Читать книгу Onthou my - Helena Hugo - Страница 5

1

Оглавление

Desember 2004 en Kersfees

Kan jy jou rug op jou verlede draai, jou foute vergeet en nuut begin? Of leef jy vir die res van jou lewe onder die wolk van verhoudings wat skeefgeloop het en verbintenisse wat jy nie kan verbreek nie? Die gevolge van verkeerde keuses is vernederend en vernietigend. Dit slaan jou tot jy omval. Maar God is ’n God van tweede kanse. Hy help jou op en stuur jou na die plek waar jy eens gelukkig was, na mense wat jou onvoorwaardelik liefhet.

Janine is terug op die strand van haar kinderdae. Sy lig haar ken en kyk oor die see tot sy nie meer kan sien waar die water eindig en die lug begin nie. Daar agter die horison, het sy gedink, sal haar grootmenslewe begin. Dit het, maar nie soos sy gedroom het nie. Sy is een en twintig jaar en ses maande oud, moeg geleef en afhanklik van aalmoese. Nogtans is sy dankbaar en tel sy haar seëninge: “Dankie, Here! Dankie vir Jenny en Riekie en dat U ons huis toe gebring het. Dankie vir oupa Koen, ouma Leen en Jessie.”

Vaagweg sien sy hulle aangestap kom. Sy het agtergebly met die lighartige verskoning dat sy verlore slaap wil inhaal. Hulle het saamgestem, gesê hulle kan sien sy is moeg. Eintlik moet sy opstaan, wys sy is nie so ellendig soos sy lyk nie. Maar dis asof sy haar hier wil ingrawe, weer deel word van hierdie strand se geure en kleure. Regs van haar, oor die lae helling gedy ’n plaat suurvytjies, oortrek met ’n mengsel van purperrooi blomme en vet vruggies wat aan die ryp word is.

“Nog ver van bekwaam.” So sê ouma Leen wat weet hoe om suurvykonfyt te kook.

Ouma se hande staan vir niks verkeerd nie. Haar lewensuitkyk kom reg uit die Bybel, sy maak nie foute nie. Dit weet Janine uit dure ondervinding. Ouma was reg, al verwyt sy nie.

Janine sit regop. Haar mense het aangekom, maar staan nog in die vlak water, laat die branders teen hulle opskuim. Die kleintjies is uitgelate aan die spring, reg om weg te hardloop vir die een wat te gevaarlik naby kom breek. Oupa Koen is oud en krom vir sy vier en sewentig jaar, maar dis asof sy agterkleinkinders hom ’n tweede asem gee. Hy het sy welige bos grys hare onder ’n groen pet ingedruk, sy broekspype tot bokant sy knieë opgerol en dit dieper as gewoonlik die see in gewaag. Jenny-by hang aan hom. Met sy een hand druk hy sy kierie in die nat sand, met die ander lig hy haar van haar voetjies af. Sy slaan haar arms om sy nek en byna verloor hy sy balans. Jessie keer betyds en hy hou Jenny stewig teen sy heup.

Daar vaar ’n boot dieper die water in, lyk soos vissers. Ouma Leen beduie met groot gebaar. Jessie tel vir Riekie op en wys haar sy moet waai. Die boot kom nie nader nie, dit hou by die rotse verby, word kleiner en kleiner. Janine onthou haar ouers se uitgaanaande, hoe sy en Jessie gewaai het vir die wit kar wat in die donkernag al hoe kleiner word. Jessie is haar pa se suster, haar tante, vandag haar vriendin, destyds haar oppasser. Miskien was hulle toe al soos maats – samesweerders wat pizza bestel en verby slaaptyd voor die TV gelê het. Daardie rampspoedige nag het hulle The Little Mermaid oor en oor gekyk, te veel springmielies geeet, die liedjies saamgesing en gelag sonder om ’n ongeluk te verwag.

Daar was tye dat sy haar ouers bitter nodig gehad het. Vandag is sy dankbaar dat hulle dood is en nie haar skandes beleef nie. Dis oupa Koen en ouma Leen wat ’n leeftyd van verdriet met haar en met Jessie moet deel – oor haar ouers wat dood is, oor Jessie se mislukte verhoudings en Janine se Greg. Jessie het haar gewaarsku teen mooi mans met duister agendas. Tevergeefs. Hulle moes albei terugkeer na wet en orde en ouma Leen se huisreëls. Jessie slaap nie meer rond nie, sy rook nie meer nie. Sy werk by die kliniek op die dorp, bedien die armes teen ’n salaris wat gelykstaan aan liefdadigheid. Sy het vet en vrolik geword, moederlik teenoor haar ouers, soos ’n tweede ma vir Jenny en Riekie.

“My peetkindertjies,” noem sy hulle. “Ek het hulle so lief soos ek my eie sou kon hê, maar ek is vier en veertig. My tyd vir trou en kinders kry, is verby.”

Janine en Greg het nie getrou om ’n gesin te begin nie. Jenny was reeds verwek toe hulle voor die kansel gestaan het en Riekie het haar opwagting ook per ongeluk gemaak. Nogtans – Jenny en Riekie is haar dogters wat sy soos ’n wyfiewolf teen die wêreld sal beskerm. As die nuwe enetjie ’n seun is, kom Greg dalk terug om vir hulle te sorg, vir sy vrou en kinders, sy gesin. Ha! Hoe dom van haar om te dink ’n seun is die oplossing. Greg glo nie eens sy is swanger nie. Hy beskuldig haar daarvan dat sy hom met leuens manipuleer. Sy kan nie wag dat die kind met sy kenmerkende kuiltjies en potblou oë gebore word nie, en sy sal hom met die DNS-sertifikaat konfronteer.

Vir eers is sy afhanklik van haar familie en … die Kowalski’s. Sy is twaalf weke ver, maar hulle weet nog nie. Tyd dat sy hulle inlig, die Kowalski’s ook in haar vertroue neem. Sy het die winkelwerk wat hulle haar aangebied het, so nodig soos asem. Probleem is, hoe gaan dit lyk as sy hoogswanger agter die toonbank staan? Mense skinder, hulle sal stories maak oor haar en Bennie. Maar iets sal sy moet doen om tot die huishoudelike uitgawes by te dra. Dit gaan skraal, sy sien dit, skraler as in die ou dae toe Oupa nog mure afgebreek het en op dakke kon klim en Ouma deurnag koeksisters gebak het. Met Janine en haar dogters in die huis sal hul uitgawes verdubbel en Greg, dief wat hy is, sal nie vir hulle ’n sent stuur nie. Kry sy nie iets anders nie – op die dorp is werk skaars – sal sy by die Kowalski’s moet inval. Jenny is twee jaar en ses maande oud, Riekie skaars een jaar, die nuwe baba kom volgende jaar in die winter. Sy kan nie van Oupa-hulle verwag om haar en Greg se kinders geldelik te ondersteun nie, veral nie nadat Greg haar erfporsie gesteel het en niks vir hulle omgee nie.

Janine grawe in die sand, sy pers die korrels in haar vuiste saam. Sy is kwaad vir hom, baiekeer vir die Here ook. Soos dikwels tevore, bid sy hardop: “Here, wat gaan van ons word?”

Met toe oë wag sy op ’n antwoord, van moedeloosheid verwag sy weer niks, maar God is getrou. Hy stuur vir haar die herinnering van Esther Ndlovu se regop handskriffie: Therefore take no thought, saying, What shall we eat? or, What shall we drink? or, Wherewithal shall we be clothed? For your heavenly Father knoweth that ye have need of all these things – Matthew 6:31-32.

Voordat hulle weg is uit Londen, het Esther vir haar ’n afskeidsgeskenk van duur velsorgprodukte gegee. Die Bybelversie was vasgeplak op die pakkie. Ja, God sorg vir hulle, sy wil daaraan vashou. Hulle sal kry wat hulle nodig het, maar grimering en nagroom?! Sy het ’n dak oor haar kop, sy is omring van mense wat haar liefhet. Hulle dra haar op die hande, versorg haar dogters, was en stryk, maak kos, ruim op, los haar om te rus, vra nie vrae nie. Tog, die twyfel oorval haar so maklik. Is dit moontlik, sal hulle dit kan volhou, doodgewoon eerlike mensliewendheid?

Sy is steeds die verantwoordelike persoon. Dis laatmiddag, die wind raak lastig. Sy sal haar moet lig en gaan sê dat die kinders gebad moet word sodat hulle kan eet voor die televisie aangesit word. Ja, Oupa-hulle spog nou ook met hul eie stel. Dit pryk op ’n koffietafel in Ouma se woonkamer, die meubels só gedraai dat daar genoeg sitplek is vir almal. Jessie het van haar spaargeld getrek en gekoop. Daar was glo eers besware. Nou is die bank se kussings hol gesit en mis Ouma en Oupa nie een uitsending van 7de Laan, die nuus en ander leersame programme nie. Die deur staan oop. Dit is nie meer ’n vertrek net vir belangrike gaste nie, alles te danke aan Jessie. Sy is vir hulle ’n ware steunpilaar. Ouma sê haar beker loop oor, die Here seën hulle met ’n dogter, ’n kleindogter en agterkleindogters, almal onder een dak tot die dood hulle skei. Oupa beaam alles. Net Janine weet hoe salig onbewus Riekie en Jenny nog is. Om die afskeid in Londen te versag, het sy vir hulle verduidelik dat hulle vakansie gaan hou in Suid-Afrika by die see waar sy grootgeword het. Riekie het nie ’n saak nie, Jenny vra wanneer Daddy dan kom. Tot vandag toe geniet sy die “vakansie” en kan Janine die waarheid systap, maar een of ander tyd sal sy eerlik moet wees.

Nie nou nie, Here. Dis Kersfees, ’n tyd om te lag, nie ’n tyd om te huil nie.

Sy knip haar oë, keer die nattigheid. Sy het niks om vir hulle te gee nie, net die vreugde van die oomblik, vir haarself die mooiste prentjies van die dag: Jenny, wat op stewige beentjies aangedraf kom, Jessie met Riekie op haar heup.

Jenny is nat, van kop tot tone. “Kyk, Mamma! Kyk, wat bring ek vir jou!”

’n Gebreekte skulp. Iets besonders, al is dit vol gate. “Pragtig! Waar kry jy dit?”

Sy oorhandig dit plegtig, die kuiltjies langs haar mond maak diep kepies. “By die see. Ouma sê dis stukkend.”

Janine trek haar nader, haar lyfie voel koel. “Goed so, nou kan ek sien wat binne-in aangaan. Het Ouma dit opgetel?”

“Nee, ek. Weet Mamma, die krappies het my nie gebyt nie.”

Janine hang ’n droë handdoek om die klein skouertjies. “Was julle by die rotse?”

“Ja. Oupa sê dis waar die see sy speelgoed bêre.”

Tye het verander, dink Janine. ’n Mens speel nie met die see nie, dis wat Oupa vir haar gesê het. Sy wil vra of die see omgee om sy speelgoed weg te gee, maar dit sal verwarring skep.

Jessie laat sit Riekie op haar handdoek. “Nogal ’n gewiggie. Wat het jy als opgetel, Jenny-by?”

“Klippe én ander goeters.”

“Niks wat kan rondhardloop en byt nie, hoop ek.”

“Alles is morsdood. Daddy kry twee klippe – een, twee.”

Die kind is so oulik, Janine wil haar opvreet van liefde. Sy sal wat wil gee om haar te beskerm teen teleurstellings, maar hoe keer sy dat Jenny uitsien na die dag dat haar Daddy hom by hulle aansluit? Hy sal nie, want hy het sy minnares gekies – nie sy vrou en sy dogters nie. “Staan stil dat Mamma jou droog aantrek.” Hoekom klink sy dan nou ongeduldig?

“Wanneer kom Daddy nou?” Jenny wikkel haar arms deur die hempie se mousgate, loer oor die kragie.

“Nie voor volgende jaar nie.” Janine trek Jenny se hempie reg. Queen Bee, sê die logo.

Jenny pruil. “Hy moet kom.”

“Daddy werk. Haai, Jessie, ek verstom my aan Oupa, so aan die rondklouter op die rotse.”

Praat tog die kind se kop weg van haar Daddy!

Jessie verstaan te goed. “Ek ook. Hy kom selde op die strand, wat nog te sê die rotse. Vandag kry ek hom nie sover om huis toe te gaan nie. Dis te lekker saam met jou, Jenny-by.” Sy haal ’n skoon doek uit haar strandsak en vryf die sandkorrels van Riekie se plomp lyfie af, knipoog vir Janine. “Vannag hou die jig hom uit die slaap.”

Janine byt haar lip vas, sy moet keer of die hartseer oorweldig haar en sy gaan aan die huil vir almal om te sien. Sy is weerloos as gevolg van haar swangerskap en die spanning van die afgelope maande. Nou maak sy of sy sterk is en sy is nie. Oupa ook? Doen hy dit, hou hy hom sterk?

Hy het sy arm om sy klein vroutjie, die kierie stewig in sy vry hand. Tree vir tree help hy haar oor die droë sand. Ouma klou aan hom, haar blommetjiesrok waai teen haar dun beentjies. Hulle gaan staan om asem te skep.

“Hierdie opdraand is nie meer vir ou bene nie.”

“Hulle was maande laas op die strand,” sê Jessie met haar fluisterstem, “kan nie meer nie.”

Janine voel skuldig. Ouma Leen het verlede jaar ’n heupvervanging gehad en sy is skaars sewentig. Rumatoïede artritis, het Jessie verklaar toe sy geskok vra hoekom ouma Leen so klein geword het.

Jenny spring op en af. “Oupa, Oupa! Kan ons môre weer swem?”

“Nie môre nie, anderdag, as Oupa die Kersnaweek oorleef.” Hy sak neer, buk oor, steur hom nie aan Jenny se teleurstelling nie en begin die sand van sy voete afvryf. “Janine, gee daar Oupa se skoene aan.”

Dis tuisgemaakte sandale, presies soos dié wat hy altyd gedra het. Sy skud die sand van hulle af, gaan kniel voor hom, help hom om sy knobbelvoete skoon te kry en in te steek, maak die gespes vas. Die leer is sag en dun.

“Kan jy raai hoe lank het ek hierdie paar?”

“Nee …?”

“Drie somers, vierde een vanjaar. Groot Kosie het hulle nog gemaak, toe dooi hy verlede jaar. Klein Kosie kom nie by nie.”

Ouma Leen skud die sand uit haar seilskoentjies. “Jou oupa sal hulle dra tot hulle van sy voete afvrot.”

“Beter kwaliteit as daai slippers van jou,” kap hy terug.

“Cheaper by the dozen, nè, Ma?” Jessie grawe haar motorsleutels uit, tel Riekie op, vat die ongelukkige Jenny aan die hand, begin kar toe stap, paai haar so ver hulle loop. “Môre maak ons reg vir Kersfees, dan help jy vir Oupa. Jy kan mos?”

“Ek sal sien.”

Janine prop die laaste los goed in die strandsakke. Sy trek hulle regop, eers vir Oupa, toe vir Ouma. Ouma Leen laat los nie dadelik nie, sy hou haar teen haar vas.

“My kind,” is al wat sy sê.

Janine hoor veel meer.

Onthou my

Подняться наверх