Читать книгу Bet-El - Helena Hugo - Страница 9
Hoofstuk 3
ОглавлениеHul teekoppies is skaars koud, toe maak tant Georgina verskoning. “Dit was lekker, dankie, maar ek moet nou huis toe. Susanna, sal jy asseblief vir John laat weet om vir Freeman te vra om my spaaider om te bring?”
Ma Susanna hou haar verbaas. “Hoekom so haastig?”
Tant Georgina kyk op haar horlosietjie wat soos ’n borsspeld aan haar bloese vasgesteek is. “Dis twintig oor elf en Clarabelle moet twaalfuur gevoed word.”
“O, jy voed nog?”
Dankie tog, dis dié keer tant Hester wat katterig is, nie my ma nie, dink Anna Catharina. Sy bewonder tant Georgina se vermoë om sulke aanmerkings te hanteer en nie in trane uit te bars nie. Netnou was sy op die randjie, maar sy het haar blykbaar rustig gesit en regruk.
“Ja, Hester,” sê sy, “ek voed nog en dis nie ongewoon nie. Of het jy vergeet dat Neelsie al vyf was, toe drink hy nog aan jou?”
“Ek kon nie van die melk ontslae raak nie.”
“Daar is maniere, maar jy wou nie weer verwag nie, toe kies jy om in die melk te bly. Jou verdiende loon dat jy onvrugbaar geword het.”
Aunty Meredith se oë vlieg oop. “My goodness, but we are frank, aren’t we?”
“Hou jou uit hierdie gesprek, Meredith,” snou tant Hester onverwags. “Jy, Georgina, wees versigtig vir vals beskuldigings. Die waarheid haal jou in, dan praat ons weer.”
Tant Georgina verwerdig haar nie om te antwoord nie, dalk kan sy nie. Sy draai haar rug op tant Hester en mompel iets wat klink na “my handsak”. Aunty Meredith se haredos hel na die een kant toe oor. Sy haal van die haarnaalde uit en druk dit weer terug. Ma Susanna tel die tafelklokkie op en lui dit met mening.
“Thank you, Suzanne, I shall also be off. Lunch at the hotel starts at one.”
Tant Hester vou haar servet al hoe kleiner. “Met my sal jy moet sit tot Neels eendag opdaag,” sê sy. “As jy nie omgee nie?”
Kok verskyn so flink en vinnig, sy het natuurlik weer in die gang gestaan en afluister.
Ma Susanna maak of sy dit nie weet nie, sy wink vir haar om nader te kom.
“Vra vir John om vir Freeman te sê om in te span, nôi Georgina wil huis toe.”
Aunty Meredith klap haar vingers. “Me too. John must take me back to the hotel.”
Kok vat die sjokoladekoek saam kombuis toe. “Mary!” hoor hulle haar roep. “Gaat sê vir John hulle moet inspan.”
“Ons gaan sit in die voorkamer,” sê ma Susanna, “die stoeltjies raak ongemaklik.” Sy haak by tant Hester in. “Kom julle?”
Die ander drie maak geen aanstaltes nie. Ma Susanna en tant Hester verdwyn deur die oop skuifdeure.
“Please excuse me.” Aunty Meredith kom skielik baie vinnig uit haar stoel orent. “Have to use your bathroom.”
Sy trippel gangdeur se kant toe. Een van die satynstrikke op haar rug het losgegaan.
Anna Catharina voel of sy na ’n toneelstuk kyk. Die karakters is daarop uit om mekaar te beledig en kwaad te maak. Deure gaan oop en toe en spelers stap in en uit. Die volgende toneel begin binnekort. Sal dit die kroon span?
Tant Georgina kyk aunty Meredith agterna. “Ek kan nie glo ons is susters nie,” sê sy. “Ek en sy en Hester, Hannah en Eunice, Ethel en Anna in Kaapstad, en Caroline. Agt Fuller-susters, almal ewe eiegeregtig. G’n wonder net drie van ons het mans gekry.”
“Dalk trou die ander laat in hul lewe.” Anna Catharina voel oud en wys.
Tant Georgina sit haar hand op hare. “Is jy gelukkig getroud?”
“Ek verwag, ek is in die ander tyd,” sê sy asof dit die antwoord is.
Tant Georgina kry die eienaardigste glimlaggie. “Ek het so gedink.”
Anna Catharina weet wat sy daarmee bedoel. Aartjie na sy vaartjie, dis Daniël. Eienaardig genoeg pla dit haar nie, versterk eerder die band wat sy met hierdie aangetroude tante van haar het. Haar tweede skoonmoeder, dis wat sy is.
“Wanneer?”
“Oktober.”
“Veels geluk.” Sy druk haar hand vertroulik. “Weet jou ouers al?”
“Ma Caroline en pa Willem …”
“Wat sê hy, ek bedoel hulle?”
“Sy kry my jammer. Hy sien uit na sy nageslag.”
Tant Georgina se gesig versag. “Hoe gaan dit met hom?”
“Goed, onder omstandighede. Hy woon weer op Mispa.”
“Maar hy kom nie Kimberley toe nie?”
“Miskien vir die doop. As dit ’n seun is, sal ons hom vernoem.”
“As dit ’n dogter is, jou ma. Wat sê sy? Sien sy uit daarna om ouma te wees?”
“Sy weet nog nie.”
“Jy vertel vir my?”
“Tant Georgina …”
“Sê Georgina, net Georgina. Ons kan vriendinne wees. Wat doen jy môreoggend?”
“Dis Goeie Vrydag.”
“Natuurlik, ons sien mekaar by die kerk.”
“Ek wil Saterdag winkels toe om goed te koop vir die baba, wol en so aan.”
“Jou ma sal jou seker vergesel?”
“Het jy en Pierre Francois nie patrone nie?”
“Vra! Pierre het kaste vol.”
“Dan kom ek eers na julle toe. Ek verlang.”
“Wonderlik. Ons kuier, geniet saam ontbyt. Jy sal nie glo hoe Clarabelle die afgelope maand gegroei het nie.”
“You’re enjoying your little tête-à-tête. Too late. Cab’s ready to go.”
Aunty Meredith lyk verfris. Haar hare en klere is reggeruk, al haar strikke gestrik.
Tant Georgina gryp haar handsak. “Ek gaan groet gou ons gasvrou.”
“Me too. Wait for me.”
Die perdekar kom om die draai. Freeman vermaan die kinders om uit die pad te staan. Katryn praat sy taal met hom. Anna Catharina bly langs die teetafel sit, hoor deur die gewoel van kinders, drywers en perde haar ma wat uitroep: “Jy jok! Dit is gewoon nie waar nie. Is dit sy? Het sý vir jou gesê?”
O, genade! Hier kom dit, tant Georgina se wraak, en sy kan haar nie kwalik neem nie. Anna Catharina se wysvinger volg die herhalings van haar ouma se borduurwerk. Fyngroen doringtakkies, oranje roosknoppe, geel jasmyntjies, pienk poeierkwassies, blou vergeet-my-nietjies, groen doringtakkies, oranje rosies, geel jasmyntjies …
“Kom nou, Susanna, die kind het haar mond verbygepraat – ek ook.”
Toe sy opkyk, staan haar ma voor haar, haar gesig soos donderweer.
“Ek is jou ma, nie Georgina nie.”
“Bedaar, Susanna,” keer tant Hester, “dis nie die einde van die wêreld nie.”
“Jy kon my verlede maand al vertel het.”
“Ek was nog nie … seker nie.”
Sy voel die trane in haar opstoot, haar oë brand.
“Nou laat jy haar huil.” Tant Hester kom gee haar ’n papnat klapsoen. “Geluk, my kind. Goeiste, Daniël is ’n ou doring.” Asof sy besef wat sy pas gesê het, spring sy om en stoot ma Susanna vorentoe. “Wens jou meisiekind geluk. Dink net, jou eerste kleinkind.”
Ma Susanna staar asof haar dogter se middellyf klaar geswel het, sak toe op die naaste stoel neer.
Tant Hester gluur in tant Georgina se rigting. “Kom daarvan as jy uit jou beurt praat.”
Tant Georgina tel haar handsak op, knip dit oop en haal haar handskoene uit. “Ek dag al die tyd dis goeie nuus.” Sy pluk haar handskoene met vinnige, behendige bewegings aan.
Buite lui Freeman die Du Toit-spaaider se klok. Sy hou haar kop skeef. “Klink na myne.” Anna Catharina kry ’n soen op haar wang. “Kom kuier, dan praat ons. Totsiens, Susanna, tel jou seëninge. Hester, Meredith, geseënde Paasfees. Ag, maar ons sien mekaar by die kerk.”
Die klok lui weer en sy haas haar na buite.
“Ja, totsiens,” grom tant Hester.
Ma Susanna groet nie, sy waai haar koel met haar sakdoek. Tevergeefs, want haar gesig bly bloedrooi.
Anna Catharina wens sy kan haar troos, maar aunty Meredith kom sit haar hande op haar skouers en kyk haar in die oë. “How old are you, my dear?”
“Sixteen.”
“Sixteen and a mother to be. I thought at least eighteen.”
Anna Catharina wil haar iets toevoeg soos: Nou toe nou, en ek dink weer jy is tagtig.
Gelukkig vir haar verskyn Elsje in die gangdeur. “John sê Antie moet kom, die perde raak rusteloos.”
Aunty Meredith wip regop, draai na ma Susanna en soengroet haar. “Thank you for tea, my dear, and congratulations. Anna Catharina, you must not neglect yourself. Go and speak to your aunts at the hospital and book your bed in time. My goodness, what an eventful morning.”
Elsje spring op en af. “Aunty Meredith.”
“Coming. Coming!”
Sy is skaars uit, die kar nog nie eens aan die beweeg nie, toe kom Elsje weer ingedraf. “Wat gaan hier aan? Is iemand siek?”
“Niemand is siek nie,” paai tant Hester. “Jou suster gaan ’n baba kry. Wens haar geluk.”
Elsje kyk haar aan asof sy skielik so verander het, sy herken haar nie. “Ek het gehoor dis wat met jou gebeur as jy getroud is. Arme jy.”
•
“Daar en tegen die dit getuigenis in hare harten niet gevoelen, die eten en drinken hen zelven een oordeel. Daarom wij ook naar het bevel van Christus en des Apostels Paulus allen die zich met deze navolgende lasteren besmet weten, vermanen van de tafel des Heeren haar onthouden; en verkondigen hen dat se geen deel in het Rijke Christi hebben …”
Daniël verskuif in sy sitplek, sy rug voel ongemaklik en die formulier is skaars halfpad. Hier by hierdie deel spits hy gewoonlik sy ore om te hoor of hy hom dalk skuldig gemaak het aan een of meer van die aangetekende sondes. Die taak waarvoor die Here hom geroep het, toring soos ’n berg oor hom. Toe dominee De Vaal hom vanoggend meedeel dat die kerkraad hom eenparig verkies het as diaken vir die Newton-gemeente se buitepos wat Elim, Mispa, Houhoek, Rooidam, Brakfontein, Swaarverdiend en Klipfontein insluit, was hy verbaas en verstom dat hulle aan hom gedink het. Hy het geëerd gevoel, maar spontaan aangevoer dat hy nie geskik is om sy bure in die Naam van die Here te bearbei en te vermaan nie.
“Hoekom nie, broer Basson?” Dominee De Vaal het skielik amptelik geklink.
“Dominee, hoe sal ek hulle kan reghelp? Ek glo in die verlossing in Jesus, maar ek het nog te veel vrae. Ek soek antwoorde …”
“Het God dan nie aan jou verskyn nie?”
“Hy verskyn aan my. Hy praat met my, maar nie elke dag nie. Daar gaan weke om dat ek Hom soek en nie vind nie.”
Die dominee het sy vingers teen sy bors ineengestrengel, sy lippe gepers, toe diep asemgehaal. “Jy is nie alleen nie,” het hy gesê. “Ek voel my ook dikwels verlate, dwalende soos ’n hert in dorre streke, moedeloos, te bang om op die preekstoel te klim. Maar ek het soos Paulus geleer dat ek sterker is as ek nie op my eie krag staatmaak nie. Jy kan nie alleen stry nie, jy moet jou probleme aan Hom oorgee.”
“Ek doen dit, Dominee, maar dis my sondes. Ek tel hulle af, ek ken hulle te goed. Dis soos dorings in my vlees.”
Dominee De Vaal het so effens geglimlag, meewarig na hom gekyk. “Ja, nes Paulus.”
Toe kon hy die geleentheid aangegryp het om te bely, maar hy het sy sondes, nes Paulus, nie by die naam genoem nie, en dit pla hom. Hy sit in die kerk, die geur van nagmaalwyn is in die lug, en Anna se parfuum toe sy haar sakdoek uit haar handsakkie haal. Sy ondersteun hom, maar hy moet self besluit.
Die formulier dring tot hom deur, dit maak ’n aanslag op sy gewete.
“… alle echtbrekers, hoereerders, dronkaards, dieven, woekeraars, roovers, spelers, gierigaards en al de genen die een ergerlijk leven leiden.”
Echtbreker, echtbreker, weergalm dit saam met ander veel verfoeiliker sondes ál deur sy kop.
Dat hy juis by hierdie gedeelte uit sy mymering moet loskom, beteken net een ding. God praat met hom en Hy praat met Jesus se woorde: “Gy hebt gehoort dat van den ouden gesegt is: Gy en sult geen overspel doen. Maer ick segge u dat so wie een vrouwe aensiet om deselve te begeeren, die heeft alreede overspel in sijn herte met haer gedaen.”
Vanoggend nog kon hy nie wag om Adrie te sien nie, al was dit bloot haar gesig op ’n groepportret. Hy het daarna uitgesien om sy geheue te verfris, in haar oë te kyk, seker te maak dat sy steeds daar is.
Here God, ek is niks beter as my pa nie.
Asof sy weet in watter sielestryd hy verkeer, sit Anna haar hand op syne, druk dit gerusstellend.
Sy is my vrou. Hoe kan ek haar dan nie met my hele hart liefkry nie, noudat ons een geword het en U lewe in haar verwek het? Help my, verlos my van my verkeerde begeertes, my ongeloof, my skuld.
Sy is trots op hom, op sy verkiesing, sy weet van sy onsekerheid, nie alles van sy oersonde nie, maar die manier wat sy het om sy hand vas te hou en stywer teen hom aan te leun onderbreek sy malende gedagtes en bedwing sy rusteloosheid. Die gedreun van dominee De Vaal se stem neem vorm aan, maak woorde, goeie woorde wat soos olie uitgegiet word. Die dominee lees stadig en duidelik, hy gee sy vermanings kans om gehoor en verstaan te word, hy bemoedig dwalende, treurende sondaarmense, sy gemeente.
“Daarom, al is het dat wij nog vele gebreken en ellendigheid in ons bevinden, maar dagelijks met die zwakheid onzes geloofs en de booze lusten onzes vleesches te strijden hebben; nogtans des niet tegenstaande overmits dat ons voor de genade des Heiligen Geestes zulke gebreken leed zijn, en wij van harten begeeren naar alle geboden Gods te leven. Zoo zullen wij gewis en zeker zijn dat geene zonden noch zwakheid die nog tegen onzen wille in ons overgebleven is, ons kan hinderen dat ons God niet in genade zoude aannemen en alzoo deze hemelsche spijze en drank waardig en deelachtig maken.”
Daniël hoor nie net nie, hy luister. Die gedeelte maak ’n diepe indruk op hom, slim kerkmanne het dit immers neergeskryf en die Gees het dit ook so aan hom geopenbaar. God is genadig al word die mens in sonde ontvang en gebore. Vanself kan hy nie loskom van sy natuur nie, een en almal oortree tot in die tweede en derde geslag. Jy doen dit, want jy is gebore om dit te doen. Dan kom die Gees en Hy spreek jou aan, Hy toon aan jou die regte weg. Jy gehoorsaam, jy loop dit sonder om jou voet te stamp – tot Satan weer sy dorings op jou pad kom strooi. Ja, Jesus vergewe, maar Hy het gesê gaan heen en sondig nie meer nie. Dis wat hy met dominee De Vaal wou deel, wat hy wou sê sonder om met redes en oorsake te bieg. Noudat hy veronderstel is om gelukkig te wees twyfel hy, wonder hy of sy lewe nie nog beter kan wees nie. Dominee het hom in die oë gekyk, hom ’n reguit vraag gevra, dié vraag.
“Glo jy dat Christus Jesus vir jou sondes gesterf het en dat jy die verlossing net deur sy kruisdood deelagtig kan word?”
Dis waar dit begin het, sy ontrafeling. “Ek glo,” het hy gesê, “maar daar is goed in my lewe wat my nie wil loslaat nie, in ons familie.”
“Daarvan het ek kennis geneem, ook dat jy jou vader se pligte moes oorneem.”
“My pa is steeds die hoof van ons gesin.”
“Ja, en ons is Januarie vanjaar vriendelik op Mispa ontvang, maar hy kom nie meer saam met julle kerk toe nie.”
“Hy is my pa. Ek wil nie agter sy rug oor hom praat nie.”
“Die kerkraad mis sy teenwoordigheid aan die nagmaaltafel. Hulle soek redes en kry net skinderstories. Mevrou het my ingelig. Vroue praat om teetafels, in hul gebedsgroepies. Jy het nie die vaagste benul hoe vroue kan praat nie. Ek wil my nie te veel aan hulle steur nie, maar ek voel my verplig tot ’n broederlike gesprek. Het jy jou pa al gekonfronteer?”
“Die Tien Gebooie sê jy moet jou vader en jou moeder eer.”
Here, ek wil nie my pa blameer nie. Hy het boete gedoen op sy manier.
“Jy is reg en ek respekteer jou gehoorsaamheid aan die Wet, maar …” Dominee De Vaal het afgekyk, toe weer op. Hy het sy woorde versigtig gekies. “Jy sal nie wil sien dat sy siel verlore gaan nie. Hy het julle in die vrese van die Heer opgevoed, hy was ’n gereelde kerkganger, iemand na wie ander opgesien het, en nou … Ek praat uit die vergadering, maar ek dink dis nodig dat jy weet jou vader se naam was op die lys van kandidate. Hy is voorgestel en gesekondeer, maar die kerkraad het hom uitgestem ten gunste van Barend Janse van Klipfontein. Hy is as ouderling verkies in oorlede Gys Conradie se plek. Ek het Barend reeds genader en hy het ingestem om die wyk saam met jou te bearbei.”
Daniël kon sy ore nie glo nie. Sy hart het in hom omgekeer. Sy gedagtes het met hom weggehardloop, weg van sy pa na ’n ander plek, na iemand wat niks met die gesprek te doen gehad het nie – en alles. Adrie. Goed so, het hy gedink, sy sal hiervan te hore kom, respek kry vir hom, besef dat hy nie ’n nikswerd kreupele is, maar ’n vooraanstaande boer en kerkraadslid.
Hy is seker die duiwel het gelag.
“Jy ken mos vir oom Barend?”
“Ek het voor hom grootgeword. Ons kamp hier langs mekaar.”
“Was jy nie eers saam met sy dogter in die katkisasie nie?”
Adrie, haar naam is Adrie!
Sy kop het gedraai, hy kon dit nie sê nie.
“Vergeet nou maar daarvan, dis water onder die brug.” Dominee De Vaal het hom niksvermoedend gepaai. “Destyds het dit gelyk asof jy weghardloop. Ons hou dit nie teen jou nie, al het jy ons nie in die saak geken nie. Die besluit wat jy geneem het om jou belydenis uit te stel was die eerste stap in die regte rigting. Vir my is dit duidelik dat jy steeds eerlik is in jou soeke en dit waardeer ek.” Die dominee het een van sy droë laggies gegee. “As jy nie so goed geboer het nie, het ek aanbeveel dat jy jou as predikant gaan bekwaam.”
Daniël het afgekyk, opgelet dat daar ghries onder sy naels is, dat elke voutjie en slootjie in sy hande swart is. Hy kon toe ook bieg, sy sondes bely, die regstelling van sy lewe maak. Hy het stilgebly.
“Jou eggenote Anna Catharina is opreg gelowig. Jy ken haar beter as ek, maar dis hoe ek haar in die katkisasieklas ervaar het. Ek is van mening, en die kerkraad stem met my saam, dat julle as jonggetroudes ’n aanwins vir ons gemeente sal wees. Bid hieroor. Praat met jou vroutjie, want sy moet jou ondersteun. Jou kerk het jou nodig, Daniël. Die kerkraad kon geen ander geskikte kandidaat vind om die pos te vul nie. Help ons, asseblief.”
“Dominee …” Hy was so hees hy kon skaars praat. “Hoeveel tyd het ek om te besluit?”
“Ons moet julle name Sondagoggend afkondig. Kom na die vroeë biduur, dan praat ons of los vir my ’n brief in die pastorie se bussie. Solank ek dit Sondagoggend by die elfuurdiens in my besit het.”
“Dankie, Dominee. Dis goed so, Dominee. Die duiwe …”
Die horlosie op die kaggelrak se wysters het op kwart voor twaalf gestaan.
“Ek is bevrees ons moet dit uitstel tot ’n ander dag. Meneer Scott kom oor tien minute die psalms vir vanaand en môre se dienste haal. Hy oefen vanmiddag, kla so oor die ou traporreltjie, ek begin vrees ons verloor hom. Voor Mevrou my weer kapittel moet ek hierdie tuinklere uittrek en my stemmiger klee. Ag, en ek wou jou my nuwe broeipare wys. Vanmiddag sien ek weer die doopouers.” Hy het opgestaan en sy hand uitgesteek. “Ek bid dat jy die kerkraad gunstig sal oorweeg.”
“Ek sal, ek belowe.” Daniël het kamp toe gegaan, Storm opgesaal en veldin gery. Anna was ontsteld toe hy hulle lank ná middagete op Belgravia kom haal het. Ma Susanna was in die kamer met ’n hoofpyn. Sy skoonpa het hom joviaal gelukgewens: “Baie geluk, man, ons is saam met julle bly.”
Daniël het vir ’n oomblik nie geweet of dit oor sy diakenskap of die kleinkind was nie.