodra hulle in Kimberley aankom moet hulle hul aanmeld. Vanselfsprekend groet ordentlike plaasmense nie hul stadsfamilie met leë hande nie. Mandjies en skottels boordensvol varsgeslagte vleis, groente en ander plaasprodukte word afgelaai en dankbaar deur ma Susanna in ontvangs neem. In ruil daarvoor reël sy hul familiebyeenkomste, van teetafels tot nagmaaletes, so spoggerig en met soveel oordaad, selfs tant Hester waag dit nie om daarop aan te dring dat hulle by haar in die kamp moet kom aansit nie. Aunty Meredith het hulle een jaar Savoy toe genooi, maar die kos was so einatjies en sy so op haar senuwees oor die kinders wat nie weet hoe om hulle in ’n hotel te gedra nie, dat dit nie weer gebeur het nie.

Anna Catharina verstom haar aan die kunsblomme en ornate haarnaalde wat die Engelse aunty se opgepofte kapsel in toom hou. Om haar nek hang daar altyd stringe pêrels en ’n bril aan ’n goue kettinkie. Sodat sy beter kan sien, hou sy dit voor haar oë en buig af om die borduurwerk van nader te bekyk, streel met haar vingerpunte oor die blomprente wat ouma Johanna jare gelede stekie vir stekie uitgewerk het.

“Beautiful. Really, exquisite.”

Anna Catharina onthou hoe haar ouma in die son gesit het sodat daar genoeg lig op haar werk kon val, hoe dun haar vingers was en hoe bleek haar hande wat niks anders as borduurwerk gedoen het nie. Aunty Meredith se hande is net so vlekkeloos, haar naels perfek gevyl en blinkgepoets. Sy dra ’n goue ring met robyntjies aan haar linkerhand se vierde vinger, al is sy nie getroud nie. Hulle sê sy was verloof, die man het hom dood verongeluk voordat hulle kon trou en omdat hy geen naby-familie gehad het nie, het sy al sy geld geërf. Dis hoekom sy nie nodig het om haar hande in kouwater te sit nie. Sy leef in luukse in die Savoy, hoewel sy uit verveling jare lank by die Holy Family Convent skoolgehou het.

“Dis in die familie,” sê tant Hester, “hierdie talent. Anna Catharina kry dit van alle kante af. Een goeie ding wat ons vir ons kinders aangee. Susanna, het sy jou gewys hoe sy haar lakens en kussingslope borduur het?”

“Sy het en dis pragtig. Ouma Johanna sou so trots gewees het, maar dis jy wat haar kleindogter die fyner kunsies gewys het.”

“My goodness, Hester!” roep aunty Meredith uit. “Congratulations.”

Tant Hester maak die kompliment af met ’n handgebaar wat byna die melkbekertjie omkeer. Anna Catharina bloos en hou haar hande op haar skoot. Vandat sy ’n plaasvrou is, is haar naels kort en raak haar vel so skurf, selfs Doelie se vetmengsel is nutteloos – veral ná die afgelope week se ekstra werkery.

Sy en Dina het Dinsdag nog vloere geskrop en vensters gewas.

“Wat maak julle?” het Daniël gevra.

“Skoon, soos elke keer voor ons Kimberley toe gaan.”

“Waarom tog?”

“Tant Hester het my geleer om altyd ’n skoon huis agter te laat.”

Hy het sy kop geskud. Een van sy rare glimlagte het om sy mondhoeke verskyn. “Ons ry môre. Onthou om vir ons skoon klere te pak.”

Dit was ’n grap, want die klere was klaar gepak.

Soos gewoonlik is alles betyds afgehandel en die wa Dinsdagnag gelaai sodat hulle vroeg kon wegkom om voordag weer op Mispa te kan aanry. Nogtans het hulle gister laatmiddag eers in Kimberley aangekom en moes tot skemeraand kamp opslaan. Sy is moeg en probeer dit nie wys nie, sit so netjies soos die tantes. Want vandat sy getroud is, word sy beskou as een van hulle. Die dames kuier om die teetafel, die here elders. Daniël is gevra om ’n vergadering by dominee De Vaal se pastorie by te woon. Hy is soontoe. Haar pa, oom Neels, meester Elie en Klein-Willem-hulle is na ’n krieketwedstryd wat al gister begin het.

“Isn’t Daniël disappointed because he can’t attend the match?” vra aunty Meredith.

“Dominee De Vaal het hom ontbied. Hy het nie ’n keuse nie.”

“Why on earth?”

“Hy weet nie.”

“Perhaps the church elders are suddenly against your wedding out there on the farm?”

Anna Catharina sit regopper, haar vingers onder haar magie ineengestrengel. Sy kan haar nie iets ergers voorstel as om nie getroud te wees nie! Sê nou sy en Daniël moet voor die hele gemeente verskyn en afgesny word omdat sy verwagtend is? Ma Susanna maak haar mond oop om te praat, maar tant Hester is gouer.

“Nonsies, Meredith. Dominee het self die seremonie gelei en Mevrou was ook daar. Mooiste troue wat ek nog bygewoon het. Pla my meer dat ons mans vandag van alle dae na ’n krieketwedstryd weggelok word.”

“For a good course. To collect money for the poor that lost their homes in the fire.”

“Dit weet ek reeds. Maar wie het dit uitgedink?”

“De Beers, who else?”

“Engelse. Hulle gaan mos nie kerk toe nie.”

“Hester, apologise!” roep aunty Meredith uit.

“Hoekom?”

“Father read to us girls from the King James Bible. I am Catholic and the twins are Anglicans.”

Tant Hester gee bes. “Goed, party Engelse gaan soms kerk toe.”

Dit voel vir Anna Catharina of sy nog nooit weg was nie, so sit hulle om die tafel – sy en haar ma en tant Hester, aunty Meredith en tant Georgina wat nog nie ’n woord gesê het nie. Buite gil en lag die meisiekinders.

Ma Susanna kyk gesteurd. “Kinders. Waarom hulle altyd moet raas.”

“You should close the windows.”

“Ek sal,” bied Anna Catharina aan.

Verbeel sy haar of kyk die tantes haar agterna? Voel vir haar asof hulle presies weet wat sy en Daniël snags onder die kunstig geborduurde lakens aanvang. Haar arms voel so lam, sy stoot die raam stadig op. Glimlag toe sy sien wat buite aan die gang is. Lutz is die enigste seunskind wat nie in die krieket belangstel nie en dit lyk of elke meisietjie ewe hard probeer om sy aandag te trek. Hy het hom op die stoepbank tuisgemaak, sy bene lank uitgestrek, hande in die sakke. Maria sit langs hom en babbel al luister hy nie. Sy staan op en loop na die swaaie waar Katryn vir Cara staan en stoot en Liesa vir Marietjie.

“Kom maak my!” skreeu Maria vir Lutz wat hom nie aan haar steur nie.

Elsje, wat teen een van die stoeppilare aangeleun het, waag dit om Maria se plek langs hom in te neem.

Anna Catharina wens sy kan haar waarsku, maar dis klaar te laat. Sy sorg liewer dat sy wegkom en weer aan tafel gaan sit.

Ma Susanna lui die silwerklokkie. “Waar bly Kok?” vra sy net toe Kok in die oop deur verskyn.

Sy dra ’n skinkbord, belaai met twee teepotte, kookmelk en warm water.

“Die pasteitjies?” vra ma Susanna.

“Ek bring,” sê Kok en stap uit, haar boude al wippende.

Ma Susanna lig ’n teepot se deksel en loer in.

Tant Hester sny die sjokoladekoek. Sy sit die eerste skyf op haar eie bordjie neer. “Perfek,” sê sy. “Is dit jy of Kok wat gebak het?”

“Kok,” sê ma Susanna. “Ek het die kombuis aan haar oorgegee.”

“Wel, jy het haar geleer. Anna, sjokoladekoek vir jou? Dis mos nou nie te erg as ’n jong bruid soos jy begin blom nie, solank sy nie stoel nie.”

“Dankie, tant Hester, asseblief.”

“Georgina?”

Dit lyk asof tant Georgina uit ’n diep slaap wakker skrik. “Liewer van die suikerbrood vir my.”

“Hoekom so versigtig, verwag jy al weer?”

Sy skud haar kop.

“Nog nie?”

“Hester, Clarabelle is ’n baba.”

“Hoe oud is sy nou?” Tant Hester laat haar nie afskrik nie, sy sny ’n dik stuk suikerbrood en plak dit op tant Georgina se koekbordjie.

“Augustus ’n jaar.”

“Solank jy en Pierre nie soos ek en Neels aan die sukkel raak nie.”

Anna Catharina vroetel met haar servet; tant Hester kyk skielik te stip na haar.

Haar ma lig die teepot. “Jy hou mos van flou tee?”

“Dankie, Mamma.”

Kok kom ingedraf met opgewarmde worsrolletjies en hoenderpasteitjies.

“Ruik lekker,” sê tant Hester.

Kok glimlag so breed, aunty Meredith moet byvoeg dat die pastries almal delicious is.

“Anna Catharina, ek sien julle kamp weer langs die Janses,” sê tant Hester moedswillig.

“Dis ons plek, tant Hester.”

“Ek weet nie hoekom julle wil uitkamp nie. Hier is genoeg beddens,” sê haar ma.

“Mamma, dis nie net ek en Daniël nie. Meester Elie en die kinders en Doelie-hulle is ook hier.”

“Jou skoonouers verkies toe om tuis te bly.”

“Annatjie is verlede jaar Paasfees oorlede.”

“Foeitog, ja.” Tant Hester onderskep een van die worsrolletjies. “Jy kan hulle nie verkwalik as hulle nie kans sien nie. Ek sê vir Neels, dis soos om iemand oor Kerstyd te verloor; jy vergeet nie.”

“Oh, April, month of sorrows,” sug tant Meredith.

“Ma Caroline sou saamgekom het, maar later het sy nie kans gesien nie.”

“Toe besluit Willem hy bly om haar op te pas?”

Dis Aprilmaand, wees tog genadig! wil Anna Catharina uitroep. Kan haar ma so harteloos wees of so ongelukkig omdat hulle nie hier oorslaap nie dat iemand anders dit moet ontgeld?

“Pa Willem sal nie weer Kimberley toe kom nie,” sê sy en wil dadelik haar tong afbyt.

Ma Susanna rol haar oë. “Asof dit sal keer dat die mense praat.”

Tant Georgina lig haar teekoppie en sit dit weer op die piering terug. Haar hande bewe.

“Hester, please cut me a slice of that chocolate cake.” Aunty Meredith hou haar bordjie uit. Oor haar skouer frons sy in ma Susanna se rigting.

“Jammer, Georgina, ek het dit nie só bedoel nie.”

“As jy dit nie só bedoel het nie, hoe het jy dan?”

Tant Georgina klink of sy teen haar trane stry. Ma Susanna antwoord nie.

Tant Hester sny nog sjokoladekoek, een skyf vir aunty Meredith en weer een vir haar. Sy eet vinnig, aunty Meredith stadig. Hul vurkies klik-klik tot dit klaar is.

Die stilte om die tafel raak so ongemaklik, Anna Catharina voel lus om haar geheim uit te blaker.

“As die mans betyds is vir middagete,” sê tant Hester, sjokoladekoekkrummels om haar mond, “maak ons dit vanaand nagmaal toe – dié van ons met skoon gewetes.”

Dominee De Vaal maak self die pastorie se voordeur vir Daniël oop. Hy is geklee in ’n bruin trui vol gate, sy broek is net so verflenterd en dit lyk of daar hoendermis op sy skoene is.

“Môre, Dominee,” groet Daniël huiwerig.

Hy verskuif die meelsak met springbokbiltong wat hy spesiaal vir die pastorie ingepak het van sy regter- na sy linkerhand. Op Anna se aandrang het hy hom skoon aangetrek in een van sy Sondagbroeke, ’n wit hemp en sy tweede beste baadjie. Vir haar en meester Elie en die kinders het hy vroegoggend in Belgravia afgelaai en teruggegaan kamp toe om hom netjies te maak vir hierdie geleentheid, ook nie te perd gekom nie, met die kapkar gery. Nou lyk die dominee of hy hom nie verwag het nie, maar toe steek hy sy hand uit.

“Dag, Daniël,” sê hy vriendelik.

Dominee De Vaal se handdruk dwing gesag af en is altyd vir Daniël verbasend stewig.

“Dominee het gevra ek moet Dominee kom sien. Is ek laat?”

“Nee, jy is heeltemal betyds. Dis ek wat laat is. Verskoon my kleding, ek was hier agter in die hokke. Kom binne, kom binne.”

Hy hou die deur wyer oop. Die geur van brood of beskuit wat pas uit die oond gehaal is, hang in die lug. Ook maar ’n gewone huis hierdie, dink Daniël meer op sy gemak.

“Ek het vir Dominee-hulle bietjie biltong en droëwors,” sê hy en oorhandig die sak. “Springbok.”

Die dominee hanteer die sak asof die inhoud breekbaar is. “Baie, baie dankie. Niks so lekker soos ’n kurkdroë springbokbiltongetjie nie. Mamma!” skreeu hy in die gang af. “Jou geliefkoosde biltong, ’n hele meelsak vol.”

Daniël haal sy hoed af en vryf sy hare agtertoe. Daar is plek aan die kapstok, maar hy is onseker of hy dit vir hom mag toe-eien. Dominee De Vaal beduie vir hom soontoe en na die oop deur regs van hom. “Hang maar op en stap solank in, ek vat gou hierdie kombuis toe.”

Daniël was al twee keer tevore in dominee De Vaal se studeerkamer. Die eerste keer goed ’n jaar gelede, toe hy kom vra het of hy hom ’n kans sal gee om weer te katkiseer. Die tweede keer in Oktober verlede jaar, toe hy en Anna hul gebooie opgegee het. Dominee De Vaal het ’n groot hart. Hy was gewillig om hul name af te kondig al sou Anna eers Kersfees haar belydenis doen.

Hy sluip nogtans respekvol na binne, skuldig oor die verwagting wat hom beetgepak het. Drie van die studeerkamermure het rakke wat van hoek tot kant volgeprop is met boeke en nogmaals boeke. Aan die kroonlys bokant die boekrakke, byna teen die plafon, hang ’n verskeidenheid portrette. Sy oog soek na ’n groepportret wat die jaar voor verlede jaar geneem is …

Adrie staan in die voorste ry. Sy is klein en ver, tog sien hy haar van naby. Sy glimlag en lig haar kop uitdagend. Haar skouers wieg, sy sit haar hand teen haar nek. Wat gaan aan met hom? Is dit die duiwel wat hom op die onmoontlikste plekke inwag en versoek, of is hy so swak dat hy hom nie kan beheer nie? Hy verskuif sy blik doelbewus. Sowaar. Daar hang ’n geraamde trouportret van hom en Anna met dominee De Vaal tussen hulle twee.

“Mevrou sê baie dankie vir die biltong.”

Die dominee praat so skielik, hy wip soos hy skrik.

“Ekskuus, ou seun.” Dominee De Vaal gee ’n laggie. “Het ek jou nou laat skrik?”

“Nee, Dominee, dis nie Dominee nie. My aandag was by daai portret.”

“Pragtig, nè? Jou eggenote se moeder het dit vir ons geskenk. Die geleentheid was so besonders, ons hang dit hier vir almal om te sien. Hoop nie jy gee om nie? Julle kry baie komplimente.”

Dit voel vir Daniël of ’n onsigbare hand die asem uit sy borskas pers. Sy kop draai, hy moet met sy vingerpunte op die lessenaar druk om regop te bly.

My sonde, Here, my sonde is te groot!

Dominee De Vaal se lessenaar is ’n stewige meubelstuk oorlaai met stapels papiere, boeke, gevoude koerante, twee oop Bybels, inkpotte en penne in houers, notaboeke.

Die dominee kug. “As jy nie daarvan hou nie, haal ek dit af.”

“Nee, Dominee, dis onverwags … Dis al.”

“Ek dag jou skoonmoeder het met julle afgespreek.”

“Seker met Anna.”

Dominee De Vaal grinnik. “Ons mans moet partykeer vir lief neem, nè? Sit gerus.”

Daniël kies weer die stoel met die blinkgeskuurde leeroortreksel. Hy voel van voor af senuweeagtig en skuldig.

Dominee loop om die lessenaar en gaan sit aan die ander kant, hy kyk stip. “Hoe gaan dit met julle?”

“Goed, dankie. Anna verwag ons eersteling. Sy sê in Oktober.”

“Maar veels geluk. Wat sê julle ouers?”

“My pa wil Mispa in die familie hou, hy hoop op ’n seun wat die boerdery kan oorneem.”

“En Anna Catharina se ouers?”

“Ons gaan hulle vanaand ná kerk vertel. Dominee, ek het nou uit my beurt gepraat, Dominee verstaan.”

“Ou seun, wie wil sulke goeie nuus geheim hou? Is dit my en Mevrou ooit beskore om ’n ou kindjie van die Here te ontvang, kondig ek dit van die preekstoel af.”

Daniël het tant Adriana en sy ma al hoor praat oor die predikantspaar se kinderloosheid. Hy wil hom bemoedig, selfs raad gee. Maar die dominee is nie sy maat nie.

“Die Here is goed,” sê hy om sy verleentheid te bedek en wonder of dit die regte woorde was.

“Julle hou nog elke dag huisgodsdiens?” praat die dominee onverwags uit ’n ander hoek.

Hier kom dit nou, dink Daniël, die aanklag. Gelukkig beskou hy sy pligte as priester van sy huis as ’n opdrag direk van die Here af en hou getrou daarmee vol. Wat dit betref, is sy gewete skoon en kan hy eerlik antwoord. “Ek en Anna lees en bid soggens ná vroeë koffie. Met ontbyt en aandete sit Sadrag-hulle ook by. Hy het saam met my by meester Elie leer lees en skryf. Ek wil eendag vir hom ook ’n Bybel koop. ”

“Wat ’n uitstekende voorneme.”

“Moeilikheid is, hy vat nie aalmoese nie.”

“Die Woord is nie ’n aalmoes nie. Dis ’n geskenk.”

“Ongelukkig kan ek dit nog nie bekostig nie.”

“Intussen bid en werk julle saam?”

“Hy het sy eie vee. Hulle loop op my grond.”

“Begeer seker sy eie plaas?”

“Hy maak geld bymekaar.”

“Sal jy hom kan help?”

“Dominee, sover dit in my vermoë is. Sadrag is my vriend van kleins af.”

“Pragtig. As almal só redeneer, sal die land ’n beter plek vir Christenmense wees om in te leef. A, Mamma.”

Daniël ruik die koffie soos sy ingestap kom. Hy spring op en neem die skinkbord by haar. Sy is ’n skraal vrou, bleek en lig, nes haar man.

“Goeiemôre, Daniël,” groet sy. “Dankie vir die biltong, die wors ook. Ek het ’n stukkie afgebreek en geproe. Die een wat dit gemaak het, het ervaring.”

“Dis Anna. Tant Hester het haar touwys gemaak.”

“Hoe gaan dit met haar, met Anna Catharina?”

“Baie goed dankie, Mevrou.”

Amper voeg hy by dat sy verwag, maar bedink hom betyds. Gelukkig kry hy ook nie kans nie.

Mevrou slaan haar hande saam. “Pieter? En jy ontvang jou nuwe diaken in jou duiweklere.”

Duiweklere? wonder Daniël. Diaken?

“Ek wil hom die hokke gaan wys.”

“Hy is netjies aangetrek. Kan jy nie sien nie?”

“Ek gaan hom net wys.”

“Drink julle koffie voor dit koud is.”

Verbeel Daniël hom of is sy predikantspaar so effe ongedurig met mekaar?

“Dankie, vir die moeite, Mevrou,” probeer hy paai.

“Sê groete vir jou mense. Ons sien julle seker vanaand?”

Hy wil haar verseker dat hulle nie die diens sal misloop nie, maar sy is klaar weg.

Dominee De Vaal sug. “Sy bak brood vir die nagmaal en dit maak haar op haar senuwees. Ek seg ons kan dit by die bakker kry, maar sy wil opsluit self.”

“Vir die hele gemeente?”

“Darem nie die hele gemeente nie – slegs dié wat aangeneem is as lidmate en seker is dat hulle nie ’n oordeel oor hulleself eet of drink nie. Kry vir jou melk en suiker. Ons praat klaar en dan gaan wys ek jou my duiwe.”

Bet-El

Подняться наверх